Mnr. Domestos: Georgië is nie vir sissies nie…

Tlibisi, met 'n deftige ou hotel op die regterhand.

Georgië, dit is nou die piepklein republiek met ‘n bevolking van 3,5 miljoen neffens die Kaukasus-bergreeks en nie die staat daar doer in die VSA nie. In die meer as 4 jaar in hierdie ongelooflike mooi land met sy eindelose berge, valleie en riviere het ek vinnig besef dat nóg die internet nóg enige reisagentskap jou kan inlig oor lewensomstandighede hier – elke dag leer jy iets nuuts, en menigmaal moet jy aanvaar gebruike en situasies is wat dit is, sonder om te poog om dit te analiseer. Jy moet aanpas, hulle gaan nie by jou aanpas nie.

Die Republiek van Georgië, voormalige Sowietuniegrondgebied, lê knus omring deur Rusland, Armenië, Azerbaijan, Turkye en die Swart See. Argeologiese opgrawings het onlangs wynkleipotte opgelewer wat 8000 jaar terugdateer met geskrewe rekords sedert die 12de eeu vC. Sedert onafhanklikwording op 9 April 1991 het die land geweldige probleme ervaar waarvan sommige deur die omstrede voormalige president Mikhail Saakashvili opgelos is. Die amptelike taal is Georgies (asook ander Kartweliese tale), en is een van die moeilikste tale ter wereld met sy eie unieke skrif – vlak 4+ uit 5. Russies is nie-amptelik die tweede taal, en Engels is besig om geleidelik meer gewild te word.

Maar, vergeet van Engels op die platteland. As jy nie Georgies of Russies praat of verstaan nie, kry ‘n tolk, bel ‘n vriend of gebruik gebare en wees gereed vir misverstande – moet nie wonderwerke verwag nie. Jou skool-Duits uit die sewentigerjare kan soms help met die ouer garde. En, die Georgiërs skroom nie om jou onbeskaamd aan te staar indien jy anders lyk of klink nie.

Die Georgiërs is patrioties, vrolik, gasvry, vriendelik, baie nuuskierig en behulpsaam, en hul familie en vriende word bokant alles gestel. Stiptelikheid is ‘n illusie. Vergaderings, enige reëling of gebeure is onderhewig aan die familiesituasie en is hoogs vloeibaar. Dit is niks ongewoons vir mense om ‘n uur of twee laat op te daag vir enige funksie nie, selfs konserte begin gewoonlik ‘n uur of twee later as die aangeduide tyd. Jou oproep(e) sal bevestig – nog net 5 minute… Byt maar op jou tande want ‘n uur later sal hul steeds op pad wees terwyl jy buite staan en verkluim.

Besoekers word met ope arms ontvang, en hul kultuur, huis en etes word met trots gedeel. Supra’s is tradisionele feeste wat gevier word met ‘n toastmaster wat deurlopend heildronke instel op al wat leef en beef. Dit gaan gepaard met gellings en gellings wyn, meestal tuisgemaak. Dit skop soos ‘n muil, en maak jou dus gereed vir die moeder van alle babelasse. Wynbou is Georgë se primêre nywerheid en wingerde is orals te vinde.

Huishoudings word deur die vrouens bedryf alhoewel hul ook toenemend die broodwinners is. Wasgoed word buite die woonstelvensters gehang en ingekatrol – lakens wys straatkant, dan mansklere, vroueklere, kinderklere en laastens jou fyngoedjies en sokkies. Dis is nie vreemd om vroue-onderklere en sokkies in die takke verstrengel te sien as die wind waai nie. Wasoutomate is so skaars soos hoendertande, dus jy doen jou eie wasgoed.

