Leon Lemmer: Homoseksuele: Weerstand van die weerloses?

Deesdae word sekere neigings aan ons voorgehou asof dit wêreldwyd korrek sou wees. Die drie belangrikste polities byderwetse gebooie is dat jy bevoordeel moet word as jy nie-wit, vroulik en homoseksueel (insluitende talle variasies) is. Hierdie groepe het ‘n buitengewoon positiewe aansien verwerf. Dit maak nie saak of die mense in hierdie drie kategorieë ‘n minderheid of die meerderheid in ‘n land of die wêreld is nie. Wie bevoordeel moet word, is hulle. Verdienste/meriete word nie as ter sake geag nie. Die ander kant van die munt is dat teen blankes, mans en heteroseksuele gediskrimineer mag en moet word. Ek ervaar dit daagliks as ‘n drievoudige terugslag. Blanke, heteroseksuele mans het skurkstatus verwerf. Feitlik enigiets mag hulle toegevoeg of aangedoen word. Die teenoorgestelde geld egter nie. Wat jy ‘n nie-witte, vrou of homoseksueel toevoeg of aandoen, is aan uiters strenge sensuur en sanksies onderworpe. Jy móét groter simpatie met hierdie drie groepe openbaar as met dié waaraan jy teen wil en dank behoort of jy word ‘n sosiaal uitgeworpene.

Hierdie onverkwiklike werklikheid dien as agtergrond vir my bespreking van die teoloog André Bartlett se boek, Weerlose weerstand: Die gaydebat in die NG Kerk (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017, 304p, R200). In die motto word alle mense asof vanselfsprekend waardig verklaar (p 5), dus ook diegene wat (moontlik) onwaardig is. Van die begin af word eintlik van die veronderstelling van die gelykheid en wesenlike eendersheid van mense (ten spyte van ongelykheid en andersheid) uitgegaan. Daarom word selfdegeslag-verhoudings en “huwelike” (kragtens Wet 17 van 2006 – 263) sonder meer aanvaar. Die enigste manier waarop polities byderwets van gelykheid en eendersheid afgewyk mag word, is om nie-wittes, vroue en homoseksuele meer of hoër of beter as blankes, mans en heteroseksuele te ag.

Die boektitel is ontleen aan Ernst van Heerden (1916-1997) se gedig “Ontsnapping” waarin die frases “weerlose weerstand” en “onbeholpe vlees” voorkom (6). Die woord “weerloos” het ‘n simpatie-dimensie wat deesdae dikwels in die konteks van die armes gebruik word. In dieselfde konteks is daar die stemloses. Die neiging is om sulke weerloses (die armes en stemloses) ten minste histories met nie-wittes en vroue te assosieer. Daarteenoor word homoseksualiteit histories in groter mate met mans as vroue geassosieer. Soos Bartlett gebruik ek die benaming “gay” as ‘n wisselvorm vir “homoseksueel” (33).

Die weerstand wat in die praktyk uit hierdie oorde ervaar word, is dikwels allermins weerloos. Hierdie weerstand kan deesdae uiters aktivisties, militant, gewelddadig en destruktief of ten minste demonstratief, onaangenaam en opdringerig wees. Gayweerstand is al lank nie meer weerloos nie. Die boektitel is nie ingestel op feitelike korrektheid nie. Dit gaan om die opwekking van simpatie in ooreenstemming met die outeur se radikale oortuigings. Die punt is dat die gaydiskoers talle ooreenkomste toon met wat in die politiek gebeur. Diegene wat op die snypunt van die byderwetse (bv linkse, liberale, humanistiese, progressiewe, marxistiese) politiek wil wees, is geneig om sterk pro-gay te wees. As jy daarbenewens ook predikant of teoloog is, word dit eintlik ‘n onverbloemde poging om religie, kerk en evangelie (meer) relevant en aanvaarbaar in ‘n gesekulariseerde wêreld te probeer maak; dus soortgelyk aan die bevrydingsteologie.

Bartlett noem dat die uitgewer Nicol Stassen “voorgestel het dat ek die boek skryf” (304). Op die agterkant beveel Waldimar Pelser, die redakteur van Rapport, die boek aan. Neels Jackson, die redakteur van Kerkbode, het die voorwoord geskryf. Hy plaas die boek dadelik in die politieke arena met verwysing na die slawe en die oopverklaring van die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk vir alle rasse in 1986 (9). Daarna het die NG Kerk by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke aangesluit, wat onder die leiding van mense soos Desmond Tutu, Beyers Naudé en Frank Chikane vóór 1994 openbare onrus gestook en terrorisme aangepor het. Sedert 1998 is die NG Kerk ook lid van die Wêreldraad van Kerke. Nasionale en internasionale aanvaarding van die NG Kerk gaan egter gepaard met ‘n drastiese afname in lidmaatskap. Dit is omdat Afrikaners/Boere kultureel fundamenteel van die deursnee-Suid-Afrikaner en -Afrikaan verskil en verkies om nie wêreldburgers te wees nie.

