Klaas Waarzegger: Malema heel moontlik die volgende SA president

Deel op

‘n Paar jaar gelede het ek ‘n stuk geskryf oor Julius Malema nadat hy uit die ANC geskors is, en Zuma se “Skaduweehandlangers” ‘n klomp (sommige ongeldige) sake teen hom oopgemaak het in ‘n poging om hom te diskrediteer. Baie Suid-Afrikaners het gedink dat dit die einde van die grootbek van Limpopo sou wees, maar ek onthou dat ek geskryf het dat hy nog ‘n groot rol in die SA politiek gaan speel. Nou besef ek dat ek reg was, maar ook dat ek hom totaal onderskat het.

Malema het met sy regterhand, Floyd Shivambu, ‘n politieke party gestig wat groot, alhoewel skrikwekkende invloed in die landspolitiek sou hê. Die feit dat hierdie groep swart nasionaliste die grootste identifiseerbare samevoeging van rassiste in die plaaslike politiek is, raak al hoe belangriker in die proses om die toekoms te ontleed.

Eers wou Malema moord pleeg vir Zuma, daarna wou hy Zuma vermoor, en toe begin hy ‘n belangrike rol speel daarin om Zuma na die rand van die politieke speelgrond te verdryf. Dit het hy reggekry deur vele hofsake teen Zuma, waarvoor niemand hom kan kritiseer nie. Hy het die knaters gehad om dit te doen toe meer ervare politici net gestaan en kreun en skree het soos varke met hardlywigheid. Sy optrede het uiteindelik die ander gedwing om ook aksies in te stel wat Zuma se regspan baie besig gehou het, en baie ryk gemaak het.

Malema se hoofrede om die EFF te begin, was om uiting te gee aan sy haat vir die man wat eens sy mentor en beskermheer was. Maar hy moes ‘n alternatief kry op die ANC se uitgediende beloftes en hulle gebrek aan enige geslaagde projekte en aksies. Gelukkig vir hom, het hulle (die ANC) vir hom ‘n oorvloed aan geleenthede gebied, soos byvoorbeeld Zuma en sy belhamels se diefstal en korrupsie, en hoofsaaklik die Marikana-slagting, wat net op die regte tyd gebeur het. Hy het “die man van die mense” geword.

Hy het ook sy eertydse mentor vervang met daardie reus van intellektuele onvermoë, Robert Mugabe. Die man wat Zimbabwe bestuur het van die broodmandjie van Afrika, tot die broodbedelaar van Afrika. Alles natuurlik in die naam van swart nasionalisme en ‘n weggesteekte haat vir alles wat wit of Europees is. En Mugabe se paradigma van die Afrikaparadys, pas vir Malema soos ‘n likrapakkie wat sfyf aan ‘n Olimpiese atleet span.

Laat my nou toe om ‘n diepgaande stelling te maak: Jy kan vir Julius Malema vertrou.

  • Jy kan hom vertrou dat hy die volgende Afrika despoot of tiran gaan wees.
  • Jy kan Malema vertrou dat hy die volgende staatsloper gaan wees na Zuma.
  • Jy kan hom vertrou dat hy ‘n uiterste swart nasionalis en ‘n superrassis is.
  • Jy kan hom vertrou om te strewe na sy eie weergawe van ‘n Afrikaparadys. Hierdie Afrika eden kan maar arm en leeg wees, solank daar geen witmense is nie. Hy sal die aartsengel van hierdie swart “utopie” wees. En oom Bob (Mugabe) was ryk, dus sal hy ook ‘n ryk man wees. Geen bekommernis in die verband nie – met al daardie myne wat genasionaliseer kan word? En soos die geval met Mugabe was, sal die Reserwebank sy persoonlike spaarvarkie wees.

Malema steek geen van die bogenoemde weg nie. Hy is eerlik oor wie en wat hy is. Maar wat wel gevaarlik is, is die spreekwoordelike wolf in ‘n skaapskleed.

