Suidpunt: Verkoop nou die kerke op Gumtree, of nie?

'n NG Kerk (Heidelberg, Gauteng)

Dat die kerke leegloop verbaas my glad nie. Dink gou bietjie: vir die wees, die vreemdeling en die weduwee moet die kerk sorg (dus, deur die gemeente). Dit staan male sonder tal so in Deuteronomium en Jeremia. Sover ek kan onthou het die NG-kerk by my tante, ‘n boerin en weduwee met drie kinders, in die jare 1970 gekollekteer. En so ook haar pa, my oupa, wat bywoner was en sy kinders moederloos, solo, vingeralleen, moes grootmaak. Die kerk kon nie soveel omgee nie, maar ou Koos bid tog so mooi, hy mag maar elke week vir ons die diens afsluit met ‘n gebedjie. En toe my tante nou 80 raak, en as diakones aangestel word (sommer enkele jare terug nog), moes sy van huis tot huis op haar ou bene voortsukkel, om sélf vir die kerk te gaan bedel. Kollekteer. Toe ek vir haar Deuteronomium en Jeremia uitwys en dat sy die ‘skivvie’-werk doen wat die lui jongmense behoort te doen, het daar ‘n lig in haar oë opgegaan, hoewel haar mond tjoepstil gebly het.

Terloops, as die kerk veronderstel is om vir die mensdom te sorg, het niemand meer iets in die kerk om te aas nie — die kerk kan buitendien hoegenaamd nie meeding met die SASSA-kaart nie. Die Staat het uiteindelik die nuwe god geword. Binnelandse Sake het die kerk geword, die staatsamptenare die koorknape, die genadegawe van die Goddelike mis en sirkelronde hostie is in sirkelronde klinkende munte omgeskakel. Die geld moet rol. En vandag staan die rye mense geduldig op hul beurt en wag voor die kitsbank – die nuwe Nagmaaltafel en biegstoel. Wagtend op ‘n ander soort verlossing.

Maar wat dan van die gesamentlike sang en lofprysing, beteken dit dan niks vir my nie?

Hmmm… ek kan verstaan dat die Satan die hoofengel oor musiek was, voordat hy uit die hemel ge’bliksem’ is (Luk 10:18) — en toe hard op Kenia geval het, soos “Exorcist:The Beginning” (2004) dit wil hê. Want die grootste twis kan jy hier vind. Of die orkes speel te hard, of te vinnig, of speel dieselfde liedjies oor en oor, week na week, maand na maand. Die klag-SMS’e is nie min nie. Dan is daar ‘n kringfluit. Dan is die tromspeler afwesig, dan kry die klavierspeler stry met die tromstelspeler (‘drummer’) as die metrum afwyk. Dan sukkel die oumensies om by die woorde by te hou, dan sug en gaan sit jongmense weer as die musiek in ‘n transagtige herhaling aanhou-en-aanhou-en-aanhou van die koortjie “How great is our God…”. By die een-en-dertigste keer bars die pastoor in trane uit.

Het ek al gesê Christenrock is ‘n euwel? Dat ek my siel nou so moet versondig!

Nee, wat. As ek my oorfone by my selfoon indruk, is ek in ‘n vertrek in ‘n klooster waar die oggendson deur die oop venster skyn. Eers hummmm ek saam in Latyn. Die betagolwe maak jou klaar rustiger en ingesteld op die duidelike woorde. En dan begin die jongmans uit volle bors SONDER musiekbegeleiding: “Adeste fidelis, laeti triomphantes, Vedite, vedite in Bethlehem, Natum videte, regum angelorum….” Waarom kan elke dag nie soos Kersfees wees nie?

En dan glip my vinger oor die knoppie na J.S. Bach. Magnificat In D Major, BWV 243 – “Magnificat anima mea” en “Chorus: Sicut locutus est.” Met die opgewekte musikus, dirigent, koorleier en orrelis – Karl Richter. Hierdie mense kan God beter prys as wat ek kan. Dit was die R9,99 per snit werd.

As jy jou eie koorleier kan kies, waarom nie sommer jou dominee ook nie? Wie het ‘n predikant nodig as jy Google en Facebook het? Het jy ‘n omgeegroepie nodig: sluit vandag nog op Facebook aan. Of google net rond. Jy kan orals jou gebedsversoeke indien: iemand uit Suid-Amerika of Suid-Korea sal vandag aan jou in sy/haar gebede dink. Wil jy ‘n skenking maak — jy het mos ‘n betaalkaart? Jy het mos ‘n elektroniese bankrekening? Druk daardie knoppies soos dit op jou hart gedruk word.

