Motors: Bakkiekoning gekroon!

Om oor bakkies te berig, is amper soos om oor rugby, politiek of geloof te gesels! Die onderwerp ontlok hewige konflik en verskillende menings oor wie nou eintlik reg is. Oor die afgelope paar maande het ek n paar van die groot name onder hande gehad en hier volg my indrukke.
Kom ons kyk eers na dít wat alles voor ons staan. Hier is die 4 kandidate.

Ford Ranger 2,2 DK XLT Hi-Rider outo teen R499 900

Isuzu KB 300 D-Teq 4×4 LX DK teen R572 000

Mazda BT50 3.2 SLE DK outo teen R555 700

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D DK outo teen R559 900

Dadelik kan daar gesê word maar hierdie vier bakkies is nie direkte mededingers nie,want die Ranger is die 2.2 en die BT50 die 3.2 en die Triton sommer ‘n 2.4 liter en dan voeg ons die Isuzu by wat van ‘n ou donkie- 3.0 l-dieselenjin gebruik maak. Die rede hiervoor is eerstens dat dit die voertuie is wat die verskillende vervaardigers aan my beskikbaar gestel het, tweedens het dit vir my bewys dat dit nie noodwendig die duurste model in die reeks is wat die beste is nie en derdens het van die jong manne nog baie om te leer by die meer ervare ouens!

Voorkoms

Die Mazsa BT 50 van agter

Wat voorkoms aanbetref, is dit alyd subjektief. Sekere mense hou van sekere lyne en ander nie: die feit dat die BT50 asook die Triton vir my my skreeulelik is en onvanpas lyk, beteken nie dat almal met my sal saamstem nie.

Die Ford lyk die modernste hier, maar persoonlik vind ek die Isuzu met sy byna perfekte kurwes die mooiste. Van die nuwe dagryligte tot amper oordadige blink sierrooster en wye wielboeë is alles volmaak nommerpas. Die bakkie lyk nie sag nie, maar tog sal enige boervrou gemaklik agter die stuur lyk. Die Ford se skoon lyne is modern, maar die bakkie begin so al na die Amerikaanse smaak toe neig en ons boere uit Afrika met ons Europese bloed hou nie baie van die kitskos wat die Yanks so links en regs uitdeel nie. Gee ons eerder ‘n lekker bord boerekos met regte vleis, rys en artappels.

Die Triton van agter

Die twee Japanners is net vreemd met die Triton wat lyk asof sy bak te swaar gelaai is en hy nie regtig vier deure moes hê nie terwyl die BT50 lyk asof sy onderlip op die grond hang! Van agter vertoon die Mazda se ligte ook asof dit nie regtig op ‘n bakkie hoort nie, maar eerder op ‘n stasiewa uit Korea. Dit lyk net nie reg nie. Die Triton se bak lyk ook heeltemal te hoog vir die kajuit en ek is seker dit was twee ontwerpspanne wat ‘n hele jaar uitmekaar uit hierdie bakkie ontwerp het: die ouens wat die voorkant gedoen het, het tot by die agterdeure gekom toe gaan hulle met verlof. Ná die vakansie het ‘n heel ander span op die spul afgekom en toe besluit om ‘n bak aan die voorkant te probeer sit, dit pas net eenvoudig nie! Die BT 50 is die langste met ‘n lengte van 5 365mm, die Ranger 5 354mm, Isuzu 5 310mm en Triton 5 285mm. Die Ford is die hoogste teen 1 851mm, Mazda 1 821mm, Isuzu 1 790mm en Triton 1 780mm. Wat die breedte betef is die Triton die smalste teen 1 815mm terwyl die ander drie almal 1 860 mm is.

Binneruim

Die Ford Ranger se binneruim

Gelukkig is al vier hierdie bakkies baie gemaklik as jy eers aan die binnekant is. Die Ford is ruim en die materiaal is goed, die Mazda voel groot en ruim en tipies soos ‘n sportnutsvoertuig aan die binnekant.

Die Isuzu KB se kajuit

Die Isuzu se kajuituitleg vertoon die oudste in hierdie geselskap, maar wat ruimte en gerief aanbetref, troef die Samoerai al drie die jonger manne hier! Ek kan gemaklik agter in al vier die bakkies pas.

Die Triton se binneruim

Die Triton se hoë agterste kantruite laat die bakkie beknop voel alhoewel daar heelwat beenruimte is. Die Mazda en Ford is so hoog dat dit werklik ‘n gesukkel is om in en uit te klim selfs al is jy 1,8-plus meter lank. Al vier die bakkies se binneruime word oorheers deur swart plastiek van goeie gehalte.

Al vier bakkies is uitgerus met sagte leer, die Isuzu in sjokoladebruin en die ander drie in swart. Instrumente is baie mooi leesbaar en alles wat nodig is, is net waar dit hoort dus is al vier voertuie baie gerieflik toegerus. Standaardtoerusting is eenvoudig puik met die Isuzu en die Ford wat navigasie bied terwyl die Triton en BT50 jou toelaat om deur middel van bloutande met jou slimfoon te koppel om Google Maps te kan gebruik. Al vier beskik oor dié koppeling. Wat veiligheidstoerusting aanbetref, het drie van die vier ses of meer lugsakke; slegs die Triton moet klaarkom met net twee lugsakke.Daar is USB-sokke in al vier bakkies en die Isuzu,wat die oudste is, is ironies genoeg die enigste een met 2 USB-sokke. Daar is ook elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek in drie van die vier met slegs die Ranger wat dit nie bied nie.

