Leon Lemmer: ‘n Manifes vir Afrikaans

Johan van Wyk skryf in sy rubriek, Van Alle Kante (Die Burger, 2 Desember, p 10): “‘n Onaangename verrassing … wag op die naïewe, goedgelowige optimiste wat glo en verkondig dat ons niks [oor Afrikaans] te vrees het nie. Volgens hulle sal Afrikaans voortbestaan en selfs gedy solank as wat dit gepraat word. Regtig? Glo hulle ook aan die tandemuis en dat die maan van kaas gemaak is? Ek kan onthou dat hierdie idealistiese maar onwetenskaplike, vals siening ook in die aanloop tot die oorname in 1994, toe daar ernstige kommer oor Afrikaans se toekoms was, met groot bravade verkondig is. Nogal deur bekende Afrikaanse skrywers, digters, letterkundiges, taalgeleerdes, kunstenaars en natuurlik politici, die groot eksponente van die kuns van die moontlike, die leuen. Die waarheid is dat ten spyte daarvan dat ‘n paar miljoen mense dit sedert die oorname in 1994 aangehou praat het, het Afrikaans se posisie as akademiese en saketaal sedertdien dramaties verswak. Die ironie is dat dit met die hulp en ondersteuning uit Afrikaanse geledere bewerkstellig is. ‘n Nog groter ironie is dat dít wat veronderstel was om Afrikaans lewend te hou, naamlik om dit te praat, nog nooit so morsig soos in die afgelope 23 jaar gedoen is nie. As dit is hoe Afrikaans in die toekoms gebesig gaan word, gaan ek leer Engels praat en net in Afrikaans bid … Die suiwer, keurige, welluidende Afrikaans van 50, 60 jaar gelede [soos onlangs ter herdenking deur RSG heruitgesaai] het my opnuut geïnspireer om dit na te streef. Ja, ek weet ‘n taal is nie staties nie. Maar wanneer het ons dan so loslit en so slapgat geword?”

Gerhard van Huyssteen

Ek onderskryf Van Wyk se mening. Maar kontrasteer die joernalis Van Wyk se standpunt met dié van die Afrikaanstaalkundige Gerhard van Huyssteen, wat sedert 2013 die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se Taalkommissie is. Hierdie kommissie is verantwoordelik vir die samestelling van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Die 11de uitgawe van die AWS in vroeër vanjaar gepubliseer. Oor die bekendstellingsgeleentheid skryf Van Huyssteen: “Dit was Magdaleen Kruger [die uitvoerende hoof van RSG] se spitsvondige opening wat die koek gevat het.” (Netwerk24, 2 Desember). Kruger het gesê: “Oukei, gentlemen en dames, kom ons begin vanaand hier by die mooi venue gesels, waar ons ‘n scoop met die eerste bekendstelling van die nuwe AWS het. En ek hoop al die tuisnywerheid-anties wat dalk nou besig is om brownies en muffins te bak, luister ook saam. Neem dáár ‘n selfie van jou en jou muffin.” Wat Kruger gedoen het, is om doelbewus woorde te gebruik wat die invloed toon wat Engels deesdae het op wat in die AWS as Standaardafrikaans erken word: oukei, gentlemen, venue, scoop, anties, brownies, muffins en selfie. Van Huyssteen noem Kruger se poging “spitsvondig”. Maar hy gaan verder deur anglisisties te verklaar dat haar inleiding “die koek gevat het.” Dalene Müller skryf dat “it takes the cake” in Afrikaans bv “dit span die kroon” is (Skryf Afrikaans van A tot Z, Kaapstad: Pharos, 2003, p 124).