Dit is algemene gebruik dat 3 tot 4 generasies in een woonstel/huis woon. Georgië het ‘n hoogs patriargale sisteem, pappa is baas. Die mans is maar luierig en verkies om op sypaadjies en in parke te sit waar hul bordspeletjies speel en/of politiek gesels. Mans doen nie huiswerk tensy hul enkellopend is en geen ander keuse het nie. Die Georgiërs is ‘n polikroniese gemeenskap en het geen benul van persoonlike ruimte nie. Almal bondel saam, orals. By supermarkte en banke word daar letterlik teenaan die persoon voor hul gestaan – indien daar ‘n gaping is sal iemand doodeenvoudig indruk want jy laat dus spasie vir iemand. Die hele konsep van toustaan is problematies aangesien selfs die kassiere voorkeur gee vir persone met slegs twee of drie items, al sou jy al toustaan vir ‘n ewigheid.

Die meeste Georgiërs besit hul woonstelle wat na die ondergang van die Sowietunie deur die nuwe regering aan die familie wat dit beset het toegeken is, dus betaal hul nie huur of verbande nie (maar almal het banklenings!). Die staat besit die eksterne struktuur maar beskik nie oor die finansies om dit in stand te hou nie, dus is al die Sowiet-era-woonstelle in ‘n uiters swak toestand. Historiese geboue is vervalle en die dekoratiewe tradisionele oorhangbalkonne klou verbete aan verkrummelende strukture. Half voltooide/afgebreekte geboue is volop.

Verskeie woonstelle het nie hysbakke nie, dus klim jy trappe. Waar daar wel hysbakke is, is dit meestal muntbeheer en slegs groot genoeg vir 3 tot 4 mense wat knap ingeryg staan (1.5 x 1.5m). Geen goederehysbakke bestaan nie, en meubels word of met die trappe opgedra of opgekatrol aan die buitekant van die gebou en dan deur die vensters ingehark. Dit lol as jy op die 10e vloer woon en sussie ‘n klavier nodig het.

Die kombuis vorm die middelpunt van die huishouding en die meeste het ook ‘n bed in die kombuis en/of die sitkamer. Beddens word gedeel, en dit is algemeen vir twee of drie vrouens in een bed, of twee of drie mans in ‘n bed. Die meeste families besit ook huise in die dorpies of nedersettings wat gewoonlik slegs in die somervakansies gebruik word en die res van die jaar toegesluit word. Daar is weinig voorstede soos in Suid Afrika, en Georgiërs verkies die noue gemeenskapsbande wat woonstellewe meebring. Die meeste huishoudings het ook ‘n klavier, en musiek word sterk deur ouers aangemoedig. Die tradisionele polifoniese musiek en volksdanse is uiters gewild en die meeste kinders word van jongs af geleer.

Georgiese kos is wonderlik, maar die oorgrote meerderheid restaurante het presies dieselfde spyskaart. Feitlik alle kosstalletjies het dieselfde wegneemitems en pryse is laag en redelik standaard. KFC en Dunkin Donuts sukkel, maar McDonalds is baie gewild onder die jeug. Groente en vrugte is spotgoedkoop en ou-tante-bemande informele stalletjies is om elke hoek en draai, maar melk, botter en vleis is duur. Die plaaslik geproduseerde suurkaas en suurroom is uiters gewild en goedkoop. Die supermarkte het ‘n ongelooflike keuse van tamatiesous en mayonnaise, maar vergeet maar van Mrs Balls, Marmite of vla. Jou vodka of bier kan jy by enige kafeetjie koop, en baie apteke wat ook koffie, suiker, waspoeier ens aanhou is 24-uur oop. Sigarette is goedkoop en Georgiërs rook – orals. Kliëntesorg is swak, en word nie verstaan nie. Die houding is dat as jy nie van die artikel se prys of kwaliteit hou nie moet jy dit los – iemand anders sal verbykom en dit koop.

Daar is feitlik geen werksgeleenthede in die formele sektor vir buitelanders nie, en aangesien Georgies en dan Russies die spreektaal is, is feitlik alle poste gereserveer vir Georgiërs, buiten Engelse onderrig. As jy een student verloor omdat jy goor was, verloor jy ook summier al dié se vriende en families as studente. Alle salarisse is bitter swak in vergeleke met Europa en Suid Afrika. Werkloosheid is hoog, en jongmense verruil die dorpies vir die stede waar hul óf by familie óf in groepe saamwoon. Dit is algemeen vir ‘n groep van 4 of 5 vriende waar net een werk, maar hy onderhou en voorsien sy groep van kos, drank, sigarette en vermaak. Lewenslange vriende.

