Leon Lemmer: Harald Pakendorf stroomop gevind

In die jare vyftig het ek my daaglikse politieke skoling nie net uit Die Burger gekry nie, maar ook by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK. Dit was die tyd van ‘n weeklikse Koffiehuiskonsert, die Mielieblaarklub en Wêreldgebeure. AM van Schoor was van 1962 af die redakteur van die middagkoerant, Die Vaderland. Afrikaners het toe nog ‘n vaderland gehad en daar was geen vooruitsig dat dit ooit anders sou wees nie. “Om eenvoudig die mag te oorhandig nadat ons twee vryheidsoorloë moes veg om vry te word, en ‘n lang pad daarná moes loop, was toe nie denkbaar nie” (Harald Pakendorf, bron hier onder, p 14). Van Schoor het elke week ‘n oorsig van wêreldgebeure aangebied. Dikwels het hy die gevoel gewek dat die Derde Wêreldoorlog binnekort kon uitbreek.

Tydens die Algerynse Oorlog (1954-1962) het Van Schoor voorspel dat wat in Algerië met die blankes gebeur, ‘n aanduiding sou gee van wat uiteindelik die lot van blanke Suid-Afrikaners gaan wees. Suid-Afrika en Algerië was toe die ontwikkeldste en suksesvolste lande in Afrika, danksy hulle substansiële blanke bevolkings. Meer as ‘n miljoen blankes het Algerië verlaat toe die Arabiese en Berberse Moslems politieke beheer oorgeneem het. Charles de Gaulle (húlle FW de Klerk) het die blankes uitverkoop. Sedertdien het ek my deurlopend van die verwikkelinge aldaar vergewis en ook in besonderhede met die lewensloop en idees van ‘n patriotiese blanke Algeryn, Albert Camus (1913-1960), kennis gemaak.

Na Van Schoor het Dirk Richard die redakteur van Die Vaderland geword en hy is opgevolg deur Harald Pakendorf (1979-1986), wat voorheen die redakteur van Oggendblad (1972-1979) was. Die volgende boek van Pakendorf is op 1 April gepubliseer: Stroomop: Herinneringe van ‘n koerantman in die apartheidsera (Kaapstad: Penguin Books, 2018, 240p, R230; Amazon Kindle $15,96). Die Vaderland het in 1936 tot stand gekom (p 201), met Gustav Preller as die eerste redakteur (41). Die koerant het toe eerder Barry Hertzog as die meer konserwatiewe DF Malan gesteun (11). “Die gematigde toon het voortgeduur totdat AM van Schoor die koerant in die sestigerjare na regs geruk het en die regtervleuel van die NP gesteun het. Dirk Richard het hom weer na sy oorsprong teruggebring. Dit het my gepas, maar ons sou verder gaan en die koerant na die linkse, of verligte, vleuel van die NP neem” (42).

Pakendorf verkwalik Van Schoor omdat hy Barry Goldwater in 1964 as Amerikaanse presidentskandidaat gesteun het. Dit gee aan Pakendorf die geleentheid om ‘n steelhou teen Donald Trump in te kry: “Goldwater is destyds as uiters regs beskou, ‘n soort Donald Trump wat darem nie soos ‘n analfabeet geklink het nie” (12). “AM van Schoor [het] die koerant erg na regs geruk” (120) en “Van Schoor [het] die koerant na verregs geruk” (213). Dit is duidelik dat Pakendorf ‘n renons in regse politiek het. Sy strategie was om apartheid “van binne te vermurwe” (5). Soos Lizette Rabe (Praag 7 April) wil hy blykbaar eerder ‘n Duitser as ‘n Afrikaner wees. Sy broer, Gunther, veral bekend vanweë sy boekresensies in koerante, was ‘n hoogleraar in Duits aan die Universiteit Kaapstad (198). Met Frederik van Zyl Slabbert het Pakendorf ‘n “hegte vriendskap” gehad (84). Hy noem Slabbert ‘n “gesiene Afrikaner” (154), wat toon dat Pakendorf nie die nodige onderskeid tussen ‘n Afrikaner (wat sekere tradisionele waardes aanhang) en ‘n verloopte of volksvreemde blanke Afrikaanssprekende (soos Slabbert of Pakendorf) maak nie.

Die outeur was traag om hierdie boek te skryf en het net by tye flink daaraan gewerk. “Dis nie eens in chronologiese volgorde nie; hier en daar word soms herhaal” (1). Die resultaat is sekerlik nie ‘n meesterstuk nie. Die skaars 200 bladsye kan in ‘n dag gelees word. Oudkollegas is deur Pakendorf gevra om hulle herinneringe by te dra, soortgelyk aan hoe radio-omroepers deesdae met behulp van luisteraars resepteboeke saamstel en publiseer. Dit het blykbaar deel van politieke byderwetsheid geword dat ‘n manlike outeur in sy herinneringe meer erkenning aan sy eggenote gee as wat nodig is, al is dit omdat sy graag tennis speel (soos in Dawie de Villiers se geval – Praag 17 Maart). By Pakendorf is dit dat sy vrou (soos hy) ‘n “ervare en knap joernalis” was (15). “Sy is een van die bekwaamste joernaliste” (101).