Van Huyssteen en Kruger is in poste wat die verpligting meebring dat hulle wat Afrikaans betref die wagters op Sionsmure moet wees. Wat albei hier doen, is om die verengelsing van Afrikaans as prettig te beskou. Van Huyssteen is bekend daarvoor dat hy van Afrikaans ‘n woordspeletjie probeer maak pleks van hierdie uitnemende taal ernstig te benader. Kruger se kennis van die ontwikkeling van Afrikaans is so gebrekkig dat sy by geleentheid beweer het dat blankes/Afrikaners Afrikaans van bruin mense gesteel het; dus net soos blankes glo grond van nie-wittes gesteel het. Verengelsing is dié groot bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans terwyl mense soos Van Huyssteen en Kruger verkies om eerder polities byderwets die ondergang, of ten minste die verbastering, van Afrikaans te bevorder. Sulke mense gee by implikasie blindelings voor dat die mengeltaal Kaaps geen bedreiging vir die voortbestaan van agbare Afrikaans inhou nie.

Jan Rabie

In haar outobiografiese boek, Reisiger (2009), vertel Elsa Joubert dat die skrywer, Jan Rabie (1920-2001), geweier het om Engels te praat (Praag 10 Junie). Hy was sekerlik nie ten gunste van die verbastering van Afrikaans weens verengelsing nie, soos blyk uit sy boeke en ander publikasies. Rabie was getroud met die Skotsgebore skilderes, Marjorie Wallace (1925-2005). Daar is jaarliks ‘n skrywersbeurs beskikbaar uit die opbrengs van geld wat Rabie en Wallace nagelaat het. Vir 2018 bedra die beursgeld R400 000. Dit is voor die hand liggend dat die Afrikaansgesindheid van Rabie eerder as dié van Wallace (wat ‘n eienaardige maar nogtans verbete poging aangewend het om Afrikaans te praat) deurslaggewend by die toekenning van die beursgeld behoort te wees. Maar hierdie beursfonds word deur die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geadministreer. Wanneer die beursgeld aan ‘n blanke toegeken word, klink daar telkens rumoerige besware op. Bruines voel dat hierdie beurs elke keer aan iemand uit hulle geledere toegeken moet word. Dan weeg daardie etnisiteit swaar in die konteks van die UWK as ‘n universiteit wat eens uitsluitlik vir bruin studente toeganklik was. Dít terwyl die UWK sedert 1987 (toe Jakes Gerwel die UWK tot die universiteit vir polities linkses verklaar en daarmee weggekom het) gewoonlik as uitnemend veelrassig voorgestel word. Blanke skrywers behoort daarvolgens ten minste gelyke aanspraak op hierdie beursgeld te hê.

Aan wie is die beursgeld vir 2018 toegeken? Aan Nathan Trantraal (LitNet 28 November), die outeur van bv Chokers en survivors (2013). In 2014 is hierdie bundel deur die ATKV met ‘n Woordveertjie vir poësie bekroon eerder as Marlene van Niekerk se Kaar. Dit toon die mate waarin die ATKV hom deesdae teen die belange van ordentlike Afrikaans skaar. Daardie “en” in die boektitel dui glo daarop dat die teks Afrikaans is. In werklikheid skryf Trantraal ‘n uiterste vorm van die mengeltaal Kaaps, soos bv blyk uit sy rubrieke wat Rapport wys ag om te publiseer. Trantraal steur hom nie aan wat deur die AWS as Afrikaans erken word nie. Hy het geen Afrikaanse woordeboek nodig nie omdat hy soveel moontlik “kreatief” van die Afrikaanse spelreëls afwyk. Al woordeboek wat hy vir gebruik nodig het, is ‘n Engelse een omdat geen Engelse woord vir hom in sy “Afrikaanse” teks taboe is nie. Jan Rabie het rede om in sy graf om te draai. Daar is geen moontlikheid dat Trantraal die heil van Afrikaans bevorder nie.