Die tradisionele standpunt van die NG Kerk was: “Jy gaan hel toe, want jy is skeef” (60). Die toegewings wat die NG Kerk sedert 1986 aan gays gemaak het, word “normalisering” genoem: “die aanvaarding dat heteroseksualiteit nie die enigste normale vorm van seksualiteit is nie. Dit gaan om die groeiende besef dat die spektrum van lesbies, gay, biseksueel, transgender, interseksueel [LGBTI] en dies meer ‘n groter en komplekser werklikheid is as die eenvoudige binêre skema van man en vrou waarmee in die verlede gewerk is” (9). Toe die algemene sinode van die NG Kerk in 2015 besluit het dat homoseksuele in sy kerke burgerlike verbintenisse/huwelike kan aangaan en predikante sowel gay as nie-selibaat mag wees, “het die NG Kerk nie net die eerste hoofstroomkerk in Suid-Afrika én in Afrika geword om so ‘n besluit te neem nie, maar ook gedoen wat nog net in ‘n handjievol ander kerke wêreldwyd reggekry is” (13).

Ek aanvaar dat daar in uitsonderlike gevalle mense is wat anatomiegewys (ooglopend en andersins) nóg man nóg vrou is. Daar is ‘n groter groep wat anatomiegewys nie duidelik van die genoemde binêre skema (man/vrou) afwyk nie maar wat in hulle seksuele gedrag voorkeur aan dieselfde geslag gee. Hulle is homoseksueel in funksionering. Wat Bartlett doen, is om sonder meer telkens te beweer dat homoseksuele só gebore is; selfs al voor geboorte só was. Daarmee word die bestaan van fundamenteel verskillende soorte homoseksualiteit ontken. Ek dink dat daar ten minste duidelik tussen aangebore en aangeleerde homoseksualiteit onderskei moet word. Ek kon nie verstaan dat Bartlett enersyds na die interaksie van aangebore en omgewingsfaktore verwys (35) en daaraan voortgaan asof daar slegs aangebore homoseksualiteit is nie. Later verduidelik hy: “Sosiale faktore kan wel ‘n rol speel om ‘n oriëntasie wat reeds vasgelê is te bevestig en die ontplooiing daarvan te bevorder” (50). Wat hy soos die pes vermy, is enige poging om homoseksuele se gedrag te verander.

In 1986, na aanleiding van ‘n 1980-verslag, het die NG Kerk wel tussen kern- en pseudo-homoseksualiteit onderskei (19, 51). Die hedendaagse propagering van die voortreflikheid van gayverhoudings en die buitensporige uiterstes waartoe gegaan word om diesulkes te beskerm en simpatie vir hulle te wek, bring mee dat homoseksualiteit ‘n gesogte modeverskynsel geword het wat deur sommige heteroseksuele nagevolg word. Dit het skynbaar ‘n prestige-saak geword as jy kan sê jy het ‘n selfdegeslag-lewensmaat eerder as wat jy ‘n verstokte, binêre skema, getroude man of vrou is. Sommige mense is nie homoseksueel gebore nie. Hulle word homoseksueel. Dit is dus foutief en doelbewus misleidend om te beweer dat almal wat hulle homoseksueel gedra só gebore is en nie kan verander nie. Die klimaat word deesdae geskep dat hulle nie hoef te verander nie omdat ‘n homoseksuele leefwyse in dieselfde mate as dié van heteroseksuele sosiaal aanvaar behoort te word.

‘n Saak wat glad nie afdoende in die openbare diskoers verreken word nie, is die mate waarin homoseksuele gedrag vir heteroseksuele afstootlik kan wees. Dit gaan nie (noodwendig) om vooroordeel en ‘n gebrek aan verdraagsaamheid (woorde met ‘n sterk politieke konnotasie) nie. Dit kan ‘n heeltemal natuurlike reaksie wees. Dekades gelede het ek die rolprent Deliverance (1972) gaan kyk. Die berugte, uitgerekte verkragtingstoneel van ‘n man deur ‘n man bly my tot vandag toe by as uiters afstootlik. Ek sou te graag nie daardie rolprent wou gesien het nie. Homoseksualiteit is tradisioneel met geslagsverkeer tussen mans geassosieer. Dit is terselfdertyd homoseksualiteit in sy afstootlikste vorm. Dit kom neer op die gebruik van die anus en kolon op ‘n ander manier as wat gewoonlik die geval is. Die verweer is dat homoseksualiteit nie noodwendig so beoefen word nie. Maar die feit is dat dit soms/dikwels hierdie vorm aanneem en vir baie heteroseksuele is dit heeltemal onaanvaarbaar en kan hulle nie hulle seën daaroor uitspreek nie. Daar is al beweer dat (sommige vorme van) homoseksuele gedrag, soos kolonisme, eintlik nie seks is nie maar die nabootsing daarvan. Ek gebruik die term “kolonisme” omdat sodomie ook ander homoseksuele praktyke insluit.

