Suidpunt: Om te skryf, of nie te skryf nie?

Ek sit met ‘n etiese probleem. Miskien kan die PRAAG-lesers my help.

  1. Is dit geoorloof om aan kompetisies deel te neem van die hoofstroommedia of ander organisasies as jy die geld kan benut vir jou eie saak, agenda of ander belangegroepe s’n?
  2. Is dit beter om eerder onafhanklik ‘n pad vir Afrikaans op die web oop te veg, ‘n Eenman-Kruisvaart te onderneem, of is jy dislojaal teenoor ander belangegroepe? Of moet jy albei doen en ondersteun?

Talent maak nie saak nie

Iedereen kan skryf. Ek bedoel dit, benadruk dit: enige brandsiek skaaphond kan deesdae skryf. En as jy nie kan skryf nie, dan dikteer jy.

Die vraag bly egter: WIL JY?

As mens kyk na die “suksesverhale” van skryfskole (die mense, nie die werke nie), begin ek telkemale wonder of mens nog skryftalent nodig het. Enige ou kan deesdae kyk na watter intrige in ander verhale gebruik word, die ontwikkelingsgang, die afloop, die einde. Enige persoon kan die woord- en sinlengtes tel. Let op die woordkeuses. Kyk hoe loperig en traag jou sinne is. Is daar karakterontwikkeling? Wat wil die verhaal vir my sê? Wat is kenmerkend nuut aan die verhaal? Hoeveel mites, volksverhale is in hierdie verhaal saamgepers? Soos mens meer boeke lees of flieks kyk of met mense omgaan, kan jy baie gou agterkom wat het na 20 jaar steeds trefkrag, en wat is “cliché”/”blasé”/”moet gly” na 20 minute. En wat word bloot opgehemel omrede dit tans byderwets is.

Waarom het ‘n mens ‘n skryfskool nodig om dit uit te vind? Is dit ‘n geldmaakstorie?

Te midde van al hierdie kunsgrepe, grille, intertekstualiteit, intratekstualiteit, postmodernisme, interseksualiteit gee “Rem tene, verba sequentur” steeds die toon aan: as jy jou storie ken, jou feite agter mekaar het, kom die woorde vanself.

Skryfkompetisies

Moeder toon 26 Januarie vir my ‘n advertensie in die dorpskoerant. Kortverhale en gedigte – vir ‘n boekefees van 2018. Kortverhale maksimum 2.000 woorde. Die prysgeld is ‘n geskatte R11.500,00. Pos na so by so adres. Klink heel billik. Onderwerpe bra voorspelbaar; “ryloper” en “standbeeld” trek my aandag. Die wenners word in die boek gepub. Trek my toetsbord nader en soek. Toe ek sien die ATKV-embleem skitter op die program, trek my wenkbroue ‘n loodregte lyn. Wat ‘n liniaal laat krom lyk. Frida Kahlo sou jaloers gewees het.

Net daar begin ek belangstelling verloor.

Maar selfs al sou ek ook wou deelneem, het ek ‘n baie vae vermoede hoe die wenverhale gaan lyk. Gegewe wie die borg is. As dit nie te stroperig is, vreeslik sentimenteel, kinderlik ooremosioneel, ‘spookasemvrolik’, ammunisie vir popsielkundige Dr. Phil, die viering van “Alternatiewe Afrikaans” of nog ‘n treurmare oor Apartheid, ‘n steekhou vir die ‘verkrampte’ Afrikanertradisies en blanke bevoorregting nie [soos mens deur die ATKV-“Taalgenoot” blaai…], kan ons ten minste hoop op ‘n bietjie mite, verhaal en ‘n wonderlike intrige. Op sy minste, ‘n bietjie afgewaterde, uittand kontreikuns. Verstaanbaar vir alleman. Té verstaanbaar.

Ek bedoel regtig, ‘n mens kan vir seker ‘n beter, veel deegliker nagevorste kortverhaal skryf as die (ver)draaiboek van “Krotoa”?!

Weer sit ‘n mens op die brug, tone in die water, en weet nie herwaarts of derwaarts nie. Moet mens juis inskryf en die ATKV probeer “melk” vir die bietjie kontant en erkenning wat hulle aanbied, of, arme onnosele mens, “melk” hulle juis jou talent? Daar staan immers op die inskryfvorm:

“Ek verstaan dat ek, deur deel te neem, aan die Bestuur van […] Boekefees toestemming gee om hierdie skrywes gratis te gebruik vir hulle Bundel. Ek verstaan dat ek kopiereg behou vir verdere publikasies.”

