Suidpunt: Ek is nou klaar met Afrikaanse tydskrifte

Dis al diep in Aprilmaand en ek is besig om my boekrak en kartonbokse te takel. Tydskrifte en boeke word sorgvuldig krities bekyk, resorteer en sorteer: herwinningsak, biblioteek, antikwariaat of vriende/familie?

Daar is ‘n tyd om te kom, ‘n tyd om te gaan: my sin vir Afrikaanse tydskrifte is nou op.

DIE AANLOOP

Die eerste wat onder my weggeehamer beland is die Taalgenoot. Hulle kry my suster. Sy het daarvoor gevra.

Die Taalgenote het ek by my haarkapster op die dorp gekoop. Haar bejaarde vader [nou in sy saliger rus] was tot sy dood lid van die ATKV. Hy het die kwartaallikse tydskrif gereeld na sy dogter gebring. En sy het die kopie weer vir my gegee. Al om die 70 dae+ wanneer ek daar ‘n draai maak. En, soos mens maar is, wil jy ook niks verniet hê nie. Hulle het ook die geld nodig. Vir brood en so. Op daardie stadium het ek weer die leesstof benodig, omrede die Afrikaanse kultuurwêreld daarin bespreek is [soos resensies, agter-die-skerms-kyke, nuwe genres, die stand van vertaling, boekverkope, ens.]. Die universiteit het geen nuwe eksemplaar meer aangekoop nie (mens wonder seker hoekom?). Om buitendien ‘n fotostaat by die universiteit aan te vra van ouer kopieë is ‘n omslagtige en tydrowende marteling – dan moet die tydskrif maar liewer in my besit wees.

Om dieselfde rede het ek ‘n ander hopie leesstof gekoop; die Tydskrif vir Letterkunde uit 1988 tot 1990. Hul geskiedenis loop terug na Mosselbaai. Ek weet nie of dit net ‘n Hartenbos-Mosselbaai-ding is nie, nè, maar met ons het die inwoners vreeslik geselserig geraak. Hulle vis ongemerk uit oor jou agtergrond, waar jy bly, wat jou beroep is, kyk ongemerk waar pappie se motor staan; maar jy steur jou nie daaraan nie, want jy is in ‘n vakansiebui. En dis immers “Suid-Kaapse vriendelikheid”. Die goeie ou waardes, dink jy nog. Nou kyk, met my moeder het dit by ‘n haarsalon gebeur, en met my by ‘n boekekraampie. Die prys is by die haarkapster so taks opgestoot (nadat die hare reeds gekap en die prys voorheen afgespreek is!), en ek, as verleë student, moes R300,00 vir 10 papierdun tydskriffies opdok by ‘n boekekraampie [van tweedehandse boeke] wat boonop vir liefdadigheid geskenk is! Die ou boekekraamvrou het so ‘n regte steekbaard gehad; die ou heks van Endor uit die Kinderbybel in lewende lywe. Van die boeke wat ek toe koop sê sy sommer die prys wat voorin staan is verkeerd en maak dit hoër. Dis mos Boerebedrog!

Vandag is ek spyt ek het nie summier op my hakke omgedraai en uitgeloop nie [as onderhandelingstaktiek om die prys te laat daal]. Maar hei, jy is verleë, jy het die goed nodig vir jou studies. Die Wet van Transvaal geld ook hier onder in die Kaap. Ek begin al meer dink Afrikaners is daarop uit om mekaar te bedonder en uit te roei.

Die teerling is gewerp: na die biblioteek toe met julle.

‘n Ander hopie, die De Kat-tydskrifte, het ek by die biblioteek teen R1,00 stuk gekoop. Hulle toekoms is nog duister.

Nou terwyl ek op 10 April besig was om deur die tydskrifte vir oulaas na inligting te sif, kom ek af op ‘n lesing van Hennie Aucamp.

Hy praat oor alles en nog wat. Daarin trek hy te velde teen enige sensuur, ook kommunistiese boeke wat verbrand of verban word [hy praat van ‘Anna Seeghers’ en ‘Lion Feuchtwanger’ wat ‘gelukkig’ nog gelees word – name waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Is dit ‘naamsmousery’?].

Maar hy bepleit ook vir ‘n vryer ontdekkingstyd in die laerskool en later. Kinders moet Nederlands speel-speel op laerskool kry met heerlike avontuurverhale; kinders moet toegelaat word om Rooi Jan-, Tarzan– en Keurboslaanboeke te lees en te geniet (en onderwysers moet hul bek daaroor hou), anders grens dit aan indoktrinering en permanente vervreemding van die letterkunde. Hy dink glad nie seunskinders sal “‘n trek na hoogs verfynde styl in hul laerskooljare” hê nie. [Eintlik probeer hy net sê: laat hulle soveel van hierdie verstrooiingsliteratuur lees totdat hulle genoeg daarvan gehad het. En klaar is met die dinge van ‘n kind.]

