Gustav Venter: Woernael 4 — Fees en mark

Snotkop by die Bieliemieliefees op Reitz

Deesdae het omtrent elke dorp ʼn fees, en elke dorp behoort ʼn fees te hê, so dit is goed. Daar is ʼn Kaboemfees en ʼn Suidoosterfees en ʼn Walvisfees en ʼn Kierieklapperfees en kort daarna ʼn Kaboemfees. Daar is feeste van Upington tot Kaapstad, van Mosselbaai tot Wakkerstroom, van Naboomspruit tot Robertson en meeste plekke tussenin.

Reitz het ʼn lewendige fees van hulle eie — die Bieliemieliefees. As jy nie gereeld sulke feeste bywoon nie, ruk jouself reg en val by die volgende een binne trefafstand in. Wat jy nie moet verwag nie, is enige klem op die kunste al het hierdie feeskultuur gegroei uit die kunstefeesbeweging waarvan Oudtshoorn se K.K.N.K. sekerlik die Afrikaanse oupa is met Grahamstad se Engelse fees die oumagrootjie. By Reitz was die kunste beperk tot ʼn paar skilderye en… Snotkop.

Gaan nietemin, want kunste ongeag, Afrikaner-kultuur staan welig in die blom op dié feeste. Kultuur is grootliks gewortel in die manier hoe mense met mekaar omgaan; die ingeënte, maar ook instinktiewe gedragskodes en –rituele. Seuns staan opsy vir oumense, dogters laat hulle seniors eerste die kleedkamer gebruik, mans groet mekaar met die hand en as die vroulike gemeenskap ʼn vriend of selfs ʼn blote kennis ontdek, word vinnige, ferm drukkies uitgedeel. Vreemdelinge glimlag en kopknik vir mekaar. Die naam van die atmosfeer is Samehorigheid.

As ek die A.N.C. was, het hierdie feeste my baie meer onrustig gemaak as Moesie Mymoney van die D.A. se droefgeestige aanvalle of die Effie-Malema se rooi baret. ʼn Saamgespande Afrikaner sal die A.N.C. se gedugste opponent wees en hierdie feeste is ʼn Afrikaner-verskynsel. Die Swartes het hulle raserige Kwaito-konserte en sokkerwedstryde, die Engelse het Grahamstad en die Kleurlinge… wel, hulle het darem Tweede Nuwejaar. Orals waar hierdie feeste gehou word, bestaan daar ʼn klein Afrikaner-tuisland vir die week of naweek.

Behalwe die konsentrering van Afrikaners en vir die kuns van Snotkop, bring hierdie feeste Afrikaners op handelkoppelingsvlak met mekaar in verbinding. Ek sou reken ʼn goeie gedeelte van die bemarkers op die Bieliemieliefees was Afrikaners wat uit hulle loopbane ge-S.E.B. of ge-R.A. is. Hierdie feeste het vir hulle ʼn splinternuwe leefstyl en inkomstekanaal geskep. Hierdie is Afrikaner-ondernemingsgees met seile wat bol in die wind.

In die stalletjie langs ons sʼn was Tom en Marie Kruger. Hulle bemark ʼn opvoedkundige bordspeletjie, “Die volgende stop.” Dit is ontwerp deur hulle dogter Esmé. Tom en Marie is reeds afgetree, maar is nou gesoute bemarkers. Hulle is gemoedelik, energiek en entoesiasties oor hulle produk. “Die volgende stop” kos R320 per stel en hulle het 14,000 stelle oor die afgelope vier jaar verkoop. Dis die stoffasie van indrukwekkende getalle.

By verre die meeste en suksesvolste produkte is selfontwerp en –vervaardig. Daar is warmrakkies en gesigsrome en messlyptoestelle en mini-potjiekospotjies en binnenshuise braaie en klere en kookgerei en stofies. Daar is ʼn ewewig tussen konvensionele gebruiksware en doelvervaardigde items.

Hierdie feeste huisves nie ʼn omvattende inkopiemark nie, maar dit kan ʼn lanseertuiste wees na groter dinge vir Afrikaners deur Afrikaners. Dit is ʼn klein digitale sprong van dorpsfees tot ʼn virtuele kultuurfees waar al die items wat op die markte beskikbaar is, tot die beskikking van die breër publiek sal wees.

Moet net nie dwaal nie. Hierdie regstreeksebemarkingslewenswyse pas nie alle siele nie. As jy egter gereeld en lank genoeg met hierdie eiesoortige spesie gesels, besef jy hierdie bemarkers wil nie meer iets anders doen nie. Hierdie bedryf verskaf iets ontsaglik kosbaar aan hulle: Vryheid; vryheid om die lang pad te vat en vreemde plekke te besoek en selfs vryheid om by die huis te bly as jy reeds jou teikens behaal het. En dit gee vir hulle beheer oor hulle inkomste. Hierdie is ʼn saak van strakheid: Hoe harder jy werk, hoe meer geld maak jy. Die ongerief van die bedryf weeg lig teen die grootste denkbare gerief en dit is onafhanklikheid; geldelike, loopbaansgewyse onafhanklikheid.

Hierdie markmodel is ʼn prototipe. Waarvan? Dit weet ons nog nie, maar dit kan groot wees. Baie groot.

* * *

Ons volgende fees is Clocolan se Plaaskultuurfees wat volgende week, die 2de en 3de Maart plaasvind. Die sluwe-Nuwe Suid-Afrika werp nou ʼn versperring op. Die inwoners, swart inwoners, van die omgewing voel ongelukkig omdat die polisie nie keer dat hulle hulle eie mense beroof en vermoor nie en daarom bestook hulle nou blankes se motors met klippe op die verbypad. Verduidelik nou weer vir my hoekom ʼn lelieblanke Volkstaat nie ʼn paradys sal wees nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.