Leon Lemmer: ʼn Ope brief aan Wim de Villiers

Die eeufeesjaar van die Universiteit Stellenbosch (US) het begin met jou wat die eerstejaarstudente uitsluitlik in Engels verwelkom. Dit is in ooreenstemming met wat jy in jou intreerede as rektor gesê het: “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie.” Daarna het jy hierdie stelling by meer as een geleentheid herhaal. Weens die US se nuwe taalbeleid het jou stelling al hoe meer letterlik waar geword. Die US se woordvoerder het verduidelik dat daar buitelandse studente is wat nie Afrikaans verstaan nie, waaruit blykbaar volg dat niks in die taal van die talryke Afrikaanssprekende studente gesê hoef te word nie. Maar is dit nie onder meer Afrikaanssprekendes wat met belasting die US subsidieer nie, terwyl buitelandse studente in geen opsig tot hierdie staatsubsidie bydra nie?

‘n Mens sou dink dat ‘n rektor hom by akademiese sake sou bepaal en nie witvoetjie (of is dit deesdae swartvoetjie?) by die ANC-regering sou soek nie. Maar jy het gesê: “Ons gaan (vanjaar) … erken die universiteit se bydrae tot die onreg van die verlede” (Eikestadnuus, 1 Februarie, p 5). Jou voorganger as rektor, die ANC-aktivis Russel Botman, het dit herhaaldelik gesê. Is hierdie bekentenis/belydenis só belangrik dat dit oor en oor by byeenkomste opgehaal moet word, of is dit dat jy deurgaans probeer verseker dat jou openbare beeld polities nie minder verlig as dié van Botman moet wees nie?

Om etniese redes vind jy dit blykbaar noodsaaklik om polities eerder meer verlig as kameraad Botman te probeer wees. “De Villiers het bygevoeg die universiteit is geëerd om sy eeufees in dieselfde jaar as die geboorte van oudpres. Nelson Mandela in 1918 te vier.” Daarmee gee jy te kenne dat die US graag geassosieer wil wees met iemand wat hom aan terreurdade, soos ‘n bomplantveldtog, skuldig gemaak het. Met ‘n geweldenaar as jou held of ikoon, verduidelik dit waarom die US nie teen gewelddadiges op die kampus optree nie? Sover bekend is van geen sodanige US-student ontslae geraak nie. Geen skadevergoeding is van hierdie misdadigers geëis nie. Is dit hoe die US deesdae sy opvoedkundige funksie vervul? Jy het wél met genoegdoening vertel dat ‘n akademies hoogsgekwalifiseerde blanke dosent, wat geen skade aangerig het nie, weens “rassisme” summier ontslaan is omdat hy uit frustrasie dit gewaag het om ‘n swart student en onrusstoker die waarheid te vertel.

Maar is daar nie iets anders as Mandela se geboorte wat jy in die US se eeufeesjaar moet onthou nie? Behoort 2018 nie by uitstek die jaar te wees waarin Jan Marais deur die US vereer word nie? Hoekom swyg jy daaroor? Omdat hy ‘n dooie, wit Afrikanerman is en nie deur die ANC gereken word nie en dus ook nie deur jou nie? Op 30 Mei 2015 was Johannes Henoch Marais ‘n honderd jaar dood. Ek het gedink jy sou ten minste ampshalwe geroepe voel om die US se stigtingskenker te vereer en dat talle huldigingsbyeenkomste in 2015 op die kampus gehou sou word. Wat het gebeur? Jy het jou darem verwerdig om die kranslegging, gereël deur ampsdraers van Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF), by Marais se graf teen die hang van Papegaaiberg, by te woon. Daardie aand was daar ‘n huldigingsbyeenkoms in Marais se eertydse huis in Coetzenburg, ook deur die HJMNF gereël.

Op die kampus, bv op die Marais-plein by Marais se standbeeld, is geen huldigingsbyeenkoms in 2015 gehou nie. Die US-studente is geensins oor Marais ingelig nie, bv dat hy letterlik die ontstaan van die US moontlik gemaak het. Sonder Marais was daar geen US nie en kon jy nie die US-rektor wees nie. Betaam dit jou om so snood ondankbaar te wees? As Marais swart was, sou jy dit gewaag het om hom in so ‘n mate te misken? Het jy al ooit die versekering gegee dat Marais se standbeeld gekom het om te bly, of het jy ander planne? Het jy al ooit by die studente en personeel daarop aangedring dat hulle van die Marais-plein moet praat en nie van die Rooiplein nie? Of verkies jy en die ANC die benaming Rooiplein?

Maar daar is ook en veral ‘n nie-etniese rede waarom Marais, wat jou betref, blykbaar persona non grata is. Sy hoogs billike stigtingsvoorwaarde is dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie. Veral weens jou uitgesproke anti-Afrikaansgesindheid beklee Afrikaans deesdae aan die US ‘n mindere posisie in vergelyking met Engels, al het jy dit nog nooit openlik erken nie. Wat ek in hierdie eeufeesjaar van jou eis, is dat jy jou skuld aan die afskaling van Afrikaans bely én dat jy dit eties probeer regverdig. Jou pa was jare lank ‘n HJMNF-trustee, sodat hy, soos Jan Marais, in sy graf sou omdraai as hy moet weet dat sy jongste, misleide kind fluks besig is om die US in ‘n eentalig Engelse inrigting te laat ontaard.

Die toestand waarin die US onder jou leiding verval het, is sodanig dat die enigste eerbare uitweg is om alle betrekkinge met Jan Marais se nagelate fondse te verbreek omdat dit baie duidelik is dat die US nie sy voorwaarde nakom nie. Enersyds is my versoek dat jy die US se beheer oor Het Jan Marais Fonds (HJMF) opsê en al die geld na die HJMNF oordra. Andersyds versoek ek dat US-personeellede verbied word om as trustees van die HJMNF te dien, sodat Jan Marais se nalatenskap voortaan vry van enige bande met die US kan funksioneer. Hierdie twee stappe is myns insiens noodsaaklik as jy enigsins daarop aanspraak wil maak dat jy darem in hierdie twee opsigte eerbaar en eties jeens Afrikaans opgetree het.

Afgesien van die US se doelbewuste amptelike miskenning van Jan Marais in 2015 en weer in hierdie eeufeesjaar, hinder dit ook dat die Woordfees by albei geleenthede glad nie reg aan die nagedagtenis van Marais laat geskied nie. Wat ook opval, is dat die US se Afrikaansdepartement heeltemal onbetrokke by die verering van Marais is en hierdie departement hom daarvan weerhou om ‘n positiewe rol in die taalstryd te speel. Is dit omdat ‘n vorige US-Afrikaanstaalkundige, wat ook die hoof van die Taalsentrum was, telkens die versekering gegee het dat Afrikaans nie afgeskaal word nie en in werklikheid voortreflik bestuur word? Jy vertolk die apatie van die Afrikaansdepartement seker as ‘n mosie van vertroue in jou en jou verengelsingsbeleid. Maar gaan jou ingenomenheid met jou transformasie van die US standhou wanneer jy met jou gewete (veronderstellend dat jy een het) in die sonnetjie op die stoep van die ouetehuis sit?

Vandag, 21 Februarie, is Moedertaaldag. Dit het my genoop om hierdie ope brief aan jou te rig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.