In die mediese vakliteratuur word verduidelik dat die homoseksuele gebruik van die anus en kolon ongewens is omdat die subjek verlies aan ontlastingsbeheer kan ervaar; dermate dat ‘n operasie nodig kan wees. Dit is dus vals om te beweer, soos dikwels gebeur, dat ‘n gay leefwyse niemand skade berokken nie. Daar is ook die kwessie van die verspreiding van veneriese siektes, insluitende die dodelike MIV/Vigs; ‘n aangeleentheid wat glad nie deur Bartlett aan die orde gestel word nie omdat dit hom in die propagering van sy pro-gay standpunt nie pas nie. Die verweer is dat heteroseksuele gedrag óók veneriese siektes versprei. Maar dit is geboekstaaf dat homoseksuele mans ‘n leidende aandeel in die vinnige internasionale verspreiding van MIV gehad het, onder meer weens die neiging by sommige homoseksuele om dikwels geslagtelik te verkeer en daarby met ‘n groot verskeidenheid mense.

Wat Bartlett doen, is dat hy homoseksuele praktyke (sekerlik insluitende kolonisme) goedkeur en propageer. Hy doen dit op grond van sy vertolking van die Bybelboodskap in sy geheel (die liefdesgebod, wat aanvegbaar is – kyk hier onder) en sekere Bybelteksverse. Hierdie teksverse verplig Bartlett om promiskue gedrag by almal (hetero- en homoseksuele) af te keur. Ingevolge die gelykheids- of eendersheidsdogma is homoseksuele gedrag as sodanig volgens Bartlett egter wesenlik nie meer promisku as dié van heteroseksuele nie. Soos oor swartes in die verligte politiek, word deurgaans gehamer op hoe homoseksuele se gevoelsens seergemaak word en die pyn wat hulle moet verduur weens die afkeurenswaardige gesindheid van sommige heteroseksuele. Wat Bartlett nie noem nie, is dat die gaydebat in die NG Kerk uit die staanspoor anders as ander kwessies benader is. Wanneer die NG Kerk voorheen uitsluitsel oor iets (bv doop of dobbel) wou hê, is eerstens nagegaan wat die Bybel sê en daarna hoe dit lidmate of mense in die algemeen raak. In die gaydebat is die prosedure breedweg omgekeer. Die gevoelens en heil van homoseksuele word as uitgangspunt gebruik, of ingevolge menseregte as primêr beskou, en daarna word gepoog om skriftuurlike gronde vir ‘n pro-gay standpunt te vind.

Waarvoor ek onder meer pleit, is dat daar gerus groter begrip kan wees vir heteroseksuele se natuurlike reaksie op die aard van ten minste sommige vorme van homoseksualiteit. Dit beteken op sy minste dat homoseksuele liefs minder demonstratief en uittartend te werk moet gaan. Dit sal ongetwyfeld seksuele harmonie en verdraagsaamheid bevorder. Ek ontken nie dat daar iets soos homoseksualiteit bestaan nie. ‘n Mens moet ook nie sonder simpatie wees vir die klein minderheid wat só gebore is nie. Maar dit is vir baie heteroseksuele swaar om saam te leef met die mate waarin hierdie (ongewone) soort leefwyse deesdae gepropageer en oorpositief voorgestel word. In werklikheid is homoseksualiteit in baie gevalle ‘n sielsongelukkige toestand wat onbestendigheid en selfs selfdood in die hand werk. Die American Psychiatric Association het in 1973 beweer “homosexuality is not an … emotional problem” (35), maar dit veroorsaak sekerlik groot emosionele onstabiliteit in gay geledere. Een gay beweer: “Ek dink ek is bevoorreg om gay te wees” (56) terwyl ‘n ander een daarteenoor sê: “Jy sal nie só [‘n] keuse maak as jy ‘n keuse gehad het nie” (58).

In sommige gevalle het ek hier bo woorde soos “gewoonlik” en “natuurlik” gebruik. Dit is omdat die gewoonte gevestig is dat die woorde “abnormaal” en “onnatuurlik” liefs nie in die konteks van seksualiteit gebruik moet word nie. Dit is ‘n subverskynsel van die gelyk- en eerdersverklaring van mense. Maar homoseksuele as ‘n groep, wat alle vorme van homoseksualiteit insluit, is in alle samelewings ‘n minderheid. Sommige van hulle seksuele praktyke is ongewoon. Dwarsdeur Bartlett se boek word erken dat hulle anders is ten spyte van al die pogings tot gelyk- en eerdersverklaring. In ‘n sin kom dit daarop neer dat gays afwyk van die normale of gewoon gangbare in die samelewing. Bartlett strewe na die assimilasie of insluiting (dikwels “omarming” genoem) van homoseksuele op alle vlakke en oral; dus nie net as gemeentelede nie, maar ook as kerkraadslede en predikante. Soos in die hedendaagse politiek is inklusiwiteit en nie-diskriminasie die wagwoorde.

