Leon Lemmer: Haji Mohamed Dawjee se anti-blanke retoriek

Jare gelede het ek die volgende boek elders bespreek: Susie Kelly, I wish I could say I was sorry (London: Blackbird, 2013, 298p; Amazon Kindle $8,04). Kelly is ‘n onvoorspelbare mens met kwale van sielkundige oorsprong. Sy kan uitstekend skryf en het later ‘n suksesvolle outeur geword. Aanvanklik kon sy egter nie goed onderskei tussen wat interessant vir haar as outeur en moontlik vir die lesers is nie. Sy het haarself as “multi-untalented” beskryf (Kindle 1453). Die rede waarom ek hierdie boek gelees het, is haar belewenisse toe sy in Kenia gewoon het, bv die afrikanisering van die land ná onafhanklikheid in 1963. Die blanke boere (insluitende Afrikaners) op die Wit Hoogland “were … forced out by the Land Settlement scheme under which their property was compulsorily purchased” (2323). Hierdie onteiening is met Britse geld gedoen; dus darem nie sonder vergoeding gesteel soos Cyril Ramaphosa plaaslik in die vooruitsig stel nie.

Kelly het die eienaars van een van die plase geken. “They had a beautiful old house lovingly built by themselves when they first settled there forty years earlier. The walls were wood-panelled, the floors highly polished, logs burned in the great fireplace, and from the living room they looked out through French windows” (2323). ‘n Jaar nadat die eienaars geëmigreer het, het Kelly die plaas weer besoek. “The windows of the house had old sacks covering them. Goats and sheep wandered through the rooms over the old wooden floor. The doors and wood panelling had been burned. The staff who had lived there and worked for them for decades were now on their own and had to fend for themselves” (2327).

Weens afrikanisering was baie dinge in Kenia nie meer dieselfde as gedurende die versmaaide koloniale bewind nie. Die standaarde in skole en elders het gedaal. “I risked my life on a public transport bus. Even if I wasn’t killed through reckless driving or wheels falling off from poor maintenance, it was simply not an acceptable way to travel. I could hardly arrive at work covered in chicken shit, or stinking of goat, or any of the other odours that were a fundamental ingredient in the ambience of local buses” (2416). Dit herinner aan die Britse (oor)bewustheid van klasverskille en spesifiek aan die volgende mening van George Orwell: “One of Orwell’s oddest ventures [was] his attempt to build a political theory upon his hypersensitive sense of smell. ‘The real secret of class distinctions in the West … is summed up in four frightful words … The lower classes smell'” (Thomas E Ricks, Churchill and Orwell: The fight for freedom, London: Duckworth, 2017, 370p; Amazon Kindle $12.64, 620).

In Kelly se gedrag was daar heelwat wat afkeurenswaardig was. Sy was nie onwillig om daarvoor apologie aan te teken nie. Die boektitel verwys eerder na die feit dat al die hoofkaraters in haar lewensverhaal, bv haar ouers en grootouers, reeds dood is en sy hulle dus nie om verskoning kan vra nie. Kelly is blank en dus deel van daardie groep mense van wie verskoningvra verwag word.

Die tersaaklikheid van die voorafgaande sal blyk uit wat volg. Ek verwys vervolgens na die boek van ‘n outeur wat ras- en etniesgewys in die gunstige posisie is dat sy nie verskoning hoef te vra nie, naamlik Haji Mohamed Dawjee se Sorry, not sorry: Experiences of a brown woman in a white South Africa (Cape Town: Penguin, 2018, 224p, R220; Amazon Kindle $14,95). Hoewel die outeur van Indiese afkoms is, noem sy haarself bruin, wat meer akkuraat is as die nie-swart nie-wittes wat hulleself deesdae so graag swart noem. Die Suid-Afrika in die newetitel verwys nie soseer na die land vóór 1994 nie maar na die nuwe Suid-Afrika, wat deur Dawjee steeds as oorweldigend blank en ongetransformeerd ervaar word. Die blankes “still operate under an umbrella of privilege” (2616). Die “woman” in die newetitel word hier onder gekwalifiseer.