Het jy ‘n Bybelvraag? ‘n Amerikaner, Duitser, teologiese student of hopelik ‘n profeet het dit reeds 13 jaar gelede beantwoord. Neem nou maar tatoeëermerke: almal weet wat in Levitikus staan, almal weet teen dié tyd dit was waarskynlik ‘n rougebaar — dat jy deur die snymerke ‘n ewigheid verbind, verknog sal wees aan verpoeierde beentjies en herinneringe aan ‘n dooie (wat wil-wil grens aan nekrofilie), terwyl jou hele lewe by jou verbysnel… Maar nou wil jy jou mond permanent laat inkleur — want om elke keer geld op lipstiffie te verkwis is mos nou malligheid. En kus jy jou tienerseun totsiens skool toe sit die lelike ou groot blerts mos daar. En hy is mos so sensitief vir sy maats se aanmerkings. Of as jy water drink, kleef daardie rooi aan die glasrand. Sies! Of jy op sewentig met paprooi stywe teedrinklippe gaan sit maak nie saak nie, dit gaan immers nie oor ydelheid nie, maar spaarsamigheid en sindelikheid. Is jy nou ‘n dwase of ‘n wyse vrou om kosmetiese tatoeëring te oorweeg? Is dit ‘n sonde? Gaan google dit!

Waarom is mens verplig om tussen 30 minute tot ‘n uur ongemaklik deur te sit net om die hele preek in één of vyf sinnetjies op te som as jy by die gebrandskilderde kerkdeure uitstap en jou met ‘n sonbril moet staal teen die verblindende son buite? Om biltongrepies te rek is ‘n kuns, om ‘n preek vol pluiswoorde te prop om die halfuur vol te maak ‘n ander. Dis nou as die preek nie reeds êrens afgelaai is vanaf die internet nie! [Ek dink ek kan vinniger lees as wat voorgedra word…]

En aangesien ek ook nou al die hele Bybel se sedes, reëls ens. in 2011 opgesom het — net om later die uiters vae sinnetjie “jy hoef net ‘n verhouding met God te hê” aan te hoor, vind ek dit onnodig om na enige preek (deurspek met name, vanne, diere, dorpe, sielkunde, raai-raaispeletjies, “hoe-sou-Abraham-gevoel-het?”, staaltjies, grappies, anglisismes, Christina Landman ens.) verder te luister. Alles kom tog op dieselfde stel reëls neer, dan nie? En aangesien ek die reëls ken (en tot alles in my vermoë probeer doen), en aangesien Christus self gesê het (Luk. 5:31 tot 5:32): “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” het ek die kerk skynbaar nie meer nodig nie, en vica versa.

Die skare: “‘Nice’, die lewe in die kerk is in elk geval ‘n ‘party’ sonder eksklusiewe, elitistiese suurgatte soos jy!”

Dis goed om te weet, want het ons maar geweet van die afval wat moet kom! Tot 1983 het die Rooms-Katolieke Kerk nie ‘n halwe Vrymesselaar oor sy drumpel toegelaat nie. Dit was deel van die ingestelde kerkreëls. Want volgens Albert Pike self aanbid die Vrymesselaars hul god en ligdraer Lucifer (wat die mens die pad na Verligting sal wys), en aangesien mens nou nie vir God [die Christen-een, “God” is so ‘n relatiewe begrip deesdae] en Mammon gelyk kan dien nie… Maar omsons, die kerkdeure staan nou WAWYD oop vir almal. Of die predikant en jy tot “God” bid en in dieselfde voorste gestoeltes iemand die satan as god verheerlik – die kerk, die gemeente kan seker nie so vir ewig staande bly nie. En, nou dat ek daaraan dink, aangesien alle godsdienste in die Vrymesselary ingesuig en geakkommodeer kan word… en sekere kerkdenominasies geen beswaar het om voorvadergeeste as randfigure naas God ook by te trek nie… maak dit regtig saak tot Wie of wat in ‘n kerk gebid word?

Ek het dit juis snaaks gevind in Australiese kinderfiksie deur Catherine Jinks, waar die priester deesdae vampiere en weerwolwe en ander gebroedsels in die kerk simpatiek herberg (as die oortollige wapens wat vir rooikommunistiese terroriste van die jare 1980 gestuur is gou-gou uit die stoorkamer op ebay verkwansel word? sou ek in die verhaal bygevoeg het). Want haai, foeitog, hierdie skepsels is immers ook mos deur God gemaak? Toon bietjie verdraaglikheid, skat.