Hy vra hom af of die Afrikaanse letterkunde ruim genoeg is om te voorsien in die behoeftes van mense wat Afrikaans lees, soos Afrikaans-, Engels- of Duitssprekendes, maar ook Xhosa- en Zoeloesprekendes.

In dieselfde troonrede vra hy egter terselfdertyd groot asseblief dat Afrikaans aangevul moet word met vertalings, want aai, “[o]ns kan dit nie bekostig om geslag na geslag leerlinge op die skraal dieet van nostalgie groot te maak nie.” […] “Kan die Engelsman ooit respek vir die Afrikaanse boek ontwikkel as hy ruggraatlose storietjies voorgeskryf kry? Gee vir hom Raka, sê ek, dat hy kan voel: dis die moeite werd om hierdie teks te verower, want dit is groots gedink” (p.32).

En dan, die volgende paragrawe (p. 33):

Wat vertalings betref, het Afrikaans oor die afgelope dekades bestendig agteruitgeboer. Die populêre tydskrifte van my jeug, Die HuisgenootDie NaweekDie Huisvrou en Die Brandwag het hul ontspanningstaak ruimer gesien as die hedendaagse tydskrif. Hulle het gereeld vertalings geplaas uit Duits, Frans, Sweeds, Noorweegs, Italiaans. Ek het De Maupassant, Deledda en Pirandello in my laerskooljare leer ken in populêre Afrikaanse tydskrifte. Dit het ‘n spontane absorbering van letterkunde beteken. Op grond van tydskrif-vertalings het ek en my suster vertalings begin koop met ons spaargeld, want ons het gevoel: hier is dinge wat ons ánders, várser, na die wêreld laat kyk. Wie vroeg genoeg wêreldletterkunde ontdek, sal die lewe nooit weer met die oogklappe van kleinburgerlikheid kan aankyk nie. Dalk is dit die grootste euwel van ons tyd: dat daar te veel van alles beskikbaar is; ook leesstof. Die kans dat jy die goeie ding kan misloop, is nou soveel sterker. Want waar sal jy die goeie ding soek? Nie meer in populêre tydskrifte nie. Die draers van populêre kultuur, soos Die Huisgenoot en Rooi Rose, probeer alles vermy wat na elitisme sweem.

Vertalings is nou tot letterkundige tydskrifte verban. Het Volk sal nie meer aan buitelandse kieme blootgestel word nie. Het Volk sal kragtig gedy op ‘n roomys-en-roomkoekdieet. Wat ‘n ironie: dat tegnologie – die tydskrif, T.V., video’s, – ‘n laer om ons begin trek wat ons visie versper. Want ons kyk ons vas teen uiterlikhede: teen Dallas en die Britse Vorstehuis.

Volgende blad:

Maar waar, o waar, moet die stem van die Afrikaanse kritikus vandag opklink? Standpunte is opgedoek, wat vir my die treurigste voorbeeld bly van ‘n kultuur wat homself verraai het.

Hy gaan op dieselfde bladsy dan behoorlik te kere oor kritici wat in dagblaaie publiseer, weens ‘n gebrek aan ruimte in literêre tydskrifte, glo hy. Die meeste akademici is skynbaar bitter moeilik te speen van die allerjongste literêre –ismes en hul geskriffies is gewoonlik bo die gemiddelde leser se jakkals.

En dan, uiteindelik, die volgende relaas (p. 37):

Maar die Afrikaanse tydskrif – op De Kat na – sien sy kultuurverpligting teenoor Afrikaans nie meer in so ‘n ernstige lig nie. Ek dink hier spesifiek aan Die Huisgenoot en die Sarie.  Die Sarie kondig nou, o, so Amerikaans, boeke aan: ‘n foto van ‘n boekomslag, ‘n paar sentimeter teks, en daarmee basta. En eenmaal, in geseënder tye, het Rykie van Reenen, onder die skuilnaam Elizabeth Tradoux, kolomme geskryf in Sarie oor die jongste Opperman en Van Wyk Louw, in toeganklike Boere-Afrikaans, en só die ”groot kanonne” met gemak aan haar lesers verkoop.

Praat jy met tydskrifredaksielede oor die vervlakking wat hul tydskrifte ondergaan het, kyk hulle jou meewarig aan. ”Die tye waarvan jý praat, is vir altyd verby”, sê hulle dan, ”ons gee die publiek wat hulle vra.” Is skitterskyn werklik al wat die publiek wil hê, of wil hulle nou hê waaraan hulle gewoond gemaak is: diepdruk en glanspapier en internasionale perskopie? Hoekom is De Kat dan só ‘n sukses? Bewys dit nie dat daar ‘n behoefte is aan ‘n Suid-Afrikaanse tydskrif vir denkende mense nie; ‘n brug tussen massakultuur en opperkultuur?

