Oorwinning vir Afrikaans in Hoërskool Overvaal-saak

Deel op

In sy uitspraak vanmiddag het regter Bill Prinsloo gesê dat die besluit van Afrikaanshater Panyaza Lesufi en die Gautengse onderwysdepartement om eensydig die taalbeleid van Hoërskool Overvaal te verander “teen die wettigheidsbeginsel indruis”. Hy het ook bevind dat die twee Engelse skole in die omgewing wat teenstrydige verklarings oor hul kapasiteit afgelê het en eintlik namens die departement gelieg het, slegs die skool se saak versterk het.

“Ek vind dit wesentlik onwaarskynlik dat twee hoogs gekwalifiseerde, ervare skoolhoofde so ‘n growwe fout kan maak as hulle ‘n verklaring opstel,” het die regter in sy uitspraak gesê.

Beide Engelse skole in die omgewing, General Smuts en Phoenix High School het oor genoegsame plek vir meer as 55 leerlinge beskik, maar het hul aanvanklike verklarings in opdrag van Lesufi en sy departement gewysig toe die departement besef dat hulle die saak teen Overvaal sou verloor indien dit op die lappe kom dat die Engelse skole nog plek vir die leerlinge gehad het.

Volgens regter Prinsloo, “het die departement sy reg om die skool se kapasiteit te verifieer, nooit sinvol uitgeoefen nie. Indien hulle enige moeite gedoen het, sou hulle die oorweldigende kapasiteit vir nog leerlinge by die twee ander skole ontdek het.”

Regter Prinsloo het verder bevind dat Lesufi en sy distriksdirekteur “geen ag geslaan het op die kapasiteit van die skool om die leerlinge te akkommodeer vergeleke met die twee ander skole in die gebied nie”. Weens haar rol in die debakel, en dat sy wesentlik besig was om die gereg te dwarsboom, het regter Prinsloo aanbeveel dat sy aan professionele tugstappe onderwerp behoort te word.

Die regter het ingeslyks WhatsApp-boodskappe aan die twee Engelse skoolhoofde as getuienis in die hof toegelaat. In die boodskappe word een van die hoofde gedreig dat hy afgedank sal word as hy nie sy verklaring verander om te sê dat daar nie meer plek by sy skool is nie. Daarmee het die onderwysdepartement die skoolhoof gedwing om meineed te pleeg.

Regter William Prinsloo het ‘n bestraffende kostebevel teen die Gautengse Onderwysdepartement uitgereik en bevind dat Hoërskool Overvaal nie die Engelse leerlinge hoef in te neem nie.

In sy reaksie op die uitspraak, het Panyaza Lesufi gesê dat hy die skool se beheerraad teen Maartmaand gaan afdank en met die belastingbetaler se geld teen die uitspraak gaan appelleer.

Volgens ‘n joernalis, Barry Bateman, het van die swart ouers na afloop van die hofsaak in Pretoria gedreig om die skool af te brand, omdat hulle dit as “rassisties” beskou.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.