Karel Combrinck: Met Jerusalembesluit haal Trump hom argwaan op die hals

So pas het mnr Trump aangekondig dat hy Jerusalem erken as die hoofstad van die staat Israel en die Amerikaanse ambassade daarheen verskuif. Daarmee het hy die gramskap van die grootste deel van die aardbol teen hom verenig. In die jongste stemming van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het al die verteenwoordigers, behalwe Amerika, teen die besluit gestem. Amerika staan dus met hierdie besluit alleen. Tog aanvaar hulle die situasie so en bly by hulle besluit. Waarom?

Eestens is daar die Amerikaanse binnelandse politiek. Mnr Trump se presidentskap is nie bo aanvegbaarheid verhewe nie en ‘n baie groot persentasie van die Amerikaanse volk is trouens teen sy presidentskap gekant. Mnr Trump moet dus klou aan die konserwatiewe kant van die spektrum ten einde sy greep op die presidentskap te behou. En hierdie konserwatiewe kant is in sy geval die fundamentalistiese, oftewel Sionistiese Christenfaksie wat van harte glo dat die bestaan van die staat Israel Bybels gegrond is en dus die wil van die Here is. Hierdie onderwerp behandel ek binnekort breedvoeriger in ‘n afsonderlike artikel.

Benewens die Bybelse argument motiveer die “konserwatiewe” Amerikaanse openbare mening, soos ook natuurlik die linkses, die steun aan Israel op grond daarvan dat dit “die enigste demokratiese staat in die gebied” is. Nogal. In watter opsig is die staat van Israel dan nou meer demokraties as wat bv die apartheidstelsel was wat universeel deur die linkses en konserwatiewes van die Amerikaanse, asook wêreldpolitiek verdoem is? En wat nou van die talle ander lande in die Midde-Ooste wat dan noodwendig minder “demokraties” is as Israel, soos bv Saoedi-Arabië met wie die Amerikaners die hartlikste van verhoudings handhaaf? Wanneer is demokrasie dan belangrik en wanneer nie?

Feit van die saak is dat die Christenfundamentaliste, aangespoor deur hulle goedgelowigheid oor Bybelse beloftes en lobbygroepe wat mnr. Trump gemanipuleer het om die posisie van wat die Amerikaners noem, die “fall guy” in te neem. Met ander woorde, wat Israel betref, is hy nou die sondebok wat in die oë van die wêreldmening die skuld dra vir die rampspoedige besluit om Jerusalem die amptelike hoofstad van die staat Israel te maak. Daarmee het mnr. Trump, soos soveel ander voor hom, die status van die bruikbare idioot bekom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.