Leon Lemmer: Besinning oor nasionalisme en nasiestate

‘n Nasie, volgens die HAT, is ‘n groep enkelinge wat tot dieselfde staat behoort. Hiervolgens is ‘n nasie niks anders nie as die bevolking van ‘n land, dus van ‘n staatkundig-geografiese gebied. Nasionaliteit is die hoedanigheid om aan ‘n nasie/land te behoort. Nasionaliseer is om van private besit staatseiendom te maak. Die nasionalisering van die eiendom van blankes, bv plase, is hoog op die agenda van die ANC. Maar nasiebou is ook deel van die ANC-agenda. Dit toon dat bevolking en nasie nie sinonieme is nie. Suid-Afrika het ‘n bevolking maar is (nog) nie ‘n nasie nie. ‘n Nasie is ‘n bevolking wat in veel groter mate as die van Suid-Afrika kultureel homogeen is. Die kultuur van die blankes, bruin mense en Asiate verskil onderling aansienlik en ook van dié van swart mense. Plaaslik word kulturele homogeniteit verder afgebreek weens die ongebreidelde invloei van dese en gene as (onwettige) immigrante.

Die fundamentele verskil tussen ‘n nasie en ‘n bevolking word duideliker as die terme nasionalisme en nasiestaat betrek word. “Nationalism … the belief in, and feeling of belonging to, a people united by common historical, linguistic and perhaps ‘racial’ or religious ties, where this people is identified with a particular territory and either constitutes a nation state or has aspirations to do so … Nationalism [is] a way of securing … political coherence and political autonomy … Nationalism also came to represent the aspirations of peoples for self-determination” (Collins dictionary of sociology, 1991, p 416-417). “Nation state … the modern form of state, possessing clearly defined borders, in which the boundaries of state and society tend to be coextensive, ie the territorial claims of the state typically correspond with cultural, linguistic and ethnic divisions” (417-418).

Dalene Müller skryf: “‘n Nasie kan uit verskillende volke bestaan” (Skryf Afrikaans van A tot Z, Kaapstad: Pharos, 2007, p 152). Nasie word dus deur haar as ‘n sinoniem vir die bevolking beskou. Een van die betekenisse van volk is: “Groep mense wat deur eenheid van taal en historiese ontwikkeling ‘n duidelike besef van samehorigheid besit” (HAT). Daar word dikwels beweer dat samehorigheid nie kenmerkend van die Afrikanerdom is nie; eerder wederstrewigheid. Maar daar is (ten minste potensieel) ‘n sterk kulturele band tussen Afrikaners wat betref geskiedenis, taal, godsdiens, gebruike, leefwyse, ens. In daardie sin is daar ‘n Afrikanervolk wat ‘n voortreflike nasie in ‘n eie nasiestaat of tuisland kan wees.

Soms word gesê nasionalisme en sy resultaat, nasiestate, het in Europa met die vereniging van Italië (1861) en Duitsland (1871) begin en het uit die Franse Revolusie (1789) voortgevloei. Nasionalisme in die vorm van nasiestate is voortgesit nadat die Habsburg- (1918) en die Ottoman-ryk (1920) verbrokkel het. Hierdie nasiestate het in die 20ste eeu as model gedien vir die dekolonisering van Asia en Afrika, hoewel daar in daardie oudkolonies dikwels minder sprake van kulturele homogeniteit as in Europa was. Byvoorbeeld, die Indiese subkontinent is in vier lande verdeel: Indië (1947), Pakistan (1947), Sri Lanka (1948) en Bangladesj (1971). “In many of the states of Africa and Asia there are a large number of nationalities with a distinct language and culture” (The Penguin dictionary of Third World terms, 1993, p 210). Daardie lande kan dus kwalik nasiestate genoem word.

