‘n Geseënde Kersfees aan al ons lesers!

Aan al ons getroue lesers en diegene wat al byna agtien jaar lank meedoen aan die PRAAG-avontuur, word ‘n Geseënde Kersfees toegewens!

Die foto hier bo is vanuit Nederland waar die Sinterklaas-en-Zwarte-Piet-tradisie vanjaar vir heelwat omstredenheid gesorg het. Net soos wat Nederlanders stry om hul tradisies te behou, moet ons daagliks veg vir ons taal en identiteit in Suid-Afrika. Dit sluit selfs Kersfees in, want dis ‘n fees wat as “te Westers en te Christelik” gesien word en daarom toenemend onder skoot kom van die huidige bewind en die heethoof- linkse hoofstroommedia in ons land. Wêreldwyd bestaan daar ‘n alliansie tussen die links-liberale en die Moslems wat sowel die Christelike as die sekulêre tradisies in die Weste wil vernietig.

Selfs Kersfees verteenwoordig daarom ‘n vorm van rebellie teen politieke korrektheid. En soos N.P. van Wyk Louw gesê het:

“Opstand in ‘n volk is net so noodsaaklik soos getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik as rebellie misluk nie. Wat wel gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag verby sal gaan sonder protes.”

Ons dink ook aan diegene wie se gesinne weens regstellende aksie en geweldsmisdaad verstrooid oor die wêreld woon. Mag elke Afrikaanse gesin — al is dit bloot in die gees — vandag herenig wees.

Terwyl Kersfees simbolies met sneeu en rendiere voorgestel word, doer uit die koue Noorde van waar ons vandaan kom, is daar aan die ander kant niks so tipies Afrikaans soos ‘n Kersfees in die buitelug en soms kaalvoet te midde van ons warm somer en Desembervakansie nie. Dit is iets unieks in die Westerse wêreld en mag dit, soos ons volk self, nooit vergaan nie.

Mag elkeen vandag ‘n gelukkige dag hê, omgeef van daardie warmte, geselligheid en gasvryheid wat so eie aan ons mense is en byna nêrens elders in dieselfde graad bestaan nie!

En watter beter manier om dit te sê as Steve Hofmeyr se onlangse liedjie “Feeslied”, vanaf sy album Skree?

— Die PRAAG-redaksie

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.