En nou praat ons van Cyril Ramaphosa, die nuwe bevryder van die mensdom. Die “held” wat Suid-Afrika gaan lei uit die vallei van onheil. Hy is die liefling van die van die liberaliste, die media en die pers, ongeag die feit dat hy vir sewe jaar onbetrokke en stilswyend toegekyk het hoe Zuma en sy bende die land plunder. Ramaphosa is hulle nuwe heilige. Die nuwe Madiba.

Sint Cyril, wat doodstil en onbetrokke (weereens) gestaan en kyk het hoe die polisie sy sakebelange by Marikana beskerm. Sint Cyril, wat sedert sy vakbonddae bekend is as ‘n intelligente charismatiese man, wat sy opponente tot in die vergetelheid in kon debatteer en belieg. Die man wat vir Roelf Meyer en die hele Nasionale Partykabinet olifantsore aangesit het by die sogenaamde onderhandelingstafel. St Cyril, met reusebelange in die alternatiewe-energiesektor, wat skielik baie haastig sy minister van energiesake beveel om dadelik nuwe kontrakte met die privaat sektor in hierdie bedryf te sluit.

Nog ‘n diepgaande stelling: Jy kan Cyril Ramaphosa nie vertrou nie.

St Cyril steek sy verskuilde agendas en doelwitte weg agter sy fasade van charisma, redelikheid en betrokkenheid in sy rol as die hersteller van Zuma se plundering. Jy kan nie ‘n man vertrou wat eintlik net leier van sy mense is ter wille van die leierskap nie. Om later te kan sê: “Ek was die president van ‘n land.” Sy eie belange en welvaart is die enigste meesters aan wie hy lojaal is. Hierdie “heilige” wat op die direksie van Trillian gesit het tydens die begin van hulle onderduimse besigheidstransaksies, maar wat silwerskoon uitgestap het en kastig niks geweet het nie.

Dus, wat ons hier het, is twee “engel”-figure, wat albei ‘n belangrike rol  in die Suid-Afrikaanse politiek oor die volgende dekade gaan speel. Alhoewel politiek deurspek is van teenstrydighede en irrasionele optredes, sal hierdie twee “heiliges” ‘n aantal interessante verwysings in die toekomstige geskiedenishandboeke regverdig.

Maar – beide van hulle, Sint Cyril en die aartsengel, het groot probleme om steeds relevant te wees na die val van Jacob “ek-lag-terwyl-ek-jou-slag”-Zuma.

Zuma was deurslaggewend in die verval van die ANC se ondersteuningsbasis. Soos die swart middelklas meer en meer rykdom begin bymekaar maak, en besef dat ‘n gesonde en groeiende ekonomie belangrik is vir die behoud van hulle nuwe status en welvaart, begin hulle die hele dogma en grondslag van swart nasionalisme bevraagteken.

Mens moet versigtig wees om nie swart nasionalisme en swart bewussyn te verwar nie. Daar is ‘n groot verskil. Die Engelse tesourus definieer hierdie terme soos volg: (My vertaling)

Swart nasionalisme: ‘n Sosiale en politieke beweging wat die skeiding tussen wit en swart verkondig, en selfregering vir swartmense voorstaan.

Swart bewussyn: ‘n Beweging van die 1960’s, voortspruitend uit die “civil rights movement” van die 1950’s, wat die kulturele identiteit en trots van swartmense bevorder.

Maar meer hieroor later.

Hier is die twee here se probleem — en onthou, ‘n voël wat uit ‘n volstruiseier gebroei is, bly ‘n volstruis. Malema en sy politieke aspirasies is gebore in die ANC.

Die verlies aan ondersteuning is die ANC se post-Zuma-probleem. Nie die feit dat Zuma die staatskas besteel het, en die land tot rommelstatus bestuur het nie. Daar is ‘n baie realistiese montlikheid dat hulle met die volgende verkiesing hulle groot meerderheid kan verloor. En behalwe vir die Noordwesprovinsie, die Vrystaat en Natal, is daar ‘n kans dat hulle al die ander provinsies ook kan verloor.