Selfdegeslag-verhoudings en -huwelike bring nie kinders voort nie. Die vraag is of dit nie ‘n aanduiding kan wees dat die geslagsverhoudings van gays ten minste in daardie opsig onnatuurlik is nie. Die verweer is dat heterogene huwelike soms ook kinderloos is en dat seks nie uitsluitlik met die oog op voortplanting beoefen word nie. Maar die punt is dat voortplanting noodsaaklik vir die voortbestaan van die spesie is en dat gay verhoudings dit verydel en in daardie opsig teenstrydig met die natuurlewe is. Bartlett onderskryf egter die standpunt dat homoseksualiteit “as [‘n] normale variasie van menslike seksualiteit beskou” word (50). “Homoseksualiteit kan beoordeel word as ‘n wisselvorm van normale menslike seksualiteit en is dus ‘n simptoom van die ryke verskeidenheid [diversiteit] wat in God se skepping opgesluit is – vergelykbaar met iets soos linkshandigheid wat voorheen ook as abnormaal beskou is en terapeuties probeer ‘herstel’ is” (87-88).

Dit is seker nie moontlik om meer radikaal pro-gay as Bartlett te wees nie. Die kinders van gay egpare (uit vorige verhoudings, kunsmatige bevrugting of aanneming) behoort volgens hom in die kerk gedoop te kan word. Geen gays, insluitende predikante, hoef selibaat (geassosieer met die Rooms-Katolieke Kerk) te lewe nie omdat dit nie van heteroseksuele verwag word nie. Selfdegeslag-huwelike of “burgerlike verbintenisse” behoort soos tradisionele huwelike in kerke voltrek te kan word. Homoseksuele moet hiervolgens volle en nie tweedeklas-lidmate wees nie (99). Bartlett versuiker die pil van absolute gelyke regte vir almal met die toegewing dat gemeentes self kan besluit wie gedoop of getrou word en of hulle gay kerkraadslede of predikante wil kies. Maar hy weet baie goed as sommige gemeentes ‘n pro-gay gesindheid uitleef en ander dit nie doen nie, daar by laasgenoemdes dadelik ‘n bohaai oor diskriminasie en liefdeloosheid opgeskop sal word. Wat nodig is maar nog nie deur die NG Kerk gedoen is nie, is om omvattend ondersoek in te stel na die gedrag van gay lidmate sodat geweet kan word wat alles deur Bartlett as (Bybels) aanvaarbaar verklaar is.

Diegene wat polities links (oa humanisties) is, hou daarvan om die kernboodskap van die Bybel tot die sogenaamde liefdesgebod te reduseer. Maar dit gaan moeilik om die Ou Testament eerder met liefde as wreedheid te assosieer. In die Nuwe Testament gaan dit ietwat makliker maar die hel bly ‘n baie warm plek. Volgens Levitikus moet jy jou naaste so lief soos jouself hê. Maar hierdie woorde “referred only to fellow Israelites, not to people in neighboring nations” (Robert Wright, The evolution of God, London: Abacus, 2009, p 235, ook 257). “‘Love your neighbor’ is a recipe for Israelite social cohesion, not for interethnic bonding” (260). Van die oudste boek in die Nuwe Testament word gesê: “In the book Mark, the word ‘love’ appears in only one passage” (257). Ons het “reason to doubt that the real Jesus actually uttered the phrase ‘Love your enemies'” (260). “Paul’s ‘brotherly love’ wasn’t truly ‘universal.’ It focussed more heavily on fellow Christians than on outsiders” (299). In die vroeë christelike kerkgeskiedenis was die christen se naaste “his fellow Christian” (283).

Die huidige manie dat ons almal moet liefhê, is onnatuurlik. Ons is (feitlik) noodwendig geneig om diegene naaste aan ons (dus eerder familie as totale vreemdelinge) lief te hê en aangetrokke te voel tot diegene met wie ons kulturele bande het (bv Afrikaners, Europeërs, Westerlinge). Om van ‘n Afrikaner ‘n halsoorkop Afrikaan-liefhebber te maak, kan onmoontlik blyk te wees. Kulturele verskille, soos ander verskille (bv tussen hetero- en homoseksuele), moet eerder erken as ontken word. Insgelyk is die ons/hulle onderskeid so natuurlik soos water. ‘n Mens moet onderskei/diskrimineer om te kan lewe; sekere dinge is goed en gewens terwyl ander dinge sleg is en vermy moet word. Dit hoef nie vooroordeel of benadeling te behels nie.