Die beste voorbeelde van nuwe Europese nasiestate is moontlik die Balkan-lande wat na die verbrokkeling van die Sowjetunie en gevolglik ook Joego-Slawië onafhanklik geword het. Die vermeerdering in die getal polities onafhanklike lande het ‘n groter behoefte aan internasionale koördinering geskep, vandaar die stigting van die Volkebond (1920), die Verenigde Nasies (1945) en nog later bv die Europese Unie. Pan-nasionalisme, by uitstek swart nasionalisme, veroorsaak dat die ANC-regering op ‘n dwase manier soms voorkeur aan kontinentale (dus Afrika-) belange bo dié van Suid-Afrika gee, bv die beoogde afskaffing van landsgrense.

Kofi Buenor Hadjor, ‘n Ghanees, is die outeur van laasgenoemde woordeboek. Hadjor “argues that black nationalism is a response to racial discrimination, while white nationalism is the expression of white supremacy” (“White nationalism”, Wikipedia). “The rights of the privileged minority in South Africa cannot be equated with the rights of the oppressed majority. As in all cases of self-determination it is for the majority to decide how they exercise their rights” (210). Dit pas die pro-swart Hadjor om suiwer kwantitatief te dink. Maar dit is ook die grondslag waarop FW de Klerk blankes tot politieke kastrasie onderhandel het. Waartoe is die ANC-maghebbers geneig? “To retain power the representatives of ruling nationalities are often tempted to discriminate against those nationalities that are excluded from influence” (210).

Hadjor het sy teks voor 1994 geskryf. Met die oog op ‘n blanke of Afrikaner-volkstaat is die volgende van belang: “There is little point in artificially fabricating a national identity for those who identify themselves differently …It is not possible to overcome the attachment of people to their specific culture and language. It is far better to provide a framework where every nationality can pursue its life in the way it chooses … Minorities should be allocated positions of influence so that they develop a stake in the new system” (211). Die ANC doen presies die teenoorgestelde. Hy vervreem die blankes en veral die Afrikaners met blatante rassediskriminasie en allerhande strafmaatreëls; selfs die diefstal van plase sonder vergoeding word in die vooruitsig gestel.

“Where a particular region or nationality is determined to separate … it is preferable to allow the nationality to gain autonomy rather than risk permanent conflict” (211). Maar dan moet Afrikaners die moed van oortuiging hê om op ‘n nasiestaat of ten minste selfbeskikking aan te dring. FW de Klerk het die aanvanklike ideaal van federalisme laat vaar, toe sonder meer toegegee aan die ANC se eis vir ‘n eenheidstaat en terselfdertyd geweier om Afrikaners se reg op ‘n nasiestaat/tuisland te erken. Die blanke regering het tuislande aan die swartes gegun, maar die swartes gun nie tuislande aan die blankes of Afrikaners of enige ander minderheidsgroep nie en De Klerk stem hiermee saam.

“Nationalism: ideology that seeks to unify or create a nation, usually based on a common geographic, ethnic, linguistic, cultural, or historical identity. Nationalism assumes the right of self-determination, free of outside influence, and usually implies the existence of a nation-state with full international sovereignty” (Chris Rohmann, The dictionary of important ideas and thinkers, London: Arrow Books, 2002, p 271). Dit is duidelik dat blankes, veral Afrikaners, kwalik deel van die hedendaagse sogenaamde Suid-Afrikaanse nasie in wording kan wees. Daarvoor verskil ons kultureel te veel van veral die swart meerderheid. Dit is egter nie (noodwendig) op grond van ‘n gevoel van meerderwaardigheid soos dikwels kwaadwillig beweer word nie. Dit is eerder gegrond op ‘n sterk gevoel van kulturele andersheid; dus van wat volkseie is en nie verwater kan of behoort te word nie. Die idee van die gelykheid van almal is ‘n kernelement van kulturele marxisme wat tot dogma verhef is. Vandaar gelyke stemreg wat neig om in die praktyk die enigste werklike gelykheid te wees en daarom verwerp behoort te word.