Adam Small

Daar is nog ‘n onlangse gebeurtenis wat ‘n skadu oor die toekoms van Afrikaans werp. Voorheen het ek uitgewys hoe die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) eerder Kaaps as Standaardafrikaans bevorder en dat hulle gevolglik nooit ‘n veldtog ten gunste van taalsuiwerheid voer nie; dus dat Afrikaans maar kan verengels. Hierdie Afrikaansinstansies is daarop ingestel om geen Kaapsspreker aanstoot te gee nie. Dit is eerder Standaardafrikaans wat maar in sy swernoot kan gaan. Ek het soms ook genoem dat die SAAWK en die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) ‘n meer behoudende benadering tot Afrikaans het. Maar ook daar is agteruitgang te bespeur.

In November is die volgende boek gepubliseer: Adam Small: Denker, digter, dramaturg; ‘n huldiging (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017, 248p, R200), met Jacques van der Elst as redakteur. Van der Elst was die hoofuitvoerende beampte van die SAAWK en ook ‘n direksielid van die ATR. Hy het ‘n loflied vir die vorige Small-huldigingsbundel, gepubliseer in 2016, aangehef (LitNet 8 Maart; Praag 25 Maart). Dit sluit lof in vir die opgeleide terroris Basil Kivedo wat “in Afrikaans ‘n kleefmyn gemonteer en gedetoneer” het. Van der Elst noem daarin dat die SAAWK oorweging daaraan skenk om die geskiedenis van bruin mense na te vors en te boekstaaf. Vergelyk sy uitlatings met myne: “‘n Adam Small-huldigingsbundel wat drup van die gif” (Praag 2 April). Die inisiatief vir die 2017-Small-hagiografie het waarskynlik van Van der Elst uitgegaan. Daarmee het die SAAWK ‘n Afrikaans-buiteperd (of “-buitestander” – p 194) opgesaal. Van der Elst verskil skerp hiermee: “Hierdie publikasie is ‘n eerbetoon aan Small – ‘n gebaar van die SA Akademie om Small se voorste plek in die ry van Afrikaans se belangrikste literêre kunstenaars te bevestig” (p 10).

In die flapteks van die 2017-Small-huldigingsbundel staan: “Hierdie publikasie is die eerste in ‘n reeks wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns beplan word om hulde te bring aan literêre kunstenaars wat met die Akademie se Hertzogprys bekroon is en wat oor dekades Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde met hulle werk verryk het.” Small maak onder meer daarop aanspraak dat hy die skepper van die taalbenaming Kaaps is en dat Kaaps “nou soos ‘n groot boom staan binnekant die volle boord van Afrikaans” (30). Kaaps word gekarakteriseer “as simboliese afwerping van die hegemonie van Standaardafrikaans” (49). Kaaps is volgens André P Brink opgestel “teen Standaardafrikaans as ‘n oorwegend ‘ideologiese konstruksie’ (as verkose taalvariëteit van Afrikanernasionalisme)” (49, ook 56). By Small was daar “die ‘amperse verwerping’ van Afrikaners en hul selftoegeëiende taal” (50-51).

Steun vir Small impliseer steun vir Kaaps, insluitende die oorvloedige gebruik van Engelse woorde in “Afrikaanse” tekste. Van der Elst bevestig dit: Die toekenning van die Hertzog-prys aan Small was glo “‘n simboliese erkenning van Kaaps as digterlike taal” (8) en daardie taal as sodanig (82). Van der Elst erken: “Die erkenning van Kaaps het nie gestrook met die Akademie se jare lange intense bemoeienis met die standaardisering van Afrikaans [nie]” (82). Dit is ‘n voorbeeld van wat Fanie Olivier “kulturele ‘regstellende aksie'” noem (58). Volgens Van der Elst het “die Akademie dekades lank binne ‘n onregverdige politieke dampkring geopereer” (86).