Dis nogal vaag gestel. Is dit prysgeld van R11,500 wat verdeel word onder die wenwerke, genoeg om ‘n bundel vol te maak?  Hoeveel blaaie word daar geskat moet die bundel min of meer wees? Of is dit R11,500 per afdeling? Of per ouderdomsgroep?

Soos ek dit verstaan, ek mag dus verkeerd wees, kry jy jou prysgeld, ‘n deeltjie van die R11,500,00; maar verbeur jou tantième met die eerste oplaag. Hoeveel hierdie aantal boeke “per oplaag” is, weet ek nie. ‘n Oplaag kan enigiets tussen 2.000 tot 10.000 tot 100.000 boeke wees. En wat dan as geen verdere oplae beplan word nie? Sou jou prysgeld met die eerste oplaag nou meer werd wees as die tantième, of is dit andersom?

Hierdie is geen verdagmakery nie. Dis net ‘n voorbeeld, want dit geld eintlik vir alle soortgelyke skryfkompetisies waar boeke betrokke is. Ongeag wie die uitgewers, of die borg, is.

Dit verskil byvoorbeeld van radiodramakompetisies vir Radioteater. Want selfs die dramatekste wat byvoorbeeld by RSG nie gewen het nie, soos ek dit verstaan, maar tog meriete volgens hul standaarde vertoon, word uitgesaai. Daar staan byvoorbeeld by hulle Handleiding 2017: “RSG behou hom die reg voor om dramas wat van uitsaaigehalte is uit te saai. Die skrywers sal volgens RSG se bestaande fooiestruktuur vir die uitsending vergoed word.” Dit sal seker nie so baie soos die kroonprys van R35.000,00 (2017) wees nie, maar… ja. Jy weet wat gaan vir wat.

En nou dat ons oor tantième praat: In die dae van Apartheid, lees ek by Vaandel ( http://vaandel.co.za/afrikaanse-skrywers-in-die-laaste-loopgraaf/ ), was die lewe van die Sestigers nog beter daaraan toe:

Min mense is seker bewus daarvan, maar skrywers soos Barnard, Brink,  Breytenbach, Abraham de Vries, Ettienne van Heerden, Elsa Joubert, Jan Rabie, ens., ens., het in die dae van die gehate apartheid, heerlik op die vette van die aarde geleef, want hulle pennevruggies is klokslag deur die Departement van Onderwys voorgeskryf en letterlik honderde duisende eksemplare is verkoop. Ons weet van sommige skrywers wie se tantième ‘n miloen rand of meer beloop het.

Daardie voorreg is natuurlik vandag nou weg… of wag, nie heeltemal nie. Skole en universiteite skryf stééds boeke voor. Maar Afrikaans is net nie meer ‘n pligvak om tot die staatsdiens toe te tree nie, en dus is die boeke op aanvraag minder. Oor die tantième, skryf die kinder- en jeugboekskrywer, Martie Preller, immers in haar boek, “Eendag was daar ‘n storie” (2003:69), die volgende:

“Hoekom wil jy skryf?

Tydskrifverhale betaal nie te sleg nie: ‘n paar honderd rand per storie.

Boeke: Jy kry ongeveer 15% van die prys waarteen die uitgewer die boek aan boekwinkels, ensovoorts verkoop, en jy ontvang jou outeursaandeel slegs op die boeke wat reeds verkoop is.

Die oplae wissel. Van kinder- en jeugboeke word daar omtrent 2 000 per oplaag gedruk. Dus, indien al die eksemplare uitverkoop, sê nou maar oor ‘n tydperk van twee jaar (as jy gelukkig is), kry jy sowat R6 000 tot R8 000 vir baie maande se baie harde werk.”*

[* Preller se boeke is meestal deur Tafelberg uitgegee, en sedert 2004 vernaamlik by die kinderboekhemel, LAPA. Soos ek verneem het word tot onder R2.000,00 per tydskrifkortverhaal deesdae aangebied. Ag, kom ek wees reguit: “Huisgenoot” het in November 2016 die bedrag R1.950,00 aangebied per skrywe.  Hierso (https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Vir-die-lekker/wil-jy-jou-kortverhaal-vir-huisgenoot-stuur-20170528 ). Preller se vervolgverhale het egter meestal in ‘Vrouekeur’ verskyn, getiteld “Jamie en Sebastian”.  Ook neem digitale verspreiders soos Google Play en Amazon net ‘n gedeelte van die verkoopgeld; die res kry die uitgewer/skrywer/selfpubliseerder.]