Enjin

Wat enjinkrag en rybaarheid aanbetref, is daar werklik een van die vier wat kop en skouers bo die ander uitstaan wanneer dit by rygerief, veral op slegter padoppervlaktes of grondpad kom, en dit is die Isuzu. Hierdie bakkie is vir die rowwer paaie gemáák. Ons was so bevoorreg om hierdie voertuig deur Namibië te neem en het bykans 7000km agter die stuur afgelê waarvan byna 5000km grondpad was. Die bakkie het nie een keer ‘n rateltjie of piep gemaak nie. Soos die boere sou sê: hy loop soos stroop! Stofdigtheid was opvallend goed, nie die geringste stofreuk het enigsins die kajuit binnegedring nie, en dít tydens 5000km se stofpaaie. Die Ford bestuur baie maklik, tipies Ford en gerieflik. Al ding wat effens gepla het, was die feit dat die bakkie effens hard geveer is agter en bietjie rondwip veral oor rowwer padoppervlaktes. Maar laai ‘n sak sement of twee en voilà, die probleem is opgelos. Die Mazda het ‘n bielie van ‘n enjin met sy 3,2l- 5-silindereenheid. Eintlik beskik hy oor te veel krag op sy wiele en het ek ‘n paar keer die tolbeheer onwillekerig geaktiveer. Die Triton se 2.4-dieselenjin trek sterk, maar hy voel net nie so kragtig soos die 3.2 wat in die Pajero diens gedoen het nie.

Kraglewering is die volgende: Ford 118KW en 385Nm, meer as genoeg vir die bakkie en hy voel lig op sy wiele. Die Isuzu maak gebruik van ‘n 3-literdiesel wat 130 KW en 380 Nm lewer. Vir ’n 3-liter lyk dit na min krag, maar die Isuzu voel lewendig en baie gewillig en sonder ‘n vrag op die bak werk die tolbeheer ook oortyd om die agterwiele agter jou te hou. Die BT50 ontwikkel 147 KW en 470 NM. Na my mening heeltemal te veel krag vir dié tipe voertuig en veral as jy hom nie as ‘n sleepvoertuig gebruik nie. Natuurlik as ‘n sleepvoertuig of werkesel is die krag ongelooflik, maar ‘n mensry nie heel dag met ‘n karavaan of 10 sakke sement op die bak rond nie. Al die krag kom teen ‘n prys en dit word weerspieël in die brandstofverbruik wat volgens Mazda SA 9,7 l/100km beloop terwyl al drie die ander bakkies minder as 7,5l/100km handhaaf, volgens vervaardigersyfers. My ondervinding met die Isuzu oor ‘n afstand van 7000km deur Namibië was 7,2 l/100km gemiddeld. Die voertuig was toegerus met ‘n kappie en was letterlik tot bo teen die dak van die kappie gepak, drie mense in die bakkie met ‘n 80l-kampeeryskas op die agtersitplek en op plekke soos by Sossusvlei het ons die dik sand in laestrek aangepak en steeds kon ek ‘n gemiddeld van slegs 7,2 l/100km behaal. Dit is nou waar die manne van die seuns geskei word! Al vier bakkies is toegerus met outomatiese ratkaste, die Ford en Mazda met 6-spoed outomaties en die Isuzu en Triton met 5-spoed outomatiese ratkaste.

Gevolgtrekking

Wat is dus my gevolgtrekking aangaande die vier bakkies? Wel, sou ek hierdie tipe geld wou bestee op ‘n dubbelkajuitbakkie sou ek beslis die Isuzu toe-oë aanskaf! Hy is die oudste in hierdie geselskap, maar die gerief, rybaarheid en ongekompliseerde eerlikheid van die bakkie, tesame met sy betroubaarheid, voorkoms en verrigting, krag en brandstofverbruik asook ‘n 3-jaar- onbeperktekilometer-diensplan en natuurlik sy afslagprys juis omdat hy bietjie ouer as die res is, maak hom ‘n wenner! Haal die KB uit hierdie prentjie en die geveg sal tussen die Ford en die Mazda wees. Die Mazda is lelik en het te veel krag vir alledaagse gebruik, die brandstofverbruik laat veel te wense oor, dus sou my tweede keuse die Ranger wees. Die bakkie is gerieflik, ekonomies, kragtig en bestuur maklik. Sit ‘n lekker swaar kappie op en die wip is ook uit sy stert uit! Dit laat ons met die Triton en die Mazda. Wel, die Triton voel meer prima as die Mazda en is meer ekonomies en bestuur makliker veral in die stad, maar o wee, ek weet nie watter een is leliker nie. Ek sou eerder nog minder betaal en die Fiat Fullback koop wat basies dieselfde bakkie as die Triton is teen R60 000 minder.

Isuzu KB 300 D-Teq LX Outo R572 000

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 38 uit 40

Mazda BT50 3.2 SLE R555 700

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 3 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en Ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 34 uit 40

Mitsubishi Triton 2.4 D-iD 4×4 outo R559 995

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 3 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 3 uit 5
Totaal 31 uit 40

 

Ford Ranger 2.2 Hi-Rider XLT outo R499 000

Prys 4 uit 5
Voorkoms Buite 4 uit 5
Binneruim Kwaliteit en Afwerking 5 uit 5
Spasie en Praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en Ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 38 uit 40

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.