Suidpunt: En wat nu met het Nederlands?

In ‘n vorige artikel “Waarom is Hollands weggegooi vir Afrikaans?” het ek gekyk na die geskiedenis van Kaap-Hollands wat later Afrikaans sou word. Daar is gekyk na die swak onderwys [met min lesure in Nederlands], die ewe swak onderrigmetodes, die ongunstige maatskaplike omstandighede, die ruim begrip “Nederlands”, ‘n volk wat vas glo wat hy praat is Hollands (net soos die Galliërs destyds vas bly glo het hulle praat Latyn, totdat dié tot hul skok moes ontdek dis ‘n ander taal) en laastens die ontstaan van die taalbeweging.

In hierdie artikel wil ek my toespits op Nederlands, die hondedrol op die sitkamermat [wat? klink steeds beter as die anglisistiese “olifant in die kamer” oor die radio…]. Sedert 1983 is die ‘sinonieme’ Nederlands en Afrikaans in die Grondwet van bed en tafel geskei (as middelvinger vir die Nederland-Belgiese kultuursanksies teen Suid-Afrika), Middelnederlands was nooit op skool aangebied nie, en sedert 1994 en daarna word Nederlandse tekste nie meer op openbare skole in die Afrikaanse taalklas aangebied nie. In die Grondwet geniet Nederlands géén minderheidstaalregte soos Duits of Tamil, en ander godsdienstale nie. Hier en daar word wel bietjie aandag gegee aan Nederlands op universiteit in die Departement Afrikaans, hoewel maar mogge troffe.

Volgens Google Trends is Suid-Afrika die 14de land ter wêreld op die ranglys wat persentasiegewys nog iets rondom “Nederlands” google, veel meer as Nederland se destydse kroonjuweel, die voormalige Nederlands-Indië, dit wil sê, Indonesië (26ste op die lys). Land Nommer 1 is nie Nederland of België nie, maar Suriname. Ook Wikipediastatistiek bevind Suriname en Suid-Afrika toon steeds belangstelling in die Nederlandse Wikipedia, maar Indonesië so te sê nie.

Die probleem wat ek wil uitklaar is die gebruik en nut van Nederlands self onder Afrikaners/Boere. In 2018. Ek gaan dus die wedersydse “eiebelang” van die V.O.C. (ons eie buitelug-musiekblyspel van ‘Pirates of the Caribbean’, oorgeklank in Nederlands), Kruger se Hollanders (broodnyd en ‘n spul beterweters), die Tweede Vryheidsoorlog (“slapgat-regering!”), die Nazi-inval van Nederland (“Nederland dien ongelukkig nou as Autobahn na Londen, en ons onafhanklikheid!”), en die anti-apartheidsterrorisme (“verraaiers!”) en die aanval op Nederlandse toeriste (“ja-nee, kry nou vir julle!”) oor die hoof sien.

Maar ten spyte van die Nederlandse boekwinkels in Transvaal van destyds, sal die moderne Afrikaner eerder soos bye rondom die Duitse boekwinkels koek. Soos Hutten Buchdienst se webwerf self sê. En hoekom nogal nie? ‘n Mens het tog koopvryheid? En so was dit ewe simbolies by die onthulling van die Maria de la Queilleriestandbeeld in Kaapstad op 2 Oktober 1954: dit was nie “Mevrouw” Koningin Juliana of 16-jarige Kroonprinses Beatrix wat die feestelike verrigtinge kom bywoon het nie. Dit was die mees GEHATE man in Nederland – ‘N DUITSER! – Prins Bernhard (Friedrich Eberhard Leopold Julius Kurt Carl Gottfried Peter, Graaf van Biesterfeld). Hy het in sowel Nederlands as Engels sy toespraak gelewer (‘Veertien gedenktekens van Suid-Afrika’, 1961, pp. 22-29).

Maar kom ons probeer maar hou by die taal, en taal alleen. Ek aanvaar in my skrywe Nederlands bly ‘n taal op sy eie, en Afrikaans ‘n taal op sy eie. Nes Noors en Deens. Ek gaan nie taalamalgamasie in hierdie artikel bepleit nie.