Aan die ander kant: niemand kan jou werk so goed aan die publiek OPDRING soos die ‘regte’ uitgewers nie. Ons is ook bekend met aggressiewe bemarkingstegnieke wat nie meer by 2003 pas nie. Maar onthou tog: skryfkompetisies is soos inkleurkompetisies – daar kan net een (of ‘n paar…) wenner(s) wees. Of gaan jy nou jou ego laat knou juis as jou talent nie raakgesien word deur die gepeupelpers nie? Waarom nog die moeite doen?

Maar hoe groter die prysgeld wat aangebied word, hoe meer BEHOORT mens mos in te skryf? Dis tog vir Afrikaans… en jou CV… en die geld.

Voorraad

Toe ek nou die dag ‘n middagvervolgverhaal luister, veral teen die einde, voel ek krapperig. Die dialoog verloop soos twee lam vlieë om ‘n oopgebarste, oopbek vy met die rooigeel sug wat al by die mondhoek afloop, of twee bye smoordronk in ‘n bierblik. Heel passend seker by die warm, droë middag hier onder in die Wes-Kaap. Was die toon maar so opgewek en lewenslustig soos Februarie-miere! Kom ek stel dit so: woordoortolligheid wat gehiernatoe en gesoontoe word is gewoonlik wanneer die dramaturg nie weet hoe om ‘n tussenepisode te vul nie.

In my lewe blaf mense opdragte van vyf woorde. En dit word gedoen. Dit bespoedig die lewensintrige. Maar toe die karakter na ‘n gedraal soos ‘n tollende halfdood vlieg in die vensterbank sê die vrou “hoef nie [haar] virginity te verloor” om uit te vind waarmee die Sjinees by die hawe hom ophou nie, was ek net teë. Dit was oorbodig.

Kyk, my eerste smokkelverhaal wat ek as kind gelees het was “Pokkel wil smokkel” (Human & Rousseau), die vertaling van “Mudge the Smuggler”. En dit was snaaks. Jy het Ouma Raaswater, Pokkel wat wil smokkel, en die Gereg. Maar dan bots die Langarm van die Gereg met die smokkelaars, en… die familie word herenig! Ouma Raaswater en die Langarm van die Gereg (met die sewe vingers!) is toe heeltyd lang verlore familie. En ‘n moerse opskop en reünie word gehou. Min het ek as kind geweet hierdie “snaaks” sou later in die werklike lewe die norm word!

Daarna het ek geweet wat kom van smokkel-, strooptog- en soortgelyke verhale. Avontuur, empatie, woede, vir die leek. Net nog ‘n doodgewone dag, vir die doodgewone polisieman. As mens met hierdie insig na die biblioteekrakke kyk, lyk dit eerder of die aanbod die aanvraag oorskry, of nie?

Maar nou die “virginity”-ding. Ek weet wat ‘n virgin is. My skoolmaat het trouens gespog dat hy ‘n virgin is. Hy het ‘n Virgin-geldkaart, ‘n Virgin-selfoonpakket, dalk selfs die boek van Richard Branson: “Losing my virginity” (2005). Of hy nou vlieg met Virgin Atlantic en gaan trap die pedale by Virgin Active en voorheen Virgin Interactive rekenaarspeletjies gespeel het, weet ek nou nie. Hy kook seker vandag met ‘Extra Virgin Oil’ (olie van die eerste persing).

Nou sien, dialoog soos: “Ek het sommer my Sony in die see gegooi… en hy’s waterbestand!” word nie gebruik in dramatekste nie. Nou waarom móét Richard Branson se koninkryk, die “virginity”, by jou huis ingedra word? Dis onnodig. Regtig waar. Veral nie voor sensitiewe kooplus kinderore nie.