Wel, ek sukkel om te dink aan ‘n Christenvampier — dis ‘n antitese! Bram Stoker het juis ‘n ou mite gebruik om die dekadensie, sekularisering, dood, verrotting, lewensmoegheid, die okkulte [Vampier] teenoor lewe, oplewing, groei, paraatheid, vigilansie, kundigheid [Abraham van Helsing, Hollander, verteenwoordigend van die kerk] van die fin de siècle voor te stel. Dis soos hondedrolroomys — dis ondenkbaar, oneetbaar en moeilik verteerbaar.

As hierdie “siekes” dan willens en wetens in die kerk toegelaat word, miskien selfs geplant is om die liggaam te rysmier, en op die kerkraad dien (sonder ‘n druppel kerklike sensuur van die 1950’s tot 1980’s na hul kant toe), groet ek die dominee slegs met ‘n effense stywe kopknik (hoor hoe kraak my nek) as ek in die verbygang biblioteek toe draf om ‘n boek oor Franse grammatika uit te neem. Want daardie kerk gaan nie hou nie, ek wil liefs nie genader word om lidmaatskap nie.

Dit is juis snaaks — toe die kerksensuur op sy kwaaiste was, toe die kerk soos ‘n waghond sy bolip teruggetrek en sy vlymskerp, grommende tande geflits het vir die wêreldlinge (O! HOE ONINKLUSIEF IS DIE KERK NIE!!!), en die dominees uit hul monde sadistiese swael en vuur van die kansel skouspelagtig gewerp, geslinger, gedonder, geklap en gedreun het na die gemeente – die vlamme uit die poorte van die hel het aan die kerksuile en banke gelek! die hel was so naby! — toe, in daardie jare, was die kerke op masochistiese wyse STAMPVOL!

Noudat Christus amper tot ‘n lieftallige weekdiertjie (of soos ‘n Boeddhabeeldjie tot ‘n versamelaarsitem) afgeskaal word [sien, kinders, julle hoef nie bang te wees nie!], ontneem van Sy Ryksstaf, Ryksappel, Ryksswaard, Wit Perd en Mantel… EN BOONOP AS “JY”(!) AANGESPREEK WORD(!), is die kerke dolleeg. Die maaiers knaag aan die droë kerkbanke wat smag na Wooddoc en rou lynolie. Waar is almal dan? Was almal destyds net daar vir die vuurwerkvertoning? Dit kan tog nie — die bioskoopkaartjies was beslis tienvoudig goedkoper as vandag s’n…

Ek: (snedig aan die skare van vyf) “Wel, vir ‘n partytjie waar almal nou genooi is het daar maar besonder min opgedaag. Ek wonder hoekom? Wie is nou eintlik die eksklusiewe, elitistiese suurgatte wat almal afskrik?”

En dan nou mense wat opstaan uit die dood? Mense wat van siektes genees word? Duiwels wat uitgedryf word? Sensasie? Nee, vir my is sulke dinge doodgewoon, dit staan immers so in die Bybel. Wat my meer pla is wat presies hierdie mense met die nuutverworwe genesing DOEN. Kom ons gestel ‘n man verloor sy manlikheid weens ‘n seksuele infeksie as gevolg van seksuele sedeloosheid. Want die loon van die sonde is die dood. Maar daar is genade. Nou word hy wonderbaarlik genees, of kry ‘n suksesvolle penisoorplanting. Jippie-jaai-jy, ‘n nuwe speelding – die onsedelikheid duur weer voort. Hy gaan waarskynlik weer sy manlikheid verloor. Gaan hy hierdie keer wéér genees word? Gaan hy weer as “voorbeeld van Godsgenade” voorgehou word? Wat baat dit nog om heilig te lewe?

Of, jy het jou hele lank voor die TV gelê, sommer van pure slegtheid, jy sterf, ‘n TV-evangelis spreek lewe in daardie liggaam in lykshuis X. Hier staan jy op: ‘n wonderwerk, ‘n duisendste Lazarus, koerante staan tou, ‘n teken vir die gelowiges en ongelowiges. En jy sit jou lewe verder soos trillende Sondagpoeding-jellie voor die TV voort. Jou rusbank se pootjies knak later soos vuurhoutjies onder die gewig, maar sit, het jy jou sit gekry. Want jy kan nie meer op nie.

Wat is die sin dan in hierdie wonderwerke? Is daar iets hoërs, meer veredelend as om slegs as holle “simbool” vir die ‘ongelowige Thomas’-menigte gebruik te word?