‘n Paar bladsye terug skryf hy (p. 34):

Dis ook Uys [Krige] wat voortdurend waarsku teen die onoordeelkundige gebruik van die kwalifikasie groot binne die Afrikaanse kritiek. ‘n Mens hoor te dikwels van boeke wat ”briljant”, ”verbluffend”, of  ‘n ”kragtoer” is, waar hierdie boeke hoogstens verdienstelik is. Die Afrikaanse boek mag uiteindelik hieronder ly – ‘n publiek wat keer op keer mislei word, gaan ophou koop. ‘n Hollandse vriendin wat ál die pieke in Afrikaans meegemaak het, weier om langer Afrikaanse poësiedebute te koop of selfs te lees. Elke keer die ”fanfare”, sê sy, en as jy die bundel oopmaak, dan maar weer ‘n ”pubergeklodder”.

Hierdie rede is nie kort voor Aucamp se dood in 2014 gelewer nie. Dit was op 7 Oktober 1987 op Welkom voor leeskringlede en bibliotekarisse, ”gereël deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biblioteek- en Inligtingswese (Vrystaat-tak), in samewerking met H.A.U.M. (literêr), die Direktoraat Kultuursake, en De Kat. ” Die volledige teks kan jy vind by Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1988 (XXVI:2), bl. 26 e.v.

Ek dink dit is hoog tyd vir ‘n ordentlike resensie.

DIE AFWATERING

As jy vandag die ATKV-Taalgenoot naas die huidige De Kat plaas, kan mens kwalik enige verskil sien.

Jy sien, op bl. 60 van die ATKV se Taalgenoot van September 2006 staan daar nog uitdruklik:

Een van die ATKV se waardes lui soos volg: ‘Die ATKV baseer sy aktiwiteite op ‘n Christelik-Bybelse grondslag’. Wanneer ‘n persoon om lidmaatskap aansoek doen, verklaar hy onder meer dat hy ál die waardes van die ATKV onderskryf en nastreef […] die voornemende lid […] aanvaar dat die ATKV die Christelike boodskap uitbou. In die verlede het lede verklaar dat hulle aan die Christelike geloof behoort. In praktyk het dit dikwels beteken dat die persoon slegs aan ‘n Christelike kerk behoort en nie werklik Christelike waardes uitlééf nie.  Met die nuwe formulering van hierdie voorwaarde verklaar die lid dat hy of sy die Christelik-Bybelse waardes ondersteun, respekteer en bowenal nastreef. Verder aanvaar die lid dat die ATKV die Christelike boodskap uitdra. Die ATKV is dus steeds onbeskaamd Christelik en ‘n aflegging en verbreking van hierdie verklaring is ‘n gewetenskwessie van die betrokke lid.

Dit was nou in die jare van Johan van Schoor aan die stuur. Die tydskrif het eintlik baie aan die Vrouekeur van destyds herinner. Gewoonlik ook ligte leesstof passend by die vakansieluim by een van sy oorde.

Teen omtrent nege jaar later het die organisasie die Christendom en die Afrikaner se edele ideale by die agterdeur uitgesmyt, en BOKPOOT met dekadensie en marxisme vrye toegang by die voordeur gegee. O nee, ek lieg, want by die aansoekvorm  staan daar die volgende reliek heel onder: ”Ek verklaar hiermee, namens myself en my gade, dat… Ons die uitlewing van die Christelike waardes van die ATKV respekteer en aanvaar dat die ATKV die Christelike boodskap uitbou.” O, ek sien – op ‘n tegniese puntjie is julle nie meer fundamentalisties nie: die ‘Christelik-Bybelse waardes’ het gewaai. Geen kommer, geen kommer, die Voortrekkers se Verkennerhandleiding uit 1983 (derde druk) is véél minder inklusief as julle s‘n:

As jy nie ‘n gelowige Christen is nie, sal jy nie tuis voel in Die Voortrekkers nie. Die geloof in die drie-enige God is die lewenskrag van die Beweging, en een van sy doelstellings is om dié geloof by jou in te skerp. As verkenner sal jy by elke Voortrekkerbyeenkoms deel wees van ‘n groep mense wat die Christelike godsdiens met dankbare vreugde beoefen. Gebruik die geleentheid wat die Voortrekkers jou bied om die liefde tot God en jou naaste oral en altyd te laat geld.

As jy nog nie seker is wat die bogenoemde Voortrekkerreël (p.6) van destyds behels nie:

Om God te eer

Ons begin by ons verhouding tot God. As ‘n Voortrekker oor God praat, bedoel hy dié God wat die Vader van Jesus Christus is en wat sy Heilige Gees aan ons gegee het. Hy is die drie-enige God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Ons ken Hom omdat Hy Hom aan ons geopenbaar het.

