Dan Roodt: Ons moet ‘n teenbetoging voor Hoërskool Overvaal hou

Blykbaar gaan die hand vol kommunistiese organisasies, waaronder die ANC, EFF, SAKP, BLF, Cosatu, Sadou, Cosas en Sasco, op 2 Februarie nogmaals voor Hoërskool Overvaal teen Afrikaans betoog. Dis ‘n simboliese datum: die dag toe FW de Klerk besluit het om alles op ‘n skinkbord aan ons vyande te oorhandig, ook – soos dit toenemend blyk – ons skole.

Hier by my het ek ‘n boek wat ek by iemand present gekry het: “Onderwys in Transvaal 1838 – 1937.” Dit is geskryf deur prof. Dr. J. Chr. Coetzee van Potchefstroom en is in 1941 deur J. L. van Schaik in Pretoria uitgegee. Met ander woorde, Nederlandse en Afrikaanse onderwys is in hierdie provinsie vanjaar 180 jaar oud! Maar ons vyande wil dit nou summier beëindig; hul slagspreuk is mos: “Afrikaans must fall!”

Volgens mediaberigte eis Cosatu van die onderwysdepartement ‘n lys van die oorblywende Afrikaanse skole in Gauteng, waarna almal van hulle geteiken gaan word. Dit gaan dus nie bloot om Hoërskool Overvaal nie, maar Afrikaanse onderwys in sy geheel. Afrikaans is reeds grootliks op universiteit beëindig; nou is dit die skole se beurt. Daarna sal die kerke volg en uiteindelik gaan jy verbied word om dit in die openbaar te praat. Dit is hoe kommunisme werk; dit is sogenaamd “totalitêr”. Duisende boeke en artikels is reeds geskryf oor hoe kommunisme samelewings tydens ‘n revolusie of transformasie soos dit hier genoem word, “totaal” verander en oorheers. Daar bly geen vryheid meer oor nie, ook nie die vryheid om jou taal te praat of vir Afrikaanse onderwysers om kinders in Afrikaans te onderrig nie.

Die hoof van Hoërskool Overvaal, mnr. Schalk Rabie, het iewers gesê:

“Ons is onderwysers wat ‘n passie het vir kinders en graag wil voortgaan met ons daaglikse taak. Ons skool is ook die enigste hoofstroomskool in die hele Vaaldriehoek met ‘n 100% slaagsyfer.”

PRAAG (die Pro-Afrikaanse Aksiegroep) is byna twintig jaar gelede gestig om dié aanslag die hoof te bied. Jare lank is ons egter verseker dat “die goeie Grondwet Afrikaans beskerm” en dat ons niks te vrees het nie. Vandag kan ons sê dat ons gelyk had en dat die vyand Afrikaans finaal die nekslag wil toedien.

Dit gaan egter nie net oor die taal nie, maar ook oor die mense wat dit praat. Voor Hoërskool Overvaal is verlede week gesing:

“Kill a Boer, kill a farmer.”

Dis nog iets van kommunisme waaroor daar al baie ink gevloei het: Dit eindig gewoonlik in volksmoord. Deel van die kommunistiese gelykheidsideaal is dat almal wat nie daarby inpas nie, ‘n etniese minderheidsgroep, grondeienaars of selfs net mense wat kan lees en skryf soos in Pol Pot se Kambodja, “geëlimineer” of gedood moet word. Toe ek sewe jaar lank in Parys gewoon het, het ek ‘n Kambodjaanse buurman gehad wat as tiener ‘n vlugteling in Frankryk geword het. Sy gesin was etniese Chinese en is daarom deur die etniese Kambodjane of Khmer in die straat voor hul huis doodgeskiet. Hy het egter ontkom en vlugtelingstatus in Frankryk bekom.

Ons weet dat plaasmoorde besig is om in getalle en intensiteit toe te neem. Plaasmoorde en Afrikaansmoord is keersye van dieselfde munt. Ons verkeer midde-in ‘n lae-intensiteitsoorlog en wil dit nie besef nie. Want die verraderlike NP-Broederbondelite wat kop in een mus met die ANC en SAKP ‘n gladde oorgang beleef het, staan handewringend en toekyk. Of hulle probeer ons maar bloot paai.