Aletta Pakendorf

“Toe ek sewentien was, was my enigste ambisie om met die mooiste en slimste meisie in die skool te trou. En ek het!” (101) in 1963 (69). “In graad agt het sy ‘n Transvaal-wye opstelwedstryd … gewen … Sy is ook akteur en het in twee van Jan Scholtz se TV-sepies gespeel. En kán sy kook, klere maak, brei – en lees” (101). Haar joernalistiek het vir haar dieselfde soort kritiek as vir Pakendorf op die hals gehaal. Sy skryf: “Ek praat volksvreemd, ek is ‘n vyand van ons volk, ek is van die soort wat my kinders en my volk wil besmet” (101). Pakendorf haal uitgebreid aan oor wat sy vrou destyds geskryf het (56-59, 61-63), maar haar briljantheid is vir my minder duidelik as vir hom. Maar sulke aanhalings help om die karige teks ‘n bietjie langer te maak. Pakendorf se vrou is op sewe van die 24 foto’s in die boek.

“My ouers was inderdaad aan al twee kante Duits” (7) en Lutherane. Pakendorf is seker dat sy ouers die Nasionale Party ondersteun het (8). Na die bywoning van Afrikaanse skole het Pakendorf (kortstondig) “heeltemal Afrikaans/Afrikaner” geword, “hoewel ek met my ouers Duits gepraat het” (11). Ná voltooiing van sy skoolloopbaan is hy via die lugmaggimnasium na die Universiteit van die Witwatersrand. Daar het hy as student misluk (“die liberale oud-Witsie” – 94), maar mettertyd ‘n graad aan Unisa verwerf (68). Soos sy mede-joernalis en linkse vriend, Allister Sparks (6, 28 – wat, soos Pakendorf se vrou (102), geen naskoolse kwalifikasie gehad het nie – Praag 22.10.2016), berus Pakendorf se akademiese roem daarop dat hy vir die akademiese jaar 1968/69 ‘n Nieman-beurshouer aan Harvard University in Amerika was. Sy vrou het ook van die lesings bygewoon (12). Hy verswyg dat net joernaliste wat links genoeg is, of links beïnvloedbaar is, as Nieman-genote gekies word. “Ek het nooit by die NP of Afrikaner-Broederbond aangesluit nie” (19). Dit was anders gesteld met Willem (Wimpie) de Klerk, FW se ouer broer, wat ook, anders as Pakendorf, ‘n soliede akademiese agtergrond gehad het. Willem de Klerk was toe die redakteur van Perskor se oggendkoerant, Die Transvaler. Pakendorf skryf: “Dalk het Willem net té buite die daaglikse bedryf gestaan van koerant uitgee” (116).

Destyds: “Werk jy vir Nasionale Pers of Perskor … is dit ‘n gegewe dat jy die Afrikanersaak in die breë, en veral dan die Nasionale Party, sal ondersteun” (80). Perskor en sy koerante het met wisselende entoesiasme die Nasionale Party gesteun. “Dit is egter veral in die geval van Die Vaderland so dat daardie steun vrywillig gegee word en dat dit getemper word deur ‘n openheid ten opsigte van besondere opsies binne breë beleid, maar ook ‘n verkennende funksie ten opsigte van die beleid as sodanig” (213). “En Vader behoede! Jy moes sterk, baie sterk, teen kommuniste wees en hulle pogings om die blanke, en dan veral die Afrikaner, te ondermyn” (81). Pakendorf gee ewe loslit voor dat kommunisme geen werklike bedreiging was of is nie. In werklikheid sit ons sedert 1994 met ‘n regering wat in baie opsigte nie net wesenlik kommunisties is nie, maar ingevolge die 1955-Vryheidshandves al hoe meer marxisties word.

In 1972 het Pakendorf die redakteur van die Pretoriase koerant, Oggendblad, geword. “Ek het dit duidelik gemaak dat ons politieke benadering links van die NP se sentrum sou wees, dat ons vir verandering sou staan en nie net die party se sienings sou uitdra en hom verdedig nie” (23). Volgens die joernalis André le Roux: “Dit was duidelik dat openheid of verligtheid ‘n praktyk-gegewe was tot die mate dat Oggendblad en sy redakteur, veral in die politieke mags-establishment, as ‘n los kanon gesien is” (23). Leopold Scholtz praat eerder van ‘n ongeleide missiel. Pakendorf kontrasteer sy benadering met dié van Naspers-joernaliste soos Piet Cillié en Schalk Pienaar. “Van aanhou stem dik maak was daar nie sprake nie, hoewel in later jare daaroor hoog opgegee is. Die bevraagtekening het nie oor die reg of verkeerd van die bestaande orde gegaan nie, maar was voorstelle tot verfyning en het nie ‘n nuwe orde met verlies van Afrikanerseggenskap as ‘n moontlikheid voorsien nie” (81). “Van werklike verandering wat die hele stelsel sou moes vervang, was daar geen sprake nie. Daar is dikwels verwys na voorlopers en verligte denkers, en daar was. Maar dit het nie gelyke behandeling vir alle rasse in die land ingesluit nie, wat dan magsoorgawe sou inhou” (123). Pakendorf, daarenteen, het die ideaal gekoester dat die blanke bewind deur ‘n swart regering vervang moet word (59). Hy was beswaard “oor die sware gang van die [NP-]partybeleid” (140). Van “gelyke behandeling vir alle rasse” is daar egter deesdae steeds geen sprake nie. Ingevolge die hooggeprese Grondwet kan/moet daar sonder keerdatum tot in die oneindige toekoms blatant en suiwer rassisties (regstellend genoem) teen blankes gediskrimineer word.