Dit gaan alles oor die behoud van mag, en het niks te make met eerlike en verantwoordelike regering nie. Daarom moes hulle Zuma laat gaan, en iemand opvysel vir die wêreld om dit te laat lyk dat hulle nou korrupsie gaan aanvat. Mmmmm.

Malema se probleem is gesetel in die feit dat sy vyandskap met Zuma persoonlik was. Dit was die rede vir die bestaan van die EFF. Hulle kon alles en enige-iets op Zuma blameer, omdat hy (Zuma) en sy bende rowers die teiken was van die media. Hulle kon relevant bly deur hom hof toe te vat, op hom te skree in die parlement, en oor of op hom te tjorts in persvrystellings en konferensies. Deur hierdie rol as passasiers op die politieke trein wat hierdie populistiese slagspreuke kon skree, het hulle die “koning-makers” geword in die laaste verkiesing. Hulle het genoeg stemme gekry om die gekose vennote te wees in enige koalisie meerderheid met die DA of enige ander party.

Maar skielik was die vyand weg — in politieke terme: Persona non-grata. Vir die ANC was daar skielik ‘n dringende behoefte om verlore ondersteuning terug te wen, and vir die EFF, om relevant te wees, en ‘n rede te hê om nie terug te gaan na die ANC toe nie.

Hierdie twee groepe moes albei ‘n nuwe slagspreuk en agenda vind – ‘n nuwe visie wat die swart massas se ondersteuning kan opwek. Hulle het albei besef dat die swart middelklas vir hulle verlore is, en het dus, onafhanklik van mekaar, besluit op dieselfde idee: Grondonteiening.

Vir die ANC is dit maar net nog ‘n speletjie. Hulle gee nie ‘n snars om vir die armes en grondlose swartmense nie. Hulle sal enige strooihalmpie gebruik solank dit vir hulle stemme gaan bring. Hulle weet hulle het al die vorige agendas en projekte opgebruik en so opgeneuk, dat dit al is wat vir hulle oogebly het. En hulle sal daardie agenda dryf tot die uiterste, ongeag die gevaar wat dit inhou vir voedselsekerheid en/of die ekonomie. Elkeen van hulle droom sekerlik al klaar oor die persoonlike finansiële voordele wat hulle kan verkry deur winsgewende invoerkontrakte, sou voedselproduksie begin afneem.

Vir die EFF is dit eenvoudig. Hulle het besluit dat, as hulle “koning-maker” geword het met hulle populistiese agenda, hoekom kan hulle nie koning word nie? En as die grondkwessie nie belangrik is nie, sal hulle dit belangrik maak.

Die ergste is dat dit eenhonderdpersent inpas in hulle visie betreffende die swart Afrikaparadys. ‘n Wonderlike mooi land net vol swartmense. Indien daar wittes sou wees, moet hulle armlastige bedelaars wees wat vir die swart elite werk en moet hulle in plakkershuise bly. ‘n Wonderlike droom vir die swart nasionaliste.

Hierdie situasie was so komieklik, dat die hoë bome in die ANC besef het dat daar nou geen verskil tussen hulle en die EFF oorgebly het nie. Hulle het besef dat al die stemme wat deur hierdie nuwe agenda gemonster kan word, verdeel gaan word tussen die twee partye. Dus het die senior ANC-lede begin ernstig vry na Malema en sy leierskap, want as hulle kon regkry dat die EFF ontbind, kon hulle al die stemme verkry en so die mag behou.

Malema, skelm jakkals wat hy is, het egter tot dieselfde besef gekom. Maar vir hom pas dit soos ‘n handskoen. Hy het dus vir die ANC ‘n kous oor die kop getrek deur eerste die onderwerp van grondonteiening sonder vergoeding op die parlementêre agenda te plaas. Hiermee het hy hulle bluf geroep, en bewys hy is hulle ver voor.

