Vicki Momberg vrees aanvalle in Soweto-tronk

Vicki Momberg, met haar nuwe Afrika-haarstyl, op pad terug na die hofselle na afloop van haar kortstondige hofverskyning in Randburg.

Vicki Momberg, die Durbanse eiendomsagent wat verlede week aan crimen injuria skuldig bevind is vanweë haar gebruik van die K-woord teenoor ‘n polisiekonstabel, vrees ‘n aanval van haar swart medegevangenes. Volgens haar prokureur, mnr. Kingdom Onah, het sy reeds dreigemente van haar swart medegevangenes in “Sun City”, die tronk in Soweto waar Momberg aangehou word, ontvang.

Dié feit het vandag na afloop van Momberg se aansoek om verlof tot appèl  tydens ‘n gesprek tussen ‘n PRAAG-verslaggewer en mnr. Onah ter sprake gekom. “Ons probeer Vicki so gou moontlik daar (uit die Soweto-tronk) uitkry,” het hy gesê. “Sy is nie veilig nie.”

Omdat Momberg se advokaat, mnr. Kevin Lawlor, egter tans in die hospitaal verkeer, kon die saak nie vandag voortgaan nie en is dit tot 11 April in die Randburgse Landdroshof uitgestel.

‘n Horde joernaliste vanaf die hoofstroommedia wat openlik vyandig teenoor Vicki Momberg was, het die hofsitting bygewoon.

Tydens die uitstel van die saak, het die staatsaanklaer gevra dat die saak eers teen elfuur op 11 April ‘n aanvang moet neem, aangesien die Departement van Korrektiewe Dienste sukkel om Momberg betyds vanaf Soweto tot by die hof te vervoer. “Sy is nou ‘n veroordeelde misdadiger, daarom kan sy nie voor nege-uur in die oggend die gevangenis verlaat nie,” het die aanklaer gesê.

Omdat Vicki Momberg ‘n enkelouer is, bestaan daar kommer oor die welstand van haar twee kinders.

Die media het ook gewag gemaak van Momberg se Afrika-haarstyl, wat moontlik in die tronk vir haar aangebring is omdat daar glad nie vir vroulike Kaukasiërs voorsiening gemaak word nie.

Mnr. Onah, wat van Nigerië afkomstig is, en mnr. Lawlor verskaf pro bono-regshulp aan Vicki Momberg. Weens die boete van R100 000 wat sy reeds moes betaal, asook haar aanhouding, is sy finansieel geknak en nie in staat om regsdienste te bekostig nie.

Vicki Momberg is tot ‘n effektiewe twee jaar gevangenisstraf gevonnis deur landdros Pravina Rugoonandan, wat van Indiese afkoms is. Een jaar van haar driejaarvonnis is vir ‘n verdere drie jaar opgeskort.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.