STAND

Nederlands in party moderne Boerehuise is vir my baie soos die ikone wat in die Красный угол (kom ons noem dit sommer die ‘heilige hoekie’) van elke gelowige in Rusland se huis uitgestal word. Of in ons Boerewoning, die Statenfamiliebybel wat plegstatig reg onder die die neus van bebaarde ooms op familiefoto’s of De Breede en Smalle Weg (met die loerende Vrymesselaarsoog) op die gepoleerde embuiatafel geplaas is. Of in die vertoonkas, agter slot en grendel. Daadwerklike nut het die Heilige Boek nie, want niemand lees ooit daaruit nie. Dit het, wel, “sentimentele waarde”. Of dien net soos die volstruisdoppe en tarentaalvere eenvoudig as Africanaversiering. Wat jy in elke Vyfsterhotel met die vervelige luiperdvel-Afrikatema sal kry.

‘n Florerende boekemark soos te sien onder die Nordiese sustervolke het nooit werklik tussen Afrikaners/Boere en Nederlanders ontwikkel nie. Want niemand wil saamspeel nie: in Nederland word Afrikaans ywerig (net soos by Engels, Duits en Frans) na Nederlands vertaal, en in Suid-Afrika word die Engelse of handjievol Afrikaanse vertalings van die Nederlandse tekste gelees.

Hoofsaaklik immigrante het Nederlandse boekwinkels in Suid-Afrika in die verlede ondersteun, maar soos hulle een na die ander genaturaliseer het, was hetsy Engelse of Afrikaanse boeke hul nuwe gunsteling. My ouma was versot op Engelse liefdesverhale – so iets het sy in Nederland nie geken nie. Totdat sy later sinies oor die liefde geword het: “Die einde is altyd dieselfde; of die paartjie kom tog by mekaar uit, of nie”.

Dis nou diegene wat wel gelees het. Al die Nederlandse boeke wat ek nog gekoop het by antikwariate was eers die eiendom van toeriste uit Nederland, of immigrante uit Nederland, of voormalige voorgeskrewe boeke op Suid-Afrikaanse skole en universiteite. Selfs deur Google Play en Amazon is Nederlandse boeke nogal redelik moeilik bekombaar.

Jou gemiddelde Afrikaner lees, wel, Afrikaanse boeke. Maar soos my Aardrykskundeonderwyseres hautain opgemerk het: “Afrikaanse boeke maak jou lui.” Dus, lees hulle ook Engels. As jy na plekke gaan soos die Facebookgroepie “Lekkerlees Boekrak” is dit presies ook wat jy daar sal kry. Slegs Afrikaanse en Engelse boeke word daar druk bespreek. Soms het ek gefantaseer hoe Dan Roodt of Elma Potgieter ‘n stuiwer, ‘n knuppel, of dalk ‘n moerse bom tussen die skare sal ingooi: “Het julle hierdie Franse boek van Molière gelees? Sy taalgebruik is tog SO keurig! ;)” Maar besef mens mors net jou tyd. Dis jou gemiddelde leser, gevorm, gebrei, grootgemaak, bestem vir die gepeupelpers.

Ek herinner my ook aan Pieter van Eeden se brief gedateer 22 Julie 2015  ( http://archive.is/ZtJyq ) :

Spies skryf ons taalband met Nederlands is nie verbreek nie. Dit is ’n illusie. Slegs enkele Afrikaners benut Nederlands en andersom. Vir die gemiddelde Afrikaner is Nederlands vandag net so vreemd soos Italiaans en Grieks.
Ek kan ’n sprekende voorbeeld aanhaal. By my Amsterdamse werkgewer is ongeveer 20 Afrikaners in diens. Hulle is almal tussen vyf en tien jaar in Nederland. Ek gesels gereeld met hulle. Dit blyk hulle kommunikeer met Nederlanders in slegs een taal: Engels. Ek staan nou die dag by ’n paar van hulle en hulle adviseer mekaar oor boekwinkels in Amsterdam waar hulle Engelse boeke kan koop! Bid jou aan! Ek dag dat hulle bevind hulle in ’n taalparadys met Nederlandse boeke in oorvloed! Wie sal ons bedank? Die Afrikaanse taalmanne wat taalskeiding met Nederlands bepleit het!

 

Maar ek dink dis miskien ‘n klein bietjie kwaai gestel.