“Selfs ons taalgebruik [was] ‘n kwessie. Ons het besluit om eenvoudige Afrikaans te skryf, geen hoogdrawende woorde nie” (24). Die boek is in goeie en vloeiende Afrikaans geskryf. In enkele opsigte kon die taal beter gewees het, bv busstop (27 – bushalte), sleutelbelang (27, 145 – kern- of deurslaggewende belang), kom sien (30 – kom spreek), “was ek kortliks in Rhodesië” (36 – ‘n kort rukkie: “kortliks: in min woorde, nie breedvoerig nie” – HAT), pleinweg (47 – gewoonweg), toewyding tot (78 – toewyding aan), stap geneem (109 – stap gedoen), deadline (129 – sper- of keertyd, tydgrens), wat hulle in gemeen het (176 – wat hulle gemeen het).

In 1978 het Pakendorf “die probleem in Suid-Afrika” (42), soos volg verwoord: “In part, the problem stems from the historical experience of the dominant element within the ruling white group, namely the Afrikaner. He still naturally thinks of himself as threatened, as his forefathers were threatened a century and less ago, by the British Empire. He is just as willing now to be cast into the same heroic mould as his forefathers were in the bitter war that raged across the country at the turn of the century … he has the fear that, if he were to lose all again, there may not be another opportunity to regain what is lost … Thus, as at the end of the twentieth [19th] century,the Afrikaner again feels threatened. He feels that the issue now is not merely the question of who should have the vote, but rather an attempt to take all of his country and leave him at the mercy of a paper constitution which would supposedly guarantee his rights” (43).

Met verwysing na republiekwording in 1961 het Pakendorf in 1986 geskryf: “We should also remember that the political history of this country has not fundamentally been one between Black and White. It has been between Afrikaans and English, and that was removed in 1961. It was only then that the real question of Black and White came to the fore. The Afrikaner, until 1961, felt that he was being discriminated against, he had a feeling that an injustice was being done unto him” (43-44). In soverre gedink is dat die politieke opset in die republiek onregverdig was, bv “dat die swart meerderheid buite die tuislande polities geakkommodeer moet word [was] die noodsaaklike gevolg hiervan …’n gemengde regering en dan uiteindelik een wat hoofsaaklik swart was” (45).

“Ons het in dié tyd [jare tagtig] goeie kontak met vele bevrydings-* en weerstandsorganisasies opgebou juis omdat ons so breedvoerig en sonder vooroordeel oor hulle berig het” (50). Blykbaar geld dieselfde onbevooroordeeldheid nie vir die regses nie. “Ons het uitvoerig oor die regses berig – die KP, HNP, AWB – en hulle ook teen mekaar afgespeel” (48). “Ons het ‘n felle stryd met die klomp [!] gehad” (86). Karin Brynard het in 1983 geskryf: “Kappiekommando het ‘ander hemel'” (49). Pakendorf skryf: Die regses, soos Andries Treurnicht, “verteenwoordig die verlede. Ons moet die toekoms hanteer” (82). [* In die konteks van Rhodesië verwys Pakendorf na “die terroriste/bevryders” (37), maar die ANC/UDF-aktiviste, bv MK-soldate, word nie terroriste genoem nie.]

Hoe anders, in die sin van beter, Suid-Afrika destyds was, blyk uit die volgende. Oudjoernalis Juanita Swanepoel skryf: “Ek het in Berea gebly, net ‘n paar kilometer van die Perskor-gebou. Soms het ek sommer na die kantoor geloop. Dit was glad nie gevaarlik nie. Johannesburg en Hillbrow is in dié tyd goed bestuur, met Hillbrow ‘n mini-New York” (50). Pakendorf skryf: “Gaan al die dinge [politieke veranderinge] dit moontlik maak dat wit mense seggenskap oor ten minste hulleself behou, of gaan gesamentlike besluitneming nie maar op ‘n swart regering neerkom nie? Vir Die Vaderland [Pakendorf] was laasgenoemde die pad vorentoe [!]” (59). “Die ondenkbare het denkbaar geword” (59). Dít kom van Pakendorf wat die sluipmoord op Hendrik Verwoerd aanskou en daarna geskryf het: “Ons kan maar net bid dat die goeie waarvoor Hendrik Verwoerd gestaan het, behoue sal bly” (129).

