Gustav Venter: Woernael 3 — Fees

Gister het ons uitgevind dat die man wat bekend is as Suid-Afrika se nuwe president daarvan hou om te stap, en, in ʼn gebaar van gemoedelike neerdaling, doen hy dit graag tussen die alledaagse gepeupel. Sy skakelpersoneel moet lekkerkrystuipe hê. Die Groot Man het van die hoogtes afgewentel om tussen sterwelinge te beweeg. So vertoon hy homself aan die kleinmensies, maar meer nog, dit skep die indruk van ʼn vader wat tussen sy kinders beweeg om te hoor wat hulle vir hom te sê het. Die liberale draai was jare laas so fyn. Max du Preez kan nie wag om te gaan slaap sodat hy homself kan wakker hyg nie.

Nou kyk, as Cyril ʼn waardevolle inligtingswerwingswandeling wou neem, sou dit hom geloon het om by die tipiese Afrikaanse plattelandse fees op te daag, verkieslik incognito. Ek het en dít sonder vermomming. Dit sal vir hom goed wees om te sien wat ek gesien het. Kortliks: Dié wat dink die Afrikaner se gemeenskaplike gô is uit, was nog nie by Reitz se Bieliemieliefees nie.

Ek het fris jongmans gesien, ordentlik soos net Boerseuns ordentlik kan wees, en pragtige, gesonde meisies; sorgsame moeders en bonkige vaders; opgewonde kinders en vryerige jonges. Dit was ʼn uitbundige verkeer, maar deurgaans beleef en sonder onsmaaklikheid. Daar was bier maar nie dronkgatgeit nie.

Kerkooms het sosaties op roosters bo oopgesnyde dromme gebraai – twee vir R30 – en gemeentetannies het mieliebrood voorgesit. Na die tyd was daar nie ʼn rondgestrooide skyfiespakkie of platgetrapte papierkoppie nie. Afrikaners is plesierig, maar nie op die snedige manier wat K. Zoid in gedagte het nie.

Die vermomde Cyril sou onrustig gewees het, want maak nie saak of jy van bo na onder of links na regs optel nie, hierdie was ʼn wit-wit fees; ʼn viering van witwees. Sy spanning sou nie oor Swartes in soveel witheid gewees het nie, nee, want daar was ʼn paar inboorlinge wat onbelemmer deur die stalletjies beweeg het. Dis net dat hulle ooglopend nie op hulle gemak was nie, veral nie later die aand toe Snotkop op en af begin spring het op die verhoog soos ʼn kangaroe waarvan die enkels vasgebind is nie. Maar nou ja, ek wonder self maar oor die jongman.

Die blote bestaan van Reitz se Bieliemieliefees, soos soveel ander soortgelyke samekomste, sou straks die nuwe president kriewelrig gelaat het. Apartheid is nie hoofsaaklik ʼn regeringsbeleid nie, dis ʼn instinktiewe keuse. Afrikaners is blank en Afrikaners floreer tussen Afrikaners en in ʼn mindere mate ander blankes. In weerwil van al die projekte om die Afrikaner vreemd teenoor sy eie te laat, is hy net op sy volle gemak tussen sy eie mense.

Ek het dit by ons stalletjie gesien. Ons verkoop boeke en mense deel ons graag hulle leesvoorkeure mee. En waarvan wil hulle meer hê? Boeke oor die Vryheidsoorlog. ʼn Wyse president sou vra hoekom dit so is en ʼn intelligente raadgewer sou gesê het: Identiteit. Die Anglo-Boereoorlog is ʼn letterkundige tuisland vir Afrikaners. Dié oorlog kan nie getref word met die modder wat na Apartheid geslinger word nie. Dit was die uiterste Dawid-en-Goliatstryd; die heldhaftige verset van twee klein, arm republieke wat geveg het vir vryheid teen ʼn arrogante Ryk wat duisende seemyle afgelê het om te kom baklei vir goud en diamante.

Dit kan anders in die stad wees, maar hier het ek ʼn nuwe waaksaamheid gesien. In die weermag het ons van “paraatheid” gepraat. Ek is veral ingenome met die pistole wat kantig onder die jongmanne se hemde op hulle heupe vertoon. Meer as een vrou het ʼn gesaghebbende gesprek met my gevoer oor die deugde van verskillende vuurwapens. Een vroutjie, bonserig afgerond in die gimnasium, verduidelik dat sy een van die dae in die hof moet verskyn op ʼn poging-tot-moordklag. Haar swart aanvaller se been moes afgesit word omdat sy dit flenters geskiet het om haarself te verdedig. Die swart bende het haar man daarna uit wraak deur die bolyf geskiet van agter, dwarsdeur die een long. Hy wys vir my die litteken waar die koeël by sy borsbeen verby is. Nogtans het hy omgedraai en een van die drie aanvallers doodgeskiet.

Die man wat homself die president noem, moes by die Bieliemieliefees gedraai het. Wat hy sou gesien het, is ʼn vrolike maar ordelike samedromming van fikse, intelligente, geharde en toenemend moerige Afrikaners.

En, as hy enigsins die wysheid het wat aan hom toegedig word het, sou hy gesê het: Waarlik, dit sal onnosel wees om hierdie mense se grond te probeer vat. Dis beter om hulle vriend te wees, want hulle vyand wil jy nie word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.