My grootste kritiek teen die kerk is veral teen die Duitse sendelingstasies gemik: behalwe dat hulle die dinkwerk vir die omgewing gedoen het vir maklik ‘n eeu lank, en sommer baie dikwels die dinkwerk vir hul ‘kinders in die geloof’ gedoen het (omdat dit aan beide kante gerieflik geword het, of miskien selfs beter so geag is), het hulle eenvoudig ‘n intellektuele elite onder die skranderes gekweek. Toe hierdie ingeligtes en miskien selfs ‘verligtes’ sien hoe die wind waai en hoe die mense rondom hulle lyk [wat net nie wil vorder nie, en altyd terugneuk na die ou weë], is die wyk eenvoudig Kaap toe geneem en elders. En nooit weer het hulle teruggekeer nie. Alleen die grom het in die pot agtergebly. Kyk maar hoe sien die sendelingdorpies vandag daaruit: Genadendal, Elim, Suurbraak. Daar het géén ontwikkeling gekom nie, ondanks al die moeite van eeue tevore. Gedenk die huidige Msinga, wat nog nie in ‘n Metropool ontaard het van die nimmereindigende stroom uitreikspanne van hoërskoolkinders en -onderwysers en ouers, en die skenkings in Juniemaand nie. Jaar in, jaar uit. Op elke aalmoes: “Die Here seën u!” ‘n Bodemlose put.

Nou moet jy nie voor my kom staan en sê “dis oor ons geen grond van ons eie gehad het dat ons nêrens gekom het nie”. Elke week word daar mos êrens in ‘n kerk in hierdie land gepreek oor RENTMEESTERSKAP. Wat God mens toevertrou, of leen, moet jy na die beste van jou vermoë bestuur en bearbei. En verder moet jy ook weet daar is iets soos natuurwette en gesonde verstand. Jy moet daarmee woeker. Want wat? Jy gaan dit mos nie saam hemel toe neem nie. Vir aardse roem is daar nie plek in die hemel nie. Jy laat dit as erfenis vir jou nageslagte na waarop voortgewoeker kan word. As hulle niks daarmee doen nie, raai wie se skuld is dit? Hulle eie s’n. Maar eendag is eendag, dan gaan jy voor die Verpagter staan en verantwoording doen vir jou doen en late. Dan word die gelykenis gou opgehaal van die tien talente – en onthou, hierdie karakters was nog diensknegte ook!

In hierdie streng Calvinistiese lig, waarmee ons kultureel grootgemaak is, vind ek dit juis ‘n godskreiende onreg waarom grond van die boere onteien moet word – en die reeds onteiende grond niemand op wil werk nie, bloot omdat dit nog aan die staat behoort en niemand dit wil bewerk as dit nie op hul name is nie. Dis soos TAAL, Afrikaans, wat eers BESIT moet word, voor iemand iets doen. Dit is die grootste drogredenasie wat ek in my lewe van gehoor het. Want as jy traag is om te werk net omrede dit nie aan jou behoort nie, is jy eenvoudig ‘n SLEGTE, VROT MENS. Punt. ‘n Deurbringer wat gestenig moet word — so sê Levitikus — “so moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei”. Punt. Waarom moet ek vir Spar, Checkers en Pick ‘n Pay BESIT voordat ek die dag besluit om vinger te trek as personeellid? Dan gaan niemand mos ooit werk nie! Nee, “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Mattheus 25:21)

Ons almal weet die geld van die slegte dienaar is afgevat en aan die suksesvolste dienskneg gegee. Hoekom? Want hy het homself bewys. Sou die NG-kerkraad hierdie boodskap verbatim aan die goddelose, eiegeregtige, vandalistiese, parasitiese, miopiese, Leninistiese EFF oorgedra het by hulle vergadering? Met, ter silwer afsluiting: “En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mattheus 25:30)?

Ek twyfel. Ag, wat, weet jy, met sulke stene… verkoop die kerke op Gumtree en kry klaar.

Wat nou? Hoe nou gemaak?

Maar goed. “Ons dominees/predikante/pastore is nie almal so nie” [maar wel die meeste?]. Nou goed, dan rig ek my vertoë aan julle. Kom ons verwag al die kerke gaan leegloop — om redes nie alleen verbonde aan pappa en mamma se demografiese selfmoord onder die lakens nie. Soos dat ek jeugaande (ja, by ons is die jeug diegene ONDER 30, al sou ek eerder die wysheid van die grysheid wou aanhoor) elke liewe week sal oorslaan en vermy oor die soortgelyke tatoeëerdebatte. Ek sou eerder in daardie tyd met my bietjie verworwe taalkundekennis ‘n Wikipedia-artikel uit Frans vir die Afrikaanse lesers vertaal wat dit môre, oormôre dringend benodig vir ‘n skooltaak. Dan voel ek nuttig en diensbaar. Praatjies vul geen gaatjies.