Vergeet van sommer jou eie besigheid hier kom oopmaak, dit werk nie. Indien jy ‘n loodgieter, elektrisiën of werktuigkundige nodig het, word dié gewoonlik gewerf uit die familie- of vriendekring, en as jy ‘n kragprop kan ruil is jy ‘n “meester” op jou gebied. Kostes word gewoonlik onderhandel voor die tyd en daar is nie vasgestelde pryse vir dienste nie. As buitelander weet maar jy gaan bedonner word – met ‘n glimlag, genaamd die “Georgian Bonus”.

Gas is standaard vir elke woonstel of huis en word gebruik vir stowe en waterverwarming. Rekeningbetaling is maklik, via internet of betaalkassies op elke blok. Niks van toustaan maandeinde by jou munisipaliteit nie. Gas en krag is aansienlik goedkoper as in Suid-Afrika, en onbeperkte waterverbruik word in die meeste gevalle nog gehef op ‘n vaste bedrag per inwoner, bv vir twee persone beloop dit ± R13 per maand. Maar, baie van die afgeleë dorpies het nog nie gas of lopende water nie en water word nog uit ‘n put of rivier aangedra – deur die vrouens.

Vullisverwydering is flink, en daagliks. Huisafval word in plastieksupermarksakkies geplaas en op elke straatblok is daar staaldromme op wiele waar jy dit self gaan ingooi. Strate en sypaadjies word gevee en vullisdrommetjies word elke dag leeggemaak. Oppas net vir landmyne, honde-eienaars is nie baie fluks nie.

Die toerismebedryf is onderontwikkel en die meeste museums buite die hoofstad is slegs in Georgies of Russies. Buiten die luukse hotelgroepe, is die meerderheid hotelle en gastehuise nog op die Sowjet-/Georgiese tradisies geskoei en word hul stergraderings deur die eienaar aangebring na willekeur – dit is ongereguleerd. Kleiner hotelle, gastehuise en B&B’s het selde fasiliteite en badkamers word gedeel, soms ook met die inwonende eienaars. Vergeet van privaatheid.

Daar is orals ruïnes van forte sonder inligtingsentrums of personeel, en feitlik geen inligting is meer beskikbaar oor hul geskiedens nie. Die uitsonderings is Rabati-kasteel en Narikala-vesting.

Die land is oorheersend Georgies Ortodoks (95%), en kerke is om elke hoek en draai en dieselfde ontwerp word gebruik. Dienste is staande en meestal sonder ‘n spesifieke tyd of duur. Jy val bloot in en bly solank jy kan – mense kom en gaan deurentyd en “Georgiese koorsang” maak die grootste deel van die diens uit. Alomteenwoordigende priesters dra lang swart gewade en daar is heelwat kloosters regoor die land.

Voertuie, nuut en gebuik, word ingevoer in groot getalle uit Europa en Asië. Buiten die groot handelsnaamagente, is die gewildste motormark by Rustavi waar jy direk met die eienaar kan onderhandel. Koop- en verkooptransaksies word daar uitgevoer, is goedkoop en nommerplate word by registrasie gekoop. Die hele proses duur minder as ‘n uur. Geen padwaardigheidsertifikaat word benodig nie, en daar is tans geen voertuiginspeksie nodig nie – as die wiele draai, is die voertuig wettig op die pad, ongeag sy toestand. En, vergeet van die Ventertjiehaak – sleepwaens bestaan nie. Op die platteland is dit alledaags om die stokou Russiese motorfiets met ‘n bak te sien wat gebruik word vir die vervoer van kleiner items. Ladas en Opel Astra-stasiewaens is uiters gewild op die platteland agv hul praktiese waarde.