Pakendorf beweer dat die veiligheidspolisie hom dopgehou het en dat sy telefoongesprekke afgeluister is. “Was die owerhede, Afrikanerowerhede, so onseker, so paranoïes, dat hulle mense wie se mening hulle elke dag kon lees, van nader wou dophou?” (74). “Tot so onlangs as 2015 is nog na my as ‘n ‘volksverraaier’ verwys” (76). Na ‘n televisie-optrede in 1985 het Pakendorf die volgende kriptiese boodskap in ‘n brief uit Kanada ontvang: “To Harry Pakendorf, Die Vaderland, Soon you won’t have one” (66).

Tydens apartheid het Pakendorf vir (groter) mediavryheid geveg. “Ek het gepleit vir ‘n beskermde klousule in die Grondwet wat vryheid van die media waarborg, plus ‘n waarskuwing: Meer perke sal die land verander in een waarin beskaafde

demokratiese mense nie sal wil woon nie” (79). Is die nuwe Suid-Afrika ‘n paradys vir “beskaafde demokratiese mense”? Was daar tydens apartheid doodgewone alledaagse woorde wat kon veroorsaak dat jy jare tronkstraf moet uitdien én ‘n reuse boete (R100 000) aan ‘n nie-funksionerende slapgat polisieman moet betaal? So iets kan net in ‘n hoogs abnormale samelewing gebeur. “Hoewel die ANC ‘n groter toewyding tot [aan] spraak- en mediavryheid het as wat die NP ooit gehad het, is daar tog ooreenkomste in benaderings” (78). Oor die nuwe Suid-Afrika skryf hy later: “Daar is mediavryheid soos nêrens anders nie [?]. In vergelyking met die tyd voor 1994 is dit ‘n wonderbaarlike en algehele ommeswaai. Die media in die besonder, die howe en die burgerlike samelewing verhoed dat die land nie heeltemal in ‘n moeras verval nie, dat die ergste verneukery aan die lig kom en soms gestuit word” (228).

Maar het Pakendorf mediavryheid toegelaat by die joernaliste wat vir hom as redateur gewerk het? “Daar is verwag dat as jy saam met my werk, jy ‘n standpunt links, soms ver links, van die Nasionale Party sou handhaaf” (84). “By Oggendblad en Die Vaderland was daar ‘n instinktiewe losstaan van die Afrikaner-establishment” (97). Oor sy vrou se joernalistiek skryf Pakendorf: “Die boekeblad was besonders en haar rubrieke eweneens – alles deel van die groter prentjie, die losser staan van die bestaande orde” (103). In die boek is daar geen aanduiding dat Pakendorf hom in dieselfde mate van die huidige korrupte, ondoeltreffende swart bewind distansieer nie. Maar hy erken darem: “Die SAUK as openbare uitsaaier [was] destyds net so na aan die regerende party as die een [SABC] vandag” (128).

PW Botha het apartheid aangepas “maar nooit eens met die gedagte dat die verandering sou beteken dat die Afrikaner, en dus die NP, die mag sou prysgee nie. Dalk sou mag gedeel kon word, maar met remme ingebou wat die Afrikaner – en ook alle blankes – se regte sou beskerm” (152). Dit het FW de Klerk se berugte wigte en teenwigte geword, waarvan niks tereg gekom het nie. Die huidige plaaslike politieke opset het ‘n aanvang geneem toe die Nasionale Party besluit het om mag met die bruin mense en Asiate te deel. “Dit [is] deur wesenlike dele van die NP gesien … as die aftakeling van wat beskou is as die vaste standpunt van die party: blanke heerskappy, en veral die beskerming van Afrikanerbelange” (105). In albei opsigte het die NP-onderhandelaars jammerlik gefaal.

In Rhodesië/Zimbabwe is “setels [aanvanklik] vir die wit minderheid gereserveer” (106): 20 uit die 120 gekose parlementslede vir sewe jaar. Plaaslik is selfs dit nie vermag nie. Effektief was dit algehele oorgawe aan swart mag. Pakendorf vestig die aandag op ‘n belangrike opsig waarin die fatale onderhandelinge blankes in selfs groter mate en vinniger kon benadeel het. “As ons in 1994 nie oorgeskakel het na die proporsionele stemstelsel nie, sou die ANC met gemak ook meer as ‘n tweederdemeerderheid gekry het – en na hartelus die Grondwet kon verander het om hom te pas!” (138).

Naas die 1990/94-ramp was die versaking van die Rhodesiese blankes seker die NP-regering se verraderlikste daad. Pakendorf maak dit af asof dit niks is nie. “Dit is nie moontlik dat 250 000 blankes vir altyd oor ses miljoen swart mense kan regeer nie” (18). Soos die NP-onderhandelaars en die ANC dink Pakendorf suiwer kwantitatief. Die kwalitatiewe minderheid onder wie se bekwame leiding sowel Suid-Afrika as Rhodesië (en Suidwes-Afrika) ontwikkel is, word sonder gewete vir die wolwe gegooi. Lees gerus Ian Smith se boek, The great betrayal, (London: Blake Publishing, 1997, 418p; Bitter harvest, 2008, 465p, Amazon Kindle $6,89).