Jou meer gekunstelde Afrikaanse leser sal benewens Afrikaans én Engelse boeke ook hetsy Franse, hetsy Duitse, hetsy Nederlandse boeke bietjie deurblaai [wat hulle ook al in die hande kan kry]. Dis die spreekwoordelike ‘Krismis’/’Kersfees’-onderskeid van Ou Genis uit P.G. du Plessis se “Koöperasiestories”. Jou héél gekunstelde mense, word getrek deur Japannees, Russies, Hebreeus, of lees, soos J.B.M. Hertzog en C.J. Langenhoven, sommer een Sondagnamiddag tekste in Latyn een stryk deur vir die lekkerte. Sulke mense kan ek slegs met brommergroen jaloesie beny, maar om so iets van die gemiddelde Afrikaner te aspireer, is net iets waarvan die meerderheid 1950-Nasionaliste (en miskien ou N.P. van Wyk Louw ) kon droom.

Maar het mens Nederlands ooit nog nodig? Ja, ek weet van die woordherkoms van Afrikaans, dit is interessant en als, maar is kennis van Nederlands werklik so broodnoodsaaklik?

MY ERVARINGE

Binne slegs één maand het ek op verskeie gebiede met Nederlands te doene gekry.

GETUIENIS 1.

Ek kry een laat Vrydagmiddag ‘n oproep van my kleinneef en sy vrou. Hy het ‘n stamboom op MyHeritage.com en ‘n Nederlanderin het aan hom geskryf. Sy was heel verbaas toe sy verneem die stamboomoptrekker kom uit die Suide. Sy is ‘n verlangse afstammeling van my betoorgrootvader en -moeder, en wil graag weet hoe die vurk nou in die hef steek.  My kleinneef  (albei van ons is derdegeslagimmigrante) het my spesiaal geskakel oor een sinnetjie. Die woord “eventueel” het hom kop laat krap. Skaars was sy sin klaar of ek klaar die verwarring op: “eventueel” beteken in Hollands, net soos in ou Afrikaans, “moontlik”. In die konteks wou sy weet of my kleinneef “moontlik” foto’s sal stuur, en nie “uiteindelik” soos met Engels “eventually” die geval is nie.

Ek stuur die foto’s van my oupa en dié se mamma en pappa êrens uit die 1930’s. Ook van sy suster. En sy ouer broer, die grootvader van my kleinneef. Met my Nederlandse ouma se afsterwe in 2012 het al hierdie kiekies van haar skoonfamilie in my skoot beland (ek het dan so mooi gevra).

Maar die Nederlanderin is nie tevrede nie – nej, sy soek bewyse. Nêrens kry sy inligting wat my oupa of groottante skakel met my oupa- en oumagrootjie nie. Die Nederlanderin en my kleinneef het hul doodgesoek na inligting op wiewaswie.nl, maar kon niks kry nie.

Geen probleem: ek tik my oumagrootjie se naam in, kry al die name op die ‘gezinskaarten’ (sensusopnames) op wiewaswie.nl (dodelike bewyse!), som twee briewe op wat in Nederlands deur my groottante geskryf is uit Amerika aan my grootouers, heg ‘n Amerikaanse doodsberig met die sterftedatum aan die e-pos, en siedaar!

GETUIENIS 2.

Ek het op 4 Maart 2017 ‘n boek oor skeepsrampe aan die Overbergse kus (2012) gekoop. Betreklik dun. Teen R200,00. Ek was nogal teleurgesteld dat die geraadpleegde bronne slegs in Engels geskrywe is, want gegewe al die veeartsenykundige boeke uit die 1950’s wat van Franse, Deense, Duitse, Nederlandse en betreklik min Afrikaanse bronne gebruik gemaak het [wat toe nog nie so volop was nie], verwag ek in 2018 nie veel minder nie.

So kom ek op Dr. Jan Malan se boek af (klaar gelees 27 Maart 2018), “Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg: Struisbaai 1722” (2017). Malan het in 2010 sy navorsing begin, want êrens was daar ‘n “Malan(g)” betrokke by die hele storie. Genoeg om ‘n Hugenote-afstammeling lont te laat ruik. En deur sy navorsing vlek Dr. Malan ‘n hele paar leuens oop wat gereeld in Afrikaanse en Engelse bronne keer op keer, herhaaldelik, ad nauseum, opduik.