Toe het ek gewonder. Moet mens nie radio’s toegooi met verhale nie? Verhale wat jý wil hoor nie? Skryf moet jy skryf. Sonder ophou. Hulle moet voorraad hê tot 2030. 2050. Die Afrikaanse radio moet jou ywer beloon met ‘n briefie van dank. Daarna volg: “Ons het u werk ontvang”. Drie maande later: “Dit spyt ons om u mee te deel: ons voorraad is vol. Ons trek al by 2114.” Vyf maande later: “As u nie nou ophou nie, laat u ons geen keuse om die tekste deur die snippermasjien te jaag nie.” Sewe maande later: prokureursbrief in die pos. Interdik: Pespos.

Gaaf, dan teiken ons die volgende radiostasie. Afrikaans vooruit!

PRAAG se potensiaal en teenkanting

PRAAG kon seker al ‘n onafhanklike privaatdrukkershuis op sy eie geword het wat op groot skaal boeke uitgee en druk. Hier in die Wes-Kaap is mens bekend met privaatuitgewers soos byvoorbeeld Hemel en See Uitgewers (Hermanus), Boekemakranka (Kleinmond, met hul skenk-‘n-manuskrip-vir-sopkombuis), Hartbees Uitgewers (Swellendam, deernisvolle grootdrukfiksie veral vir swaarsiende oumensies) en Ateljee Uitgewers (Oudtshoorn).

Die vraag is nou net waarin sou PRAAG kon spesialiseer? Antikommunistiese (nie)fiksie? Ek bedoel, as Taurus (Emmarentia/Johannesburg/Bramley) destyds om sy ‘alternatiewe denke’ kon oorleef en in die biblioteke beskikbaar was…

Twaalf mense sou byvoorbeeld gelyktydig aan “Le livre noir du communisme” (1997) kon saamwerk [nadat toestemming by Robert Laffont verkry is]. 846 bladsye word deur ‘n swerm bye toegetakel. Gratis, verniet, sonder betaling – die bietjie wat Frans ken (of nog aan die leer is). Dit gaan mos om die liefde van die saak in die vrye tyd – die bietjie geld wat PRAAG sou maak met “Die swartboek van die kommunisme” (2019 tot 2022?) sou nie te veel kon wees nie. Deesdae met linguee.nl en context.reverso.com is vertaling nie meer ‘n kuns nie en die gebrek aan goeie Afrikaans/Nederlands/Duits-Franse woordeboeke geen hinderpaal nie. Die projekleiers lees die vertalings deur, snuffel hier en daar ‘n vertaalfoutjie uit. En PRAAG lewer sy grootste (dikste) boek nog. Want heel toevallig is die projekleiers gesout in Frans en Kommunistiese dialektiek.

Wat kry die vertalers in ruil daarvoor? ‘n Boektitel wat op hul CV as medewerkers gelys kan word. Die beroemde veeltalige Ier, Benny Lewis, skryf juis: as jy ‘n goeie reputasie as vertaler wil opbou, moet jou eerste boeke so te sê kosteloos gedoen word. As stokperdjie. (Die teenvraag is weer of PRAAG nie juis die beste vertalers wil gebruik om hul aansien te verhoog nie). Solank daardie CV van jou net nooit die Nasperstakke en -kantore bereik nie.

A, dit bring my by die volgende onderwerp: die vendettas.

Want nou wonder ek klaar weer watter verskoning die Wes-Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens gaan uitdink om NIE ‘n boek deur PRAAG aan te koop nie.

Glo my, ek het op menig sulke commendatii afgekom, soos [en let op die skryftrant]:

* “Een jaar”, deur Jean Echenoz: “4. Geen titels van die skrywer i/v nie. Engelse titel ONE YEAR is afgewys by MEA 021205. 5. Leesbaar. Klein publikasie. Ek dink ons kan maar los.”

* “Kontrei”, deur Kleinboer: “(Rapportresensie) Sien bostaande resensie. 5. Baie eksplisiet. Sal egter moet aankoop, aangesien daar ‘n aanvraag gaan wees.”

* “Kreeftegang” deur Günter Grass: “Baie leesbaar. 3. Vir lesers wat hou van ‘n storie met ‘n historiese inslag. Oorweeg ‘n paar kopiee.*” [*Net ‘n paar? Vir internasionale, bekroonde literatuur vertaal in Afrikaans?]

* “Negrologie” deur Stephen Smith: “(Resensie in Die Burger) 2). Sien bostaande resensie. 5). Ongunstige resensie. Los eerder.”