Oor die destydse vooruitgang/ontwikkeling onder die blanke bewind is Pakendorf sinies: “Vooruitgang … Maar altyd soos deur wit heersers bepaal en altyd vanuit ‘n meerderwaardige houding. In wese, ‘n diepe belediging vir blote menswees” (124). Sou agteruitgang onder swart heersers werklik beter wees? In die plek van blankes se meerderwaardige houding het die diktatuur (of tirannie – John Stuart Mill) van die meerderheid (die kwantitatiewe, die demografie, sonder inagname van kwalitatiewe oorwegings) gekom. Is dit werklik ‘n saliger toestand vir die land en vir die (meerderheid) inwoners?

“My standpunt was dieselfde as dié van die regses in die party [NP], asook die HNP: As jy eers die deur vir magsdeling oopmaak, sal jy hom nooit weer kan toemaak nie. Hulle was daarteen; ek daarvoor” (109). Dit herinner aan die laaste sin in NP van Wyk Louw se Raka (Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1958, p 32): “Raka, die skelm dier … niemand het gewaag om met een slag die smal hek ooit weer teen hom te sluit.” Dan kom Pakendorf met hierdie soliede dwaasheid: “‘n Gedeelde toekoms was nie net die regte ding om te doen nie, maar ook op lang termyn die enigste waarborg [!] vir die Afrikaner se bestaansreg en die blanke gemeenskap in die algemeen” (109). ‘n Mede-joernalis, At Viljoen, het ‘n reeks van drie artikels oor die moontlikheid van konsosiasie/saambestaan in Pakendorf se koerant geskryf: “Die opgee van totale mag en die deel daarvan met ander bevolkingsgroepe. Maar darem met genoeg beskerming vir die blanke, en dan veral die Afrikaner” (116).

Pakendorf se siening van die blanke bewind, oftewel apartheid, is: “Ons sal besluit en julle moet dit aanvaar” (122). “Wat sou óns gesê het en hoe sou óns reageer het indien vir ons gesê is: Ons het besluit, hier is julle vryheid. Geniet dit. Dis mos wat julle wil hê” (122). Dit is om die saak op ‘n goor manier te stel. Is die blankes se staatkundige situasie deesdae beter as dié van die swartes destyds? Sekerlik nie. Dit is ongetwyfeld baie slegter. Cyril Ramaphosa het suiwer rassisties gesê dat blankes se eiendom sonder vergoeding gekonfiskeer en aan swartes gegee gaan word, of blankes daarvan hou of nie. Owerheidsdiefstal was nooit NP-beleid nie. Byvoorbeeld, onteiening ingevolge die wet op groepsgebiede het in ruil vir vergoeding aan die eienaars geskied.

As oorverligte (Otto Krause het gepraat van “oorbeligte” – 91) het Pakendorf Nelson Mandela verdedig teen diegene wat oor sy bekwaamheid en bestendigheid getwyfel het. Hy verwys tereg na die “sjarme-krane” wat Mandela oopgedraai het (145) om bv die blankes te paai. My indruk is dat Mandela ‘n hopelose skepsel was wat glad nie in staat was om die land te regeer nie. Thabo Mbeki word gekritiseer omdat hy “begin [het] om ras in byna alles raak te sien” (147). Was dit nie eerder deurgaans só nie? Jacob Zuma word beskryf as “slim maar nie wys nie … kon destyds my nie indink dat hy Suid-Afrika so tot by die afgrond sou sleep nie” (147).

“Met FW de Klerk … het ek persoonlik nie veel te doen gehad nie, hoewel ons by die koerant hom regs van die middel beskou het … Ek is oortuig daarvan dat hy nie die uitkoms van die oorgangsonderhandelinge so wou gehad het nie, maar ‘n groter mate van beskerming vir blanke belange, en dan veral Afrikanerbelange, sou wou inbou” (144). “Jy kan nie Nelson Mandela uit die tronk vrylaat, die ANC vryelik laat opereer en reken jy kan nog beheer behou nie. Om van voorskryf soos in die verlede nie eens te praat nie. So gesien, was die ooreenkoms wat tot die verkiesing van April 1994 gelei het, buitengewoon [!] goed. Veral drie elemente was van sleutelbelang en in later jare sou dit blyk nie vir die ANC gunstig te wees nie: [1] die proporsionele stemstelsel wat totale ANC-oorname op lang termyn verhoed het, [2] die klem op menseregte, en [3] die Konstitusionele Hof met sy wakende oog oor die Grondwet” (145).

[1] Die proporsionele stemstelsel het totale ANC-oorname dalk net op kort termyn verhoed. Op lang termyn is dit demografiegewys stikdonker nag vir die blankes, selfs as die swartes hulle anti-blanke solidariteit net in ‘n redelike mate handhaaf. Die instroming van inkommers, wat deur Cyril Ramaphosa aangemoedig word met sy ideaal dat daar geen landsgrense in Afrika moet wees nie, vererger hierdie situasie. [2] In die praktyk is menseregte ‘n foefie wat misbruik word om voorheen benadeeldes, dus tans bevoordeeldes (swartes), verder te bevoordeel en voorheen bevoordeeldes, dus tans benadeeldes (blankes), verder te benadeel. [3] Vir die blankes is daar (feitlik) geen voordeel in die Grondwet wat na goeddunke vertolk en na willekeur deur die swart meerderheid verander kan word nie.

