Brief: Die blanke Afrikaner in Suid-Afrika — Is die AB-redenasies nog geldig?

Dit is Februarie 2018. Majubafees! Hoe lyk die korporatiewe profiel en die koers van die blanke Afrikaner op pad na 2020?

Met verwysing na die nuusbriewe en verslae sigbaar op die webwerf van die Afrikanerbond, is dit moontlik van Afrikaner- strategiese en beplanningswaarde, maar ook betreffend ‘n kritiese koersverandering, dat hier as buitestaander gelet word op redenasies vanuit die Afrikanerbond se stal.

(Klik op die dokumente hier onder om hulle te besigting of af te laai – redaksie.)

AB Etiese waardes in ons samelewing

AB Besprekingsdokument n Toekoms wat Wink vir Afrikaners lede

AB Nuusbrief Februarie 2018

Die Afrikanerbond (AB), voortgesit op die fondasies van die Afrikanerbroederbond, is vanjaar 100 jaar oud.

Wat is die nalatenskap van die AB, en bv. die Vrymesselary, vir vandag se generasie Afrikaners, en hoe help dit, saam met die Afrikaanse kerke wat die Pous as enigste geestelike gesag op aarde erken, om die Afrikaner stigtelik en vrugdraend inter-kultureel tussen volke, tale, nasies en stamme te handhaaf en te hou?

Op welke etiese norme en welke aanbiddingsmilieu funksioneer ons as Afrikaners se eendrag-maak-mag- morele kompas?

Hoe, met bogenoemde saam, word die Afrikaner se voortbestaanstrategie en uitvoerende samewerking op talle Afrikanerterreine in 2018 getoets en hersien om die opvattings van liberales, linkses, gematigdes, konserwatiewes en regses in die Afrikanergemeenskap in SA — tesame met omgewingsfaktore en veranderlike buite- of internasionale invloede — te bring of te hou op die pad van volhoubare en standvastige toekomshoop?

AB-dokumente soos die Februarie 2018-nuusbrief, gelees teen die agtergrond en tydsverloop van AB-dokumente soos Etiese Waardes in ons Samelewing (September 2010) en ‘n Toekoms wat wink vir Afrikaners (Junie 2011) skets die landskap rondom ons Afrikaners sedert 2007.

Hoe goed die Afrikaner se redenasies ook al mag klink, is die brutale feite dat ons besig is om sistematiese verliese te lei ten opsigte van ons ontneemde politieke rol, ons ekonomiese bydrae wat na my mening talle verbeurde ontwikkelings- en prestasiegeleenthede insluit, ons Christelike bydrae, taal en onderrig, ons vergete geskiedenis, ons getalle wat deur geboorte-afnames, swak gesondheid, plaasterreur en geweldsmisdaad aangetas word, asook ons krimpende Afrikanervolksbates waaronder verlore kunsskatte en fisiese sowel as korporatiewe Afrikanerverarming.

Is dit — sigbaar rondom ons in die nuwe SA vandag — wat ‘n etiese en aanbiddende kultuurgroep as getuienis onder mekaar en voor die internasionale gemeenskap wil voorhou? Met trots en verantwoordelike rentmeesterskap?

Aan wie verkoop die Afrikaner in Suid-Afrika sy en haar eersgeboortereg? Aan wie of wat het ons ons toekoms oorgelaat? Waar is ons kinders se erfporsie?

Terwyl ons as Afrikaners oor genoeg navorsingsgeskiedenis beskik om te weet dat enige grondbesit wedersyds aanvegbaar is tussen migrerende kulture in die grondgebied van SA, deins ons blanke Afrikaners terug en prewel bloot iets hier en daar vanuit die monde van AfriForum, TLU of AgriSA, of maak persverklarings in die niet, terwyl blanke burgers en boere daagliks voortgesette misdadige teistering ervaar — op die Afrikaner se pad na 2020.

Intussen is die blanke Afrikaner nou al deur regerende leiers sedert 1994 van menseregte, minderheidsregte en grondwetlike regte ontneem, onder herhaalde openbare gesange of uitsprake wat moord op blanke burgers en landbouboere verkondig en aanhits.

Dan is die beskeie dog ernstige vraag: Wie lei die Afrikanervolk om die indrukwekkende redenasies, navorsing en scenario’s in die AB-dokumente (of enige ander Afrikanerinstansie se dokumente) op die spoor te probeer hou of om die behoudende koers doelmatig verantwoordbaar en betyds te verstel?

Hoe bring ons — ter wille van ons verarmde en fisies bedreigde Afrikaners op grondvlak, maar ook ter wille van die Afrikanervolk se korporatiewe morele kompas — die kloutjie van die werklikheid by die oortjie van ideologiese akademie op die pad na 2020?

Dit is met persoonlike spyt dat Afrikanergesprekke sedert 2010 na my ondervinding nie op ‘n Afrikanerleierskapsetiek dui wat die daadwerklik vrugdraende voortbestaan van die blanke Afrikaner verantwoordelik-eensgesind of eenparig-uitvoerend bevorder nie.

Dat die etiese Afrikaner met genade oorleef is prysenswaardig, maar dit is al wat dit is — oorlewing, ten koste van oorwinning, ontwikkeling en prestasie!

Kan en moet ons as blanke Afrikaners in SA met ‘n Europese agtergrond, verwagting en prestasievermoë dan nie baie beter kan doen waar ons is nie? Hoe moet ons daarby uitkom? Leiers wat nie doelgerig-objektief kan fokus en wil saamwerk tot die Afrikaner se behoudende rentmeesterskap in SA kan tog nie voor God en mens saans met ‘n rein gewete gaan slaap en met ‘n diep gevoel van etiese leierskapstevredenheid soggens opstaan nie?

Waar en wanneer gaan daar in wysheid en geregtigheid tot verantwoordelike rigterskap gekom word ten opsigte van die strategiese behoud, wyse posisionering en praktiese ontwikkelingsprestasie van die blanke Afrikaner in SA, terwyl die wêreldgemeenskap mededingend vooruitgaan en Afrika doen wat Afrika doen?

Vorentoe sal daar DV in ope skrewe van die Christenkerksinodes en van die Groot Losie verneem word waar die Afrikaner as lidmaat gelaat is sedert 1652, en hoe Afrikanergeloofsnorme die morele kompas kalibreer tot koersvaste geloof in aksie, al dan nie?

— Johannes Meintjes

Johannes Meintjes is ‘n oud-SA-Vlootoffisier en ‘n vryskutmedewerker ten opsigte van grondvlak- burgerlike beveiliging, landbou-uitbreiding in Suidelike Afrika, Afrikanerselfbeskikking en die Kerk as kompas. Johannes woon tans in Kameeldrift Oos, Pretoria en is getroud met Marí-Antoinette.

# Evangelisasie. Bybelverspreiding. Hervorming. Afrika-uitreik. Afrikanervolkstaat. Plaasveiligheid, kibboets. Inheemse plante van Afrika. Kruiemedisyne.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.