Gustav Venter: Woernael 5 — Witwarm

Ek het sopas die bestelling geplaas vir die eerste besending van my bundel rubrieke wat ek saamgevat het onder die titel Witwarm. Vriend Rudolf Maré het reeds twee bestel en vir vier betaal. ʼn Skrywer het goeie vriende nodig. Hy het vriende en baie ander dinge nodig. Ek het darem die goeie vriende.

Hierdie rubrieke kom vanuit elf jaar se meningstukke wat ek vir Praag geskryf het. ʼn Mens kan maar praat van my Praag-jare. Ek het voor hierdie persoonlike era ten brode geskryf, al was die snye soms droë korsies. Die politieke rubriek was vir my ʼn splinternuwe dissipline. Die leser het besondere verwagtinge: Hulle wil inligting ontvang, ʼn sterk mening om hulle eie opvattinge mee te toets, en dit moet vermaaklik genoeg wees om hulle van die eerste sin deur te trek na die slot. Dit moet darem nie bloot ʼn politieke verslag wees nie. Bowenal moet die rubriek eerlik wees. Dit beteken feite moet nie as die waarheid aangebied word as dit nie eers deeglik ondersoek en bevestig is nie.

My Praag-tydperk was vir my persoonlik waardevol. Ek het die ruimte en die vryheid gehad om my eie opvattinge oor die politieke rubriek te ontwerp en kon die lesersreaksie onmiddellik toets. Hier kon ek eksperimenteer op ʼn manier wat nooit in die saai kolomsentimeters van Naspers se koerante geduld sou gewees het nie.

Die deurlopende tema van die rubrieke is die dissonansie wat noodwendig tussen twee primêre kulture in een land sal ontstaan en voortbestaan. Swart is swart en Blank is blank en dié twee bestaansuitdrukkings sal nooit meng of, inderdaad, vermeng kan word nie. Soos enige regse skrywer worstel ek in dié rubrieke met die oplossing vir die Afrikaner se bestaanskrisis en vandag, meer as ʼn dekade later, bly daar een blokwaarheid wat ons nie kan omseil nie: Sonder politieke mag het ons geen mag nie. As ons denke meer gesofistikeerd of gevorderd geraak het, is dit dat ons besef dat politieke mag uit meer as een put geskep kan word. Die vraag is hoe om ekonomiese en strukturele mag in politieke mag te omskep sonder om deur die stembus daarby uit te kom.

My verwagting van Witwarm is dat ek oor ʼn tydperk van ʼn paar jaar 2.000 eksemplare daarvan sal verkoop. Dit gaan nie opspraakwekkend wees nie bloot omdat die hoofstroom dit gaan ignoreer. Dan nou weer, miskien stamp die regte liberalis sy toon daarteen en kla my by die menseregtekommissie aan en kom die boek sodoende onder die breër publiek se aandag. As Penny Sparrow maar net ʼn boek gereed gehad het… Ka-Pauw!

Laat hulle dan die boek miskyk. Die waarde van Witwarm sal vir my daarin lê dat my eie mense dit kan lees en dan saam met ons begin dink oor die Groot Oplossing.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.