Maar nou sit ons op die ou end met hierdie leë geboue. Baie het historiese gedenkwaardigheid, so die argitektuur mag nie verander of gesloop word nie. Op wie se skouers hierdie leë geboue gaan rus weet ek nie. Gaan die kerk verkoop word? Gaan dit staatseiendom word? Dink ook aan die NG gemeente Johannesburg-Oos, wat vir die nominale bedrag van R1 aan die Universiteit van Johannesburg verkoop is, hoewel die orrel in die gemeente se besit gebly het.

Dink aan kerkgeboue met vlermuise en uile wat hul intrek neem. Die glasruite breek. Onkruid groei oor die paadjie. Verf skilfer af. Grafstene kantel om. Grafte sink weg. “Die kerktoring het verkrummel en lyk soos ‘n geamputeerde vinger. Dele van die kerk se dak is weg” (om nou uit François Bloemhof se kortverhaal “Die knip van ‘n oog” aan te haal).

Al die kerkbasaars, kollektering, tiendes en offerandes, vetgemeste kalwers wat maandeliks in die kattebak gelaai is, die inwyding van die orrel, die eerste tikmasjien, die eerste rekenaar, die eeufeesboek… en toe niks. Dit was alles verniet, die hele 150 jaar van die kerk se bestaan is ongedaan gemaak — want die kerk het sy waarde onder die jongmense verloor.

Keer op keer hoor ek van die preekstoel af: “Ons het genoeg gehad van kerkspeel!” ‘n Paar Sondae gaan verby, dan begin ons maar net weer van voor af — want so is dit nog al die jare gedoen. Deur die eeue. Die uiters voorspelbare mag van die gewoonte wat die vyand tog so goed ken.

Wat sal my as jongmens teruglok kerk toe?
Miskien as daar iets is wat die wêreld my nie kan bied nie.

1. Klasse

Nee, asseblief nie nog Sondagskoolklasse vir my nie! Daarmee het ek klaargemaak in 2003. Kyk rondom jou! Die spoguniversiteite van weleer is deur die regering gehap, gekou, verby die malers, ingesluk, deur die verteringsappe van Leninisme omvorm en in stomende rooikommunistiese mishope met ‘n benoude skeet en kreet hard uitgedruk. Toe het die staat sy been gelig: Ons almal is bewus hoe die universiteite se leerplanne met ‘n dungeel straaltjie verder afgewater is.

Waarvoor was die kerk nog al die jare bekend? Opleiding. Aan die voete van die rabbi het Christus sy opleiding gekry om te lees en skryf; aan die voete van die universiteite en Latynskole onder kerklike gesag is Wes-Europa se kultuur stadig opgebou. Dit kan weer.

Ek bedoel nie “beradingskursusse” nie, sulke kursusse kan jy agter elke bos en vrouetydskrif uitskop. Dis kindisch.

Leer my met dieselfde erns en las wat die Middeleeuer moes deurmaak; maak my van staats-en-hoofstroommedia-gemaakte boskind weer ‘n werklike, helderdenkende wese. Leer my Latyn waarmee ek ‘n selfvoldane klein japsnoet met tekste uit 1578 met my vinger kan stilmaak — hy, die alwetende, hy wat nie verder as sy geboortedatum kan dink nie. Want die geskiedenis herhaal homself — en die geskiedenis leer ons dat mense nie uit die geskiedenis geleer het nie (Georg Friedrich Hegel). Niks ontstaan uit niks nie. Leer my Grieks, pastoor, sodat ek die oorspronklike Bybel selfstandig kan lees en aan ander kan oordra. Leer my Bybelse Hebreeus en Iewriet, dominee — sodat ek kan weet wat in die Bybel en in Israel [ten goede en kwade] werklik aangaan. Leer my Duits, Fräulein (nog ‘n taboewoord?), sodat ek kan weet wat in Martin Luther en Angela Merkel se koppe aangaan. Leer my Frans, monsieur, sodat ek kan weet hoe my voorsate vir hul geloof gely het [uit suiwer troonjaloesie onder die adel!], maar ook die gekunstelde afronding en geduld met woorde. Ag, dominee, as ‘n ou toegewinkie, leer my Putin-Rusland-Russies en Sowjet-Russies. Sodat ek kan weet wat op ons wag. Leer my enigiets wat die staatsuniversiteite, ons voorsate se bloedgeld en erfenis aan ons, besig is om op die brandstapels te gooi. Leer my om te onderskei tussen nut en onnut. Van vasbyt en deurdruk – moenie die werk vir my maklik maak nie. Ek wil wéét dat ek my spore verdien het, en sodoende volleerd tot nut vir ander kan wees.