In die geval van Small het die Akademie eintlik heeltemal oorboord gegaan. In 1995 het Small ‘n volle lid van die Akademie geword, maar in 2001 het sy lidmaatskap weens nie-betaling van ledegeld verval (78). In 2009 het Small as ‘n “kultuurpresteerder” ‘n eeufeesmedaljie van die Akademie ontvang (78). In 2016 is erelidmaatskap postuum aan hom toegeken (88, 153). Toe 90 jaar van die erkenning van Afrikaans as amptelike taal in 2015 herdenk is, het Small ‘n toekoms vir Afrikaans van véél langer as nog 90 jaar voorsien, “met bruin mense, die groot Afrikaanspraters, dominant natuurlik” (30). Die probleem is dat Small daarmee ‘n lang toekoms vir die mengeltaal Kaaps voorspel het; nie vir Afrikaans as ‘n taal uit eie reg wat duidelik van Engels onderskeibaar is nie. Small se toekomsvisie is soos dié van Hein Willemse: “Die bruisende toekoms van Afrikaans … reeds in ons veeltalige stedelike strate soos dié van Kaapstad en sy townships vorm aanneem” (Kaaps in fokus bron hier onder, p 75). Bernard Odendaal verwys in die jongste Small-huldigingsbundel erg oordrewe na Small as “‘n waarskynlike vaderfiguur vir die Afrikaanse letterkunde- én taalontwikkelinge van die toekoms,” asook na “Small se huidige onbetwiste [!] statuur as Afrikaanse kultuurvader” (67).

Die publikasie van twee Small-huldigingsbundels so kort na mekaar is eerder deur politieke as literêre oorwegings gemotiveer. Vir Small het die meetsnoere om die verkeerde redes in lieflike plekke geval. Neem bv in ag dat Small (1936-2016) in die laaste jaar van sy lewe hom openlik vir die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit Pretoria beywer het. Desnieteenstaande het hy soos volg gedig: “ek was Afrikaans in my hele wese … ek het daardie belofte aan myself gestand gedoen” (7). Maar soos so baie Afrikaanssprekende maar Afrikaansdislojale, ontwikkelde bruines het Small doelbewus Engels as sy huistaal gekies (51). ‘n Tyd lank was daar ook “die bewustelike keuse … om voortaan net in Engels te skryf” (97). In die jare sewentig het Small daarna gestreef “om Afrikaans van sy bekrompenheid te bevry … om die taal van die eksklusiewe besit van die Afrikaner te bevry en dit binne ‘n Afrika-konteks te plaas” (98).

Small se bekroning met die Hertzog-prys in 2012 het laat in sy lewe en skoorvoetend van die SAAWK gekom. Van der Elst noem dit ”’n ongewone besluit … Hiermee het die SA Akademie die spreekwoordelike Rubicon oorgesteek – nie dat die verlede van vooroordele en politiekery uitgewis is nie” (82). Van der Elst beweer oordrewe dat Small die Hertzog-prys “meer as vyftig jaar” na die verskyning van sy “meesterwerk” ontvang het (8). Later word dit 47 jaar (76). Die bekroning het hoofsaaklik om sy drama, Kanna hy kô hystoe (1965), gegaan. Soos JC Kannemeyer dit stel: “Die res van Small se oeuvre is van mindere allooi” (Die Afrikaanse literatuur, 1652-1987, Pretoria: Academica, 1988, p 261).

Wie is op die SAAWK se kortlys vir ‘n volgende huldigingsbundel in die reeks, wat volgens Van der Elst oor “Afrikaans se belangrikste literêre kunstenaars” handel? (8). Die linkse, polities korrekte Elsa Joubert (Praag 2 Desember). Onmiskenbaar het daar ook by die SAAWK vermurwing ingetree. Soos in die geval van die jongste Small-bundel gaan hierdie reeks huldigingsbundels waarskynlik gepubliseer word “danksy ‘n ruim subsidie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns” (4). Hopelik sal die SAAWK in sy ná-Van der Elst-era groter omsigtigheid aan die dag lê en hom in groter mate eerder deur taal- en letterkundige as politieke oorwegings laat lei.

