Karel Combrinck: Moord en maskerades

Theresa May

Daar kry die dol hond in die Withuis toe sy dag van glorie om drie vermeende installasies vir “chemiese oorlogvoering” in Sirië aan te val, met Frankryk en Engeland njaf-njaf agterna.

‘n Mens sou kon vra wat is nou eintlik bereik en wat was die doel met die drieledige aanval (VSA 90% , Eng 5%, FR 5%). Die ander twee ook daar net om bek te lek. Was dit om Rusland tot een of ander aksie te provokeer en hulle dan te beskuldig van die aggressor te wees ? Was dit dalk om mede-dolhonde in die tuisgalery in die VSA gelukkig te hou  of verlore openbare steun te herwin? Of was dit bloot ‘n poging van die groot hond om te wys hoe macho hy kan wees?

Interessant is dat die aanval plaasgevind het op dieselfde dag dat die inspeksie van die Agentskap vir die Verbod op Chemiese Wapens sou begin. Herinner sterk aan die situasie in 2003 toe George Bush Irak aangeval het nog voordat mnr Hans Blix se ondersoek voltooi was, maar wat reeds voorlopig bevind het dat daar geen wapens van massavernietging in Irak was nie, soos mettertyd geblyk het ‘n feit te wees: Geen wapens van massavernietiging in Irak.

Ook interessant is dat Amerika telkens hulle propaganda en militêre aanslae teen regerings wat hulle in eie belang wil verwyder (“regime change”), grond op gefabriseerde aanklagte van die vervaardiging, besit en gebruik van chemiese wapens, so asof hierdie towerwoord aan hulle die reg verleen om links en regs missiele af te vuur en bomme te gooi. Natuurlik is die Amerikaanse geheue te kort om te onthou dat hulle die enigste land ter wêreld is wat wapens van massavernietiging op groot skaal gebruik het, tydens die atoombombardement van Hirosjima en Nagasaki, asook die massiewe aanwending van chemiese wapens in Viëtnam.

Ook verskaf die Amerikaners, soos die Engelse en Franse, die afgelope vier jaar reeds massas wapens aan Saoedi-Arabië vir gebruik in ‘n letterlike volksmoord op die mense van die Jemen waarin derduisende volwassenes, vrouens en kinders reeds gedood en vermink is, skole en hospitale en ander infrastruktuur vernietig is, ens. Vreemd genoeg praat die media nie hiervan nie. Dit kan net wees omdat die mense wat die media besit dieselfde is as dié wat geld uit die wapenverkope maak.

Tot dusver was daar nog geen duidelike bewys daarvoor dat Sirië of Rusland in die onlangse verlede chemiese wapens gebruik het nie. Die Amerikaners, tesame met hulle skoothonde het nou die sg.  chemiese aanlegte in Sirië vernietig sodat dit vir die inspeksiespan onmoontlik sal wees om te sertifiseer of dit wel chemiese aanlegte was of nie. Die Amerikaners het bloot die bewys dat hulle lieg, weggeblaas.

Die blote feit dat chemiese wapens iewers gebruik is, is vir die Amerikaners, en hulle Engelse en Franse brakhonde genoeg om die skuld daarvoor op Rusland te pak. Die regering van mev May werk die afgelope weke daaraan om die skuld vir die aanslag teen Sergei Skripal en sy dogter Joelia, op die Russe se rekening te plaas, natuurlik om sodoende die Amerikaners ter wille te wees.

Enkele aspekte stem egter tot nadenke:

Eerstens is die aanval op Skripal en sy dogter gedoen agt jaar nadat hy as spioen in Rusland werksaam was. Voorts is volgens mev May ‘n uiters giftige gas in die aanslag gebruik wat nie alleen die lewens van Skripal en sy dogter bedreig het nie, maar ook ander mense in die omgewing. Tog, as ‘n mens kyk na foto’s wat na die tyd geneem is van die toneel van die sg. moordaanslag, dan sien ‘n mens personeel van die polisie, ens. met swaar maskers en oorpakke terwyl dosyne ander mense onbeskerm in die nabye omgewing rondloop. Die maskers en oorpakke is duidelik ‘n maskerade van mev May se regering. En as die Russe dan agt jaar na die tyd van ‘n spioen ontslae wil raak, sal hulle dit doen deur middel van ‘n gasaanval in die openbaar en  as’t ware hulle handtekening daarop laat soos mev May dit tot vervelens toe beskryf? Is daar dan nie veel meer diskrete maniere om dit te doen nie? Is dit tipies van die Russe om so pateties onbeholpe en amateuragtig te wees ?

Skripal is ‘n Rus  wat, voordat hy hom permanent in Engeland gevestig het, ‘n  spioen in diens van Engeland in Rusland.  Die Russe het hom ontdek, gearresteer en verhoor en tot gevangenisstraf gevonnis. Uit Russiese oogpunt was hy dus skuldig aan hoogverraad waarvoor hulle hom kon hang. Hy is egter kort daarna in ‘n uitruilooreenkoms van spioene toegelaat om na Engeland te verhuis. Sou die Russe dan nou nie gedurende sy aanhouding en gevangenskap ‘n geleentheid kon bedink om hom weg te maak nie? Waarom agt jaar wag om dit in ‘n ander land te gaan doen?

Deskundiges oor chemiese oorlogvoering het ná die voorval beklemtoon dat indien die stof wat in die aanval op Sergei en Joelia Skripal gebruik is, wel Nowitsjok was, soos mev May telkens beweer, die Skripals en ander mense wat na die aanval daarmee in aanraking was, binne enkele ure dood sou wees. Tot dusver was daar nog geen bewyse, ontledings ens., deur mev May aangevoer dat die stof wat gebruik is, wel Nowitsjok was nie.

Veel waarskynliker is dat die Engelse geheimedienste self die aanslag op Skripal en sy dogter beplan en uitgevoer het en na ‘n aanval deur Rusland laat lyk het. Daarom dan ook dat mev May weier om bevindings van ‘n “ondersoek” na die insident bekend te maak, of aan die Russe te verskaf.

Wat die Russe nou gaan doen en of hulle iets gaan doen, sal ons maar moet wag om te sien. Russiese belange is natuurlik nie in die aanval regstreeks getref nie. Dis dus onwaarskynlik dat hulle iets sal doen, maar as hulle wel wraak neem vir die aanval, dan het ons oorlog.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.