Die Bybel bevat die getuienis oor sy openbaring.

[…]

Wat ons aan Hom verskuldig is, leer ons in die Bybel.

Dis net ironies dat die ATKV te midde van hierdie marxistiese tydskrif [lees verder] vir die Bybelgenootskap stap ter fondsinsameling (nog in 2016 laas, verneem ek).

Maar terug by die minder elitistiese, onfascistiese tydskrifte.

Nou die Taalgenoot-tydskrif, wat eens vreeslik op sy agterpote was oor byvoorbeeld liberale wetgewing rondom homoseksualiteit en aborsies (April 2005, p. 13-16), nogal getiteld ”Regstelsel sonder remme?”, skryf tans ewe onbeskaamd oor die vreugdes en stigma van homoseksualiteit, veral ‘koekstamp en giggel’ [om nou uit die Gayle-leksikon aan te haal]. So nou en dan word ‘n paar uitspattige foto’s van ”fopdossers” [hulle gebruik die woord, nie ek nie] en transvestiete geplaas, sommer vir die grap. En hier dag ek heeltyd homoseksuele trek maar heel alledaags aan, soos die res van ons sterflinge. Verder: kleurblinde verhoudings, vroue-chauvinisme [of, soos die kommentator Jared van Niekerk dit stel, mannetjiesvroue wat al hoe meer lyk soos die einste spesie wat hulle verag (mans!), nie feministe wat maar gewoon ‘selfde werk’ = ‘selfde geld’ = ‘selfde respek’ = ‘selfde regte’ wil hê nie], seks [of dan, erotiese kapitaal] – laat waai maar. Toevallig doen De Kat dit ook.

Die geweldige obsessie met randfigure en minderhede ken egter sy perke. Want ” ‘n klein randgroepie” – dis nou PRAAG-skrywers/-lesers volgens ‘n woordvoerder van AfriForum, Kallie Kriel, luidens die RSG-nuusbulletin op 13 November 2014 om 13:00 – sal nooit hul voorblaaie haal nie.

Albei is glanstydskrifte met PICA-benoemings (of -pryse). Albei behandel Zef- of swak, onooglike agterbuurtdekor (roes) as iets verhewe of alternatief teenoor die logiese, rasionalistiese denkwyse wat vorm, funksie, skoonheid, suiwerheid en eenvoud adellik nastreef. Laasgenoemde is seker te elitisties – nee, nivellering moet plaasvind. Net soos die onderskeid tussen suiwer en onsuiwere taal nou dadelik moet uitgewis word ( https://dekat.co.za/afrikaans-is-cool-my-bra/ ).

Albei tydskrifte gesels met ‘n marxistiese ingesteldheid oor die Afrikaner se geskiedenis; dog hunker hulle ewe onbeskaamd terug na die glorieryke Britse koloniale tye toe alles glo beter was. Die helde is Amerikaans, met inligting wat jy ewe lui-lui van die Engelse Wikipedia kon afgetrek het.

* “Identiteitskrisis”,

* “die kuns van wit manlikheid”,

* “Geweld: ‘n Afrikaner-erfenis?”,

* “Die taal van ‘n revolusie – Nasionalisme kaap die taal”,

* Afrikaanse popmusiek wat tydens Apartheid soos die Schlagermusiek van Duitsland was: Apartheid het juis die lirieke deur sensuur oppervlakkig gemaak net soos die Nazi-Duitsland se Kraft durch Freude… [KULTUURMARXIS-BINGO! DAAR KRY HULLE DIT WÉÉR REG!] met die uitstaanskrif: ”In teenstelling met poëtiese lirieke, wat introspeksie vereis, verlei Afrikaanse popmusiek” [vernaamlik seker deur Afrikaners gesing?] ”sy gehoor tot vlak ekstase wat bydra tot die ontkenning van ongemaklike realiteite in Postapartheid-Suid-Afrika”.

Al hierdie aanvalle, ekskuus, byderwetse perspektiewe moet die niksvermoedende leser op sy vakansie op sy opblaasmatrassie op Klein Kariba vir lief van kennis neem. Taalgenoot. Lente-uitgawe 2016, met Nicola Hanekom op die voorblad langs die Azaniëvlag. Tema op die rugkant: Erfenis. Eintlik: Die sondes van die vaad’re. Ironies genoeg het Japie Gouws, die destydse besturende direkteur, dit goed gedink om in hierdie ”kwartaallikse pragtydskrif”, soos hy dit stel, op bladsy 79 van dieselfde uitgawe te skryf: ”Die ATKV se doelwitte is om taal en kultuur te gebruik sodat mense mekaar kan verstaan.”

excreta tauri astutos frustrantur

Skynbaar het hierdie aantygings niemand ontstel nie, soos jy later sal sien met die sirkulasiesyfers. Ek kom nog daarby.