Afrikaners dink, handel en leef opmerklik anders as swart mense. Afgesien van die verraad in 1990/94 is dit Afrikaners se fundamentele kulturele andersheid wat ons voortgesette patriotisme/vaderlandsliefde deesdae kortwiek; selfs onmoontlik maak. Ons was gewoond aan ‘n samelewing gebou op Europese waardes, wat doeltreffend bestuur is, waar wet en orde gehandhaaf is en waar daar finansiële dissipline (en nie korrupsie en rommelstatus nie) was. Nasionalisme het ‘n emosionele, selfs romantiese, dimensie. “Patriotism is the personal side of nationalism, a feeling of pride, loyalty, and love for one’s nation” (272). Dít kan kwalik so ruimhartig wees dat volksvreemde en kultureel radikaal andersoortige bevolkingsgroepe sonder meer ingesluit word.

Benedict Anderson (1936-2015) se boek, Imagined communities; Reflections on the origin and spread of nationalism (London: Verso, 1983/2006, 265p; Amazon Kindle $14,69), word as ‘n baanbrekerswerk oor nasionalisme en nasiestate beskou. Die frase in die boektitel,”imagined communities,” impliseer nie dat nasies fiktief is nie. Dit verwys bloot na die feit dat daar so baie individue in ‘n nasie is dat ‘n lid slegs ‘n beperkte getal van hulle persoonlik kan ken en hy van die res min, indien enigiets, weet. Indirekte inligting en verbeelding is nodig om ‘n voorstelling van ‘n nasie in sy geheel te maak. Daarom meen Anderson dat nasies redelik onlangs ontstaan het, naamlik eers lank ná die uitvinding van die drukkuns in Europa in die middel van die 15de eeu.

Die drukkuns het ‘n hupstoot aan inligtingverspreiding gegee, maar daar was aanvanklik min gedrukte teks en ook min geletterdes sodat massa beïnvloeding langsaam plaasgevind het; eintlik eers nadat Latyn plek vir nasionale tale gemaak het. Dit beklemtoon weer eens die belangrike rol wat ‘n eie taal in nasievorming speel. Benedict Anderson skryf in sy outobiografie (bron hier onder, Kindle 2367): “To learn a language is not simply to learn a linguistic means of communication. It is also to learn the way of thinking and feeling of a people who speak and write a language which is different from ours. It is to learn the history and culture underlying their thoughts and emotions and so to learn to empathize with them.” Dit is seker(lik) een van die redes waarom die ANC-regering nie wil hê dat swart skoliere en studente deur die medium van Afrikaans moet studeer nie.

Volgens Anderson is ‘n lid van ‘n nasie geneig om sy nasie as anders as enige ander nasie te beskou. Daar is ook die neiging om emosioneel sterk betrokke by jou nasie te voel. Anderson verskil met die Eurosentriese uiteensetting hierbo deurdat hy dink dat lande in die Amerikas veral in die tydperk 1778 tot 1838 nasionale bewussyn, dus nasionalisme, ontwikkel het. Daarmee het die Amerikas navolgenswaardige voorbeelde aan nasiestate aan Europa gestel, asook wêreldwyd aan hierdie lande se kolonies tydens dekolonisasie.

Dit word algemeen erken dat Imagined communities ‘n moeilik leesbare boek is. Byvoorbeeld, die outeur dwaal glad te dikwels in systraatjies af. Gelukkig is daar sedert onlangs ‘n alternatief waarvan ek voorts gebruik maak, naamlik Anderson se outobiografie, A life beyond boundaries: A memoir (London: Verso, 2016, 215p; Amazon Kindle $18,37). Enersyds verwys die boektitel na die talle lande waarin Anderson gewoon het. Hy is in Kunming, China, gebore, met ‘n Ierse pa en ‘n Engelse ma. Daarna het hy in Amerika en Ierland gebly, in Engeland skoolgegaan (Eton) en voorgraads aan Cambridge University studeer. Sy doktorale proefskrif het hy in 1967 aan Cornell University (Ithaca, New York) voltooi en tot 2001 daar in die departement staatsleer doseer. As student en dosent het hy lang tydperke veldwerk in Suidoos-Asië gedoen, veral in Indonesië (1961-1972 en daarna vanaf 1999), Thailand (1974-1986) en die Fillipyne (vanaf 1988). Sy eerste liefde was Java, waar hy oorlede is.