Hy weet: As hierdie agenda werk en aansienlike getalle swartmense stem daarvoor, gaan die ANC en die EFF na die volgende verkiesing ‘n koalisieregering moet saamstel.

Dus wat ook al gebeur, gaan Malema wen. En as hy sy voorwaardes vir die ANC stel om in koalisie te tree, moet hulle bewus wees daarvan dat die grootbek van Limpopo heel moontlik die volgende president van Suid-Afrika gaan wees.

Ter afsluiting: Daar is spekulasie dat Sint Cyril net ‘n nagwag is, in krieketterme. Hy is net daar om die paaltjies oornag te beskerm.

Hy het die regte “middeweg”-verwysings om die gematigde swartmense, die wit liberaliste en die sakesektor te beïndruk. Hy kon die beeld van die verrotte swart regerende elite red. Hy kan hulle verskuilde agendas sonder probleme implementeer en mooi laat lyk. Hy is die nuwe Madiba.

Aan die ander kant is Malema, die aartsengel van die Afrikaparadys, en swart nasionalistiese rassis. Hy steek nie sy woorde, haat, agendas, optredes of veragting vir witmense weg nie. En juis om dié redes gaan hy enorm baie steun verwerf.

Beide hierdie here en hulle partye sien die wêreld in terme van “oeboentoe”, die eeue-oue Afrikalewensfilosofie. Oeboentoe rig swartmense se paradigma van die wêreld, hoe dit werk en hoe die lewe behoort te werk. Dit is tot ‘n mate ‘n bloudruk vir die Westerse idee van demokrasie, alhoewel dit fundamentele verskille bevat wat nie strook met hoe Europeërs die wêreld sien nie.

Was dit egter maar net Oeboentoe wat die swart leiers se riglyn was, sou daar hoop kon wees vir Suid-Afrika. Maar die fundamentele filosofie daarvan, dat “jy net ‘n mens is, deur ander mense” word besoedel deur die doktrines en dogmas van kommunisme, kapitalisme, demokrasie (sover dit meerderheidsregering betref) en suiwer swart nasionalisme. Swart nasionalisme is niks anders as apartheid nie.

Die swart elite is verward. Dié Afrika-elite hou die meeste van ‘n kombinasie van kommunisme en kapitalisme. Onder kommunisme hou jy die gepeupel arm en hopende op ‘n beter toekoms, terwyl die elite goed lewe. Kapitalisme se idee van persoonlike rykdom vir almal wat hard werk is goed, maar dit is vir hulle net op die elite van toepassing.

Mbeki het aan die begin van sy presidentskap gesê dat Afrika sy eie begrip en idee van demokrasie sal ontwikkel — in ‘n pan op ‘n stadige vuurtjie. Wel, daar het ons die eindproduk.

Die grootste gevaar van swart nasionalisme, is die idee dat swart Afrikane enigiets kan doen, en dit net so goed as witmense kan doen. Hulle benodig, en hou van die witman se idees en uitvindings, maar nie van die witman nie. Die feit dat daar in die postkoloniale Afrika voldoende bewys is dat hulle dit nie kan doen nie, gaan by hulle verby. En dan sit ons met die situasie dat geen witmens dit mag sê, skryf of bespreek nie, en dat die liberaliste dit as polities verkeerd (onaanvaarbaar) beskou om hieroor die waarheid te praat.

Om finaal af te sluit, ‘n woord van waarskuwing: Alle mense, wit, bruin en swart, wat nie ‘n toekoms vir hulle of hulle kinders wil hê waarin korrupsie, swart elitisme, armoede en ergere rassistiese diskriminasie en spanning gaan hoogty vier nie, moet Suid-Afrika verlaat. Die toekoms hier gaan nie lekker wees nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.