Tot duser het ek oorsigtelik met Bartlett se boek gehandel en min bladsyverwysings verskaf. Van nou af gaan ek meer spesifiek wees. Ek gaan hoogs selektief te werk en poog om nie te herhaal nie.

In hoofstuk 1 gaan dit vir Bartlett, soos in die politiek, om gelykwaardigheid en menswaardigheid (13). Gays het pyn en verwerping ervaar en verskoning vra is dus aan die orde van die dag (14). Gays is verguis en aan verontmenslikende veroordeling blootgestel en dít weens “valse stereotipering en die gebruik van denkbeelde wat lank reeds verkeerd bewys is, om ‘n uitgediende siening van homoseksualiteit staande te hou” (15). Later word in dieselfde asem genoem: “rassisme, gender-ongelykheid en die miskenning van die menswaardigheid van gays” (42).

In hoofstuk 2 toon Bartlett aan dat die gaydebat in die NG Kerk in dieselfde jaar, te wete 1986, begin het toe die algemene sinode rasse gelyk verklaar het (21) en hierdie kerkgenootskap hom van apartheid gedistansieer het (23). ‘n Bedenklike aspek van hierdie hoofstuk is Bartlett se insinuasie dat diegene wat die luidste teen homoseksualiteit beswaar maak juis diegene is wat gay verhoudings begeer (24, 26).

In hoofstuk 3 word genoem dat homoseksualiteit tydens die grondwetlike onderhandelings van 1990/94 gedekriminaliseer is. In die 1996-grondwet “is daar uitdruklik voorsiening gemaak dat daar teen geen persoon op grond van seksuele oriëntasie gediskrimineer mag word nie” (28). Dit is seker ook toe dat prostitute as sekswerkers ontpop het. Nelson Mandela het die algemene sinode van die NG Kerk in 1994 toegespreek en waaragtig apartheid as ‘n “verskroeide aarde-beleid” bestempel, terwyl dit die ANC se beleid was dat Suid-Afrika tot op die grond afgebreek kon word ten einde dit vir swartes moontlik te maak om die politieke mag in te palm.

Voortaan sou die sinode nie meer peiltrek op “die onfeilbare en letterlike betekenis van elke spesifieke woord en teks” in die Bybel nie (29). Daar sou ‘n “meer genuanseerde hantering van die Bybel” wees, wat die hek wyd ooplaat aan aktiviste soos Bartlett om inlesing van hulle voorkeure in die Skrif te doen; dat dit eerder moet gaan om “die breë [deesdae verpolitiseerde] heilsboodskap” en dat die “proeftekste” (daardie teksverse wat hulle uitdruklik en ondubbelsinnig teen homoseksualiteit uitspreek) “na sekere homoseksuele praktyke verwys, maar nie na homoseksualiteit as sodanig soos ons dit vandag verstaan nie” (29). Dit is glo net “perverse vorme van homoseksualiteit, byvoorbeeld verkragting, tempelprostitusie, afgodery en pederastie [pedofilie – 53]” wat veroordeel word (45). Die term “proeftekste” laat dit klink asof hier voorlopige of hipotesiese stellings gemaak word. In werklikheid is hulle dik spykers in die doodskis van gay lewenswyses.

In hoofstuk 4 word daar soos volg aangehaal: “God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie: (Hand. 10:28)” (49). Die tersydestelling van die onderskeid tussen Jood en nie-Jood word vertolk as “die algemene opheffing van alle uitsluitingskategorieë” (49). Gevolglik mag gays ook nie uitgesluit word nie. Teen niemand mag gediskrimineer word nie. Almal moet so gelukkig moontlik gehou word. Dit lei bv tot Desmond Tutu se gebod dat alle gelowiges, afgesien van die religie waaraan hulle behoort, tot die hemel toegelaat word. Almal is goeie mense. Sondaars word skaars. Bartlett beweer “dat homoseksualiteit … in alle samelewings, op alle vlakke van die samelewing en alle periodes van die geskiedenis voorkom” (50). Dit geld ook misdadigers, sondaars, ens, en verskaf dus slegs ‘n bevestiging van teenwoordigheid en geen kwalitatiewe aanduiding nie.