* “Ope brief aan Willem de Klerk”: “Klein, dun publikasie uitgegee deur Praag. Skrywer rig ‘n brief aan dr Willem de Klerk waarin hy sy misnoee teenoor hom as persoon uitspreek, maar bowenal sy misnoee oor die lot van die wit Afrikaner man. 5. Baie klein boekie. Ek dink ons kan iets meer breedvoerig oor hierdie onderwerp kry. Los.”

* The scourge of the ANC and Afrikaner survival under black rule: two essays. “(Resensie in Sunday Times volg): 1) The author has a PH.D from Wits University and a D.E.A. from Paris University 2) Comprises two essays THE SCOURGE OF THE ANC and AFRIKANER SURVIVAL UNDER BLACK RULE. He pumps out hatred of everything in the New South AFrica, referring throughout to the ANC as an ‘erstwhile terrorist group’ referring to Mbeki as an ‘uitlander’ an African terrorist and schemer, who sometimes acts like a subject of Britain. He envisages the future of South AFrica as being similar to that of Zimbabwe. 4) Two previous titles in stock: 183, 11 5) Polemical writings which pour out tirades of hatred against the ANC especially ANC ‘uitlanders’ who came back after 1994. Some of his other targets are F.W. de Klerk and Roelf Meyer for selling out to the ANC, Britain, Mugabe and black governments in neighbouring countries. There has been negative publicity about the book and the author. Consider/perhaps leave.”

Soos u kan sien is die pers dus die maatstaaf. Baie dankie, nou weet ons dit ook. En tog is sekere boeke van PRAAG aanbeveel, soos ‘Aweregs’, ‘Moltrein’, ‘Om die Waarheidskommissie te vergeet’ en die twee dramatekste van George Weideman en Nico Luwes.

So wat kan ons verwag vir “Die swartboek van die kommunisme”? Ek kan my dit klaar voorstel:

* “Die swartboek van die kommunisme” deur Stéphane Courtois, et al.: “(Ongunstige resensie deur politieke ontleder van Stalinbos, raai net wie?, in die bloedrooi Burger) 1. Kicking a dead horse. 2. Ou koeie uit die sloot haal. 3. Kommunisme is dood. 4. Te dik. 5. Te moeilik; te akademies*. 6. Los eerder.”

[*Ek lieg nie: voor die uitreik van die gelyknamige rolprent is die boek, ‘A Beautiful Mind’ deur Sylvia Nasar, deur die Wes-Kaapse Biblioteekdiens so gekeur: “Looks quite heavy going and interest would be fairly limited. In view of limited funds, leave unless there is clear indication of demand. “]

As Vlaandere daardie antikommunistiese boek op sy rakke het [in Hollands!], seer sekerlik moet Suid-Afrika dit ook hê. Ek kry soms die indruk PRAAG (Dainfern) en Vaandel (Mosselbaai) word êrens op ‘n rooilys bygehou. Word die uitgewer op die stelsel ingetik, loei die lugsirenes. Die Derde Wêreldoorlog het aangebreek.

Maar, kom ons laat hierdie Vendettagedagte gou opsy. Die beer is nog nie eens geskiet nie. Die broodjies nog nie gebak nie. Die kuikens nog nie uitgebroei nie. Ons ly aan hierdie kant van die spektrum mos nie aan paranoia nie. Om billikheidsredes vra ek my net af: waar is die Engelse weergawe, “The black book of communism”, op die dorps- en stadsbiblioteekrakke? Jy kry daardie boek eerder op ‘n paar universiteite se verlate biblioteekrakke, dik onder die stof toegepak. Dis asof die hele Europa se Marxistiese stof wat in die laat-1990’s oor hierdie boek opgewalm het ongesiens by Suid-Afrika verbygegaan het. Amper soos Tsjernobyl se materie van die laat-1980’s wat ons eenvoudig nie geraak het nie. En tog, kyk mens na Goodreads se leserskommentaar, wat hierdie boek hoog aanprys, skryf een kommentator in hierdie jaar, 2018, nog: die boek behoort in elke klaskamer en universiteit te wees.