Dawjee se boek herinner in baie opsigte aan mede-Indiër Ferial Haffajee se What if there were no whites in South Africa? (Praag 5.11.2017). Haffajee is van moederskant ‘n Kaapse Maleier, dus minder Indiër as Dawjee. Maar Haffajee, anders as Dawjee, probeer om swart en niks anders te wees nie. Albei boeke is kompromisloos anti-blank en kan in geen opsig rasseharmonie en versoening bevorder nie. Waaksugtig sou albei outeurs graag wou hê dat blankes in selfs groter mate as tans benadeel word. Soos die ANC gee albei valslik voor dat hulle “non-racialist” is (73). By albei is daar onuitstaanbare arrogansie terwyl dit terselfdetyd deurskemer dat hulle hoofprobleem is dat hulle nie in staat is om op gelyke voet met blankes mee te ding nie. Haffajee erken darem dat sy ‘n “employment equity candidate” is; dus dat sy haar loopbaan aan ras- en geslagsgebaseerde bevoordeling te danke het. Albei is gepreokkupeer met hulle voorkoms en gebruik hulle kennis van Afrikaans uitsluitlik op ‘n negatiewe manier.

Nieteenstaande hulle anti-blanke gesindheid was Haffajee in ‘n verhouding met ‘n blanke man, ‘n joernalis, toe haar boek gepubliseer is. Dawjee oortref haar deurdat sy ses maande lank met ‘n blanke man getroud was voordat hulle na bewering weens hulle ouderdomsverskil van 15 jaar geskei het (1730 – of 19 jaar, 1218). Die kersie op die koek is dat Dawjee sedert 2016 ‘n blanke joernalis, Rebecca Davis, as vrou het (2670). Dit herinner aan die blanke joernalis, Elsabé Brits, van wie ‘n uitstekende boek oor Emily Hobhouse (2016) in Afrikaans en Engels gepubliseer is, wat ook daarop roem dat sy ‘n blanke vrou het. Dawjee is by geleentheid gediagnoseer as ‘n lyer aan bipolêre gemoedsteurnis (1230). Brits het dieselfde probleem (gehad) en ‘n boek daaroor geskryf: Kyk my in die oë (Kaapstad: Tafelberg, 2011, 107p; Amazon Kindle $23). Van Davis is die volgende boek gepubliseer: Best white and other anxious delusions (Johannesburg: Pan Macmillan, 2015, 216p; Amazon Kindle $19,08) – ‘n versameling rubrieke.

Haffajee het die voorwoord by Dawjee se boek geskryf. Sy noem die boek “funny” (73, 79, 103), wat gewoonlik verseker dat ek nie so ‘n boek koop of lees nie. Davis se boek is glo ook “funny” want sy skryf bv oor die kwessie of heteroseksuele toegelaat behoort te word om kinders groot te maak. Dit is die soort “norm-challenging” (79) en opruiendheid (“incendiariness” – 115) wat as “little pearls” (85) in Dawjee se boek aanwesig is. Dawjee het bv ‘n artikel geskryf met die volgende opskrif: “White people can walk their dogs in South Africa, but not their children” (2515) na aanleiding van swart versorgers wat na blanke kinders omsien. Dit is ‘n voorbeeld van wat sy op haar kenmerkende manier “my mind brain-farted in a big way” noem (2515). Sowel Haffajee as Dawjee verkeer in die waan dat “all writing had to serve the struggle for justice” (103),* klaarblyklik sonder inagneming van die skewe hoek waaruit hulle dinge en gebeure benader. [* Albei stem dus saam met Josef Stalin se stelling dat skrywers propagandiste, “engineers of human souls”, moet wees (Madeleine Albright, Fascism: a warning, London: William Collins, 2018, 283p; Amazon Kindle $17.24, 1165).]