In hoofstuk 5 word van Levitikus 18:22 en 20:13, wat homoseksuele dade uitdruklik verbied, gesê: “Klaarblyklik geld meeste van hierdie uitsprake … nie meer in letterlike sin vir ons vandag nie” (71). In 1 Korintiërs 6:9 en 1 Timoteus 1:10 word glo “woorde gebruik waarvan die presiese betekenis omstrede is. Hoewel dit duidelik is dat homoseksuele gedrag hier sterk veroordeel word … daar verskillende menings is oor watter spesifieke gedrag ter sprake is” (71). Oor Romeine 1[:26-27]word beweer “dat die betekenis daarvan nie so vanselfsprekend is as wat soms gedink word nie. Hoewel die gedeelte sterk afwysend teenoor homoseksuele praktyke staan, is dit nie die eintlike punt van Paulus se kritiek nie, maar eerder die selfverheffing van die Jode teenoor die heidene” (72). “Net soos die skerp oordeel oor seksuele losbandigheid in die algemeen (soos in vs 24-25) nie beteken dat seksualiteit as sodanig daarmee as sondig afgewys word nie, hoef die skerp oordeel oor homoseksuele losbandigheid in vs 26-27 ook nie sonder meer as ‘n veroordeling van homoseksualiteit as sodanig geïnterpreteer te word nie” (86). Dit lyk na gevalle van: Daar staan nie wat daar staan nie. In hierdie konteks loof Bartlett die teoloog Flip Theron se “kreatiewe vermoë om Bybelse tekste te ontsluit” (76).

In hoofstuk 6 skryf Bartlett: “Die sogenaamde veroordelende tekste in die Bybel nie noodwendig met die verskynsel van homoseksualiteit as sodanig te doen het nie, maar waarskynlik met geperverteerde vorme van homoseksuele uitlewing soos verkragting (in die Sodom-verhaal), tempelprostitusie (in die Levitikus-tekste) en seksuele losbandigheid (in die Korintiërs- en Timoteus-tekste). Oor die saak van homoseksualiteit sê die tekste eintlik baie min” (80). Dit kan daarop neerkom dat Sodom en Gomorra volgens Bartlett behoue moet bly. Ook: “Dat daar redelike eenstemmigheid onder kundiges is dat homoseksualiteit nie aangeleerde gedrag is nie, maar ‘n wesenlike oriëntasie wat baie vroeg reeds (moontlik selfs voor geboorte) vasgelê is en wat slegs in hoogs uitsonderlike gevalle gewysig kan word” (81). Hy praat van “konstitusionele homoseksualiteit (dit wil sê homoseksualiteit as ‘n vaste oriëntasie)” (83). Nêrens stel Bartlett homoseksualiteit as modeverskynsel aan die orde nie.

In hoofstuk 7 word genoem dat Frits Gaum “hom voorheen reeds sterk negatief teen ‘n homoseksuele leefwyse uitgespreek het” (104). Sedertdien het hy ‘n lojale ondersteuner van sy gay predikantseun Laurie geword. Wat as anti-gay tekste beskou is, het “verouderde Skrifuitleg” geword (106). Daar word egter na “eksgays” (109, 110) verwys, wat daarop dui dat gay gedrag wél in heteroseksuele gedrag omskep kan word. Soos in die politiek (dink bv aan die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie) is daar die oproep, “let the gay people tell their own stories” (110). Daar moet nie net óór gays gepraat word nie maar ook en veral mét hulle. Dan móét daar geluister word. Soos in die politiek moet daar eerder op ooreenkomste as verskille gelet word (88).

In hoofstuk 8 kom daar nie eintlik nuwe gesigspunte aan die lig nie. Daar word voorgestel dat die algemene sinode nie in daardie stadium (2007) ‘n meerderheidsbesluit afdwing nie: “dat daar in die plek daarvan eerder gekies sal word vir die verantwoordelike bestuur van die diversiteit in die kerk” (124).

Hoofstuk 9 staan in die teken van die Belydenis van Belhar (1986) waarin daar die tydgenootlike vertolking is van God wat “op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is.” Om in dieselfde asem as hierdie belydenis genoem te word, is vir Bartlett ‘n kompliment (101). Johan Symington, die redakteur van Kerkbode, skryf: “Gemeentes behoort nou, nog meer as ooit, pastoraal uit te reik na hulle wat gemarginaliseer word” (95). Dit gaan om inklusiwiteit. Geen mens moet as heilig of onrein beskou word nie (93). “Dit beteken dat geen menslike kwaliteit, anders as ongeloof, as uitsluitingskategorie deur die kerk hanteer mag word nie” (87). Die “Seisoen van Menswaardigheid” het aangebreek (144).

In hoofstuk 10 word beweer “dat ‘n groot deel van die bevolking so [gay] is” (156). Wanneer gays lewensmaats kies, kan dit gaan om “duursame langtermynverhoudings … en nie om selfsugtige bevrediging nie” (157). Die ideaal is die “normalisering van die posisie van lesbiërs, gays, biseksuele en transseksuele persone binne die kerk” (160). Bartlett erken dat hy “die saak van die kerk se gaylidmate so sterk as moontlik bevorder” (167). Soms het hy hom “onnodig skerp uitgespreek” (173).

