Leon Lemmer: Antwoord aan Elma Potgieter

Elma, Afrikanus, Gustav Venter en Dan Roodt het reeds antwoorde verskaf en ek brei hiermee daarop uit. Ons as blankes, insluitende Afrikaners, is nie magteloos nie. Sedert 1994 het ons nie meer beduidende politieke mag nie, maar die mag om bv idees te formuleer en versprei, het ons steeds en dit is wat ek probeer doen. “Ideas have consequences,” soos Richard Weaver in sy boek verduidelik. Dit word metapolitiek genoem. Goeie, toepaslike idees kan deesdae, veral danksy die internet, binne oomblikke dwarsoor die aardbol versprei en epidemies voortgeplant word. Dit kan bv tot dinamiese, kreatiewe verset lei; nie noodwendig (oornag) tot “drastiese verandering” nie, maar tot die (geleidelike) verbetering van ons benarde situasie.

Lees ook: Brief: Hoe kan ons ‘dinamies optree’ sonder politieke mag? deur Elma Potgieter

Wat ek bepleit, is die aflegging van apatie by die blankes. Hulle behoort luid beswaar te maak wanneer die staatshoof owerheidsdiefstal van eiendom, bv die onteiëning van plase sonder vergoeding, beoog en openlik erken dat hy daarmee blankes wil benadeel en swartes wil bevoordeel. ‘n Heeltemal onaanvaarbare en eintlik sotlike reaksie is as mense en instansies sê hulle wag op besonderhede voordat hulle reageer. Besonderhede is oorbodig omdat sodanige diefstal, dus misdaad, in beginsel en ongekwalifiseerd veroordeel behoort te word. Hoe minder weerstand ons as blankes bied, hoe meer sal die swart meerderheid ons belange opportunisties benadeel. Hoe meer weerstand ons bied, des te minder sal kanse ten koste van ons gevat word. Die ANC moet weet dat ons die hede onverkwiklik vind en regverdigbare rede het om ongedurig en selfs die moer in te wees.

Ek het voorheen duidelik gemaak dat ek nie dink die ANC is ‘n “wettige” regering nie, om die eenvoudige rede dat die meerderheid blanke kiesers nooit tot politieke magsoorgawe ingestem het nie; hoogstens tot magsdeling. Ek is oortuig daarvan dat die oorgrote meerderheid van daardie kiesers nooit meer as 50% magsafstaan in gedagte gehad het nie. In Noord-Ierland is die etiese weg gevolg en is die beoogde grondwet vooraf vir goed- of afkeuring aan die kiesers voorgelê. FW de Klerk en sy groepie kornuite het in hierdie opsig glad nie dieselfde eerbaarheid as die Britse regering geopenbaar nie. Die punt is dat die onwettigheid van die huidige regering algemeen, dus ook internasionaal, bekend gemaak behoort te word. Die gevolg kan wees dat die ANC dan minder knus in die kussings sal voel en hulle gedrag dan hopelik minder vermetel en hulle optrede gevolglik dalk minder brutaal sal wees.

Verset hoef nie gewelddadig te wees nie. Die ANC het hom dekades lank vreedsaam verset. Daarna is tot geweld oorgegaan wat (soos in die geval van die Boeremag) nie noodwendig suksesvol hoef te wees nie. (Terloops, ek praat nie van die “sogenaamde Boeremag” nie. Ek het begrip vir hulle gedrag en groot simpatie met hulle lot.) Die ANC het dit gelukkig getref en ons as blankes het dit uiters ongelukkig getref toe ‘n groepie onbekwame Afrikaanssprekende blankes in 1989-1994 mandaatloos en op ‘n irrasionele manier voor die afdreiging en gewelddadigheid van die ANC geswig het. Van die beloofde magsdeling het feitlik niks tereg gekom nie. Van bv gedifferensieerde stemreg, federalisme en die reg op tuislande vir etniese groepe is daar in die huidige bedeling geen sprake nie. Selfs rassediskriminasie en ras- en geslagsgebaseerde nie-meriete aanstellings en bevorderings is nie verbied nie. Die voortbestaan van sulke wanpraktyke tot in die oneindige (dus sonder ‘n keerdatum) word kragtens die grondwet aangemoedig. Ek probeer ‘n klimaat skep waarin ingesien en erken word dat hierdie dinge verkeerd is, dat blankes veronreg word en dat ‘n herwaardering van die waarde van die blankes in landsbelang is.

Nelson Mandela was doodbang vir die Afrikaners/Boere. Hy het geweet wat hulle kan doen, gevolglik het hy hulle die hele tyd probeer paai. Sedertdien word die blankes nooit meer gepaai nie. Hulle word nie eens genoem nie. Hulle is glad nie meer ‘n faktor wat deur die ANC in ag geneem word nie. ‘n Staatshoof en ‘n kabinet word gekies ooreenkomstig die wense van swartes, sonder enige sensitiwiteit vir wat die blankes wil hê. Cyril Ramaphosa het nog nooit ‘n goeie woord vir blankes gehad nie. Nogtans sing baie blankes tans in die koor van hoop op beter vooruitsigte. Ek voorsien dat vorentoe al hoe meer drasties en onbillik teen blankes opgetree gaan word omdat die meeste blankes gaan lê het, apaties geraak het, hulle lot aanvaar het en daar feitlik geen poging tot daadwerklike verset, selfs nie eens luide beswaar, is nie. Dít terwyl NP van Wyk Louw gewaarsku het dat ‘n geslag (Afrikaners) nie sonder verset verby moet gaan nie.

Ek probeer om bewustheid te kweek van die onreg wat in die huidige bedeling teenoor veral Afrikaners en Afrikaans gepleeg word. Met die oog hierop skryf ek oor wat plaaslik en in die buiteland gebeur. Bewustheid van onreg kan tot verset, konstruktiewe optrede en veranderings lei. So ‘n proses kan sy eie moeilik stuitbare (selfs onstuitbare) dinamiek/stukrag ontwikkel. ‘n Idee as mostertsaadjie kan ‘n moerse boom word; ‘n groot boom met koelte vir Afrikaners in hierdie warm en ongenaakbare Afrika.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.