Meestal maak mense blindelings en swaar van E. Rosenthal (‘The Hinges Creek’) en Lawrence Green (‘South African Beachcomber’) se (postmoderne?) fiksie / kontreistories / opgetekende legendes gebruik. Maar wat kan ons nog skok? Hierdie pikkedilletjies is klein teen die film ‘Krotoa’! Dit is mos fiksie wat sommer oornag in die reine waarheid omgetower word. En in feitegidse gepubliseer word.

Nou volgens “oorlewering” het Kaptein van Soest doelbewus landwaarts geseil om die V.O.C. se skip te kelder in die Agulhasrif. Deur die skip te kelder, kon hy vragroof of wrakroof pleeg en op Vergelegen gaan begrawe. Of iemand kry om die grawewerk te doen. Die skelm handlangers/boere sou glo op die duine met rookseine slaggereed staan (haai, amper soos in die verhaal “Die lanternswaaier” (2011)!). Een van die offisiere was boonop bewus van die kaptein se smokkelbedrywighede, en sy lyk word kort daarna met ‘n gapende wond ontdek! Die vrag vol edelgesteentes, goud, silwer en ornamente word in die vrugteboorde begrawe. So gaan Van Soest later na die Kasteel, om nie agterdog te wek nie. Die wrak moet egter ondersoek word – ja, niks lyk snaaks nie, die wrak kan maar aan die brand gesteek word.

Maar Hendrik Klopper, van Vergelegen, raak vreeslik neerslagtig. Sy gewete begin hom pla. En die ander ook. En toe word Klopper doodgeskiet – deur wie, weet niemand nie – en net hy het geweet waar die skat is! En Van Soest is nêrens te vinde nie. Ek haal aan:

“Nog rus die goewerneur nie en uiteindelik word Van Soest, Van der Heiden en Malan van strandroof aangekla. Hulle beken die roof teen die VOC en word gemartel om te onthul waar die skat versteek is. Almal getuig egter dat Klopper dit kan verklaar en dié geheim is saam met hom in sy graf. Uiteindelik is Van Soest ter dood veroordeel en geradbraak. Van der Heyden en Malan is in kettings na Batavia verban.” – bl. 70, “Skeepsrampe aan die Agulhas-kus”, Jeannette Grobbelaar, 2012.

Dit is moeilik om die hele boek (2017) van 161 bladsye op te som in enkele paragrawe, maar kom ons probeer:

Dr. Malan vind egter al bogenoemde is ‘n ‘broodje aap’. Wat in die V.O.C. se amptelike dokumente staan strook nie met Rosenthal en Green se fiksie nie. Die hele skeepsramp kan toegeskryf word aan seestrome, die nalatigheid van loodpeiling wat nie gedoen is nie (en die offisiere en skeepskaptein wat mekaar die skuld toegeslinger het en hulself vervolging probeer spaar het), die weer wat deinserig was en misgissings wat die kaartberekeninge betref. Van Soest het hééltyd by die wrak gebly [terwyl ander Kaap toe gestap het], hoewel hy geen beheer gehad het oor die gewelddadige matrose wat links en regs alles loop staan en plunder het nie.

Die res van die verhaal kan jy vlugtig gaan lees by

Deel 1: https://family.morkel.net/wp-content/uploads/Schoonenberg-Malan-1-Finaal-.pdf en

Deel 2: https://docmh.com/the-philosophy-of-money.html?utm_source=die-voc-skip-schoonenberg-waarheid-en-verdigsel-deel-ii-strandroof-na-stranding-in-1722-pdf&utm_campaign=download

of

Deel 2: https://docmh.com/download/documents-oVIG5tyi9YiJWOBgO4iGtri0gh3vjDByo95ktttthB23ftaUoirIAzyGGr1QUte9t9kMs

Die Raad van Justisie aan die Kaap het die kaptein en sy offisiere aan nalatigheid skuldig bevind en die vonnisse het gewissel van ontslag uit die diens van die VOC tot berisping. Alle (ontslane) bemanningslede is weer repatrieer na Nederland (met goedkeuring van die owerheid). Want hulle moet leef, die wêreld staan nie stil nie. Kaptein Van Soest het ongemerk die Kaap op ‘n Britse skip verlaat. En is in Nederland weer aangekeer – want hy is sonder die medewete van die Kaapse Justisie daar weg. En die Kaapse Justisie wou die (nou ontslane) kaptein eers in die Kaap hou, indien ander sake of verhore weer mag opduik.