Maar so gepraat van identiteitskrisis, ek het iets uit Aucamp se lesing vergeet (p. 37):

Ons is ‘n oorgangsgeslag, het dr. Con de Villiers gesê, en ons weet dit. En dan het hy hom op Keiser en Galileër van Ibsen beroep, ‘n grootse drama oor die oorgang van „die ou heidense sekerheid“ na die nuwe ideologie, die Christendom. Die eerste Christelike keiser sê op ‘n keer: „Die oue is nie meer mooi nie, maar die nuwe is nog nie waar nie.“

En dis waar die Afrikaner vandag is: op die grens tussen die ou en die nuwe. Die nuwe, naamlik Suid-Afrikanerskap is nog nie mooi óf waar nie, want niemand weet presies hoe dit gaan wees nie. Jonger skrywers begin hulle pad invoel in die onbekende in; ouer skrywers staan dikwels terug, nie omdat hulle onsimpatiek is nie, maar omdat hulle nie energie vir die oortog het nie.

Antjie Krog het eenkeer in Stellenbosch die dilemma van die jong Afrikaner gestel. Haar ouers en Van Wyk Louw, het sy gesê, het geweet wat ‘n Afrikaner is, en kon vanuit dié gerustheid skryf; maar sý weet nie meer mooi wat ‘n Afrikaner is nie.

Onthou ook hierdie stuk, ek kom later daarnatoe terug. Terug na die tydskrifte.

So nou en dan as naskrif word darem ietsie oor die natuur se agteruitgang genoem. Om die puntekaart vol te maak. Of dit nou kurkdroog is vir twee jaar, net om die volgende twee jaar oorvloedige reën te kry; nee, selfs al is die weer DOODNORMAAL – jy sal dit hoor: dis klimaatsverandering/aardverwarming/kweekhuiseffek. Op skool het ons geleer klimaat = láááángtermynweerstoestande (oor 50 jaar+), nie elke uur van yr.no se webverfrissings nie.

Albei tydskrifte bestaan uit meer foto’s as skryfwerk. Meer opinies as feite. Albei gaan grawe in vervalle hole en krotbuurte waar [dikwels] vroeër Afrikaners gebly het, maar laasgenoemde die wyk geneem het – miskien om die leser skuldig te laat voel en ‘n geldjie te laat gee in die verkruppelde leefruimte? Of nee, daar word gewys hoe kosmopolities kleurryk die plek nou is, met ‘n ander gee-gee-gee: “Geborge GemeenskapsGevoel”. Ander kere gaan hulle op hol oor gentrifikasie in die hartjie van Johannesburg (en die arme, arme uitgesetenes), min wetende in Amsterdam (ja, ek lees ook soms Het Paroolhttps://www.parool.nl/4531110 ) is daar ‘huisjesmelker(s)’ [iemand wat leef op huurgeld, of buitensporig baie huurgeld vra en soms weekliks die geld gaan opeis] wat tot 1.600 adresse (lees: eiendomme, woonstelle, meenthuise) BESIT! Ek probeer steeds kloutjie by die oor kry wat die sin van ‘gentrifikasie’ in ‘n Afrikaanse tydskrif werklik is – want duidelik, vergeleke die Hollandse ‘kapitalistiese grondvergrype’, verkeer Suid-Afrika in ‘n sosialistiese paradys. Daardie berigte in Taalgenoot en De Kat is duidelik nie op mý van toepassing nie. Ek besit nie eens eiendom nie. So waarom moet ek dit lees? Hulle moet die EFF eerder Amsterdam toe stuur. Die bottelblond van GroenLinks sal hulle met ope arms verwelkom. Liewe Taalgenoot en De Kat: Wat julle skryf mors net spasie en spreek van jul eie onkunde. Asseblief, skeur uit. Gooi weg. Dis soos advertensies van KanTong, Mmmm…Fresh! en Vanilla Coke in die jaar 2018 – nie een is meer met ons nie.

Taalgenoot adverteer LAPA eksklusief (wel, duh, in Oktober 1996 het die ATKV vir J.P. van der Walt en Seun gekoop en die naam verander na Lees Afrikaans Praat Afrikaans), De Kat adverteer weer onbekostigbare luukshede en handelsmerke. Waaronder mnr. Rupert se elegante Cartier-kroonjuwele, toe ek laas nog gelees het.

En so nou en dan kry jy as bonus (half)naaktheid op die voorblad van albei tydskrifte. Of sommer net gephotoshopte tiete tussen die riete. Selfs die slegste staatsmatras sou bloos oor die onsmaaklikheid. Als by die prys ingesluit. Ongelukkig het selfs opelyf-Loslyf gevou, maar siende blind moet ons nou nog ‘n dèjá-vu hiervan kry. Eintlik verbasend in ons heelal waar pornografie, ekskuus weer, KUNS, so maklik bekómbaar is.