Ná my omvattende bespreking van die 2016-Small-huldigingsbundel is dit werklik nie die moeite werd om ‘n afsonderlike rubriek aan die jongste huldigingsbundel te wy nie. Die lees daarvan was vir my ‘n teleurstellende ervaring. Daar word beweer dat nege van die elf hoofstukke “eweknie-geëvalueer” is (6). As dit die geval is, het die gehalte van akademiese werk sedert die vorige eeu in groter mate agteruitgegaan as wat ek vermoed het. Byvoorbeeld, hoe kan Willy Martin se wesenlik outobiografiese geselsie, wat hy in ‘n agtermiddag kon skryf, as ‘n volwaardige akademies-wetenskaplike bydrae beskou word? Small word as ‘n denker en filosoof gehuldig, maar hy het nooit verder as senior lektor in die wysbegeerte gevorder nie en nooit ‘n doktorsgraad in filosofie (of enige doktorsgraad behalwe eregrade) verwerf nie, al het hy studiebeurse ontvang om eers in Londen (16) en daarna in Oxford (17) te studeer. Daar word dikwels genoem dat Small in Londen onder Karl Popper (1902-1994) studeer het, maar hulle kon mekaar glad nie vind nie. Popper het Small geweeg en te lig bevind. Small noem Popper “die mees óndemokratiese mens” wat hy ooit ontmoet het (38).

‘n Belangrike punt word ivm Kanna genoem: “Volgens ‘n brief van die redakteur Berta Smit het ‘n regisseur van formaat wel insette met die teksversorging gelewer: Robert Mohr” (20). Desnieteenstaande skryf André P Brink: “Ek beskou Kanna hy kô hystoe van Adam Small as die hoogtepunt van die Afrikaanse drama” (150). “In 2009 [eintlik 2008 – 80, 88] het Adam die eerste Suid-Afrikaanse digter geword vir wie ‘n bronsbeeld by die Taalmonument in die Paarl opgerig is” (26) – iets wat van die oorregstellende ATM te wagte is.

Hein Willemse se hoofstuk handel oor Small se gedig “Vryheid”. Die aanleiding hiervoor was toe Small se eerste vrou (1959-1968), Julia, in 1960 toe sy ses maande swanger was, in ‘n bus sewe myl lank moes staan toe die sitplekke vir nie-blankes beset was en sy nie toegelaat is om op ‘n sitplek gereserveer vir blankes te sit nie. Dit laat Small gal af gaan teen apartheid/blankes. Hy rig nie sy hoon op die nie-blankes, bv kleingoed, wat al die sitplekke vir nie-blankes beset het en nie vir Julia ‘n sitplek afgestaan het nie.

Jacomien van Niekerk se navorsingsbelangstellings sluit “orale literatuur in Afrika, kritiese rasteorie en postkoloniale teorie” in (180). In haar hoofstuk word woorde soos wit, bruin en ras deurgaans tussen aanhalingstekens geplaas. Dit is seker gedoen vanweë die besondere insig wat sy verwerf het, maar dit het my as leser geïrriteer. Sy is blykbaar ‘n “gewetensvolle” mens (163), wat selfs die lede van die gehoor wat ‘n opvoering van Small se drama bywoon, skuldig verklaar (167). Sy maak gewag van “die absurditeit van diskriminasie op grond van velkleur” (161); blykbaar sonder om te besef dat apartheid wesenlik op kultuurverskille gegrond was en nie op wat Frantz Fanon (1925-1961) die “epidermilization of inferiority” noem nie (94).

Soos te wagte het Michael le Cordeur ook ‘n hoofstuk bygedra. Hoe sien hy die behuising wat goedgunstiglik deur die blanke regering aan bruin mense beskikbaar gestel is? “Die woonstelle simboliseer vir die gemeenskap al die onreg wat hulle deur die apartheidsregering aangedoen is” (184). Met verwysing na ‘n artikel van Hein Willemse skryf Le Cordeur: “Deur sy werk het Small Kaaps as ‘n volwaardige taal uitgelig en waardigheid aan die taal gegee” (191). Hy verwys ook na: “Die respek en status wat Kaaps op die Kaapse Vlakte geniet” (195). Bruines is glo “mense wat deur apartheidswette verdoem is na die Kaapse Vlakte en in die proses hul identiteit verloor het” (195).

