Engelsman van Kaapstad wil Steve Hofmeyr stilmaak

Desmond 'Des' Bailes. Foto: Facebook.

‘n Engelsman wat soos Steve Hofmeyr op Greykollege in Bloemfontein was, Des Bailes, wil hê dat die sanger geheel en al verbied moet word. Hy het vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement geskryf en gevra dat Steve se konsert by Laerskool Overberg in Caledon op 20 April verbied word.

Bailes beweer dat Steve Hofmeyr ‘n “rassis” is omdat hy in Afrikaans sing en die Afrikanersaak by sy gehore bevorder. Blykbaar het hy ook beswaar daarteen dat Hofmeyr nie eerbiedig genoeg teenoor Winnie Mandela was nie.

“Mnr. Hofmeyr is berug vir sy openlike rassisme, met verklarings soos ‘swartmense was die argitekte van apartheid’ en ‘sekere aspekte van apartheid was briljant’,” het Bailes gister in ‘n brief aan die LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, Debbie Schäfer, geskryf.

“Hoe is die swart leerders veronderstel om te voel as dié afstootlike Afrikaner met rassistiese sienings die ou volkslied sing en die apartheidsvlae begin waai? Daar is vele meer geskikte sale in Caledon waar mnr. Hofmeyr sy afstootlike tipe Afrikanerrassisme kan beoefen.”

“Dit het niks te make met spraakvryheid nie maar slegs met respek en gelykheid vir alle lede van die gemeenskap,” het Bailes gesê en ‘n beroep op die Demokratiese Alliansie gedoen om die geleentheid aan te gryp om standpunt teen “rassisme en blanke bevoorregting” in te neem.

Bailes het ook ‘n paar dae gelede aan die munisipale raadslede van Kraaifontein geskryf om hulle te vra om hom nie toe te laat om in die stadsaal te sing nie.

“Ek doen ‘n beroep om die onmiddellike kansellering van dié konsert en die afdanking van diegene wat daarvoor verantwoordelik is dat hierdie beskamende rassistiese byeenkoms toegelaat word,” het Bailes in sy brief gesê.

Steve het in ‘n twiet na ‘n berig hieroor in Netwerk24 verwys en dit ‘n “swak artikel” genoem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.