Sydney Gregan: Ramaphosa, held van die geldmagte … en die toekoms van die Afrikaner

Cyril Ramaphosa... groter Afrikanervyand as Jacob Zuma?

Die Anglo-Amerikaanse geldmagte is verheug oor die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot leier van die ANC. Hy is immers ‘n pion van hulle en deur hulle oornag supperryk gemaak. Ja, hy het oornag (vanuit niks!) een van die rykstes in Suid-Afrika geword. Hy is dus diep in die skuld by hulle. “It’s payback time”, soos hulle op Engels sal sê!

Maar wat beteken sy verkiesing vir die Afrikaner se vryheidstryd?

Wel, eerstens moet besef word dat alles in die werking gestel is om die BRICS-greep op Suid-Afrika te verbreek. Jacob Zuma en sy volgelinge se groot misstap was nie soseer staatskaping nie, maar staatskaping deur die verkeerde magte. Deur sy rug op die Anglo-Amerikaanse geldmagte te keer en vir hulp by China, Indië en Rusland aan te klop, was vir seker die grootste rede waarom Zuma deur die geldmagte se media (met Netwerk24 aan die spits) meedoënloos geteiken is. Dit wil voorkom asof hulle in hulle doel geslaag het. Ramaphosa en sy luitenante sal nou alles in werking stel om die VSA en Brittanje se greep op die Suid-Afrikaanse ekonomie te “herstel”. Dat dit op dieselfde neerkom (naamlik staatskaping) skeel hierdie magte min, solank húlle net die beheer kan kry.

Daarmee saam sal Ramaphosa Suid-Afrikaners probeer oortuig dat ‘n lening deur die IMF nou lewensnoodsaaklik gaan wees om die ekonomie te red. Mense wat wakker is weet wat hierdie lenings (met die voorwaardes waarmee dit gepaard gaan) vir die inwoners van verskeie state (waarvan Griekeland seker die beste voorbeeld is) tot gevolg gehad het. ‘n IMF-lening is die sekerste wyse waarop die verknegting van die burgers van hierdie land verseker sal word. Dit sal die geldmagte help, maar dit sal die gewone Suid-Afrikaner se armoede bestendig deurdat sy geld elke dag minder werd sal word en sy las groter.

Ramaphosa sal natuurlik moet hoop dat die NUK van die ANC hom in hierdie stappe gaan steun deur hom ten eerste dadelik president te maak (deur Jacob Zuma te herroep) wat beteken dat hy daar die meerderheidsteun sal moet kry, wat nog gesien sal moet word. Daarby is dit ‘n vraag of die Zoeloes die huidige toedrag van sake gaan aanvaar waar ‘n lid van ‘n klein minderheidsvolkie, die Vendas, nou die lakens gaan uitdeel, terwyl hulle droëbek moet toekyk.

Die persepsie sal natuurlik deur die media geskep word dat Ramaphosa die redder van die nasie is; dít terwyl hy onder die banier van “radikale sosio-ekonomiese transformasie” leier van hierdie terroristebeweging geword het en met alle besluite wat sedert 1994 geneem is, steeds onveranderd en waaraan hy volkome deelagtig is en waartoe hy hom verbind het. Dit sluit in die onteieining van die Afrikaner, die ekonomiese ontmagtiging en identiteitsvernietiging van die Afrikaner — natuurlik part en deel van die Anglo-Amerikaanse geldmagte se plan vir hierdie land!

Ramaphosa is ‘n pion van die geldmagte en is soos Mandela gekoop om die plan van hierdie magte in Suid-Afrika deur te voer. In daardie opsig is hy ‘n groter vyand van die Afrikaner as wat die Zumas ooit kon wees. Hy sal die gedaante van ‘n vriend aanneem terwyl sy werklike agenda telkens bedek en verswyg sal word.

So is die Afrikaner se vryheidstryd deur die keuse van hierdie marionet in werklikheid ‘n reuseterugslag toegedien omdat die Afrikaner opnuut gesus sal word deur ‘n geldeenheid wat tydelik sal verbeter en idiotiese liberale kommentators (libdiote) wat elke dag sy lof sal besing, terwyl pryse van noodsaaklike lewensmiddele net verder sal styg, misdaad steeds sal toeneem onder druk van werkloosheid en onwettige buitelandse immigrante en sal die gewone Afrikaner wat homself buite hierdie geldmagkliek bevind, net verder ontmagtig word.

Ons vryheidstryd is dus op 18 Desember 2017 ‘n geweldige knou toegedien en sal dit ‘n reusepoging verg om die Afrikaner onmiddellik van hierdie bedenklike toedrag van sake bewus te maak!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.