Gewelddadige betogings in Noordwes duur voort

Onlusmakers gister in die Noordwesprovinsie

Die situasie in Stella in Noordwes is gespanne waar brandbestryders ‘n ruk gelede steeds die brand by die kantore van die Naledi-munisipaliteit in die dorp probeer blus het, berig RSG. Ontevrede betogers het die kantore deur die nag aan die brand gesteek. Hulle eis HOP-huise en die bedanking van die premier Supra Mahumapelo. Plaaslike skole is vandag gesluit. Betogers is volgens berigte egter vasberade om met hul protesoptrede voort te gaan totdat daar aan hul eise gehoor gegee word. Die polisie is op die toneel.

Skole in die hoofstad van Noordwes, Mahikeng, is vir die vierde dag sedert verlede week ontwrig in die voortslepende protes in die provinsie. Die stad het van verlede Woensdag af onder gewelddadige betogings deurgeloop toe inwoners hul ontevredenheid met Muhamapelo getoon het. Winkels van veral buitelanders is geplunder en sommige is aan die brand gesteek. Paaie is ook versper en groot skade is in die stad aangerig. Hoewel die situasie in Mahikeng vandag kalmer is, het leerders nog nie teruggekeer skool toe nie.

Laasnag het gevegte oral in die provinsie tussen swart inwoners en die polisie gewoed.

Op Itsoseng, Delareyville, Vryburg en Taung het betogers paaie met brandende bande en vullis versper, terwyl winkels geplunder is.

Gister is ‘n hardewarewinkel in Taung geheel en al geplunder en die amokmakers het boumateriaal vrylik gesteel.

In Delareyville het die onlusmakers met polisie slaags geraak, met die betogers wat die bedanking van die burgemeester van die Tswaing-munisipaliteit, Dimakatso Theletsane, eis.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.