Dan Roodt: Kan die jeug ons volk red?

Ek het so pas Lauren Southern se boek, Barbarians: How Baby Boomers, Immigrants, and Islam Screwed My Generation (Rebel Media, 2016, Kindle.) gelees. Daarin vertel sy van haar ontnugtering met die Kanadese universiteit waar sy aanvanklik ingeskryf het, net om agter te kom dat al haar dosente lede van die babagolfgeslag (Eng. baby boomer) was wat hul eie linkse politiek lesingsaal toe gebring het. Die res van haar teks bestaan uit ‘n aanklag teen daardie geslag wat haar toekoms as jongmens met hul kranksinnige marxistiese en postmodernistiese idees bederf het.

Die boek eindig met ‘n verwysing na die liedjie van die rockgroep Genesis waarna ons ook destyds geluister het, “Land of Confusion”, waarvan ek die eerste helfte hier aanhaal:

I must’ve dreamed a thousand dreams
Been haunted by a million screams
But i can hear the marching feet
They’re moving into the street.

Now did you read the news today
They say the danger’s gone away
But i can see the fire’s still alight
There burning into the night.

There’s too many men
Too many people
Making too many problems
And not much love to go round
Can’t you see
This is a land of confusion.

This is the world we live in
And these are the hands we’re given
Use them and let’s start trying
To make it a place worth living in.

Die liedjie eindig op die hoopvolle noot:

This is the world we live in
And these are the names we’re given
Stand up and let’s start showing
Just where our lives are going to.

Meer nog as Lauren se Kanada en veral natuurlik die ultraliberale en dekadente Toronto, verdien Suid-Afrika die benaming “land van verwarring”. Ons ware leiers uit die verlede word verguis terwyl Winnie Mandela, Bram Fischer en Joe Slovo opgehemel word.

Helde van die nuwe Suid-Afrika: Winnie en Nelson Mandela, Joe Slovo

Maar wat die geslagte betref, is Suid-Afrika ‘n bietjie meer ingewikkeld, want ek sien drie onlangse opeenvolgings van Afrikaners. Oorlede Chris Louw het met sy gelyknamige brief die “Boetman”-geslag gedefinieer, hulle wat moes gaan veg vir die bevoorregte geslag van Afrikaner-nasionaliste van die De Klerk-tipe wat toe sommer op ‘n dag besluit het om aan die ANC-SAKP oor te gee.

Die De Klerk-geslag (FW en sy broer Wimpie) het nog ander figure ook, soos byvoorbeeld Harald Pakendorf waaroor Leon Lemmer so pas geskryf het. Die verstommende argeloosheid waarmee hulle die kulturele en mediabates verkwis het wat ‘n vorige geslag Afrikaners opgebou het, spreek boekdele. Hulle is inderdaad ons “babagolwers” wat in die waan van hul “verligtheid” al verder na links geneig het en hul uiteindelik in die arms van die Marxiste-Leniniste van die ANC en SAKP gewerp het. Vandaar dus die geesdriftige “hulde” wat FW de Klerk vandeesweek aan Winnie Mandela gebring het.

Vir die babagolfgeslag was alles maklik, want hulle op die arbeid en strewe van ‘n vorige geslag geteer. Hulle het ‘n eerstewêreldstaat met ‘n bloeiende ekonomie, asook staatsondernemings soos Eskom, SAL, Transnet, Telkom, NOK en ander geërf. Daar was twee Afrikaanse mediagroepe: Naspers in die suide en Perskor in die noorde. Te danke aan Willem de Klerk en Harald Pakendorf se swak ideologiese keuses, is die grondslag van die verwydering tussen Afrikaanse media en Afrikaanse lesers gelê. Perskor is heeltemal tot niet, dog nie sonder dat sy aansienlike ooblywende kapitaal in die vorm van Dagbreektrust ook in linkse hande beland het nie.

Die babagolwers hoef kwalik vir enige werk aansoek te gedoen het. Hulle het gebaai in die oorvloed van die ou Suid-Afrika en die voorafgaande nasionalistiese beweging wat op die 1961-republiek uitgeloop het. Moontlik kon hulle hul nie voorstel dat iets anders moontlik was nie, selfs al waag hulle alles in hul roekelose politiek. Dat Suid-Afrika uiteindelik “net nog ‘n Afrikaland” kon word, met een verwoestende revolusie of staatsgreep na die ander, was miskien nooit deel van hul toekomsplan nie. Of miskien het hulle net nooit omgegee nie, want hulle toekoms was mos verseker, met hul pensioene en vakansiehuise in die Suid-Kaap.

Après nous, le déluge, in die woorde van Madame de Pompadour, kon hul slagspreuk gewees het. Die chaos wat sou volg, kan hulle nie skeel nie.

Die Boetmans, waartoe ek behoort, was die eerste geslag van onterfdes onder die nuwe bestel. As middeljarige blanke mans is ons gehoon en uitgerangeer. Maar die situasie van die derde geslag, ons kinders, is nog veel erger: die millenniërs ervaar die diskriminasie en onreg van die Afromarxistiese bestel in sy volle geweld en kan binne die afsienbare toekoms uitsien na ‘n Malema-bewind wanneer die tweede en finale fase van die revolusie sal aanbreek. Nie dat Ramaphosa nie reeds radikaal genoeg is nie, met sy grongrypplanne en verdere uitsluiting van Afrikaners uit die stelsel. Panyaza Lesufi is kennelik ook besig met sy eie “eindspel” sover dit Afrikaans as skooltaal betref, nadat die taal reeds aan die meeste universiteite die onderspit moes delf.