Daar is vir die blankes ook geen heil in die Konstitusionele Hof nie. Na aanleiding van die boek, Hermann Giliomee, historikus: ‘n outobiografie (Kaapstad: Tafelberg, 2016), het ek op Praag (18.03.2017) geskryf dat Giliomee “die mite van ‘n regbank wat onafhanklik van die ANC funksioneer, nekomdraai. Driekwart van die regters in die Konstitusionele Hof ‘is ope of stilswyende ondersteuners van die ANC’ (p 202). Hierdie hof is ‘bevooroordeeld ten gunste van die dominante party … die ANC daarop ingestel is om al die magsinstrumente te beheer, insluitende die regbank. Teen 2015 het die regerende party minstens driekwart van die Regterlike Dienskommissie se lede, wat regters by die uitvoerende gesag aanbeveel, geplaas’ (203).”

Pakendorf stel die belangrike maar selde genoemde feit dat die ANC gestig is om “sekere regte vir die swart elite – hoegenaamd nie die massa nie – te behou” (149). Daar kan kwalik twyfel wees dat die ANC-leierskap steeds onwrikbaar koersvas op hierdie pad is. Hy skryf ook in besonderhede oor die interne woelinge in Perskor, wat seker nêrens anders gedokumenteer is nie. Maar dit is sake waaroor daar min openbare belangstelling is. Wat wel steeds van belang is, is wat hy skryf oor sy ontmoeting met die ANC in die Mfuwe-wildreservaat in Zambië in 1985. Hy is daarheen genooi want “Die Vaderland [is] as al hoe meer radikaal gesien” (161), wat eintlik ‘n swak getuigskrif is. ‘n Politieke wetenskaplike, Piet Liebenberg, het toe tereg verwys na “die ware ANC wat op militante wyse ‘n radikale, revolusionêre verandering in die RSA wil bewerkstellig” (165).

Na aanleiding van verskerpte sanksies teen Suid-Afrika het Pakendorf geskryf: “So word ons gestraf vir die onreg in die land, vir die gewettigde diskriminasie, vir apartheid om die ding op sy naam te noem” (165). Die onreg van wettige rassediskriminasie is natuurlik nog steeds met ons, maar word teen blankes gepleeg, gevolglik word dit nie deur oorverligtes soos Pakendorf veroordeel nie. Hy het dit eintlik voorsien: “Wanneer die wit bewindhebbers die dag ingeruil is op swart bewindhebbers en menseregte nog minder erkenning kry as tans, sal ons land egter nie meer ‘n ‘morele’ probleem vir die res van die wêreld wees nie … Ons moet self besluit wat geregtigheid is en magsdeling mag die antwoord wees – maar ons moet bereid wees om daaroor te onderhandel en nie voor te skryf nie” (166). In 1985 het Pakendorf by ‘n kongres van die Africa-America Institute in Washington DC “met stelligheid voorspel dat ‘n swart regering in Suid-Afrika in die vooruitsig was” (209).

Oor die Mfuwe-gesprekke skryf Pakendorf: “Die berigte het natuurlik Die Vaderland se posisie herbevestig as die mees uitgesproke Afrikaanse koerant, wanneer dit by die ANC en pleidooie vir gelyke behandeling vir alle mense in die land kom. Ook meer as byna alle Engelse koerante” (191). Oor die gesprekke self het Pakendorf in Die Vaderland geskryf: “Die ANC het sonder twyfel as menslik oorgekom, ver van die indruk dat hierdie net geharde terroriste is … Die ANC is nie koelbloedige barbare wat wit Suid-Afrikaners se koppe teen die spreekwoordelike wawiel wil stukkend slaan nie” (169) – eintlik ‘n lae hou, want die verwysing is na wat met Voortrekkerbabas na die moord op Piet Retief en sy geselskap gebeur het.

“‘n Stelsel van een mens, een stem in een land is vir die ANC onverhandelbaar. Die enigste saak waaroor onderhandel kan word, is hoe om dit te bewerkstellig” (180). Dan hierdie belangrike en korrekte inligting oor die ANC vyf jaar voor met grondwetlike onderhandelinge begin is: “As hulle praat, wil hulle praat oor hoe om die bewind oor te neem. Magsdeling, gesamentlike besluitneming, federasies … dit is nie deel van die ANC se politieke agenda nie” (169). “Dit gaan oor magsoorname, nie magsdeling nie. En om hulle doelwit te bereik, sal hulle geweld en bloedvergieting aanwend. Daaroor moet daar nie illusies wees nie” (170).