Nou die dag lees ek in Netwerk24 ‘n onderhoud met Theuns Eloff, Leon Wessels en Wannie Carstens, juis oor Hoërskool Overvaal en dit kan in een sinsnede opgesom word: “Gee maar nogmaals oor.” Ons moet gaan lê voor die jillende gepeupel wat “Kill a Boer, kill a farmer” of “Afrikaans must fall” sing. Ons moet stert-tussen-die-bene wegsluip, al ons skole aan die siek Boerehater, Panyaza Lesufi, en die Engelse marxiste (soos Barbara Creecy) rondom hom oorhandig, dan private skole oprig.

My vraag is net: Wat keer hierdie rooi bewind om ook private skole te konfiskeer? ‘n Private skool is mos op private grond. En “Cyril” soos die Naarpersmedia hom gemeensaam in hul propaganda noem, het mos klaar belowe dat hy “grond sonder vergoeding gaan onteien”, nie waar nie? Wat keer die ANC om private skole te onteien en hulle ook almal tot die Soweto-standaard te nivelleer? Want bowenal gaan kommunisme oor nivellering: die Groot Gelykmaak van mense, met of sonder geweld. Gewoonlik egter mét geweld waarin mijoene in die twintigste eeu omgekom het.

Engels mag ‘n wêreldtaal wees wat in ander wêrelddele as “neutraal” gereken word. Hier by ons het die taal egter ‘n besliste kleur. Nie verniet het ons mense dit neerhalend die Rooitaal genoem nie, die taal van die konsentrasiekamp en waarin verarmde Afrikaners ná 1902 in die stede telkens verneder is. In Natal is woonstelle te huur aangebied met die teken:

“Flat to let. Dutchmen and Indians need not apply.”

Tans is die Rooitaal rooier as ooit: dit is die medium van kommunisme en kultuurmarxisme waarmee ons kinders op skool en op universiteit gebreinspoel word.

En soos vantevore is die Rooitaal ook die volksmoordtaal, die taal waarin slagspreuke soos “Kill a Boer” geskreeu word.

Dit gaan nou om oorlewing, die oorlewing van Afrikaans, van ons 180 jaar oue skole in dié provinsie, maar ook om ons fisieke oorlewing. Daarom het ons geen ander keuse as om sigbaar weerstand te bied nie.

Sodra dit bevestig word dat die vyand se betoging op 2 Februarie voortgaan, moet ons groepeer om ‘n teenbetoging voor die skool te hou. Soos baie van die Europese patriotte, moet ons almal wit hemde dra, by kakiebroeke of jeans. Dis wit teen rooi, soos ‘n eeu gelede in Rusland.

En wit gaan wen. As Afrikaans teen die magtige Britse Ryk – die Amerika van destyds – kon oorwin, gaan Lesufi en sy Bantoetaalsprekers wat hulle verbeel dat hulle Engelse lords geword het, ons mos nie stuit nie.

Lank lewe ‘n Afrikaanse Hoërskool Overvaal en elke Afrikaanse skool in die land!

Van nou af eis ons #eieskole. Geen Lesufi of Motshekga of Creecy of Metcalfe of Diane Parker mag ooit weer ons kinders probeer indoktrineer of intimideer nie. Ons eis ‘n onmiddellike moratorium op staatsinmenging in Afrikaanse skole. Daarna moet ons skole óf geprivatiseer óf aan ‘n Afrikaanse onderwysliggaam oorgedra word.

Net ‘n lafaard maak teen kinders oorlog. Dis tyd dat ons die sleutelbord vir die straat verruil.

Diegene wat te ver is of nie kan kom nie, moet ‘n paar rand skenk vir petrolgeld en ander kostes. Ek weet van mense wat van Louis Trichardt af sal ry om in Vereeniging te kom betoog. Hulle verdien ‘n bydrae vir brandstof.

Hou die PRAAG-webblad, asook hierdie Facebook-blad en Twitter oor die volgende paar dae dop vir verdere aankondigings.

Lewer gerus kommentaar of maak voorstelle hier onder op Disqus. En deel die skakel na dié artikel wyd en syd asseblief!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.