Hoe moet dit voel om vandag ‘n millenniër te wees, met die wete dat jou ouers en grootouers jou toekoms vir ‘n pot lensiesop verkwansel het? Eintlik is dit veel erger as wat dié spreuk uit die Ou Testament weergee, want van sop was daar nie veel sprake nie. Dit het meer om sadisme en perversie as enigiets anders gegaan. Die babagolwers het hul radelose verraad gepleeg omdat hulle kón. Hulle het hul eie oppermag deur oorgawe gedemonstreer. Soos Lauren Southern ook in haar boek verduidelik, het daardie geslag meer in seks en dwelms as in die toekoms van hul kinders belang gestel. Hulle was ‘n klomp ou hippies wat nog ‘n laaste dampie wou maak, veral die ideologiese dampie. “Swart bevryding”, iets wat saam met LSD en Woodstock in die sestigerjare ‘n modieuse slagspreuk geword het, het hulle bedwelm. Verder as dít kon hulle nie dink nie.

Vir die afgelope meer as honderd jaar is die etniese problematiek van Suid-Afrika deur baie slim mense hier en oorsee ontleed, maar op die ou end het die De Klerk-geslag die weermag, die polisie, die staat en ons erfenis van bykans 400 jaar op die roulettetafel gesmyt. Roelf Meyer wat as kroepier opgetree het, het die wiel ‘n vinnige draai gegee en daarmee is ons bankrot gelaat.

Indien die Boetmangeslag onterf is, is die millenniërs beroof. Daar word aan hulle vertel dat hulle maar “hul heil oorsee moet gaan soek”, dus moet emigreer. Vir die eerste keer in ‘n eeu mag hulle ook nie in Afrikaans studeer nie, bloot omdat ‘n minderheid radikale studente, hoofsaaklik volgelinge van Julius Malema, besluit het dat “Afrikaans moet ondergaan” (Afrikaans must fall).

Uit my onlangse gesprekke met jong Afrikaners het egter geblyk dat alles nie verlore is nie. Danksy die internet, YouTube en die snelle verspreiding van inligting, is hulle oë besig om oop te gaan. Dis nie net ons veterane wat die opwelling van nasionalisme in Europa en die VSA met belangstelling volg nie, maar ook ons kinders. Al mag hulle nie vrylik hul menings uitspreek nie, gegewe die krimpende spraakvryheid in Suid-Afrika en veral op die kampusse, voel hulle gebelg en verontreg vanweë die ou hippies se verraad.

Op ‘n manier het die Afrikaner in die geskiedenis teruggegly tot iewers net ná 1902. Pleks van Britse imperialisme, het ons nou te kampe met Bantoe-imperialisme. Die Bantoestamme, wat nog nooit in die geskiedenis die totale grondgebied van ons land beset het nie, is tans besig om dit vir hulle toe te eien, met Ramaphosa se grondgrypplan, wat ‘n tweede Zimbabwe gaan ontketen, ten minste ekonomies.

Die Britse Ryk op sy tyd was veel magtiger as vandag se Bantoe-imperium. In die negentiende eeu was dit net Paul Kruger en Napoleon wat dit gedurf het om teen Engeland op te staan. O ja, en Tsaar Nikolaas I van Rusland tydens die Krimoorlog, waarby Frankryk en Turkye ook betrokke was, aan Brittanje se kant.

Ek dink nie ons hoef ons vir altyd deur die Bantoe-imperium te laat oorheers nie. Soos in 1900, is feitlik die hele Westerse jeug aan ons kant wanneer dit kom by die lyding wat ons tans moet deurmaak. Ons moet meer uitwisseling en ontmoetings tussen die Afrikanerjeug en jong Europeërs en Amerikaners bewerkstellig. Met as inleiding Lauren Southern se kritiek op die dekadente oues, die babagolwers, kan hul opstand teen die vaders begin. Die verraderlike vaders van 1994 en selfs daarvoor, want Vorster het destyds insgelyks die arme Rhodesiërs uitverkoop; dit was ‘n voorspel tot ons eie ondergang.

Een punt wat reeds in die jeug se guns tel, is dat hulle oor geen lojaliteit teenoor die bestaande politieke partye, veral die DA, beskik nie. Toe ek ‘n paar jaar gelede begin het om die DA die “ANC Lite” te noem, het ek nooit gedink ek sou dit in die Naarpersmedia ook lees nie. Selfs in daardie geledere het die besef en die term nou posgevat!

Op 27 April 2018 — ironies genoeg, want dis vir geen Afrikaner ‘n vakansiedag om te vier nie — hou ons in Pretoria ‘n gesprek met en tussen jongmense, met as tema:

“Die jeug se rol in Afrikanerbevryding”

Enigeen wat belangstel om dit by te woon, kan ‘n e-pos stuur aan inlig[by]praag punt org. Ons beplan ook om ‘n Praagjeugbeweging van stapel te stuur en kan sommer die breë riglyne daarvan bespreek, nadat ons meer teoreties en polities oor die stand van die Afrikaanse jeug besin het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.