“Die ANC-standpunt is dat hulle sal voortgaan met die veldtog van geweld omdat dit ‘n metode is om die Regering onder druk te plaas” (179). Dan volg hierdie vermetelheid: “Die ANC glo dat hulle Suid-Afrika eintlik ‘n guns doen met hul veldtog van geweld. Sy lede is bereid om hulle lewens te gee ‘om ‘n wonderlike [!] Suid-Afrika te skep waarin almal [!] trots sal wees om burgers te wees'” (179-180). “Geregtigheid op politieke, ekonomiese en maatskaplike vlak [sal] vir alle mense tot stand kom” (183). “Die ANC is nie te vinde vir ‘n tydelike opskorting van hul veldtog van geweld om met die Regering te onderhandel nie … As die Regering ernstig is met sy hervormingsveldtog, sal hy nie daarop aandring dat die ANC geweld afsweer nie” (180). Is sodanige gewelddadigheid versoenbaar met Pakendorf se stelling dat die ANC nie “geharde terroriste” en “koelbloedige barbare” is nie?

Het FW de Klerk en sy onderhandelaars versuim om kennis te neem van wat Pakendorf in 1985 geskryf het of het hulle hulle eenvoudig nie daaraan gesteur nie? Tydens die grondwetlike onderhandelinge het die ANC volstoom en feitlik ongesteurd met sy terrorisme voortgegaan en die skuld op die regering se veiligheidsmagte of ‘n fiktiewe derdemag gepak. Nieteenstaande Pakendorf se duidelik uitspraak in 1985 het De Klerk voor en ná die 1992-referendum voorgegee dat dit tydens die onderhandelinge om magsdeling en nie om blanke magsoorgawe gaan nie.

Die owerheidsdiefstal van blanke eiendom deur ‘n ANC-regering is ook reeds in 1985 voorsien: “Daar is voorstanders van nasionalisering en onteiening van eiendom en maatskappye, en daar is diegene wat ruimte sien vir ‘n vorm van die vryemarkstelsel onder sentrale beheer” (170). Die sentralisering van politieke mag is kenmerkend van marxistiese state. “Daar moet ‘n mate van herverdeling van rykdom plaasvind … Tog sal private inisiatief ‘n rol hê om te vervul … Maar die ANC het min twyfel dat die kapitalisme verwerp sal word … Suid-Afrika is ‘n ryk land en die rykdom moet gedeel word” (181). “Die basis van die stryd is … die Freedom Charter” (182). Die nuwe Suid-Afrika sal glo nie soos die res van Afrika wees nie (181). In werklikheid word Suid-Afrika sedert 1994 al hoe meer ‘n tipiese Afrika-staat en dit is nie ‘n kompliment nie.

Laat in Pakendorf se 1985-verslag en onprominent kom Afrikaans darem aan die beurt: “Ons gesels oor die toekoms van Afrikaans. Die taal sal bly voortbestaan, kom die versekering” (173). Daar word nie gevra of gesê vir hoe lank Afrikaans sal voortbestaan nie en ook nie of ‘n ANC-regering Afrikaans sal bevorder nie. Maar dit is in elk geval dwaas om peil te trek op versekeringe wat deur die ANC gegee word.

In ‘n nawoord van twee bladsye – seker van die skandaligste twee bladsye in die annale van die Afrikaanse literatuur – skryf Pakendorf: “Met die land gaan dit redelik … Die howe funksioneer behoorlik [?], die media is sterk, en daar is beweging- en meningsvryheid [Sparrow? Momberg?]. Dis ‘n werklik demokratiese bestel waar ander partye as die ANC in die afsienbare toekoms ‘n regering sal kan saamstel. Natuurlik is daar groot probleme – misdaad, werkloosheid, swak onderwys, kwynende werksgeleenthede, ‘n korrupte en onbekwame spul regeerders. Feit [!] is egter dat diskriminasie op grond van ras weg is [!] – en dis nie korrek om hier na omgekeerde diskriminasie te verwys nie” (229). Pakendorf dink blykbaar daar is geen wraaksug van die swart kant af nie. “Regstellende aksie is nie eens naastenby, effens of omtrent, vergelykbaar met dit wat ons aan ander rasse in die land gedoen het nie. Goed, dit word verkeerd toegepas, maar noodsaaklik is dit wel. Al is dit net om die onreg van die verlede te help regmaak” (229). Dit is makliker om huidige onreg reg te maak en Pakendorf kan hom gerus eerder hiervoor beywer. Dan sal hy die blankes se kant moet kies en polities byderwets sal hy dit om die dood nie doen nie.

Pakendorf kom met dieselfde drogredenasie as Nelson Mandela: Na die Anglo-Boere-oorlog (ABO) is Afrikaners glo “boontoe … op die rug van ander, dat ons ons reg gebou het op ons onreg jeens ander. Maar tog het ons in die tagtigs, en gewis in die negentigs [magsoorgawe], die wonderbaarlike [!] reggekry: Ons het ons rug gekeer op die onreg en in ‘n vrye referendum in 1992 uit ons eie die mag oor die land opgegee – en ook die mag oor onsself” (230). Pakendorf weet sekerlik dat hy hier lieg. Die meeste ja-stemmers was bereid om ‘n mate van politieke mag aan die swartes te gun, maar daardie blankes was sekerlik nie bereid om hulle selfbeskikking op te offer in ruil vir die tirannie van die meerderheid nie. Die blanke kiesers is destyds deur FW de Klerk valslik onder die indruk gebring dat bv eie woongebiede en eie skole sou bly voortbestaan en dat niemand sy werk sou verloor nie. Ook dat die nuwe grondwet in ‘n opvolgreferendum aan die blanke kiesers vir goed- of afkeuring voorgelê sou word. Van hierdie plegtige beloftes het niks tereg gekom nie.