Nou waar kom die idee van die “kelder-gedagte” vandaan?  Nóg in die getuienis, nóg in die uitspraak is enige sprake van doelbewuste stranding, skryf Malan. WATWOU NOG ‘N SKAT! Kyk, Van Soest het sy verhoor so lank moontlik uitgerek. En toe die Raad van Justisie aan die Kaap eers in 1724 (twéé jaar na die stranding!)  hul uitspraak lewer, was die Here XVII allermins beïndruk. Hulle het (heel emosioneel) in ‘n brief aangevoer dat Van Soest hul skip aspris gekelder het net om hul goed te roof en te plunder. Daar is die saadjie geplant vir verbeeldingryke vlugte. Van Soest is glad nie in die Kaap ter dood veroordeel nie: hy is van sy pos onthef, het sy rang en salaris verbeur, is onbevoeg verklaar en hy mag nooit weer in die Kompanjie se diens tree nie. Boonop is al sy besittings wat aan die Kompanjie behoort het, gekonfiskeer.

Al hierdie bronne en getuienisse rakende die Schoonenberg-saak (in sy oorspronklike Hollands) is boonop in die Kaapse argief saamgebundel.

GETUIENIS 3.

Ek het in Februarie/Maart begin vertaal aan die “Bête du Gévaudan” uit die Franse Wikipedia in Afrikaans. Sommer as vingeroefening, om te kyk of ek van Frans hou of nie [die antwoord bly met volstrekte sekerheid nee!]. Na afloop van die vertaalpoging, kyk ‘n Franssprekende (wat Afrikaans beter as ek ken) na my werk en maak hier en daar ‘n regstellinkie. Weens ‘n gebrek aan ordentlike tweetalige woordeboeke in Afrikaans, het ek dikwels van die tweedehandse Prisma Nederlands/Frans en Frans/Nederlandse Prisma-woordeboekies gebruik gemaak. Om Engels as abbataal te gebruik sou nie gewerk het nie. Hoe anders sou ek geweet het van ‘n “haakbusdraer” (porte-arquebuse) of “growwe haelkoeëls” (chevrotines) of “hondeknegte” (valets de limiers)? Sulke woorde word kwalik in die grootste en moderne Collins Engels-Franse woordeboeke opgeneem, laat staan nog die Afrikaans-Frans/Frans-Afrikaanse Woordeboek van 1950. Die enigste Afrikaanse uitgawe tot op datum. Interessant genoeg is die Prisma-woordeboekies wat ek gekoop het skaars in die verlede gebruik. Daar is nou al ‘n Prisma én Van Dale-toepassing vir Androidfone, maar ek bly skugter vir sulke tegnologie.

GETUIENIS 4.

Ek het agtergekom mens se houding teenoor Nederlands word baie beïnvloed deur hoe mens “voel”. Dit is glad nie baie logies of rasioneel nie, maar mens leer mettertyd hoe om ‘n taal “lief” te kry. Tog kry ek elke keer die vader van alle hoofpyne as ek ‘n Italiaanse teks deurkyk. Dis net onverklaarbaar.

Nederlands was nog altyd vir my ‘n taal wat met Freudiaanse vrye assosiasie die volgende woorde sou oproep: hout, oud, stokkerig, stug, styf, swaar, bruin wolsokkies, vergeelde albums, mosbedekte grafskrifte, dekadensie, lewensmoegheid, verkalking, sepiafoto’s, vergeelde dagboeke, vaal boekomslae, donker leerboeke, verrotte karvele. ‘n Taal in rou.

