Karel Combrinck: Maddie lui die klokkie

Êrens op Youtube is daar ‘n toneeltjie van ‘n man wat aan sy worshondjie Maddie, opdrag gee om ‘n klokkie te lui vir ‘n lekkertjie of ‘n koekie: Maddie the 10 Week old Dachshund learning to ring a service bell!

Hierdie toneeltjie is ‘n volmaakte simboliese uitbeelding van die verhouding tussen Amerika en Europa vandag. As Duitsland, Frankryk, ens gehoorsaam is, en meesal is hulle, kry hulle dan soms ‘n koekie en soms net ‘n bitterbessie, afhangende van Amerika se bui. Pas weer het American Airlines ‘n bestelling van 47 Europese Airbus-stralers gekanselleer ten gunste van Boeing, duidelik binne die raamwerk van president Trump se beleid van “America first” .Dus ‘n geval van die bitterbessie…

‘n Voorbeeld van die Europese Unie se volslae en patetiese gedienstigheid aan die VSA is dié rondom die gaspypleiding uit Rusland na Wes-Europa waarvan die Europeërs volkome afhanklik is. Soos ons weet, is die Amerikaners reëlreg teen die bestaan van hierdie pypleiding gekant en beywer hulle hul instede daarvan vir ‘n pypleiding vanaf die Midde-Ooste deur Sirië na Wes-Europa, wat onder hulle beheer sal wees. Sirië weier egter om hierdie pypleiding oor hulle grondgebied toe te laat. Verder hoef nie gesoek te word nie vir die knaende Amerikaanse veldtog teen Sirië en Rusland. Dat hulle ‘n stryd voer teen Sirië “ter bevordering van die demokrasie” en weens die Siriese regering se gebruik van “chemiese wapens” is klaarblyklik maar net nog meer van die deursigtige leuens waaraan ons al gewoond is.

Interessant is terloops dat Naarpers met Vuilbaard Scholtz aan die voorpunt deurgaans die pro-Amerikaanse standpunt stel. ‘n Mens kan wonder of Amerika Scholtz se steun nodig het of kry hy dalk ‘n koekie.

Maar nou is dit natuurlik wesenlik wat die Europeërs self dink en sê van die bestaan en gebruik van die Russiese gaspypleiding wat duidelik in hulle belang is, maar wat nie in die Amerikaanse kraam pas nie. Hulle houding is dat hulle liefs nie wil kant kies nie. Hulle sal liewer maar wag en kyk hoe die dispuut homself oplos. Dit sou lagwekkend gewees het as dit nie so jammerlik tragies was nie.

Ten einde die tekort aan te vul wat veroorsaak sou word indien die Europeërs die gastoevoer uit Rusland moes afsny, bied die Amerikaners aan om hulle eie, veel duurder skaliegas aan Europa te verskaf, wat Europa net nog meer afhanklik van Amerika sou maak. Vir die oomblik het die Europeërs nog nie aan hierdie brokkie gebyt nie, maar gee net kans…

Dit sou in die belang van die Europese Unie wees om goeie en noue betrekkinge met Rusland te handhaaf. Rusland is vir hulle ‘n buurland, met ‘n vergelykbare kultuur, met reusebronne van grondstowwe, wat ‘n afsetgebied kon wees vir hulle produkte en wat hulle in staat sou kon stel om in samewerking werklik ‘n rol op die internasionale verhoog te speel. Maar nee, hulle verkies om krampagtig aan die Amerikaanse rokspante vas te klou en vol te hou met ‘n totaal verspotte en teenproduktiewe sanksieveldtog teen Rusland.

Met die skepping van die Europese Unie is aan die Europeërs voorgehou dat die nuwe eenheid Europa in staat sou stel om sy stem op die internasionale terrein dik te maak en veral die hoof te bied teen Amerikaanse politieke en ekonomiese oorheersing. Hiervan het totaal niks gekom nie en Europa is nou meer onderdanig aan Amerika as wat hulle ooit was, ligjare verwyder van die tyd van Generaal De Gaulle toe daar nog geen Europese Unie was nie.

Wat het dan gebeur? Wel, wat gebeur het en wat nooit aan die Europeërs verduidelik is nie, is dat die Europese Unie geheel en al ‘n Amerikaanse skepping is. Die Amerikaners het die Europese Unie tot stand gebring ten einde beter beheer oor hulle te hê, d.w.s . beheer oor hulle verdediging, hulle buitelandse beleid, hulle bankwese, hulle ekonomie, ten einde uiteindelik meer geld uit hulle te kan maak. Europa kan vandag letterlik beskou word as ‘n kolonie van die Amerikaanse empaaier. Die vooruitsig van ‘n sterker, meer onafhanklike Europa was weinig meer as ‘n koekie wat aan hulle belowe was as hulle die klokkie lui.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.