Bakkies is so skaars soos hoendertande, en meubels, materiaal ens word aangery op die dak deur Opel Astra-stasiewaens, stokou Russiese VAZ-, GAZ-, Moskvitch- of Lada-motors. Daar is wel groter paneelwaens beskikbaar vir die vervoer van huishoudelike toestelle soos yskaste, stowe, asook klaviere.

En, parkering in die stad is ‘n ramp. Die meeste geboue het nie hul eie parkeerplekke nie, en almal parkeer waar hulle ‘n gaatjie kry, soms op sypaadjies en ook dig teenaanmekaar.

Voertuie is meestal linkerhandstuur en jy bestuur in die regterbaan. Bestuurders se styl is aggressief/passief – haastig, lief vir die toeter, verander van baan sonder waarskuwing, druk gereeld in of stop summier om ‘n passasier op of af te laai. Voertuie, oud en nuut, het almal duike en skrape en baie vermis buffers.

Die stadspaaie het die afgelope paar jaar aansienlik verbeter, en die hoofpad van Tbilisi na Batumi (Georgian Military Highway), is sowat 380km maar duur maklik tussen 7 en 8 ure. Dit is onlangs opgegradeer en in ‘n baie goeie toestand maar kronkel op plekke deur die berge en dorpies wat tydrowend is. Die paaie in die verafgeleë dorpies is egter meestal vol slaggate en teerpaaie is bitter skaars. Alhoewel dit nou verbeter het op die snelweg, is daar is ‘n geweldige tekort aan padtekens, straatname en dorpnaambordjies. Verdwaal is ‘n gereelde ding, en vergeet van padkaarte – daar is selde enige beskikbaar.

Op die platteland van Georgië

Publieke vervoer is relatief goed, en uiters goedkoop. Daar is basies 4 maniere van reis – busse, metro’s, geel minibussies of taxis. Bus- en metrotariewe is so R2,50 per rit ongeag die bestemming in die stad, en met die gebruik van die kaart is alle daaropvolgende ritte binne ‘n bestek van 1½ uur kosteloos. Minibusse is volop en ± R4 per rit. Maar, alhoewel die bestemmings op die voorkant aangedui word, is dit in Georgiese skrif en die bestuurders praat geen Engels nie. Babelse verwarring as jy dit moet gebruik, en as jy wil afklim moet jy in Georgies vir hom skree om te stop. Wees net voorbereid om baie dig te staan, wat nogal ‘n probleem raak in die somerhitte. Die taxitarief word vooraf onderhandel met die bestuurder na gelang van afstand, asook die kwaliteit van die voertuig en hy gaan jou sommer dadelik probeer verneuk.

Die polisie, wat ook in beheer van die verkeer is, is uiters doeltreffend en behulpsaam, veral met buitelanders. Ek het ‘n pap wiel op die snelweg gehad en geen gereedskap nie. Die polisie het die band afgehaal, na ‘n bandeplek geneem, teruggebring en opgesit – met ‘n glimlag. Indien jy in ‘n botsing betrokke sou raak, word die polisie geskakel wat die omvang van die situasie en skade evalueer en onmiddellik ‘n beslissing maak en boetes uitreik. Die skuldige moet dan ook ‘n uitroepfooi van ±R1 200 betaal.

Aansoeke vir residensiële verblyf duur ‘n maand, maar kan versnel word teen bykomende koste. Registrasie van besighede duur minder as ‘n uur, registrasie van eiendom is goedkoop, duur ongeveer 4 werksdae en geen prokureurs word benodig nie. Buitelanders mag tans nog eiendom besit.

Publieke toilette, selfs in die stad, bestaan nie – jy piepie by die huis. As die nood roep, moet jy noodgedwonge ‘n restaurant indraf en toestemming vra. Die meeste staatsgeboue en universiteite gebruik nog die gat in die grond, die gewraakte squatty potty. Dit is ‘n kragtoer in balans, vaardigheid en higiëne op ‘n sopnat vloer. Mik net mooi, hou jou asem op en bid. En, jy bring jou eie toiletpapier. Laasgenoemde word nie gespoel nie maar in die drommetjie naas jou gegooi waar die vorige gebruiker se nalatenskap vir jou loer. Genadiglik begin die nuwe geboue en restaurante nou die Westerse toilette installeer en toiletpapier word meer geredelik beskikbaar.