In hoofstuk 11 word kant gekies teen “eksklusiewe en ongenaakbare” Skrifvertolking (169). Liefdeloosheid en overdraagsaamheid moet plek maak vir deernis en omgee (170). ‘n “Liefdevolle, barmhartige” vertolking van die Bybel is nodig (171). Daar word verwys na 1 Johannes 4:7-8 waar gesê word: “Liefde kom van God” en “God is liefde.” (173). Dan gly Bartlett na hierdie (gevaarlike) vertolking: “Ek het die mening uitgespreek dat as ware liefde van God kom, en nie van een of ander twyfelagtige bron soos die duiwel nie, ons ons die vraag moet afvra of ons dan die reg het om mense te verhinder om aan hierdie [!] liefde uitdrukking te gee in die vorm van ‘n vaste verhouding van wedersydse trou” (173).”Ten diepste [word] van ons gevra … om uitvoering te gee aan die Bybelse liefdesgebod” (178). In 2015 het die algemene sinode van die NG Kerk wesenlik Bartlett se pro-gay standpunt met 102 stemme teen 88 aanvaar (180). Vier lesbiërs is toegelaat om “elke dag met T-hemde met die logo #liefdeisliefde daarop op die galery van die sinodesaal” te sit (182).

In hoofstuk 12 word vertel van die reaksies op die 2015-besluit waarmee die NG Kerk ‘n “fundamentele skuif gemaak” het (189). “Die mooiste koerantstorie” was van Jean Oosthuizen onder die opskrif, “NG Kerk se eie 2 Februarie” – ‘n verwysing na FW de Klerk se noodlottige toespraak in 1990. “Daarmee het die kerk nou uiteindelik sy eie Rubicon oorgesteek – iets wat die toekoms van die kerk onherroeplik gaan verander” (191). Daar word genoem dat die pro-gay besluit “lotsbepalend” vir die NG Kerk kan wees (189). “Dis ‘n geveg om die siel van die NG Kerk” (203) volgens ‘n predikant, Johannes de Koker. Bartlett meen dat daar nou “op ‘n meer verantwoordelike wyse” met die Bybel omgegaan word (196). ‘n Predikant, Danie Mouton, skryf: “As God gays vir die bediening bly roep, wie kan hulle belet?” (197). Die eintlik vraag is egter: Het God hulle werklik geroep? ‘n Behoudende ouddiplomaat skryf dat ingekoop is “in die kompromie-denke om van die NGK ‘n humanistiese mens-georiënteerde ‘spyskaart-kerk’ te maak … Die kerk moet as roeping van God die waarheid verkondig téén die tydsgees in … Die genade & liefde word nou humanisties-eensydig beklemtoon” (201-202).

Hoofstuk 13 handel oor die gevolge van die spanning en verdeeldheid wat die 2015-besluit in die NG Kerk veroorsaak het. In November 2016 is daar “vir die heel eerste keer in die geskiedenis van die NG Kerk ‘n buitengewone vergadering van die algemene sinode byeengeroep” (203). Soos in Amerika word daar nou gepleit vir “veilige ruimtes” waarin gesprekke oor verskille gevoer kan word (206, 211). Bartlett is beswaard oor die “klandestiene aard” van sommige van die anti-gay gesprekke (216), maar dit is duidelik dat hy aktief betrokke is by soortgelyke “netwerking” ten einde pro-gay resultate te verkry. Myns insiens word daar tereg kommer uitgespreek oor die soort opleiding wat sommige teologiese fakulteite aanbied (217).

Wat ek ontstellend vind, is dat regsmenings wat deur die NG Kerk ingewin is, ook dié deur sy eie regsverteenwoordiger, in Engels is (226, 228, 230, 236, 237). In die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg word omsendbriewe aan gemeentelede in Engels gestuur (287). Dan besef ‘n mens dat die NG Kerk deesdae nooit amptelik vir Afrikaans in die bres tree nie; dat hereniging met die Verenigende Gereformeerde Kerk ‘n groot terugslag vir Afrikaans as kerktaal sal wees maar dat dit die NG Kerk skynbaar in geen opsig daarvan weerhou om na kerkeenheid te streef nie.

Bartlett se politieke onderrok hang ver uit wanneer hy oor die opskorting van die 2015-besluit skryf: “Vir my gevoel het ons ‘n situasie soortgelyk aan dié van die 1857 sinode van Kaapse kerke. Die kerk neem [in 2015] met oortuiging ‘n beginselstandpunt, maar besluit dan [in 2016] om ‘ter wille van die swakheid van sommige’ nie uitvoering te gee aan die beginselbesluit nie. Soos in 1857 is dit weereens ‘n besluit ten koste van die meer weerlose en kwesbare lidmate van die kerk” (231). Wat Bartlett doelbewus verswyg, is dat die skeiding van wit en bruin gemeentes in 1857 vrywillig was. Bartlett wil hê dat “ons getrou” moet wees “aan ons beginsels en ons oortuigings” (231), wat uiteraard nie noodwendig Bybels gegrond is nie. Volgens Bartlett word “die [2015-]besluite van die algemene sinode verontagsaam … en die belange van die weerloses in die kerk ondergeskik gestel … aan die belange van die magtiges en die invloedrykes” (232). Bartlett wou ‘n verskil maak (232) maar sy pogings is deur konserwatiewe en fundamentaliste verydel.