Op bykans elke dorp is daar ‘n kerk. ‘n Kerk kan skakel met ‘n hoofkerk. Die hoofkerk kan skakel met buitelandse instansies. Dink maar aan die Franse Alliansie, die Goethe Instituut… of dalk kan ons maar klein begin en mense uit die omtrek werf. Soos moedertaalsprekers van Duits. Leer my die kernwoordeskat en grammatika. Leer my om myself te help. Selfs skoolleerlinge kan vanaf veertien of sestien of selfs so jonk as twaalf begin met grammatika- en taallesse — wanneer hulle op universiteit kom, is hulle slaggereed. Hul tydgenote ligjare vooruit.

Ek belowe, Maandag tot Sondag — ek sal 15 minute voor die tyd daar wees.

Is dit bloed uit ‘n klip tap? Die eerste ruk sal dit maar moeilik gaan — maar om te sê ons kan met niks begin nie, is onsin. Daar was lande soos Suid-Korea waar daar wérklik niks was nie, alles is platgeskiet, en hulle het vooruit gebeur. Die eerste groepe tjop ongelukkig altyd af, die derde, vierde geslagte begin eers die vrugte daarvan pluk. Niks kom van niks nie. Alles by hulle het met opvoeding begin. Deeglike opvoeding. Nie uitkomsbaseerde kurrikula nie.

In Suid-Afrika het ons die kundiges gehad; hier was korrelkop Hollander- en Duitse dosente wat die Afrikaanse universiteite help begin het, voordat die Afrikaners/Boere die leisels by hulle begin oorneem het. Boeke is geskryf wat my verstom laat oor die insig (natuurlik gebou op tradisie). Maar die hele kerkgemeenskap het net so slapgat soos die staatsuniversiteite begin word. Voor hulle oë het hulle gesien, maar kon niks verstaan nie. Want waarom “sal ons worry?”. Dis net te gerieflik!

2. Skole en universiteite?

Terwyl die predikante, pastore, dominees, en godsmanne handjies gevou staan en toekyk hoe die staat al meer sy drakoniese en verterende invloed soos suurdeeg laat insuur, is daar pastore in Amerika, soos John Haggee, wat sy eie weeshuise, kinderhuise, skole, ens. laat bou. Omdat hy kan. Hy word van dwarsoor die wêreld befonds. Hou jy nie van die Ystermasjien, die Staat, nie, stig jou eie privaatskole. Terwyl jy nog kan (hou dit egter Calvinisties eenvoudig, of gebruik eers kerksale of ander lokale, sodat dit minder aantreklik lyk om te nasionaliseer). As NRO’s geld uit die donker ingepomp word om onmin in ‘n land te saai, seer sekerlik kan die hoed by medechristene gehou word in ander lande.

Net eers die volgende waarskuwings:

* Moet ook nie soos die ou kerkkoshuise onderskeid tref tussen “die grootmense” en “die kinders” se kos nie. In my moeder se kerkkoshuisjare het die volwassenes goeie kos gekry. Die onderwysers, koshuismoeder en -vader het trouens aan ‘n ander tafel gesit. Die kinders het klipharde botter, klipharde mielies en appelkooskonfyt wat soos ou voete ruik gekry. Jy het presies geweet wat kry jy Maandag tot Vrydag op die spyskaart, want elke week was dit dieselfde. Dieetkundiges? In watter droomland leef jy? Boonop was die kos maar min.

Daar moet wel nou ook nie soos die huidige skoolkoshuise (ryklik befonds deur boere) met kos gemors word nie: die kinders proe net aan die sap en sit die glas eenkant neer, nou onbruikbaar. Vir sagopoeding word die neuse opgetrek. Vir smullekker kos sê die meisies nee dankie, dit maak vet. [Natuurlik is daar onderwysers ‘met ‘n gewete’ wat hierdie ‘oorskiet’-poeding huis toe neem.]

* Maak seker ouerbetrokkenheid word skerp afgeskaal, soos dit in die 1950’s en vroeë 1960’s was. Geen spesiale voorregte vir niemand nie. Waar ouers is, is daar onmin en wedywering onder mekaar. Onderwysers word uitgewerk, onder die vaandel van Christenskap word Broeder die Skoolhoof weggewerk vir ‘n lekkerder een. Die een se ondergang word na die ander bewerkstellig. Ek dag dit is nie die doel van ‘n Christenskool nie?