Maar 69 111 kopieë, van Kwartaal 4, 2017, soos die sirkulasiesyfer toon van Taalgenoot (waarvan die meerderheid lede, wat min of meer R1.000,00 per annum betaal, die vier eksemplare jaarliks gratis ontvang), kan tog sekerlik nie verkeerd wees nie. Die sirkulasiesyfer word uitdruklik so gestel op Marklives.com ( http://www.marklives.com/2018/02/abc-analysis-q4-2017-the-biggest-circulating-consumer-mags-in-sa/ ). Hoewel my niggie, ook lid, erken sy het nie geweet van die [destyds onlangse] ontwikkeling op Hartenbos nie; sy prop die tydskrif (nog in sy plastieksakkie) gewoonlik êrens in ‘n laai en vergeet daarvan. Sy kry skaars tyd om te lees, sê sy.

Maar nietemin, Hennie Aucamp (rus in vrede) sou seker steeds trots gewees het op die uitsonderlike akademiese verdienstelikheid en allerlei onderwerpe oor hogere kuns. Sy aspirasies vir De Kat, en seker ook Taalgenoot, brand in die redaksies nog hoog. Die vlam staan onuitblusbaar sommer ‘punt in die wind’. Daar word mos in diepte gesels oor die relevansie van Loci Communes Theologici as deel van ons Nederduits Gereformeerde én Hervormde kerke se erfenis? Nee? Of wat van hoe bruikbaar die Antidotarium Gandavense (aptekersboek van Gent) uit 1663 nog vir ons is? Ook nie? Goed, kom ons maak dit maklik: hoe lyk Nielsen BookData se verkoopsyfers in Afrikaans? Ek weet resepteboeke en outobiografieë gaan weer bo-aan die topverkoperlys wees, want die Afrikaner het vergange jare gelede al die koring van die kaf geskei wat bruikbaarheid betref. Maar kyk, nè, ons moet darem iets bruikbaar vir die laer-/hoërskool leerlinge én nagraadse studente ook hê, man.

Maar nee, ons het hier twee identiese klone (verskoon my pleonasme). Ek wonder net watter uitgewer gaan watter een nou eerste aanvat oor hierdie skaamtelose kopieregskending wat idees betref. Ek wag in spanning.

DIE SLOTSOM

Uit alles wat ek tot dusver geskryf het, merk ek die volgende:

  1. Dit  is nie meer vir my lonend om deur 99,99% van die excreta rond te dool en delf na 00,01% bruikbare artikels nie. Nog minder om die excreta onder my bed soos konyne aan te hou.
  2. Populêr-wetenskaplike tydskrifte in Afrikaans kan twee uiterste rigtings inslaan waarvan Aucamp gepraat het: of volkome akademisering [en dikwels verengelsing], of verdere afwatering en verloedering. En die lesers dring nie aan op beter onderwerpe nie? Waarom nie? ‘n Derde rigting bestaan ook wel: die uitgewer maak toe en trek die tydskrif saam na sy geldgraf.
  3. Waar godsdiens uit die Afrikaanse tydskrifte verwyder of afgewater word, ly die sekularisering by die glanstydskrifte noodwendig tot marxistiese onderwerpe. Met Standpunte se geval, ‘n literêre tydskrif, het André P. Brink by ‘n vergadering gesê hy wil dit in ‘n militante blad omskep, dat letterkundige gehalte nie die enigste maatstaf sal wees nie, maar ook sosiale en politieke oorwegings (J.C. Steyn, 1980, Boekewêreld, p. 441). Aai, aai, aai. Blykbaar bestaan daar nie iets in die Afrikaanssprekende taalruimte van ‘n ontspanne libertynse gees [NIKS (bo in die hemel of onder op die aarde) is my baas nie, maar haai, ek het die vryheid om te kan vlieg! Kom ek kyk hoe hoog!] of verdere distillering van die beste uit die verlede of veredeling of verhoging van die hele mensdom tot ‘n halfgoddelike wese nie. Daar is net géén middeweg nie. Dis alles net bergaf. Alles uit die verlede is uit die staanspoor uit die bose en moet ongedaan gemaak word. Trouens, die tydskrifte bly eenvoudig net in die verlede vassteek – by Apartheid. Uit verveling raak ek weg in ‘n dagdroom oor ander onderwerpe.