Op soortgelyke wyse kan mens vra: om watter rede is Vaandel se onderhoud (1997) met Wit Wolf Barend Strydom nie eintlik op die provinsiale biblioteekrakke nie, maar “What if there were no Whites in South Africa?” (2015) deur Ferial Haffajee, ruim in elke “lae-inkomstebehuisingskema” (vir die ouer garde: “lokasie”) -biblioteek in die Wes-Kaap? Uit die 56 van laasgenoemde boeke is daar met die dag van my skrywe van hierdie brief, 1 Februarie 2018, nie ‘n enkele kopie uitgeneem nie. Tssk!

Ek probeer dus nou net kleinkry watter een van hierdie twee boeke dus die meeste historiese waarde het. Ek is seker selfs die kommunistiesste man of vrou sou skietgoed in Strydom se woorde wou soek (teen hom). Hoe doen ‘n mens ‘n skool- of universiteitstaak oor die Wit Wolwe sonder ‘n ordentlike onderhoud? Dink maar aan mondelingstukke, Apartheidstake, ens. ens. ens.? Hoe moet die arme kind nou goeie joernalistiek leer? En empiriese navorsing?

Maar soos die boekkeurders van die provinsiale biblioteke self hul vooroordele oor die Barend Strydomboek uitspreek:  “1. Skrywer is ‘n berugte regse. 2. Boek waarin Strydom sy dade regverdig deur politieke gebeure en insidente uit sy oogpunt te bespreek. 5. Taamlik opruiende regse geskrif. Net vir aanvrae.”

Gelukkig is daar diegene wat hul boeke skenk aan die provinsiale biblioteke. Die biblioteke weier skenkersboeke selde, tensy rakruimte beperk is; die boeke word dus wel op ‘n manier opgeneem in die stelsel. Daar is dus altyd ‘n gaatjie in die burokrasie.

Ek het al gewonder of dit in PRAAG se guns sou tel as hy hom meer sou oopstel vir manuskripte. Miskien ‘n blad êrens oprig wat net uitlig wie, wat, waar en hoe gemaak moet word. Daar is hoeveel skrywers wat nou nie aan die “standaarde”, of “kader”,”kriteria”, “raamwerk” van die hoofstroomuitgewers voldoen nie. “Raamwerk” wat min of meer lyk soos ek nou weer van die Vaandelblad hierbo moet aanhaal:

“Miskien het die uitgewers in ’94 so deur die euforie en dronkenskap oor apartyheid se dood, ‘n angsdroom gehad dat hulle stem vir die ANC ook ‘n stem was vir die wurgtou om die strot van die eens florende Afrikaanse boek! En dat hulle hom in sy laaste loopgraaf moet gaan bewapen. Want nog skaars het Madiba die politieke mag oorgeneem, of ek en my vrou ontvang uit die bloute besoek van een van die land se bekende uitgewers, en ons verneem by hulle van die nuwe skrywersprojek wat beplan word.”

“In kort kom dit daarop neer dat hulle in die toekoms populêre romans wou publiseer met temas waarin die veragtelike kleurskeiding geen rol sal speel nie; m.a.w. die hooftema moes wees ‘n liefdesverhouding tussen swart en wit. Toe ons dit summier van die hand wys, is aan ons gesê dat hierdie mark braak lê en skrywers baie groot geld kan verdien. Ons het egter voet by stuk gehou, en dit was toe ook die einde van ‘n meer as 20 jaarlange verbintenis met hulle.”

“Met verloop tyd is daar in die media berig dat Afrikaanse uitgewers begin noustrop trek; sommige moes noodgedwonge saamgesmelt om te oorleef en ander het net eenvoudig in die niet verdwyn. Skrywers wat gedigte en kortverhale wil publiseer, moet nou self daarvoor betaal.”

“Later het ons ook verneem dat die glansende reënboog-“skrywersprojek” ‘n totale mislukking was – die gemiddelde blanke Afrikaanse leser wou eenvoudig net nie aan hierdie ‘gruwel’ byt nie. Dit het daartoe gelei dat uitgewers derduisende rande verloor met boeke wat op die rak bly staan het, of verpulp moes word.”

Oeps.

Nou terwyl Vaandel hom staal vir die religie, kerksake, volksvyande en die eindtyd, kan PRAAG hom mos beywer vir ‘n wêreld sonder Marxisme, monisme of enige polities-korrekte (nie)fiksie. Dus, meer filosofies ingesteld. Of juis ligte, hekelende satires. Die uitgewer weet mos wanneer om HALT! te roep. Of beleefd op die manuskrip te skryf: ”Oulik, maar jy beweeg op dun ys!”. So vul die een uitgewer die ander een net aan – ons het mos gemeenskaplike… doelwitte.