* Verwag asseblief dat die skool gereeld deur die media vals beskuldig gaan word van seksuele oortredings. Christenskole en onafhanklike Afrikaanse skole is immers ‘n doring in die oog. Daar is sommige skole, soos die Regensburger Sängerschule in Duitsland, waar dit werklik gebeur het, maar al die ander?

* Verder, ‘n Christenskool beteken steeds nie “volkskool” nie.

Daar bestaan in België Katolieke universiteite al vir vergange jare sedert die versuiling. Miskien is ‘n kerkuniversiteit tog moontlik. Maar hoe lank voor die Marxisme nie ook DAAR begin wortelskiet nie?

Kyk, enige ou wat bietjie die Europese geskiedenis vergelyk met die Amerikaners s’n, sal weet die kerk was in Europa nog al die jare hand om die blaas met die staat. Soos die staat verander het, het die dienaars hul seile na die wind gehang. Of dit nou is wat die sogenaamde, ‘verdraagsame’ ons-moet-saamwerk-dis-beter-as-teen-mekaar-werk-filosofie beteken weet ek nie. Dis seker dié dat ons almal in Suid-Afrika so mooi in harmonie met mekaar leef. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het Europeërs finaal hul moer op ‘n stok vir die slapgat kerke gesit en net die leë kerkbanke van hul voorouers agtergelaat. Dit skeel die kerkmanne nie, want die staat betaal steeds hul salaris. Dalk ‘n (teen)prestasiebonus: hoe meer siele jy uit die kerk wegwerk, hoe hoër is jou betaling?

In Amerika wil dit eerder lyk of die staat van die begin af deur die kerk as die Antichris beskou is. Die kerk wat sy moue oprol om die magtige staat se tande uit te slaan, druk op sy lidmate uitoefen om polities en maatskaplik betrokke te raak, brandaktuele sake aan te roer wat seermaak – dit alles dwing nogal opmerklik respek by die gemeentelede af. Selfs van die opponente se kant af. In daardie land is die kerke, vergeleke met Engeland en Vastelandeuropa, nog heelwat vol.

Tussen die twee wêrelde lyk dit eerder of Suid-Afrika die weg van Europa volg. Behalwe miskien die paar Anglikaanse priesters en aartsbiskoppe, in noue kontak met die “pous van Engeland”, oftewel Supreme Governor of the Church of England, die Koningin van Engeland, tannie Liesbet, wat so nou en dan iets blêr teen die Suid-Afrikaanse staat as ons “van koers af” beweeg…

3. Erfenis

Die NG-Kerk kon al skatryk geword het. Want toevallig, soos die Rooms-Katolieke kerk, is hy reeds kultureel skatryk. Nou moet nog net ‘munt daaruit geslaan’ word (“gemonetiseer” lees ek nou die dag).

Nou goed. Die NG-kerk het nie soos die RKK al die heidenbeeldjies en “comic strips” (ekskuus, fresko’s) van Michelangelo in sy voorraadkamer om van die hand te sit nie. Maar hier sit hulle met doop-, sterfte- en huweliksregisters wat hulle lankal kon digitaliseer het. Ek dink nou aan stelsels soos die Nederlandse Wiewaswie.nl wat loop soos my bodemlose cappuccinokoppie. Soek jy ‘n kopie van die oorspronklike, betaal soveel by soveel en per outomatiese e-pos word die afgetaste huweliksertifikaat van oorle’ Johanna Ossewania Kakebenia Eeufesia du Toit binne ‘n japtrap aangestuur. Of, met genoeg advertensies kon die kerk selfs die diens gratis aangebied het. Al wat hulle dan kort is vrywilligers wat help om stukkie vir stukkie die inligting oor te tik. Dis maar presies soos dbnl.org en wiewaswie.nl ook werk.

Dit is nogal vermoeiend om stamboomnavorsing te doen. Jy kom goedsmoeds op ‘n begraafplaas af, gaan kerkkantoor toe, hoor daar al die registerboeke is ongelukkig reeds Stellenbosch toe, na GISA, of na Kaapstad gestuur… maar wag, meneer! Daar is nog ‘n boek wat hier agtergebly het. Ja, hier is die sterfte en doodsoorsaak. Wat vertel jy my nou!
Hierdie keer was ek gelukkig, want dis op my tuisdorp, maar wat van al die ander mense daarbuite wat met soveel moeite eggsa.org se foto’s deurkruis het, spesiaal gery het, uiteindelik op die graf afgekom het, en so gehoop het die kerk het nog die ou dokumente? ‘n Paar rand vir die afrolwerk vs. petrolgeld wat spesiaal uitgery word? Maak self die somme.