Andersyds verwys die grenseloosheid in die boektitel na die talle akademiese dissiplines waarin Anderson gewerk of belanggestel het. Multi-dissiplinariteit (bv staatsleer, ekonomie, antropologie en geskiedenis) is noodsaaklik om sinvolle werk in areastudies, in hierdie geval Suidoos-Asiese studies (die gebied tussen Indië en China), te doen. ‘n Professor het aan Anderson gesê: “‘Ben, you are the only one among my friends and acquaintances who reads books unrelated to your own field.’ I took this as a great compliment” (2243). Anderson begeer vir homself en vir studente “a broad and general intellectual culture” (2260) – myns insiens heeltemal tereg. Dit is ook nodig om talle van die plaaslike tale te leer. In die geval van Java het Anderson die koloniale taal Nederlands geleer, asook Javaans en die amptelike landstaal Bahasa-Indonesies (‘n Maleise taal). “The state now frowned upon any contamination [of Bahasa-Indonesian] by other languages, including even Javanese” (2137). “You cross the language wall, and find yourself in another world” (1608). “I found myself becoming a kind of Indonesian (or Indonesian-Javanese) nationalist” (1394).

 

Vanweë Anderson se familie-agtergrond in Asië “I was attracted to … non-European anti-colonial nationalism” (325). Hy is uiters krities oor Britse kolonialisme en imperialisme, asook bv die Amerikaanse buitelandse beleid wat in Indonesië teen die al hoe meer kommunistiese Soekarno-bewind (1949-1966) gekant was en die anti-kommunistiese Soeharto-bewind (1966-1989) gesteun het, waartydens meer as ‘n halfmiljoen kommuniste, veral Chinese, gedood is (1091). Dit kan as volksmoord beskou word en is sedert die Tweede Wêreldoorlog een van sterkste besware teen nasionalisme en nasiestate. Nasionaliste word deesdae gou en maklik van fascisme beskuldig, maar so ‘n verwyt word nie teen swart nasionalisme geslinger nie. Internasionalisme – en daarmee saam identiteitloosheid – is nou in die mode, soos die kulturele marxiste dit wil hê. Anderson was ook sterk gekant teen die oorlog wat die Amerikaners teen die kommuniste in Vietnam gevoer het (1964-1975). Hy is glad nie ‘n tipiese Amerikaner met ‘n voorliefde vir vryheid en demokrasie nie. “I had always felt a strong political sympathy with anarchists” (2021).

 

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Indonesië deur die Japannese beset (1942-1945) en daarna het Soekarno suksesvol oorlog teen die Nederlandse koloniale owerheid gevoer (1945-1949). “The Dutch who had remained in Indonesia after independence were finally expelled at the end of 1957” (2088). Die blanke bewind in Suid-Afrika van 1910 tot 1994 was volgens ANC-aktiviste ‘n geval van ‘n andersoortige maar nogtans voortgesette kolonialisme. Is daar vir Suid-Afrika se blankes ook ‘n finale uitsetting in die vooruitsig?

 

Vir sy doktorale proefskrif het Anderson navorsing oor die verband tussen die Japannese besetting en die Indonesiese opstand teen kolonialisme gedoen (veral oor die tydperk 1944-1946). “It was high-ranking Japanese officers in Java who made the Revolution actual” (1067). “The top Japanese commanders had the time to provide secretly to the Indonesian revolutionaries 72 000 light arms, more than a million rounds of ammunition, many mortars and field artillery” (1075). In die geval van die Indonesiese revolusie was die wapens dus reeds in die land. In die geval van die Suid-Afrikaanse revolusie (1990-1994) is die terroriste toegelaat om hulle wapens die land in te bring.