Teenoor die hoofstroom kan die ALTERNATIEWE MEDIA dus groei. Dalk is so iets in die verlede al gedoen, ek hoor met graagte die repliek aan.

Slotsom

Wie melk eintlik vir wie?

Wie grawe grafte vir wie?

  1. Skryf mens vir die hoofstroom, probeer jy Afrikaans vir die menigte bevorder. En in die proses kan mens miskien ‘n paar sent melk [wat dan by veel nuttiger oorde ingepomp kan word?] uit die uitgewer-ysterkoei. Nee, Oom Breyten, die Ysterkoei moenie sweet nie, hy moet gemelk word. Leeggemelk word. En die uiers afgerim word. Die Ysterkoei moet bloei!

Gewoonlik gaan die groot gros wins egter na die uitgewer self. Dus, slegs ‘n paar druppels melk en ‘n brommer as meevaller in die skrywer se emmer. Maar melk bly melk. Nou ja, kompetisies is ‘n ander saak – geld kies nie wie sy baas is nie. Maar die nuwe baas kies seker wat hy met die prysgeld wil maak? Maar daardie geld moet tog êrens vandaan kom… jaargeld? Rentegeld? Van lede wat van vroeg tot laat hul hande deurwerk? Ag, nou ja. Soos my tannie een koue oggend in Gansbaai gesê het toe sy haar trui tuis vergeet het (en ek myne vir haar aangebied het): “Nee! Wie dom is moet k@k!”

  1. Skryf mens vir die hoofstroom, poleer jy eintlik die beeld van organisasies wat die Afrikanerdom en sy tradisies waarskynlik, nee, ooglopend probeer vernietig. Hulle ry tog op jou goeie naam, idees en skeppingsgees. En in die proses voer jy die draak dik.
  2. Skryf jy net mooi niks nie, word die status quo behou. Afrikaans bly waar hy is. Stagneer.
  3. Skryf jy vir PRAAG en ander uitgewers, of selfpubliseer, het jy “die verkeerde kanale gevolg” om dit eufemisties te stel. Jy en jou werk word op ‘n spreekwoordelike swartlys geplaas – [1. weens die min geld vir bemarking; 2. “Jy’s nie een van ons nie”] – en jy kan vergeet dat die deursnit Afrikaanssprekende dit sal lees of van weet. Gewoonlik is sulke boeke juis vir ‘n nismark geskryf. Behalwe as die hoofstroom doelbewus jou naam wil krater maak. Maar, opbouende resensies of nie – dis die advertensies wat die geld en die tonge laat rol.

Laat ons egter nie vergeet wat met Libanon-Uitgewers gebeur het nie. Adriaan Snyman se huis is teen die aanvang van die millennium heel melodramaties deur swaargewapende polisielede met ‘n lasbrief deursoek – amper soos mens met ‘n voortvlugtende terroris sou maak. Snyman se boeke en ander materiaal sou glo as die bron vir die Boeremag se ideologie gedien het. Om dit alles te kroon het Libanon-uitgewers daardie jare, veral 1997, ook deurgeloop weens ‘n ander hofsaak teen die boek “Volksverraad: die geskiedenis agter die geskiedenis” deur advokaat Pretorius. Soos Vaandel-Uitgewers self stel: “Die hofuitspraak was ten gunste van Hartzenberg nadat slegs één kant van die saak aangehoor is en adv. Pretorius nie onder kruisverhoor geneem is óf getuies gelei het nie.”

Geen uitgewer, al is hy hoe versigtig, is teen sulke aanslae gewaarborg nie. Vir groot uitgewers is ‘n hofsaak soos hierdie ‘n nietigheidjie. Wat daarvan? Ons het derduisende ander boeke uitgegee; hierdie enetjie was maar ‘n ou “glipsie”. Vir privaatuitgewers beteken ‘n hofsaak soos hierdie ‘n gewisse dood. Dus, groot uitgewers kan vliegtuie neerskiet soos hulle wil, die kleintjies mag ONDER GEEN OMSTANDIGHEDE in juffrou se klas piepie nie.