Met boonop my grootouers wat albei eens Hollanders was, kon ek allermins die woord “Nederlands” met “jonk” en “energiek” vereenselwig. Selfs by oorklankings soos “The Lion King I & II”-DVD’s het Simba en Nala vir my “oud” en “bejaard” in Nederlands geklink. So ook ander Disney-films. Geers Pardoel se kletsrymery kon my nie oortuig nie – die taal is op sterwe na dood. Daarteenoor is Standaardsduits vir my sprankelend, IMAX-volkleur, ‘n uitgelate karnaval, die sprokiestaal wat prinse en prinsesse praat, karamelwarm, ‘n Jacuzzi gevul met borrelende lemonade, kortom: pret met heliumballonne!

En toe kom “Paw Patrol” op DVD. En dit is vrolike kinderstemme in Nederlands wat deur die oorfone jil en gil. En as KINDERS dit praat, daarin kan lag, woel en krioel, wel, dan… dan lewe die taal mos weer! En as kinders Nederlands kan verstaan, dan, dan kan ek ook mos? Dan is Nederlands nie meer ‘n “verhewe” graftaal nie, maar net anders… ‘n Ander tipe Afrikaans of Duits. Miskien kan ek dit leer skryf, dalk praat?

In die verlede het ek Nederlands deur Duolingo probeer leer, maar elke keer tou opgegooi. “Nee, wat! Ek sal nooit Nederlands verstaan nie!”

Die eerste fout, soos met die meeste windgat-Afrikaanssprekendes wat daar aankom, is om NIE die taalreëls te lees nie. By heelwat kommentare het ek gesien hoe verlekker Afrikaanssprekendes hulle daarin hoe die Engelssprekendes en veral die Amerikaners en Britte sommer lekker sweet. Nederlands is dan SO maklik! Hier is nou hul uitverkore gebied. Dis asof al hulle ‘Empire’-wraak op daardie kommentaarblaaie uitgewoed word. Maar tog ook aan hul minderwaardigheidsgevoel uiting gee.

Maar geleidelik, soos ons vorder van Vlak 8 boontoe, raak die grootgat-kommentaar al hoe minder. En al hoe stiller. Want tot almal se skok is Nederlands nie Afrikaans nie. Jy probeer verniet Afrikaans te MAAK pas.

Maar as jy van die begin af aanvaar: Nederlands is maar net ‘n taal soos Duits met ander reëls, loop dinge aansienlik makliker. Die doel is om soos ‘n Hollander te probeer dink. Dit, dink ek, sou veral ‘n groot struikelblok by die Afrikaner/Boer van destyds op skool gewees het wat vas geglo het hy praat “Nederlands” tuis.

Van die eerste probleme wat mens kry is die woordgeslagte, want skielik is alles manlik, vroulik (de) en onsydig (het). Meisje is net soos by Mädchen in Duits onsydig (‘n het-woord), maar jy weet gelukkig nou reeds waarom: dis ‘n verkleinwoord – ‘das Mädchen’ van die amper uitgediende ‘die Maid’, en ‘het meisje’ van ‘de meid’.

Algaande begin die het- en de-woorde interessante invloede op die byvoeglike naamwoorde uitoefen. Byvoorbeeld:

DE-woord

de grote hond (enkelvoud, bepaalde lidwoord)

een grote hond (enkelvoud, onbepaalde lidwoord)

grote hond (enkelvoud, geen lidwoord)

de grote honden (meervoud, bepaalde lidwoord)

grote honden (meervoud, geen lidwoord)

mijn oude hond

deze oude hond

 

HET-woord

het schone huis (enkelvoud, bepaalde lidwoord)

een schoon huis (enkelvoud, onbepaalde lidwoord)

schoon huis (enkelvoud, geen lidwoord)

de schone huizen (meervoud, bepaalde lidwoord)

schone huizen (meervoud, geen lidwoord)

mijn schone huis

dit schone huis

 

Vir ‘n tyd lank het ek gewonder of die naam “De Oude Arena” (‘n blok woonstelle gebou op ‘n ou, voormalige skouterrein) korrek is.

Dan haal jy maar jou ‘Van Dale’ uit die rak, of jy besoek http://www.vandale.nl/ .

Inderdaad, “arena” is vroulik, ‘n de-woord. In hierdie geval enkelvoud.

‘De’ word vooraan die woord geplaas, ‘n bepaalde lidwoord.

En dus is “De Oude Arena” grammatikaal korrek.

 

Nou wat is die doel van hierdie vroulikheid?