 

Volgens Anderson het Indonesië “a proud popular nationalist tradition” (1188). Soos in die Fillipyne is daar in Indonesië veral onder die intelligensia “a growing anti-American nationalist sentiment” (1245). Maar ‘n mens moet in gedagte hou dat Anderson hom in hoofsaaklik linkse politieke geledere bevind het. Hy was pro-marxisties, al word daar gesê “no true Marxist could be a nationalist; Marxism had been committed from the start to internationalism” (1526). Oor die vergelykende politiek wat aan Amerikaanse universiteite doseer word, skryf Anderson dat dosente “tended to proceed, consciously or unconsciously, on the basis of the US example: one measured how far other countries were progressing in approximating America’s liberty, respect for law, economic development, democracy, etc” (1377). So ‘n benadering kan myns insiens maklik geregverdig word, want dit is sinvol om die bekende met die onbekende (of minder bekende) te vergelyk.

 

Anderson se eintlike probleem was dat selfs die uiters linksgesinde akademiese klimaat in Amerika vir hom nie links genoeg was nie. “There was often an openly stated Cold War objective behind this kind of theory. Namely, to prove that Marxism was fundamentally wrong! In its innocence, this kind of ‘look at me’ theory typically ignored such embarrassing things as the very high rates of murder and divorce in the US, its hugely disproportionate Black prison population, persistent illiteracy and significant levels of political corruption” (1386). Anderson verwys hier na Amerikaanse verskynsels wat nie naasteby so diskwalifiserend is soos die ekonomiese mislukking van kommunistiese lande nie. Wat die groot getal swartes in Amerikaanse tronke betref, word dikwels (soos in Suid-Afrika) beweer dat nie genoeg misdadigers lank genoeg toegesluit word nie.

 

Die boek Imagined communities is volgens Anderson ‘n poging om die Eurosentriese benadering tot nasionalisme teen te spreek. Hy verwys bv na die geval van Haïti en beweer die suksesvolle slawe-opstand in 1804 “could not be explained on any ‘ethic’ or linguistic basis” (1542). Dit is ‘n hoogs aanvegbare stelling. Die swart slawe het die Franse (dus blanke) koloniale bewind omvêr gewerp. Dwarsdeur die swart nasionalistiese literatuur word hierdie gebeure as die eerste voorbeeld van swart bevryding geloof en word swartes aangepor om elders dieselfde te doen. Wat egter meesal verswyg word, is dat Haïti meer as twee eeue ná bevryding steeds nie ‘n voorspoedige land is nie. Sy politieke geskiedenis is chaoties. Haïti is inderdaad een van die agterlikste lande in die wêreld; indien nie dié agterlikste nie. Dit is ongetwyfeld die armste land in die Amerikas en die hoofstad, Port-au-Prince, het die allerellendigste plakkersbuurte in die Karibiese streek.

 

Hedendaagse Europa word dikwels voorgehou as bestaande uit nasiestate, al word hierdie eens christelike lande deesdae kultureel met miljoene onwettige immigrante, insluitende baie onassimileerbare Moslems, vermurwe. Anderson vind sy tipiese nasiestate egter eerder in die historiese Amerikas. In Europa laat hy die klem op diversiteit val. “Southeast Asia was probably the closest parallel to Europe. It was diverse in terms of culture, language, ethnicity and religion. Its diversity was further magnified by the historical lack of a region-wide empire (which was associated with frequent political turmoil), and later by the colonial rule of various Western powers. It also resembled Europe in its openness to the outside world through trade” (2334). Maar Europa was desnieteenstaande, in navolging van die Amerikas, “the logical place for the birth of linguistic/ethnic nationalism, typically directed from below against despotic dynastic regimes” (2334). “Though European nationalism adopted key ideas from the Creole nationalism of the Americas, it was deeply affected by early-nineteenth-century Romanticism, which was foreign to its Creole predecessors” (2342).