Dié tafereel: Ek droom oor ‘n palmtakskuiling op ‘n tropiese eiland stoksiel-salig-alleen tussen twee reuse kokosneutpalms met ‘n oneindigende sandstrand. ‘n Hangmat met knoop-en-doop-patrone. En hier lê jy: ‘n Hooftooisel vrugte soortgelyk aan Carmen Miranda s’n. ‘n Papegaaibont oopknoophempie met losse skeloranje baaibroek. Hibiskus agter die oor. Seerower-oorbelle, opsioneel. Goue ketting om die nek. Nee, maak dit blommekrans van frangipani-blommetjies. ‘n Glas yskoue vrugtesap met ‘n rietjie en oopvousambreeltjie. Sandjies en skoenlappertjies tussen die toontjies. ‘n Swartluiperd op die klapperhaarbed vir geselskap wat RRRAU sê (ek los maar eers my slang in sy mandjie). Branders breek teen ‘n waterkonstante 28ºC. Seesproei. Kristalhelder water, blouselblou in die ope lug met net hier en daar ‘n stapelwolkie teen die gesigseinder. ‘n Ligte roering in die oggendlug. Temamusiek van Brandon Fiechter (‘Coral Reef’) – Ware Eilandmusiek. En daar het jy dit: die strewe na eenvoud moet vooropgestel word. Neem hierdie streekproef in jou motorhuis… Watter kartondose staan in ons pad na eenvoud? Almal hou tog van hierdie idilliese beeld? Dalk nie:

Na een jaar begon het eentonige leven [in Tahiti] sommigen te vervelen. Zij [de matrozen] misten hun rum en zij dachten aan Londen (Arthur Schendel, Eiland in de Zuidzee, 1936, 115).

Nou maar goed, dan. Volgende.

Of: ‘n futuristiese gebou iewers in 2025. Dystewels, katpak en handskoene wat pas asof hulle aangegiet is. Die elektriese motor staan by die laaipunt. 98% klaar, sê jou tablet. Kliniese daktuine in wolkekrabbers wat stiptelik-gerekenariseerd hulself die soveelste keer benat en reguleer met dieselfde water wat in 2022 nog  ingetap is. Skaars ‘n druppel gaan verlore. Slaaiblare word binnenshuis verbou en geoes vir die minimark benede. Proefplase wat goed in Singapoer ontvang is (soos Sky Greens), brei uiteindelik hierheen uit.

Dít terwyl Taalgenoot en De Kat magspraatjies hou oor die skaduwee van Apartheid? Geen wonder die ATKV moet leesprojekte konstant van stapel stuur nie – die jeug wil nie meer lees nie. En mens wonder tereg hoekom.

  1. Die redaksielede en moontlik lesers self sit met ‘n identiteitskrisis. Wanneer word hierdie spul adolessente in hul 30’s, 40’s, 50’s, 60’s+ nou ‘n slaggie groot? My liewe genade (!), net pubers onder 25 spring nog tussen Cybergoth- en Furry-subkulture rond. Op 21 (ook al 7 jaar terug) was ek in ‘n geweldige depressiewe put van ellende oor die sin-van-die-lewe, nie oor Afrikanerskap of identiteit nie! Die dood was permanent voor my deur: baie dankie aan die rigtinglose, liberale skool- en universiteitsopleiding hiervoor. C.J. Langenhoven het toevallig presies dieselfde gevoel op universiteit – dat die lewe maar bloot ‘n siek spel is. Seker genoeg om ‘n genie soos hy na die drank en die pen te dryf. Gelukkig, te midde van die momento mori, sien mens tog op die ou end nut in jou hande, en as jy sien iemand gebruik jou werk met die grootste blydskap, maak dit mens gelukkig. En spoor jou aan om selfs iets nuttigers te doen. Nie dat jy onvervangbaar is nie, maar dis iets bruikbaars waarop ander kan voortbou. En dan begin jy belangstel in die patroonmatigheid van mense: dieselfde probleme wat kort-kort opduik. Kort voor lank begin jy ‘n effense utilistiese ingesteldheid kry, en begin gou insien wanneer praatjies afstuur op ‘n dooie punt. Daarom is dit vir my onnodig, selfs onsinnig, om nog derms te ryg oor iets so abstrak soos Afrikanerskap, of Boere-identiteit. Kortom kom dit maar net neer op: jou woord is jou eer (en middelvinger vir die globaliste). En dis dit.

Dalk is dit omrede my grootouers aan vaderskant Hollanders is, en ek miskien bietjie nader aan ‘n Europeër voel, maar oor so iets gaan ek nie my polse sny nie. Wat my betref is die hele Afrikaneretos (van 28 bladsye) vervat in Verkennerlewe van die Voortrekkers. Daar is ook referate gehou in die 1960’s soos ‘Die Waardes van die Afrikaner’ ens. As jy dus nog nie weet wat ‘n Afrikaner is nie, moet jy teruggaan laerskool toe – want duidelik kan jy nog nie lees nie.

