Noordwes-onlusmakers dreig om dokters wat werk ‘dood te brand’

Onlusmakers in die Noordwes-provinsie

Onlusmakers in die Noordwes-provinsie het gister toegang tot hospitale versper en gedreig om dokters dood te brand wat poog om met hul werk voort te gaan.

Vrydagoggend het onlusmakers toegang tot die Potchefstroomse hospitaal versper. Dokters wat gepoog het om toegang tot die gebou te verkry, is gedreig om verbrand te word, het dr. Ebrahim Veriava, ‘n spesialis by die Tshepong-hospitaal, gesê.

Een dokter het ‘n video van brandende bande buite ‘n hospitaal geneem, terwyl ‘n ander foto’s van stakers geneem het wat dokters uit die sale van Klerksdorp-hospitaal gedwing het.

Klerksdorp is die hoofhospitaal in die omgewing wat al die ernstigste siektegevalle van regoor die provinsie behandel.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is veronderstel om reeds die stituasie in Noordwes “onder beheer” te hê.

Die swart vakbond Nehawu is reeds sedert Februariemaand met ‘n sloerstaking in die provinsie besig. Die toevoer van medisyne vanaf die hoofmedisynepakhuis is aanvanklik geraak, maar nou word verpleegsters daarvan weerhou om te werk. Die vakbond is blykbaar gekant teen “korrupsie in die gesondheidsektor” en ‘n personeeltekort in hospitale.

Na bewering is die aantal poste vir dokters en verpleegsters oor die afgelope drie jaar met meer as 1000 verminder.

Die onluste in die gesondheidsektor hang saam met die onrus rondom die provinsiale premier, Supra Mahumapelo, wat van grootskaalse korrupsie beskuldig word. Mahumapelo is ook ‘n bondgenoot van die afgesette Suid-Afrikaanse president, Jacob Zuma.

Veriava, ‘n voormalige hoof van interne medisyne aan Wits, het verlede week saam met 70 ander dokters ‘n ope brief geskryf waarin ingryping in die provinsie versoek word aangesien pasiënte tans onder die onrus en chaos ly.

Volgens die brief ontvang teringpasiënte nie hul medikasie betyds nie vanweë die skaarste aan medisyne wat kan veroorsaak dat teringlyers medisynebestand kan raak, wat die siekte verder kan laat versprei. Ook swangerskappe word tans vanweë die wanorde nie behoortlik hanteer nie.

Yusuf Veriava en die ander dokters het die vakbond Nehawu gesmeek om nie langer die hospitale te ontwrig nie. Hulle het ook versoek dat ‘n taakspan saamgestel word aangesien die hospitaalveiligheidsdienste nie onlusmakers kan keer om hospitale binne te storm nie.

‘Onlusmakers in operasieteaters’

‘n NRO wat onder andere deur George Soros se Open Society-groep befonds word, Section 27, het in ‘n openbare verklaring die geweld by hospitale veroordeel.

Die groep het gesê: “Die geweld en ontwrigting van gesondheidsdienste lei tot onmiddellike lewensverlies soos wat pasiënte toegang tot gesondheidsdienste ontsê word, terwyl dokters en ander personeel verhoed word om sorg te voorsien. Sekere verslae wat ons ontvang het, sluit in dat betogers operasieteaters binngestorm het, doodsdreigemente aan dokters, dokters wat met geweld uit hospitaalsale verwyder word en die ingange van hospitale wat versper word, wat beteken dat geen voorrade of medisyne gelewer kan word nie.”

Die organisasie, wat gewoonlik revolusionêre en anti-blanke optrede in Suid-Afrika steun, meen dat “sulke vorme van betoging onverantwoordelik en moreel onaanvaarbaar is”.

Intussen word berig dat ‘n politieke rusie steeds in die ANC woed rondom die afdanking, aldan nie, van die Noordwes-premier Supra Mahumapelo. Oor die naweek het ‘n “gespanne vergadering” op die perseel van die Hotelskool in Mahikeng, die hoofstad van die provinsie, plaasgevind. Die ANC-afvaardiging is gelei deur die minister in die presidensie en voormalige teenstander van president Cyril Ramaphosa in die party, mev. Nkosazana Dlamini-Zuma. Hulle sou tydens ‘n drie uur lange vergadering met Mahumapelo die bewerings oor korrupsie en tenderbedrog, asook Cyril Ramaphosa se besluit om die provinsiale gesondheidsdepartement onder administrasie te plaas, bespreek.

Daar word glo druk deur die Zuma-faksie georganiseer om te verhoed dat Mahumapelo eerskomende Dinsdag deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee afgedank word. “Die gevoel is dat Ramaphosa hulle (die Zuma-ondersteuners) een vir een aanpak, dus moet hulle georganiseerd wees en terugveg,” het een ANC-leier van binne die party gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.