 

In sy laaste anderhalf dekade het Anderson steeds nie marxisme afgesweer nie. Hy het eerder nasionalisme en nasiestate met internasionalisme verwater. “What is increasingly needed is a sophisticated and serious blending of the emancipatory possibilities of both nationalism and internationalism” (2424). “It was not until much later, in fact after I finally retired [2001], that I began to recognise the fundamental drawback of this type of comparison: that using the nation and nation-states as the basic units of analysis fatally ignored the obvious fact that in reality these units were tied together and crosscut by ‘global’ political-intellectual currents such as liberalism, fascism, communism and socialism, as well as vast religious networks and economic and technological forces. I had also to take seriously the reality that very few people have ever been ‘solely’ nationalist” (1567).

 

Dit is inderdaad so dat ‘n nasie en nasiestaat nie volkome afgeskei van ander nasies en nasiestate kan bestaan nie. Maar die eksterne verhoudinge moet nie ‘n nasie se kulturele en ander belange oordonder en sy selfbeskikking ondergrawe nie. Op ‘n soortgelyke manier moet die drie tradisioneel Afrikaanse kerkgenootskappe nie toelaat dat hulle bande met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die Wêreldraad van Kerke hulle in so ‘n mate beïnvloed dat hulle vir hulle tradisionele lidmate, die Afrikaners, onaanvaarbaar word nie.

 

Indonesië is ‘n staat bestaande uit 13 677 eilande uitgestrek oor 5 000 kilometer. Jakarta (voorheen Batavia), die hoofstad, is op Java. Madoera en Bali is aangrensende eilande. Al drie is geografies klein maar het groot bevolkings. Daar is drie groot eilande, Soematra, Kalimantan (Suid-Borneo) en Soelawesi (voorheen Celebes). Die ander groot eiland is Irian Jaya (Wes-Nieu-Guinee) in die verre ooste. Veralgemenend kan gesê word, hoe verder oos en hoe kleiner die eiland, hoe swakker is die owerheidsbeheer wat uit Jakarta uitgeoefen word. Die Paoea van Irian Jaya wil afskei en so ook die Aceh van Noord-Soematra in die verre weste. Jakarta het sy eertydse koloniale glans verloor. ‘n Uitstekende boek oor die huidige toedrag van sake is Andre Vltcheck se Indonesia: Archipelago of fear (2012, 288p; Amazon Kindle $21,08). Die punt is dat Indonesië die teenoorgestelde van ‘n nasiestaat is. ‘n Mate van eenheid word deur godsdiens (87% van die bevolking is Moslem) bewerkstellig en die enigste amptelike taal, Bahasa-Indonesies, word afgedwing maar is glad nie die algemene spreektaal in die land nie.

Daar is wel ‘n uitnemende nasiestaat in hierdie gebied, naamlik Oos-Timor, wat sedert onafhanklikheid in 2002 as Timor Lorosae bekend staan. Oos-Timor was ‘n Portugese kolonie wat in 1975 saam met ander kolonies, soos Angola en Mosambiek, aan hulle eie lot oorgelaat is. Indonesië het Oos-Timor toe 25 jaar lank beset, maar die plaaslike bevolking het dit nooit aanvaar nie. In 1999 het 78,5% van die kiesers ten gunste van onafhanklikheid van Indonesië gestem. Indonesië het toe sy besetting beëindig, maar nie sonder om groot skade aan die infrastruktuur aan te rig nie. ‘n Insiggewende boek hieroor is Lansell Taudevin se Half an island, twice a nation (2011, 280p; Amazon Kindle $5,70). Daar is ook Irena Cristalis se East Timor: A nation’s bitter dawn (2013, 369p; Amazon Kindle $39,84) maar hierdie boek is buitensporig duur, gevolglik het ek dit nog nie gelees nie. Daar is deurslaggewende kulturele verskille tussen Oos- en Wes-Timor. Oos-Timor was ‘n Portugese kolonie en die inwoners is oorwegend Rooms-Katoliek. Wes-Timor was ‘n Nederlandse kolonie en die inwoners is oorwegend protestant. Wat godsdiens betref is Timor die Ierland van die Ooste.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.