Internet en wi-fi is orals beskikbaar, en selfoonoproepe is bitter goedkoop. Oproepkostes is minder as ‘n R1 per oproep na dieselfde verskaffer, ongeag tydsduur. Dit wys jou net hoe Vodacom en MTN jou verneuk. Almal het selfone, en in die openbaar en op publieke vervoer is almal besig op Facebook of met teksboodskappe of speletjies.

Alhoewel daar ‘n paar peperduur privaatskole in Tbilisi en Batumi is, is die meeste kinders in staatskole. Feitlik alle skole bestaan uit graad 1 tot 12 in dieselfde gebou, en buiten die klein skooltjies in die dorpies het hul geen groot sportvelde nie en tennisbaangrootte velde word ook vir sokker, ens gebruik. Dissipline is problematies, lyfstraf word nie toegelaat nie. Studente het nie die keusevakke soos in SA nie, en almal moet maar noodgedwonge al die vakke op die leerplan neem, waaronder wiskunde, wetenskap en biologie. Die Georgiërs is feitlik almal geletterd en ouers uiters gesteld op hul kinders se ontwikkeling – hul bestudeer van jongs af al hul skrywers soos Rustaveli, Chavchavadze en Orbeliani, asook Russiese literatuur deur Dostojewski, Poesjkin en Tsjekof. Bygesê, hul algemene kennis, asook kennis van aardrykskunde en geskiedenis is beperk tot die Kaukasiese streek. Giorgi is die mees algemene seunsnaam, en dit is algemeen om 3 tot 5 in een klas te hê. Onder die meisies is dit Mariam of Nino. Kinders spreek ook hul ouers op hul voornaam aan. Verwarring…

Mediese dienste is orals beskikbaar, en nooddienste is gratis vir burgers. Maar, spesialisdienste is moeilik bekombaar, duur of bestaan in baie gevalle glad nie.

Alhoewel misdaad tog voorkom, is dit bitter min en is Georgië een van die veiligste lande ter wêreld. Hier is geen motordiefstal, kapings of selfoondiefstal nie, en inbrake is omtrent ongehoord. Saans speel die kinders op straat of in die parke, en ma’s en oumas sit en klets in die somer tot laataand. Dit is nog relatief veilig snags op straat, en verkragtings en aanrandings bestaan feitlik glad nie. Net soos Suid Afrika in die 60’s, 70’s en 80’s.

Ons het mettertyd kennis gemaak met die Afrikanergemeenskap wat in 2011 tydens die Saakashvili-periode na Georgië verhuis het om die landbousektor te ontwikkel. Van die aanvanklike groep wat belanggestel het, het net ‘n handjie vol die groot trek aangdurf en hier is waarskynlik minder as 40 Suid-Afrikaners in totaal. Gedurende die eerste paar jaar het die belangstelling getaan en het die meerderheid na SA teruggekeer. Die TLU bring sporadies groepe boere oor om “te kom kyk” maar dit is meer ‘n sosiale geleentheid as ‘n werklike hervestigingsaksie. Die SA boere is nie bereid om dít wat hul in SA het, prys te gee vir die land met sy grou, ysige winters nie, ongeag die geleenthede. As jy hier woon, gaan jy jou stert af werk om dit te verdien. Vergeet van ‘n ous en tuinbooi.

Oor die algemeen aard Suid-Afrikaners nie goed in Georgië nie. Myns insiens is Suid-Afrikaners te bederf en die gerief blyk swaarder te weeg as veiligheid of politiek. Almal wil kom, sommiges maak so, maar weinig bly agter. Vir die meeste is dit net eenvoudig te moeilik. Vir die handjie vol boervrouens hier wat dit wel gedoen het, haal ek my hoed af – julle is nie sissies nie.

— Mnr Domestos

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.