Dan Roodt: Afrikaanshaat is elke taalstryder se ‘rooi pil’

Die vervolging van mense wat Afrikaans praat deur die ANC-owerheid is deesdae op almal se lippe. Helaas heers daar kognitiewe dissonansie, want die verskillende spelers in die taaloorlog huldig onversoenbare sienswyses. Gewoonlik steur ek my nie aan wat konformistiese skrywers in die hoofstroommedia opdis nie. Onlangs was dit egter vir my amusant dat dr. Danny Titus van die ATKV op Netwerk 24 ‘n pleidooi lewer vir “dialoog” oor die kwynende status van Afrikaans, en hy bekla letterlik “ons geslote ore”. Helaas is dit beswaarlik die probleem.

Eerder het ons met sensuur te kampe, want nóg die maghebber wat slegs taalmoord op Afrikaans ten doel het, nóg die reste van die hensopper-Broederbond van weleer verdra enige werklike demokratiese debat.

Selfs die woord “demokrasie” het al in Suid-Afrika dieselfde Orwelliaanse geur aangeneem as in die voormalige Oos-Duitsland wat as die “Duitse Demokratiese Republiek” bekendgestaan het. Soos in die DDR beteken demokrasie en debat veral om jou klakkeloos by die heersende kulltuurmarxistiese ideologie neer te lê. As iemand wat marxisme met ‘n soplepel destyds by Wits ingekry het, salueer ek Titus se pragtige term “maatskaplike teenstrydighede”, so reg uit al die stowwerige marxistiese handboeke!

En, dít weet ons, maatskaplike teenstrydighede lei tot revolusie, volgens die suiwer leer van die Marxisme-Leninisme. Dog ek is tans meer bekommerd oor die logiese en semantiese teenstrydighede wat deesdae in die naam van ‘n Afrikaanse taaldebat gepleeg word. Dis nog erger as rooi na-apery; dit grens vir my aan waansin.

Om maar ‘n paar te noem: Hoewel Afrikaans sienderoë onderdruk word, kekkel sommige nog oor “veeltaligheid”. Asof die land nie nou meer Engels as ooit in die geskiedenis is nie! Van die swart meningsvormers en selfs grondwetlike regters begin openlik sê dat “veeltaligheid” eintlik ‘n klug is en dat Suid-Afrika hom by die de facto Engels-eentaligheid moet berus.

Nog ‘n geliefkoosde paradoks van die polities korrekte taalkommentator is: Afrikaans sal slegs gedy indien die Afrikaner uitsterf (of selfs uitgemoor word?). Met ander woorde, die etniese groep wat die taal tot stand gebring het, moet eers tot niet gemaak word alvorens Afrikaans “in ‘n ander gedaante” sal oorleef. Dit sluit natuurlik die hatige aanvalle op Standaardafrikaans in.

Daar is oorlog teen Afrikaans verklaar, en dit kom van ver af, by wyse van spreke. Selfs al was elke spreker van die taal ‘n engeltjie, sou die renons in en vyandigheid jeens Afrikaans nie minder gewees het nie.

Dit is ‘n waarheid wat ‘n mens seker ook nie durf uitspreek nie. Per definisie, kan ‘n mens dit seker elke taalstryder se “rooi pil” noem. As ‘n mens dit gesluk het, val die skille skielik van jou oë af.

Op 23 Februarie organiseer PRAAG en ‘n aantal ander organisasies ‘n betoging voor die departement van onderwys se gebou in Pretoria. Sorg dat u dit bywoon; “soet is die stryd”, soos I.D. du Plessis in sy profetiese gedig gesê het:

Soet is die stryd

Jy sê nou die stryd is verlore.
Ons nasie te arm en klein.
Ons taal uit ‘n drang gebore
Wat een van die dae sal verdwyn.
My broer dit mag heeltemaal waar wees
Wie weet wat die toekoms gaan baar?
Miskien moet ons oormôre klaar wees
Om weer hierdie droom te laat vaar.
Maar as ons net altyd moet strewe
Na wat tot oorwinning gaan lei,
Wat baat dan die stryd van die lewe,
Waarin ons onseker moet bly.
Solank jou bedoelings maar goed is,
Gaan jy jou oor neerlae kwel?
Solank jy volhard en vol moed is
Dis tog die probeerslag wat tel.
Nee, soet is die stryd vir die stryder
want hy het ‘n roepstem gehoor
maar die man wat sy deelname weier
is die man wat sy nasie verloor.

Sluit ook by PRAAG aan en help ons om nuus en menings te plaas wat saak maak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.