Dawjee was in 2011 ‘n honneursstudent in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US). Daardie jaar was Hannelie Booyens aldaar die Rykie van Reenen-genoot. Dawjee noem twee oorverligte joernaliste en daarby susters, Susan en Hannelie Booyens, haar mentors (2652). Susan word bedank “for endless conversations about annoying Afrikaans people” (2652). Dawjee erken by implikasie dat haar boek ten doel het om Afrikaners die moer in te maak. Hannelie was met haar storie oor beweerde Nazi-aktiwiteite op die Potchefstroomse universiteitskampus die oorsaak van die berugte Leon Wessels-verslag. Gelukkig is nie almal met die van Booyens onredbaar links nie. Dink bv aan Herman Booyens, wat in murg en been ‘n Afrikaner is (Praag 29.03.2018). Wat Dawjee oor die US se departement joernalistiek skryf, bevestig dat uiters linkse politiek daar botvier, soos ek onlangs aangedui het (Praag 7.04.2018). Hierdie studente het bv die Apartheid Museum in Johannesburg besoek (1952); seker(lik) nie die Voortrekker-, Vroue- of Taalmonument nie.

Dawjee skryf: “I thought about my ethics and African studies lecturer a lot. Dr Simphiwe Sesanti walked into our journalism class one day filled with robustness and rage. I got the distinct impression he was tired of how white students revered Nelson Mandela. He was offended (and rightly so) by the fact that it was becoming clearer with each lecture that Mandela was just about the only black South African they recognised and respected. The only black South African they were ever likely to reference with any degree of positivity. So, with vigour, he shouted, ‘Nelson Mandela did not free us! We freed Nelson!'”(2129). Daardie klas – en seker ook daardie departement joernalistiek in sy geheel – is nie ‘n plek waar ‘n konserwatiewe of regse student, eintlik enige Afrikaner, tuis sal voel nie en aan Afrikaans word daar klaarblyklik min ruimte gegun.

“Denial screamed from the throats of the privileged [ie white] students who got the best deal. They fought back with ‘buts’. There were also gasps and murmurs. My friend Sarah [Koopman] and I turned to each other, mouths open and eyes wide. We had one mutual thought: blasphemy. Sesanti, almost bouncing off the walls, fists in the air, gave us a lesson in apartheid warfare. In the brutalities of frontlines and the dangers of being outside the prison walls for twenty-seven years instead of behind them. Aware of the outcry in the classroom but unafraid, he repeated his war cry a little louder: ‘Nelson Mandela did not free us! We freed Nelson!'” (2135). Sedert 1994 het die volgende stelling die aanskyn van ‘n vergesogte gedagte gekry: Op hierdie kampus was daar eens ‘n akademies uitnemende universiteit; boonop ‘n blanke, Afrikaanse universiteit.

In die eerste hoofstuk gebruik Dawjee Steve Biko se “I write what I like” as norm om te kla dat wit mans kan skryf wat hulle wil (weens “opportunity, privilege, entitlement”) terwyl van nie-wittes verwag word om ‘n slawementaliteit te hê en met ‘n gekoloniseerde verstand te skryf oor wat die wit hekwagters in die inligtingsmedia van hulle verlang. Dít is die stereotiepe verwyt dat nie-wittes geleenthede ontsê word. Dwarsdeur die boek gee Dawjee ruim uitdrukking aan haar frustrasies, maar nêrens is daar aanduidings dat sy tot geestelike diepte en oorspronklike insig in staat is nie, al dink sy sy is “on the frontlines of critical thinking” (240). “I am oiled by way too much independent thinking to be a yes-woman” (1923). Sy kom by die kern van haar probleem wanneer sy vra: “How can we rise out of inferiority if we cannot tell superior stories?” (148). Dawjee soek dieselfde uitweg as Haffajee: “We own the hard stuff … We own the struggles. And if we don’t write about them, the country will forever dwell in the lily-white utopia that once was” (172).