Daar is notules en verslae en verdrae en jaarboeke en kerkgeskiedenis… waarom dit nie beskikbaar stel nie? Mens het mos diskresie — jy gaan mos nie uitblaker wie het onder kerklike sensuur deurgeloop omdat hulle oor die tou getrap het nie. En mens gaan ook nie onlangse inligting links en regs uitreik nie. Sekere dokumente kan nog so 25 jaar of langer wag. Daar is mense wat in Australië, Kanada, Nederland, Duitsland, Engeland, Suid-Korea, die wêreld oor sit.

Dis soos ‘n apie wat in ‘n kalbas sy handjie om die pitte gekry het. Maar aai, met sy balvuisie kan hy sy poot nie uitkry nie. Nou kan die seisoene, donderwolke em haelkorrels kom en gaan, maar die pitjies hou hy tot die bittereinde toe vas. Dis syne, niemand anders mag dit kry nie. Later sterf hy van die honger, die karkas ontbind, verrot, die brommers maak ‘n verswelgende blou-groen kombers oor hom, die polsbeentjies knak af — en die handjie val in die kalbassie.

4. Voorligting

Vir my suster is die kerk steeds slegs ‘n huis van gebed. Jy gaan soontoe, gee jou lofprysing en aanbidding, luister na die preek, gesels met ‘n paar mense en stap huis toe. Daar is jeugaande en daar is miskien musiekoefening vir die kerkorkes. Soms gaan ‘n klomp wandelpaaie inslaan. Of gaan kamp. Ander dames help bedags met die kleuters op pas. Grootmense hou opleidingskursusse rondom die sielkunde. Miskien sou my suster selfs kersies wou aansteek om ‘n mooi atmosfeer te skep.

Dit klink vir my al te veel na ‘n klub of vereniging.

Ek, is ‘n ander aap. DIE POTENSIAAL wat die KERK van ouds gehad het, om soos ‘n opponent van die staat OP TE TREE — dit prikkel my belangstelling geweldig! Dit hoef nie gewelddadig te raak soos wapens wat weggesteek word nie, maar op ‘n morele vlak, intellektuele vlak [veral nou met die tuimelende standaarde en sedes en norme], om op ‘n manier die media uit te tart (wat? die media sê tog oor kerke net wat hy wil en kom weg daarmee!), ‘n sogenaamde “Derde Mag” in die hele dinamiek van ons samelewing. Dink jou in. Lidmate op hoërskool word vroegtydig gewaarsku oor die marxisme en hoe om hul toekomstige professore bloedig vererg die harnas in te jaag — die argumente en teenargumente ken hulle op die punte van hul vingers. Ons almal weet tog wat op staatsuniversiteite aangaan! Ook om die kind te leer selfstandig navors. Die leerlinge word opgelei hoe om krities koerantberigte deur te lees. Om met behulp van die redeneerkuns drogredenasies uit te wys [dit kan werklik nie te moeilik wees nie?]. Sodra die kind in die hoërskool is en reeds die redeneerkuns agter die blad het, sal sy skoolprestasies dié van sy maatjies oortref [want niemand word meer op skool geleer om te dink en drogredenasies raak te sien nie]. Die jaloerse mammas sal dag en nag ondersoek instel – en skielik daag meer mense by dieselfde kerk op.

Kom hy op universiteit, is die afmaak van sulke kampus-nonsens vir hom kinderspeletjies.

Soos jy kan insien is my hele pleidooi van die kerk inspireer deur die eerste bladsy wat ek in Die Wolke deur Gudrun Pausewang gelees het: “Nou sal ons nie meer kan sê ons het nie geweet nie.” Het ek van al hierdie dinge reeds in my hoërskooljare by die kerk geleer, wat in die samelewing rondom my aangaan, sou ek meer respek gehad het vir hierdie liggaam. Maar die kerk lewe in ‘n vakuum — of êrens in die Nuwe Jerusalem wat nog moet neerdaal aarde toe.

Die kerke is na al die jare steeds ‘n potensiële inligtingsverspreiding-, kultuur- en opvoedingsnetwerk, maar dit word gans te veel onderbenut of verkeerd gebruik.

Maar ek het duidelik die afgelope paar jaar meer by PRAAG geleer as in die kerk!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.