Oor die eerlose en oneerlike magsoorgawe in 1994 is Pakendorf liries. “Dít was ons Derde Vryheidsoorlog. Ons het hierdie een as oorwinnaars afgesluit – ‘n oorwinning vir die land, maar ook vir onsself” (230). Jonathan Jansen, daarenteen, beweer dat die Afrikaners in 1994 ‘n tweede keer verloor het; net soos in 1902. Die gevolge van 1990/94 (veral op lang termyn) is myns insiens nie minder destruktief as die ABO nie. Ons kan letterlik alles verloor en nie eens met ‘n verskroeide aarde bly sit nie omdat dit deur die owerheid sonder vergoeding van ons gesteel kan word. Hoe kan 1994 ‘n oorwinning vir die land (en die meeste van sy inwoners) wees as, anders as voorheen, agteruitgang, verval en wetteloosheid sedertdien kenmerkend van die land geword het?

Dan wend Pakendorf hom suiwer kwantitatief (soos die ANC) tot die verkleinering van Afrikaners. “Feit is eenvoudig dat die Afrikaner ‘n minderheid van die Afrikaanse gemeenskap uitmaak en ‘n nóg kleiner minderheid in die land – in so ‘n mate dat g’n niemand hom eintlik aan ons hoef te steur nie. Net so nou en dan, as dit kom by sake soos Afrikaanse skole, maak ons ons stemme dik en word daar geluister” (230). Glo Pakendorf werklik dat Afrikaners in 1992 vir boggerolstatus gestem het of is ons veeleerder uit ons toekoms verneuk? Oor Afrikaanse skole sal Pakendorf hom nie bekommer nie. Hy het sy kinders in Duitse skole laat opvoed. Soos ander oorverligtes vertroetel Pakendorf sekerlik minderheidsregte vir swart Amerikaners. Waarom nie ook simpatie hê met blanke Suid-Afrikaners aan wie geen groeps- of minderheidsregte gegun word nie?

Pakendorf borduur valslik voort: “Ons het ons onsself as’t ware uitrangeer. Ons is te veel die haan wat op sy eie mishoop staan en kraai – so ver van almal dat niemand dit hoor nie. Kyk maar net na die syfers [weer kwantitatief]: Uit elke tien mense wat Afrikaans as moedertaal praat, is een swart, vyf bruin en net vier wit. Maar as jy loer in die media, luister na openbare debatte, om jou kyk, sal jy sweer die Afrikaner is die somtotaal van die gemeenskap” (230). Wat die blankes en veral die Afrikaners alles tot stand gebring het (sowel kwantitatief as kwalitatief) word glad nie deur Pakendorf in berekening gebring nie. Hy skaar hom eerder by bv die onetiese terroriste en misdadigers wat deesdae magsposisies beklee.

“Voordat ons almal in hierdie gemeenskap nie saampraat, saamwerk, vir mekaar omgee nie, sal ons seggenskap oor onsself en in ons land nóg meer afneem. Ons gaan die vrugte van ons oorwinning [!] in die Derde Vryheidsoorlog laat vrot word, want te veel van ons het in ons diepste wese nie van die gedagte dat die Afrikaner ‘n uitsondering is, histories anders is, afskeid geneem nie. Ons is net nie genoeg toegewy aan die groter materiële en geestelike welvaart van al die mense in die land nie. So van alleen staan, sal ons nog vergaan” (230). Die suksesvolle en vooruitstrewende Suid-Afrika van weleer was ‘n uitsonderlike land waartoe Afrikaners onontbeerlike en uitsonderlik voortreflike bydraes gelewer het. Daar kan kwalik van Afrikaners verwag word om met dieselfde entoesiasme hulle vindingrykheid en kundigheid in ‘n bodemlose put te stort; des te meer as hulle deurlopend benadeel, geminag, misken en verguis word. ‘n Sterk saak kan daarvoor uitgemaak word dat Afrikaners op grond van hulle bewese positiewe bydraes beter as enige ander ras- of etniese groep behandel behoort te word. Die teenoorgestelde is egter die geval en Pakendorf vereenselwig hom daarmee.

Pakendorf het daarop aangedring dat sy koerant se beleid duidelik verlig moet wees omdat “ek nie anders kan wees as wat ek is nie” (214). In 1986 is hy weens sy politiek deur Perskor ontslaan (222). “Ek was net te krities, te ver van die norm” (222).

Naby Kroonstad het Pakendorf boere toegespreek en gesê hulle moet nie meer die onderskeid tussen “ons” en “hulle” maak nie. Almal moet “ons” wees. “In vraetyd staan ‘n boer voor in die gehoor op: Baie dankie, nou verstaan hy. Ons steel so baie van ons skape” (226).

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.