  1. ‘Suid-Afrikanerskap’ is maar net ‘n vae herinnering aan nasionalisme. Dit het niks om die lyf nie: juis omrede jou Suid-Afrikaanse identiteitsdokument en paspoort nie soveel voordele inhou soos ‘n Duitse een nie. Mense het praktiese wesens geword: hulle hou nie daarvan om perdedrolle vir sitroene verkoop te word nie. Wat my betref het die Afrikaners post-1994, hetsy apaties, hetsy sinies, hetsy opportunisties, hetsy etnogesentreerd, hetsy rasgesentreerd geword, én party kots (teen hul beterwete) nog steeds ‘n sierlike reënboog en poep nootvas op maat van die Shosholoza ‘n skittery 1994-eenhorings in hul rubrieke.
  2. Nou sal mense dikwels, soos Japie Gouws in twee tydskrifte geskryf het, sê ”ons moet gesels en gesprekke voer”. Die doel is glo om brûe te bou tussen die onderskeie kulture. Want so leer ons mekaar mos ken. In teorie. Maar wat is daar nog oor om te sê? Gaan ons gesels oor die wetenskap? Oor die uitsonderlike geleenthede wat X bied? Gaan ons gesels oor die nuutste tegnologiese ontwikkelinge? Gaan ons gesels oor die watervoorraad wat opgebou moet word? Gaan ons gesels oor damme wat geskrop moet word vir die volgende reëns in die Wes-Kaap? Nee. Ons gaan gesels oor ras. En klas. En die onreg van die verlede. En blanke bevoorregting. So is dit nou eenmaal op die kussings borduur. (Nou is ‘n gulde geleentheid om na my denkbeeldige eiland te vlug).

Ek kry al hoe meer die idee ons word doelbewus, ambagtelik bearbei; aan die gesels of skel/vloek gehou. Waarom? Hou hulle besig; die gesprekke lei tog nêrens heen nie. Waarom? Om hulle aandag van nuttiger werk af te weer. Waarom? Sodat hulle te besig is met wrewel op te bou as om hul staal as volk te wys. Waarom? Want waarom sal jy wil deel wees van daardie morrende kwynende klakous-volk? Goeie vraag.

Dr. Dan Roodt het reg: kultuurmarxisme is soos sifilis. Dalk eerder soos vigs.

Deur direkte oorlogverklaring sonder rede kan die bevolkings mense nie verminder word nie – dis onmenslik. Maar waarom nie mense universeel verdom nie? Waarom mense nie onredelik maak nie? Hul skool- en universiteitskurrikula wêreldwyd verswak nie? Hul desensitiviseer deur onmenslike geweld op TV en videospeletjies uit te beeld nie? Waarom mense nie ongeduldig maak nie [vergelyk die prikkelbaarheid van doodgewone mense in ‘n Leon Schuster-fliek van destyds en onlangs]? Waarom mense nie oorsensitief maak vir woorde soos die uiters doeltreffende ‘kreupelsorg’ wat ek sommer nou die dag in die destydse Panorama lees (‘wat ‘n vieslike naam kon die Apartheidregering nie bedink het nie!’), maar minder sensitief vir die uiters swak diens vir ‘gestremdes’ in staatshospitale nie (‘ag, dis maar orals so’)? Dis amper soos: kies tussen ‘n uiters doeltreffende ‘ouetehuis’ tydens Apartheid, of minder doeltreffende ‘tehuis vir bejaardes’ van vandag. Sulke sagte woordjies om die pyn mee te verdoof, my liefie.

Maar waarom nie mense teenoor mekaar opsweep nie? Waarom nie tweedrag saai nie? Waarom twee keiharde stene [kultuurstelsels] wat nie saam kan maal nie, juis met mekaar laat slaags raak nie?

Ook hiervan is die heilige, morgenrood-soete-dou Afrikaans duidelik nie vry nie.

Speel ons uiteindelik in die hand van die globaliste?

As jy nog nie die stilprent Metropolis van Fritz Lang gekyk het nie, beter jy dit spoedig doen. Op die ou end kry die globaliste tog wat hulle wil hê, deur die robot-weergawe van Maria. Versinnebeeldend van die dekadente media van die 1920‘s. En 2020’s.

Ek dink die poeletjie Afrikaanse tydskrifte het vir my te klein geword.

SUIDPUNT SE NUWE PAADJIE

Ek kan my heelwat hooggeplaastes indink wat ‘n ertjie gaan kraam oor mense soos ek wat hul neuse optrek vir Afrikaanse goed. Maar, Meneer, Mevrou, Dominee, Professor, u Majesteit, U Heiligheid die Pous – met alle respek, dit-moi, lisez-vous vraiment cette merde?

Je voudrais m’excuser pour mon français qui n’est pas sans fautes, mais ce n’est pas ma langue maternelle. C’est pourquoi j’apprends le français. J’ai alors décidé de chercher de nouveaux horizons.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.