Wat moeilik verteerbaar is, is die intense narsisme/selfkoestering, die “being too self-indulgent for a brown lady” (253). Sy vertel bv van haar pa wat ‘n breingewas gehad het en wie se kanse op oorlewing skraal was. Haar onheilige gedagte was: “Perhaps, when he passes, I can live a life out of the closet without fear of disappointing him” (315). Sy lig haar lesers in besonderhede in oor Islam, maar haar onkonvensionele vertolking is dat Moslemvroue gelyke regte geniet en dat homoseksualiteit in Islam aanvaarbaar is. “[Muslim] women have lots of rights and are just as entitled to freedoms as men” (745). Haar pa het die breinoperasie oorleef. By haar troue in 2016 het hy sy seën oor hierdie egpaar uitgespreek. Dawjee lei hiervan af “a brain tumour can change your mind [for the better]” (257).

Sy skryf oor tekkies en hoe hulle skoongemaak word en dat nie-wittes eerste met die dra van tekkies was en dat blankes hierdie gewoonte oorgeneem het. Daarvoor verwyt sy natuurlik die na-apende wittes. “The best way to destroy part of a culture, even if that part is as material as a pair of shoes, is to take it from its people. The power of white people to take things never dies” (438). Blankes is dus by uitstek die stelers, die diewe. “It’s now acceptable for people of colour to wear All Stars because white people wear them, while the rightful owners of that trend go unrecognised” (444). Dit word voorgehou as nog ‘n opsig waarin blankes die nie-wittes misken en benadeel. Sedert 1994 het baie inwoners enersyds gevorder van kaalvoet/voetsoolvlak tot plakkies en baie ander het gedaal van skoene tot plakkies. Dawjee het uitdrukking hieraan gegee deur in 2016 in plakkies te trou. Sy skryf ook oor die soort skoene wat bekruipers (“sneakers”) genoem word, maar deesdae mag ‘n mens nie meer sê watse bekruipers nie.

Dawjee het uiters bevoorreg grootgeword deurdat sy ‘n histories blanke skool in Valhalla bywoon het en haar ouers vir talle buitemuurse aktiwiteite betaal het, bv lesse in perdry. Politiek word by alles ingesleep. “I was well aware of the fact that my sister and I were being spoken to rather differently than white students … we were being addressed as though we might be a little stupid or slow” (494). “I always got the oldest, biggest, laziest horse. Those white kids got some poster-worthy equines” (501). Sy het ook tennis onderrig ontvang maar nie daarin gepresteer nie. Die lesbiese blanke Martina Navratilova was eens haar tennisheldin (511) maar rasoorwegings wen later en die swart Serena Willians neem Navratilova se plek in: “I worship her” (474). Let op die soort oordrewe stellings waarmee Dawjee oor bekende tennisspelers vorendag kom: Maria Sharapova “is the most average player ever and confirmed what we always knew: Serena is the greatest of everything ever” (2327).

Na aanleiding van Antjie Krog se boek, Begging to be black (2009), het Dawjee ‘n hoofstuk oor “Begging to be white?” geskryf. Sy kan nie iets oorspronkliks uitdink nie; net improviseer met wat ander mense uitgedink het. Hier is haar teks soortgelyk aan Haffajee se boek: Hoe salig is dit om wit te wees. Dit is glo maklik, eenvoudig, ens. Blankes hoef nie verantwoordelikheid vir hulle dade te aanvaar nie en hulle word toegelaat om in hulle onkunde te berus. Blankes word uitgebeeld asof almal welvarend is. Almal geniet na matriek ‘n oorbruggingsjaar (“gap year”). “White people are so privileged, they can afford to go and do nothing for a year and come back to have a tertiary education” (664). Dawjee het op jeugdige leeftyd reeds baie meer oorsese lande besoek as wat die meeste plaaslike blankes in ‘n leeftyd kan bybring. Sy kom ook graag vorendag met stories wat variasies is van die fiksie wat deur mense soos Oprah Winfrey en Jonathan Jansen versprei word, bv geleerde nie-wittes wat as bediendes aangesien word (1063) en welvarende nie-wittes wat deur blankes vertel word dat hulle nie ‘n T-hemp (693) of ‘n woonstel kan bekostig nie (1069).