  1. Skryf jy vir PRAAG en ander uitgewers, of selfpubliseer, steun jy die uitgewers wat iets vir die volk wil doen. Hierdie skryfwerk gaan dan dikwels nie met winsbejag gepaard nie. Jy weet mos die oplaag is gewoonlik laer en daarom die prys per boek duurder. Jy weet waarvoor jy jou inlaat. E-boeke kan wel die verspreidingsprobleem en ‘drukkoste’ vergemaklik, want boeke bly lomp, ontoeganklike bundels papier.
  2. Die ander opsie waaraan ek gedink het is om heeltemal weg te breek en jou eie ding te doen. Jou naam word nie aan die werk gekoppel nie, jy maak geen wins of kry geen geld nie, maar die noodsaaklike euwel, genaamd Google, werk tog onbewustelik ten goede mee wanneer die mense daarbuite in Afrikaans sekere soekwoorde intik. En toevallig op jou vertalings afkom. Ek bedoel nou plekke soos Wikisource waar mens horingou boeke uit 1740 kan vertaal in Afrikaans. En dan heeltemal gratis en vry kan plaas op die web om te lees. Dis gewoonlik boeke met min verkoopswaarde, maar tog hoë akademiese waarde. Dis ook onmiddellik en kostevry beskikbaar. Werke soos hierdie sou in elk geval nie deur die hoofstroom vertaal word nie – want wie gaan dit koop? Of dit nou geskryf is deur die siniese Voltaire of die dromerige Jean-Jacques Rousseau [elkeen op hul beurt het die Marxisme beïnvloed], die hoofstroom stel nie daarin belang nie. En daarom die mense ook nie. As hulle maar weet hoe Voltaire vir Rousseau uitmekaar geskeur het met sy giftige kommentaar… Daar is ook die briewe van Denis Diderot aan Koningin Katharina II wat die hele onderwysstelsel van Rusland van destyds hervorm het. Dis van sulke tekste waarvan ek praat. Sulke tekste is belangrik vir die kritiese leser.

Die nadeel hieraan weer is onlangse boeke in buitelandse tale wat dringender in Afrikaans vertaal moet word, met die taal en skrywers wat gelukkig wel “nader” aan ons tyd is. Ek praat nie soseer van “The Hobbit” (1937) wat jy binnekort in Afrikaans kan kry nie [eintlik dink ek ons het te veel droomwerk en te min dinkwerk in Afrikaans]. Ek praat van niefiksie. Daarvoor het mens ‘n gewillige uitgewer nodig wat die lisensies kan reël. Dit stuur jou terug na punt 4 en 5. ‘n Gewillige uitgewer het egter ook gewillige medewerkers nodig.

  1. Nog ‘n opsie is “fanfiction”. Maar dit is werklik jou laaste opsie. Deesdae is daar heelwat webblaaie waar mens jou wildste fantasieë oor ‘n TV-reeks of rolprent kan plaas. In jou moedertaal. Veral as jy Trinity in haar swart skwiek-skwiek PVC-jas stomend in die telefoonhokkie witwarm wil vry. Voor die telefoonklingel. Of Oreo-koekies vir Simba wil voer [of ‘n rustige aand na die sterre saamkyk in kinderlike onskuld; sy donssagte dik leeupens as kopkussing]. Of in louwarm pasta rondswem saam met die eerbare Skoppensboer van PRAAG en politiek praat! Of jy kan ‘n ondeunde parodie van 7de Laan maak. Niemand sal ‘n traan daaroor stort nie – behalwe van die lag. Jy kry natuurlik geen geld daarvoor nie [anders is dit kopieregskending…], maar jy skryf in Afrikaans. Dis mos al wat tel? Toe nou, dis mos vir die grap? Heerlike wraak op ander se powere verbeelding, my skat.

En daarmee sluit ek my vraagstukke af waarmee ek die brief begin het:

  1. Is dit geoorloof om aan kompetisies deel te neem van die hoofstroommedia of ander organisasies as jy die geld kan benut vir jou eie saak, agenda of ander belangegroepe s’n? Geld vra immers nie hoe dit uitgegee moet word nie.
  2. Is dit beter om eerder onafhanklik ‘n pad vir Afrikaans op die web oop te veg, ‘n Eenman-Kruisvaart te onderneem, of is jy dislojaal teenoor ander belangegroepe? Of moet jy albei doen en ondersteun?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.