Streng gesproke kan alle selfstandige naamwoorde in Afrikaans ge-“hy” word. Maar in Afrikaans kry ons ook te kampe met verwoede vrouechauviniste (want feministe is hulle beslis nie!) wat uit pure kangeit praat van “Afrikaans bal haar vuis!”. Maar in Nederlands gaan jy onder veel strenger taalreëls gebuk. Vir Nederlandici skeel daar waarskynlik iets met die poppies se opvoeding. Want “Het Afrikaans” is tog onsydig! Dis ‘n taal. Dit moet wees “Het Afrikaans balt zijn vuisten.” Maar ‘n kerk is wel vroulik, dus “de kerk en haar lidmaten”. Dit mag wel. Daarom kan mens ook miskien sê “De Oude Arena en haar inwoners”.

Maar helaas, ‘n boot is manlik én vroulik tegelyk, ‘n ‘schip’ is onsydig, ‘n ‘auto’ is manlik, ‘n ‘wagen’ is manlik, ‘n ‘trein’ is manlik en ‘n vliegtuig is onsydig. ‘n Land is in Nederlands ook onsydig. Dus: “Brittannië en ZIJN koloniën” En my motor? HY ry lekker!

GETUIENIS 5.

Ek lees op GeenStijl.nl (PRAAG se ‘niggie’ in Holland) omtrent referendums, in hierdie geval die sogenaamde “Sleepwet”, oftewel ‘Wet op de inlichtingen- en veiligheidsdiensten 2017’. Dit is afgelei van ‘sleepnet’ + ‘wetgeving’. ‘n Sleepnet word gebruik in die seewater om sommer alle soorte vis, groot of klein, op een slag te vang. Die vis word dan sorteer op die bote. Maar hierdie “sleepwet” het te make met inligting – ‘n hele buurt se inligting word gevis, wat beteken alle privaatgeselsies kan afgeluister word deur die spesiale magte. Van die hele buurt. Gestel Mohammed gesels met Piet, en Jan en Klaas gesels in dieselfde buurt, word al vier hierdie manne se selfone, tablette, ens. afgeluister. Al is daar slegs een verdagte in die hele buurt. ‘n Groot gedeelte van die land het onomwonde vir hierdie wet “nee” gestem, hoewel die uitslag steeds geen versekering bied dat hierdie afluistery sal voortgaan of nie.

Terwyl ons nou oor sulke referendums gesels: By ons dink ek outomaties weer aan die Beskerming van Staatsinligting (Snoerwet). Hierdie wet is deur die meerderheid in die parlement aanvaar, die “tea-gal” Lindiwe Mazibuku het haar moer gestrip en in die ‘States’ verder gaan studeer. Sedertdien het ons niks meer van haar gehoor nie.

Die Suid-Afrikaanse Engelse koerante (met die talrykste lesers, klakouse en Afrikaanse nablaffers!) het nie één naastenby soveel durf soos GeenStijl.nl nie. GeenStijl het druk op die Nederlandse regering geplaas met 427 939 handtekeninge om ‘n referendum uit te roep rondom die EU-assosiasie met Oekraïne. Dit was op 6 April 2016. Om ‘n referendum in Nederland uit te roep het jy ‘n petisie met ten minste 300K handtekeninge nodig. En nou moet jy weet: in Holland word daar, so lyk dit my, bykans elke maand ‘n referendum gehou. In my hele 28-jarige leeftyd het ek nie by ‘n enkele referendum in Suid-Afrika gestem nie – want by die laaste een in 1992 was ek nog ‘n suigeling! By ons in Suid-Afrika word handtekeninge slegs vir ‘griefskrifte’ gebruik. Waarvan niks ooit kom nie. Word hierdie handtekeninge miskien net op die verkeerde tafel neergeplak? Hoeveel mag het die Suid-Afrikaanse burgers om ‘n referendum aan te vra?

Die burgerregtegroepe het miskien nog baie by Nederland te leer.

GETUIENIS 6.

Ek was oudergewoonte besig om deur Deviantart.com te soek na mooi prente, toe ek op ‘n foto van twee jong, spelende Kaapse luiperdjies afkom. In ‘n dieretuin êrens in België. Die gegewens van die luiperds word ook vlugtig genoem. Ook dat die Kaapse luiperd oor die algemeen kleiner as die res gebou is. Hierdie kommentaar is alles in Engels geskryf. Toe ek sien die oplaaier is Nederlands, skryf ek sommer in Afrikaans oor die Kaapse luiperd se verwarrende geskiedenis in die kommentaarbalk. Sommer so spontaan.

