Manfred Delport: Mandela, Marais en die media

Oor die afgelope paar dae is al wat ‘n hoofstoompublikasie onleesbaar en die meeste radiostasies totaal onluisterbaar agv die lagwekkende huldeblyke aan ‘n afgestorwe misdadiger.

‘n Konstante tema van al die hagiografieë wat aan die sogenaamde moeder van die sogenaamde nasie gewy word, is dat sy kwansuis ‘n “komplekse” persoon was. Ek sukkel weliswaar so ‘n effe om te begryp wat so danig kompleks aan ‘n gewelddadige ontvoerder, moordenares en veroordeelde bedriegster is; iemand wat skynbaar van ‘n jong ouderdom af ‘n probleem met wetsgehoorsaamheid en getrouheid aan haar man beleef het. Kompleksiteit sou immers daarop dui dat sy veelvuldige fasette gehad het; dat sy die spreekwoordelike Calvinistiese goeie werke ook vermag het, in stede daarvan om die gepeupel op te hits om mense wreedaardig te vermoor, om geld te verduister of om haar man te verneuk. Sy het tot op haar sterwensdag steeds min agting vir enige reëls getoon, en sonder om te blik of te bloos haar salaris as LP getrek, sonder om ooit in die parlement gesien te word.

Daar is eweneens min sprake van die presiese aard van haar gewaande goeie hoedanighede, veral in die toesprake van die politici. Dit is meestal vae goed wat gesê word; leë, betekenislose slagspreuke wat geopper word: “Sy het na die jeug uitgereik”, aldus president Ramaphosa. Sy het hulle seker heelwat van alternatiewe gebruike vir vuurhoutjies en buitebande geleer, neem ek aan. Wat het sy egter presies gedoen wat so goed was? Dit is skynbaar ‘n staatsgeheim.

Maar wag, sê die apologete, soos die ekstreemlinkse, selfhatende prof Christi van der Westhuizen, ons moet verstaan dat sy ‘n goeie mens was. Hoekom? Want daar was apartheid. Want sy was swart. Sy het geld gesteel en mense laat vermoor, want sy was swart en agv apartheid, voer Van der Westhuizen ook dan in ‘n Naarpersrubriek aan. Baie soos Beëlzebub vir Hansie maak kul het, het apartheid vir Mandela maak steel en moor. Ons moet haar vergewe, want sy’s swart. Stompie Sepei, wat selfs swart was, se ouers put kennelik groot berusting uit hierdie een.

Hierdie gedagtes het by my opgekom terwyl ek na die rolprent, Die Wonderwerker, wat oor Eugène Marais handel, gekyk het. Ek wil dit egter onmiddellik duidelik maak dat ek op geen manier vir Marais met ‘n dooie misdadiger probeer vergelyk nie, aangesien hy ‘n meestal ‘n beskaafde, intelligente en gesofistikeerde mens van vele fasette was.

Marais was wel ‘n figuur met ‘n donker kant. Sy verslawing aan morfien is welbekend, al het hy nooit as gevolg van sy verslawing die behoefte ontwikkel om enige iemand wreedaardig te laat doodbrand nie. Marais het ‘n voorliefde vir jong dames gehad. Daar was selfs spekulasie dat die skrywer Herman Charles Bosman Marais se liefdeskind by ‘n jonger vrou sou wees. Hy was ‘n feilbare ouer. Marais se eie kind is deur sy suster grootgemaak, nadat sy vrou kort na die kind se geboorte gesterf het. Hy en sy seun het in latere jare heeltemal vervreemd geraak.

Die donker kant van sy persoonlikheid het egter verder gestrek as morfien en liaisons met jong dames. Ná die Anglo-Boereoorlog het hy berug geword vir sy vriendskap met daardie aartsimperialis en hater van Afrikaners, Lord Milner. As joernalis het hy selfs gunstige berigte geskryf oor Milner se verengelsing van Afrikaanse skole, iets wat hom nou nie juis vandag in Praaglesers se goeie boekies sou bring nie. Iets wat Praaglesers miskien nog meer warm onder die kraag sou maak, is dat Marais ‘n Vrymesselaar was, en baie lesers sou meen dat dit hom een van die Antichris se dissipels gemaak het.

Wat egter merkwaardig is, en wat in absolute, skrille kontras staan met die leuens in die hagiografieë waarmee die hoofstroommedia tans besmet word, is dat Marais wel ook op talle ander gebiede presteer het. Daar was skynbaar niks wat bokant sy intellektuele vermoëns was nie.

Sy werke Die Siel van die Mier en The Soul of the Ape word selfs vandag nog hoog aangeslaan as baanbreker-werke in die natuurwetenskappe.

Hy het hom gedeeltelik as ‘n mediese dokter bekwaam, en as myndokter gewerk.

Hy het as advokaat in Pretoria gepraktiseer.

Hy was ‘n joernalis en het op negentienjarige leeftyd reeds die redakteur van ‘n publikasie, Land en Volk, geword.

In ‘n tydvak waarin daar nog baie min poësie in Afrikaans bestaan word, het hy in Afrikaans gedig, soos wat ‘n iedere en ‘n elke Afrikaanse skoolkind wat Winternag moes leer, kan getuig.

Marais het drie dramas gepubliseer, asook verskeie werke van Afrikaanse prosa, onder andere natuurwetenskaplike prosa en Dwaalstories.

Bostaande is uiteraard net die mees oppervlakkige skets van ‘n uiters talentvolle, maar ook omstrede, persoon se lewe en werk. Dit is wat ek verstaan onder ‘n komplekse karakter. Kontrasteer dit egter met die loutere twak wat die afgelope paar dae konstant oor ‘n blote misdadiger verkondig word, ook in al wat ‘n Naarperspublikasie is, wat in haar lewe skynbaar nie een enkele positiewe bydrae tot die mensdom gelewer het nie, buiten om swart te wees, en dit word duidelik dat die hoofstroommedia die kluts totaal kwyt is.

Verskoon my dus dat ek sommer nou vir my Leon Rousseau se biografie oor Marais, Die Groot Verlange, aanlyn gaan koop, as ‘n teengif teen die onleesbare hoofstroommedia se propaganda.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.