Karel Combrinck: Ons lieg waarskynlik oor Rusland

Met haar stuitige verhaal oor “waarskynlike” Russiese betrokkenheid by die moordaanslag op die (Russiese? Britse? Russiese?) spioen Sergei Skripal en sy dogter, het mev Theresa May en haar verkeerdeveer-buitelandse minister, Boris Johnson,  die wêreld nog ‘n   tree verder geplaas op die pad na  gewelddadige internasionale konfrontasie. Een van die vreemdste aspekte hiervan is  die lidlande van die Europese Unie wat skaapagtig saamslenter ten spyte daarvan dat Brittanje besig is om die Europese Unie die rug toe te keer.

Maar kom ons bepaal ons eers  by die “waarskynlike” Russiese verantwoordelikheid vir die aanslag. Die argument wat  mev May aanvoer, is dat die gifstof,  of wat oo kal  in die aanval  gebruik is, van Russiese oorsprong is. Of dit wel so is, sal ons nie weet nie, want mev May weier hardnekkig om bewyse hieroor, as bewyse inderdaad  bestaan, aan Rusland te verstrek soos wat die volkereg in sulke omstandighede vereis.

Maar sou die gifstof dan tog in Rusland vervaardig wees, beteken dit dat die Russiese regering noodwendig vir die aanslag  verantwoordelik is? Beteken dit  dat as iemand êrens in die wêreld met ‘n Kalasjnikofgeweer  vermoor word, dit die skuld moet wees van mnr Poetin omdat die geweer in Rusland vervaardig is? Dis tog duidelik absurd. Die situasie herinner sterk aan die belaglike  voorwendsel vir die moord op Saddam Hoesein deur die Britte en Amerikaners, toe ‘n proefbuisie met ‘n foefiemonster van Saddam se “wapen van massavernietiging” deur Colin Powell aan die Algemene Vergadering van die  VN vertoon is. Soos ons weet, was daar geen “wapen van massavernietiging” nie.

Hoe dit ook al sy, wat is die waarskynlikheid daarvan dat Rusland so’n deursigtige moordaanslag op Britse grondgebied sou uitvoer ‘n week voor die Russiese presidentsverkiesing en in die jaar waarin die wêreldsokkertoernooi in Rusland moet plaasvind?   Aan die ander kant, wat is die waarskynlikheid daarvan dat iemand so ‘n aanval sou uitvoer juis om Rusland in die verleentheid te stel, die presidentsverkiesing te ontwrig en die sokkertoernooi in gevaar te stel? Ons laat dit aan die lesers oor  om te oordeel. Feit is dat mev May reeds dreig  om die sokkertoernooi te ontwrig, benewens die 23 Russiese diplomate wat sy uitgeskop het en die sanksies teen Rusland  wat sy reeds voor die moordaanslag ingestel het.

Dit is duidelik dat mev May besig is om te lieg.  Ons weet uit eie dure ondervinding dat die Engelse die manier het om te lieg wanneer hulle ‘n politieke doel wil bereik, maar darem is die deursigtigheid van hierdie pogings pateties en sonder presedent.   Die vraag is waarom  die Amerikaners en die Engelse en die Europese keffers op hulle sleeptou, aanhou lieg en lieg en en skynbaar heeltemal ongeërg is daaroor wanneer  hulle leuens klinkklaar aan die kaak gestel word.  Is dit omdat hulle so magtig voel dat hulle met alles kan wegkom of is dit maar net nog ‘n voorbeeld van die algemene Westerse morele verval?

Waarskynlik albei.

N.s  Sedert ek dié ‘n dag of twee gelede geskryf het, het die Amerikaanse regering nog sestig Russiese diplomate uitgeskop en die konsulaat-generaal in Seattle gesluit. Die kefferbrakke van die Europese Unie het in navolging  onverwyld 110 Russiese diplomate aangesê om hulle lande te verlaat. So die pap word nou by die dag dikker.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.