Dan Roodt: Gaan die EU apartheid najaag of Afrika oplaas onafhanklik maak?

Die wêreldkaart van menslike ontwikkeling: Westerse lande is meesal groen, terwyl Afrika suid van die Sahara rooi is.

Vir baie Afrikaners het die onlangse Europese-Afrika-spitsberaad in Abidjan ‘n gevoel van déja vu ontlok. In die laat veertigerjare is sulke konferensies ook in Suid-Afrika gehou waar vrese uitgespreek is dat die Europese bevolking in dié land uiteindelik deur swart bevolkingsgroei en migrasie vanaf die tuislande verswelg mag word. Suid-Afrika in 1950 was ‘n mikrokosmos van Europa vandag.

Apartheid, wat binnelands amptelik bekend gestaan het as “afsonderlike ontwikkeling” was ‘n skema waardeur die etniese tuisland van swartmense ontwikkel sou word ten einde die snel groeiende bevolkings in daardie gebiede te oorreed om “tuis te bly”. Soos ons almal weet, en ondanks die miljarde dollar wat op Suid-Afrika se binnelandse weergawe van “Afrika-ontwikkelingshulp” bestee is, is daardie beleid uiteindelik as ongeslaag laat vaar en vervang deur ‘n soort laissez-faire-beleid wat migrasie betref. Binne ‘n dekade of twee het Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad oorbevolkte, misdaadgeteisterde hole geraak wat deur krotbuurte omring word. Dít wat Europeërs tans as hul toekomstige nagmerrie sien, as hul stede deur die instromende Afrikane met hul eie reëls en kultuur oorgeneem sou word, het reeds in Suid-Afrika gebeur.

Die jongste uitgawe van die Britse Economist vertoon SA korrupsie op die voorblad.

As ‘n voorheen eerstewêreldse nywerheidsland, is dit verby met Suid-Afrika. Dit is “verafrikaniseer” in die negatiewe sin en die daaglikse histerie in die media oor korrupsie, ‘n gebrek aan water, moord en gewapende roof, verteenwoordig bloot getuienis van ons nuwe status as “net nog ‘n Afrikaland”.

Te oordeel aan die naïef optimistiese uitsprake oor die “skep van ‘n Afrika-ekonomie van die toekoms”, wil die Europese leiers graag Suid-Afrika se apartheidseksperiment herhaal, net op ‘n veel groter skaal. Ten minste kon Afrikaners swart tale praat en het die toestande op dié vasteland begryp, iets waarmee hulle hul ontwikkelingsplanne kon aanpas wat deur vele onafhanklike waarnemers van buite as realisties en prakties gesien is. Selfs die vorige Sweedse sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Dag Hammarskjöld het dr. Verwoerd die voordeel van die twyfel gegee sover dit sy afsonderlike-ontwikkelingsbeleid betref. In weerwil van die verguising waaronder Suid-Afrika in die verlede gebuk gegaan het, en ongeag die land se huidige verval in derdewêreldstatus, verteenwoordig dit steeds die enigste voorbeeld van suksesvolle ontwikkeling op die Afrikavasteland. Dít op sigself behoort die EU te oorreed om ten minste na Suid-Afrika se veelbewoë geskiedenis te kyk en daaruit te leer.

Aan die ander kant kan geen Europese of Westerse ingryping in ‘n Afrikaland oor die afgelope vyftig jaar as ‘n sukses bestempel word nie. Met ‘n demografiese krisis wat momentum opbou soos gereeld in die internasionale media berig word, het mev. Angela Merkel, die heersende grande dame van Europa, bloot meer hulp in Abidjan belowe:

“Dis baie belangrik dat ons gewoon Afrikane ondersteun om ‘n einde te maak aan onwettige migrasie, sodat mense nie in die verskriklike kampe in Libië hoef te ly of selfs gekoop en verkoop hoef te word nie.”

Duidelik het mev. Merkel nog geen boeke oor die ondwerp van hulp aan Afrika gelees nie. Anderins sou sy daarvan bewus gewees het dat swartmense op die vasteland hulp mag verlang of nie mag verlang nie. Maar ongeag die hoeveelheid hulp wat hulle ontvang, wil hulle nie voorgesê word oor hoe om dit te bestee nie. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan is teëgekom tydens die naloop van die EU-AU-beraad, toe Ghana se president Nana Akufo-Addo vir sy Franse eweknie Emmanuel Macron by die presidensiële paleis te Accra in geen onduidelike terme laat verstaan het dat “ons nie langer kan aanhou om beleid te maak vir onsself, in ons land, in ons streek, op ons vasteland, op grond van watter ondersteuning die Westerse wêreld of Frankryk, of die Europese Unie ook al aan ons kan bied nie. Dit het nie gewerk nie en dit sal nie werk nie.”

Akufo-Addo het verder gesê: “Ons moet wegkom van die afhanklikheidsmentaliteit. Dié mentaliteit behels ‘wat kan Frankryk vir ons doen?’. Frankryk sal doen wat hy ook al in sy eie belang wil doen, en wanneer dit met ons s’n ooreenstem, ‘tant mieu’ (soveel te beter) soos die Franse sê… Ons vraagstuk behoor te wees wat ons in die een-en-twintigste eeu behoort te doen om Afrika daarvan weg te kry om hoed-in-die-hand te moet staan en vir hulp, vir liefdadigheid, vir gunste en gawes, te bedel. Die Afrikavasteland, as jy na sy hulpbronne kyk, behoort geld aan ander plekke te skenk… Ons moet die mentaliteit wat sê dat ons nie daartoe in staat is nie verander… en as ons eers daardie benadering het sal ons sien daar is ‘n bevrydende faktor vir onsself.”

Dog terselfdertyd, en teenstrydig met sy verklaarde standpunt dat hy van die “afhanklikheidsmentaliteit” wil wegkom, het Akufo-Addo gesê dat hy nie aanbiedinge van hulp van die hand sal wys, of ‘n “gegewe perd in die bek sal kyk nie”, soos hy dit gestel het.

Maar die keuse vir Europa is onverbiddelik: Óf die vasteland gaan ‘n apartheids- of afsonderlike-ontwikkelingsoefening deurmaak, waardeur meer hulp aan korrupte Afrikaregerings uitgedeel gaan word, wat bloot hul eie sakke gaan vul, óf Europa sal moet beantwoord aan die swart kontinent se oproep dat hy geheel en al onafhanklik en selfgenoegsaam wil wees.

Geld wat opsy gesit word om migrasie te keer behoort eerder bestee te word om Europa se grense dig te maak, pleks daarvan dat nog ‘n rondte hulpgeld uitgedeel word aan lande wat al vele Marshallplanne oor en oor opgeslurp het, sonder enige sigbare verbetering.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.