Gustav Venter: Woernael Nommer Twee

Is die gedrukte boek iets soos 'n buisversterker, iets vir fynproewers?

ʼn Ingenieur, een van daardie selfopgeleide genieë wat suksesvol peuter aan ingewikkelde masjinerie en stelsels, sê eendag vir my dat die mensdom te gou die rug op stoomkrag gekeer het. Wie weet watter wonderlike stoomgedrewe masjiene nou al ontwikkel sou wees? Ander ingenieurs vir wie ek die storie vertel, is meer skepties. Stoomkrag is net te ondoeltreffend daarmee om brandstof in kinetiese energie om te skakel. En tog het my privaatingenieursvriend sy vinger op ʼn interessante verskynsel gelê: Sodra ʼn ontwrigtende tegnologie verskyn, word die vorige te dikwels summier na die snippermandjie van die geskiedenis aangeskuif.

Dit gebeur wel dat ʼn ouer tegnologie ewe skalks en heelwat later in een of ander vorm vir een of ander aanwending terugkeer. In hoëtroustelle, byvoorbeeld, het uitgelese musiekwaardeerders die transistor versaak vir die veel ouer buistegnologie. Volgens hulle is die buisstelsels se klank voller en helderder. Vinielplate is meer klankgetrou as CD’s, reken hulle.

Ek hoop maar my ingenieur was reg. Alle vroeë aanduidings is dat daar iets steek in wat hy sê.

Met die verskyning van die elektroniese tablet in 2007 het dit voorgekom dat die papierboek op vroeë pensioen sou gaan. Dit het natuurlik die manier waarop boeke bemark het, ingrypend verander. Hoekom karring met kamermure wat oortrek is van boekrakke as jy al die boeke wat jy nog moontlik kan lees in jou sak op jou tablet of slimfoon kan dra?

Nou weet dat die berig oor die papierboek se dood voortydig en verkeerd is. Fopnuus. Die papierboekbedryf groei weer fluks en daar word meer slap- en hardebandboeke as e-boeke verkoop. Halleluja. Want dit skep vir my as vryskutskrywer salige vooruitsigte.

Ek sal die vryskutlewe nie noodwendig aanbeveel nie, maar sal iemand darem ook nie afraai om dit te probeer nie. Dis ʼn lewe vol kosbare vryhede. Die grootste vraagstuk is hoe om geld te maak as vryskutwerker, en meer presies, hoe om ʼn standhoudende inkomste te verdien. Ek het lankal reeds die somme gemaak en by die antwoord uitgekom dat ek nie in hierdie land geld kan maak deur my boeke aan ʼn uitgewer toe te vertrou nie. Hulle hark te veel van die wins na hulle eie akker en ek het geen beheer oor die entoesiasme waarmee hulle my boeke bemark nie.

Beheer is presies waaroor dit gaan. Ek en Erma is nou vol vertroue dat ons weet hoe om beheer te behou in ʼn proses wat vir ons ʼn standhoudende inkomste sal bring: Papierboeke wat ons op feeste verkoop. Papierboeke en feeste? In uitgeeterme is dit so primitief soos buisradiotegnologie. Nou ja, die deuntjie is duideliker en die klank helderder.

Die wiskunde is nie ingewikkeld nie: Ek moet veertig eksemplare per dag in sestig dae se feesbywonings verkoop. Sestig dae. Dis al. Twee dertigdaemaande per jaar. Dit los tien maande waarin ek nuwe stof kan skryf, redigeer, ontwerp en uitlê.

Hoe haalbaar is dit om veertig boeke per dag te verkoop?

Wel, laat my vertel van die Bieliemieliefees… maar nie vandag nie. Môre.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.