Gustav Venter: Woernael Nommer Een (Sondag agtien Februarie twintig agtien.)

ʼn Woernael, vir dié wat moontlik enige belangstelling het, is ʼn woernaal vir mense wat aan die hardloop is. En met “hardloop” bedoel ek nie iemand wat laat spaander nie. Mense wat my ken weet dat my drentel-, wandel-, stap- en hardloopgang min of meer dieselfde snelheid oplewer.My kop skud net rustiger as ek wandel en dobber wild op en af as ek hardloop. Die “nael” het dus niks te doen met my liggaamlike versitting nie. Dit dui eerder op iemand wat te veel dinge op een slag aanpak en tussen hulle moet skarrel.

“Woernaal” het ek by die Roodts, Dan en Karin, gekry. Dit is hulle Afrikaans vir “blog.” “Blog” is ʼn hap uit die woord “weblog” en “woernaal” uit “webjoernaal.” “Woernaal” klink baie meer soos iets waarmee ek my wil besig hou. “Blog” herinner te veel aan Joe Bloggs, die instaannaam wat die Engelse en hulle kolonies gebruik vir die alledaagsste van alledaagse mense; Jan Alleman dus. “Woernaal” knik in die rigting van woeker en woer-woer.

Ek het amper 12 jaar gelede my eerste rubriek vir Praag geskryf. Wat is dan die verskil tussen ʼn rubriek en ʼn woernaal? Albei is meningstukke, maar ʼn rubriek is meer diepgaande en die navorsing onberispelik terwyl ʼn woernaal meer gaan oor die skrywer se indrukke op ʼn gegewe oomblik. Wat styl betref, hou die verantwoordelike rubriekskrywer daarby net in die uiterste geval na homself te verwys. M.a.w. presies die teenoorgestelde wat iemand soos Max du Preez, die immergroengevallestudie van hoe om nie ʼn rubriek te skryf nie, dit doen. Lees gerus sy Rumour of Spring en jy besef gou wie die belangrikste persoon in onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis is. Dis nie Verwoerd, De Klerk of Mandela nie, nee, dis Max self. Dit is nou aldus Max self. Blykbaar wentel Suid-Afrikaanse geskiedenis om hom en daarom skryf hy homself, sy diep gedagtes en sy wysheid in elke rubriek in.

My woernaal is nie ʼn rubriek nie en dit gaan oor my belewenis. Derhalwe gaan ek daarin teenwoordig wees.

Ek het gedink daar kan waarde in wees om my reis te beskryf; my karige aandeel in die stryd om die behoud van Afrikaans en Afrikaners. In diens van daardie worsteling pak ek die volgende aan: Die herontwerp van die Afrikaanse uitgeebedryf. Die gebruik van die vervolgverhaal as primêre storiekarweier. Die ontwikkeling van tekenverhaalreekse oor die Vryheidsoorlog, die Grensoorlog en die komende Chaos. En, O ja, ons gaan ʼn nuwe Afrikaanse rolprentbedryf skep. Ek dink dis al… maar ek kan nie seker wees nie.

Wel, niemand het gesê ons mag nie ambisieus wees nie.

Behalwe die A.N.C., die Effies en die Linksiste. Volgens hulle is ambisie die ene blanke meerderwaardigheid. En dit is. Maar nou ja.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.