Koos Kombuis het in 2007 uit die Afrikanerdom getree. Dawjee se variasie is: “A resignation letter to performative whites” (1006). Sy voel asof sy deur blankes misbruik is ingevolge die Stockholm-sindroom waarvolgens die slagoffer simpatie met die onderdrukkers ontwikkel. Sy gaan blankes nie langer vertrou nie. Blankes voel goed as hulle haar goed behandel. Sy hou nie daarvan nie. Van die min sinvolle standpunte in die boek is dat Dawjee minder van linkse liberaliste as van regse “rassiste” hou; nie dat sy respek vir enige van die twee, eintlik enige blankes, openbaar nie. “The good whites (those so tainted by their own moral superiority complex that they are unable to see the error of their ways) and the bad (those who openly wear their hatred on their sleeves). My preference, for the record, is for the latter. Give me an open racist any day. At least they wear their ignorance with conviction … They are … okay with their powerlessness” (1035). Dit klink soos die paranoia/vervolgingswaarsin van ‘n gepynigde gees wat nie ‘n gesonde balans handhaaf nie.

Wat blankes ook al doen, hulle sal haar guns nie wen nie. “Going to protests and painting underprivileged schools in underprivileged areas does not remove your whiteness” (1029). Om wit te wees, is om skuldig en verwerplik te wees. Nogtans het sy die onstilbare behoefte om blankes op te voed. Sy verfoei wit trane maar verwag uiteraard simpatie vir nie-wit pyn. “I will no longer pay for your journey with my pain” (1092). Haffajee wil mal word en Dawjee wil blind word van woede (haat?) jeens blankes (1035). Tot haar eer hou Dawjee nie van kwotas en die skyn van rasverteenwoordiging nie. “There is nothing worse to me than having a token black person” (1325).

In die hoofstuk oor depressie blyk dit dat Dawjee self die kern van haar onvergenoegdheid is. Sy probeer om haar lewensloop ouderdomsgewys te rekonstrueer. Hiedie poging doen hom as kunsmatig voor. Sy hou nie van haar eie onvolmaaktheid nie en wend haar tot self-haat (1126); haat wat myns insiens ook op blankes geprojekteer word. “Everyone knows I am a loser” (1137). Toe sy 14 jaar oud was, het sy begin rook. Daarna het dwelmgebruik gevolg. Sy misluk as student in die regte aan die Universiteit Pretoria. Let op die uiterste subjektiwiteit in die volgende beoordeling: “The University of Pretoria is a segregated black hole waiting to swallow lost souls and outcasts” (1411). Sy erken: “I will happily, proudly even, admit that I am untrainable. I am rebellious in the face of authority, I do not like being told what to do by people dumber than I am” (1923). Later word sy as student hertoegelaat en slaag in sielkunde as hoofvak, asook musiek. Sy gee vyf jaar lank onderwys, maar daar is onderbrekings weens sielkundige probleme.