Melanisme word in 1883 in die omgewing Grahamstad aangemeld [Kaapkolonie]. Die groot twis ontstaan reeds tussen 1924 en 1932 tussen wetenskaplikes [wetenschappers] Allen en Pocock. Allen voer aan die ‘Kaapse luiperd’ is veel meer gedronge as die luiperds in die noorde (Transvaal en die res van Afrika), en met ander pelstekstuur; die luiperds in die Kaap moet dus ‘n ander naam kry (met die benaming: ‘Panthera pardus melanotica’). Pocock voer weer aan dit is onnodig, melanisme is melanisme.

Maar toe ook sommer oor die politiek:

Die nieregeringsorganisasie, Cape Leopard Trust, maak groot druk om die ‘Kaapse Luiperd’ te red van uitwissing deur bewusmakingsveldtogte in die jare 2003/2004+. Maar géén genoegsame DNS-ondersoeke kon tot dusver bewys “Panthera pardus pardus” (Afrika-luiperd) verskil van die ‘Kaapse luiperd’ (met die oorgeërfde kunsmatige benaming: ‘Panthera pardus melanotica’). Die Trust voer weer aan alle vorige DNS-bevindinge van ander wetenskaplikes is halfgebak, aangesien data, proefnemings en monsters uit die Kaapse omgewing ontbreek. Die skeptici voer aan: indien alle luiperds in Afrika presies tot dieselfde subspesie (onderzoort, P.p. pardus) behoort, waarom moet die ‘Kaapse luiperd’ in die besonder spesiale aandag kry?

Dit alles het ek aangeteken op die Afrikaanse Wikipedia, met die artikelnaam “Kaapse luiperd”.

Daarop antwoord sy:

“Wauw, ik had geen idee van die politieke historie (dat soort zaken krijgen wij hier dan weer niet te horen…)

Wel bijzonder dat er aandacht voor is, in ieder geval!

Bijzonder toch ook wel, dat het speciaal aan de kaapse luipaard wordt gekoppeld, dat melanisme. Ben benieuwd of er ooit nog een uitspraak komt.”

 

Nederland het ook nog baie by Suid-Afrika te leer.

GEVOLGTREKKING

  1. Te midde van die private en staatsinstansies in Suid-Afrika wat al hoe meer Nederlands as ‘oertaal’ of ‘brontaal’ afskeep (sowel die Kaapse as Transvaalse argief is vol Nederlandse dokumentasie, wat die geskiedenis ‘n toe boek maak vir ander Suid-Afrikaners), en so te sê die rugstring van Afrikaans verbrysel, is Nederlands as kultuurtaal belangriker as ooit. Veral om aantygings, mites ens. rondom die geskiedenis te weerlê.
  2. Die kontak tussen Afrikaner/Boer en Nederlanders is weens noue verwantskap of belangstellings nog weinig deurgebreek. Die kommunikasie word egter deels bemoeilik, indien veral die Afrikaner/Boer nie besef die Nederlander beskik oor geen Afrikaanse woordeboek nie. Maar dink die Afrikaner hoe die Hollander die Afrikaanse teks waarskynlik sal lees, word kommunikasie aan weerskante van die Middellandse See vergemaklik. Niks hoef eers op omslagtige wyse vertaal te word nie.
  3. Terwyl Afrikaans tans ‘n effense taalkundige droogte beleef wat tweetalige vreemdetaalwoordeboeke aanbetref, kan Nederlandse woordeboeke en bronne steeds as uitstekende en aanvullende plaasvervangers dien.
  4. Sowel Suid-Afrika as Nederland dien elkeen as proefplaas in vele opsigte. Tog word presies dieselfde foute onbewustelik keer op keer in die onderskeie samelewings begaan, bloot omrede kontak tussen die twee volke (se geesgenote!) nog gans te min is.
  5. Dikwels is al wat nodig is om Nederlands as ‘n springlewende taal te beskou, springlewendige kinderstemme.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.