Hoofstuk 14 handel oor die 2016-sinode. Bartlett is vol lof vir die 2015-besluit. Oor die 2016-sinode haal hy egter Beeld se karakterisering, “Haat vermom as liefde,” aan (239). “Ek sou nie noodwendig presies hierdie selfde woorde gebruik om my belewenis van die sinodesitting te beskryf nie, maar as ek terugkyk op die meer as dertig jaar van my bediening as predikant in die NG Kerk, staan hierdie sinode seer sekerlik uit as een van die uiterste laagtepunte wat ek nog beleef het. Dit het nie net te doen gehad met die feit dat die 2015-besluit op skokkende wyse van die tafel gevee is nie, maar ook met die toksiese atmosfeer van onderlinge wantroue en ‘n ondertoon van aggressiewe onverdraagsaamheid wat ek aangevoel het” (239).

Meer as 130 dokumente het voor die sinode gedien. Bartlett gooi enige poging tot ewewigtige verslagdoening oorboord deur te erken: “Ek wil wel ‘n paar [dokumente] uitlig wat ‘n besondere indruk op my gemaak het en wat tot ‘n groot mate uitdrukking gee aan my oortuigings” (244), bv die (gevaarlike) onderskeid tussen “Christengelowiges” en “Bybelgelowiges.” Ons moet glo in die eerste plek christengelowiges wees pleks van ongekwalifiseerd Bybelgelowiges te wees (248-249). ‘n Teologiestudent, Stefan de Klerk, het ‘n e-pos, wat sy pa aan hom as sy gay seun gestuur het, voorgelees. Daar word tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Ek is ‘n Koningskind se pa – wat ‘n voorreg!” (253).

“Die een voorlegging wat waarskynlik die mees deurslaggewende bydrae gelewer het tot die terugwaartse besluit van die buitengewone algemene sinode, was die gravamen [beswaarskrif] wat deur Chris van Wyk van die Oos-Kaap ingedien is” (257). Hierop is Bartlett se kommentaar: “Die vraag wat Chris myns insiens … nie behoorlik verreken nie, is of dit wat in die Bybel beskrýf word ook vandag as normatiéf beskou moet word. Die Bybel verwoord byvoorbeeld net ‘n patriagale wêreldbeeld” (259). Anders as in 2015 het die 2016-sinode ondubbelsinnig besluit dat “vaste lewensverbintenisse tussen mense van dieselfde geslag vir die kerk onaanvaarbaar is en dat predikante van die kerk op geen manier by die bevestiging van sulke verbintenisse betrokke mag wees nie” (266).

In hoofstuk 15 het Bartlett dit teen die “heteronormatiewe diskoers,” wat hy soos volg verduidelik: “Die manier van dink en redeneer wat daarvan uitgaan dat heteroseksualiteit die enigste norm vir intieme interpersoonlike verhoudings is, en dat alles wat nie daarmee ooreenstem nie as afwykend beskou moet word” (269). Bartlett is erg suur oor die herbesinning wat tot die 2016-besluit gelei het. Hy noem dit ‘n “regsomkeer” (270). Die lesbiërs is nie soos in 2015 toegelaat om met hulle T-hemde die logo #liefdeisliefde uit te stal ten einde die afgevaardigtes tot ‘n pro-gay besluit te intimideer nie. Die huisreëls bepaal: “Geen mense met kleredrag of plakkate of enigiets dergeliks wat standpunte oor selfdegeslagverhoudings verteenwoordig of propageer word toegelaat in die vergadering nie” (270).

Jurie van den Heever en Chris Jones het in Rapport, onder die opskrif “Meer eenders as anders,” ‘n pro-gay betoog gelewer (275). Martie Potgieter dink egter dit is verkeerd om “die NG Kerk die vark in die verhaal te maak” (277). Wannie Carstens het ‘n ander siening en het uit die NG Kerk bedank. Hy dink die sinode het die Bybel selektief gebruik: “My kerk het my in die steek gelaat en verraai” (282). LiMari Louw skryf oor haar “diepste, natuurlike, God-geskape menswees” en pleit vir “liefde … en die aanvaarding van alle mense” (285). Daar was ‘n hofuitspraak waarvolgens “godsdienstige instellings die reg het om in sekere sake wat verband hou met hulle leerstellings teen persone te diskrimineer” (295).

In hoofstuk 16 onderneem Bartlett om aan te hou om weerstand te bied (303).

Ek gee graag erkenning aan die insette wat my broer gelewer het. Hy beskik oor grondige kennis van baie onderwerpe. Elke week lê ek my teks voor publikasie aan hom voor vir die opsporing van tik- en ander foute en kommentaar. Ek is groot dank aan hom verskuldig.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.