Daarna voltooi sy ‘n graadkursus in joernalistiek en wen R50 000 in ‘n skryfkompetisie van die You-tydskrif, insluitende werk vir ‘n jaar. Drie blanke mede-studente wen ook werk vir ‘n jaar maar sonder die prysgeld. Desnieteenstaande vind Dawjee die werkopset onuitstaanbaar rassisties. “The media was a dog show and people of colour would always be the mutts” (1923). “Was I only there to maintain a good BEE demographic while keeping the place appropriately white?” (1934). Dit lyk asof sy gewoon nie op gelyke voet met blanke joernaliste kon meeding nie. Sy erken die kern van haar probleem met blankes: “I am afraid of white people” (1306). Sy gaan vervolgens by die Mail & Guardian werk. Daar word sy weer deur sielkundige probleme gekortwiek. Sy het ‘n verhouding met ‘n blanke vrou “that … make me feel like I am being used as a political badge of honour” (1264). “Am I a trophy of her progressiveness?” (1270). Daarna vind sy in Kaapstad werk en nadat hulle mekaar 21 dae geken het, besluit Dawjee en Rebecca Davis om te trou.

Oor interrassige huwelike verkondig Dawjee dieselfde waarheid as Jonathan Jansen (Praag 31.03.2018): “When a white person marries a person of colour, they are looked down upon. It is assumed that they settled for less. When a person of colour has a white partner, however, even their own people revere them. ‘They married up’ is a popular slogan” (1378). “My self-esteem when it came to white men had increased ten-fold since marrying a white man” (1730). Sy het hierdie man gevra om met haar te trou (1212, 1218). “I still subconsciously accept what the world has taught me even though I do not believe it: whites are exemplary” (1385) en “beauty is white” (1747). Sy geniet ‘n sekere televisieprogram waarin net blankes optree omdat blankes dan ook die arbeiders is. Dit stel haar in staat om te voel soos sy rasgewys wil voel: meerderwaardig (1407), maar blankes mag nie meerderwaardig wees of voel nie.

Dawjee gebruik haar boek nie net om lesers selektief oor Islam in te lig nie, maar ook om hulle in Indiese kultuur te onderrig. Sy vertel dat toe sy Indië besoek het, “I travelled with an Overseas Citizenship of India passport” (1817). Ingevolge Indië se grondwet het alle etniese Indiërs (en slegs hulle) die reg om aanspraak op burgerskap van hierdie oorbevolkte land te maak. Maar dit is Indië wat die uiters diskriminerende kastestelsel (gehad) het en dit is die Indiese regering wat jaarliks kapsie by die Verenigde Nasies teen Suid-Afrika se apartheidsbeleid gemaak het. Japan beskerm homself ook op etniese gronde teen inkommers, maar net die Suid-Afrikaanse blanke regering se segregasiebeleid is hoogs oordrewe tot ‘n misdaad teen die mensdom verklaar.

In die laaste hoofstuk kom Dawjee met die onoorspronklike stelling (voorheen ook deur bv Max du Preez oorgeneem): “It is our [non-whites’] turn to talk and their [whites’] turn to listen” (2550). Sy voeg by: “If they won’t, it is often going to be my responsibility to tell them to shut up” (2556). Kort daarna beweer sy egter sy is “encouraging a critical discussion on race” (2561). Met blankes wat hulle bekke moet hou? “I am not sorry that you feel silenced. I am not sorry for this, because your feeling silenced slaps the faces of those who have been silenced for far too long” (2628). Sy is militant of dalk eerder gewoon hardegat (“I became a hard-ass” – 1968): “I will contribute to a world where the white person, regardless of generation,* is forced to accept and understand their belonging to the class of the oppressor” (2567).** “I have realised that there is one ring that binds them [whites], so to speak, and that is their contribution to a reality that is actually quite fucked” (2604). “I am not sorry that my raised voice offends you” (2610). “I am not sorry that my truth offends you” (2628). “Sorry, but I am not sorry” (2640). [* “This almost genetic entitlement” (2634). ** George Orwell: “The oppressed are always right and the oppressors are always wrong” (Ricks, 454).]

Kortom, Dawjee se boek, soos dié van Haffajee, is ‘n prulwerk wat nie verdien om gekoop of gelees te word nie. Ek beaam die volgende stelling van Dawjee: “Not everyone is worthy of my time and investment” (2556).

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.