Kaaps in fokus

Ek het voorheen die bundel, Kaaps in fokus (Stellenbosch: Sun Media, 2016, 145p, R225), met Frank Hendricks en Charlyn Dyers as redakteurs, bespreek (Praag 11 Februarie). Dit is veral aan die UWK dat Kaaps as ‘n volwaardige variëteit van Afrikaans gepropageer word; ‘n standpunt wat polities korrek deur ander Afrikaanstaalkundiges ondersteun word. In die voorwoord staan: “da’ pra-djy régte Afrikaans” (p i). Ernst Kotzé noem Kaaps “een van die ontstaansvariëteite” (38) oftewel die “bakermatvorm” (47) van Afrikaans en dat dit “progressief modern” is (ii, 45). Ook dat Moslemafrikaans die kerndialek van Kaaps (37, 45) en Kaaps dié ontstaansvariëteit van Afrikaans is (38). Christo van Rensburg beweer dat Kaaps sinoniem met “Vroeë Afrikaans” is (55) en selfs dat Afrikaans as Kaaps reeds vóór 1652 gepraat is (ii, 49, 54). “Die vroegste Afrikaans was die taalgevolg van die Khoi-Khoin se eerste kennismaking met … Seemansnederlands” (50). Kaaps is glo “ingeburger in elkeen van Afrikaans se variëteite, ook in Standaardafrikaans” (50, ook 56). “Hier word van die standpunt uitgegaan dat Afrikaans nie gesien moet word as Nederlands wat mettertyd verafrikaansings ondergaan het nie, maar eerder andersom: dit is sosiolekte van Afrikaans wat vernederlands is” (55). Daarvolgens bestaan Afrikaans eerder danksy nie-wittes as blankes. Kan ‘n mens dan ‘n aktivistiese naprater soos Magdaleen Kruger verkwalik as sy Kaaps as die eintlike Afrikaans beskou wat deur die blankes/Afrikaners van die Khoisan, slawe en bruines gesteel is?

Maar hoedanig is die gehalte van Kaaps, die “Afrikaans-variëteit” wat blykbaar deur alle Afrikaanssprekendes as ‘n kleinood en heilsaam aanvaar behoort te word? Frank Hendricks erken, soos FA Ponelis, dat Kaaps “diep onder Engelse invloed” staan (2), dus die “ontsettende hoë mate van Engelse invloed” (7), asook “Een van die mees opvallende kenmerke van Kaaps is die inspeel van Engels op sy Nederlands-Afrikaanse basis” (6). Ernst Kotzé verwys na die “massiewe mate” waarin Kaaps deur Engels beïnvloed word (47). Michael le Cordeur loof per slot van sake die oorvloedige aanwesigheid van Engels in Kaaps deur te verwys na “die vaardigheid om taalkodes te wissel” (93). Anastasia de Vries meld die buitensporige mate waarin “direkte ontlenings uit Engels” in Kaaps aanwesig is (132). In Kaaps in fokus word die gelykwaardigheid van Kaaps aan (ander) Afrikaans-variëteite en dus ook aan Standaardafrikaans herhaaldelik beklemtoon. Maar dit behoort duidelik te wees dat Engelsbesoedelde Kaaps, anders as Standaardafrikaans, glad nie verskansing teen verengelsing bied nie. Deur Kaaps pleks van Standaardafrikaans te bevorder, word die verswelging van Afrikaans deur Engels aangehelp.

Afrikaansmanifes

Die SAAWK behoort die voorbeeld van die Académie Française (gestig in 1635) na te volg in die manier waarop daar oor die Franse taal gewaak word. Die Académie Française is bv gekant teen enige verengelsing en vervrouliking van Frans, dus anglisismes en feminismes. Bowenal word Standaardfrans bevorder en nie variëteite van Frans nie omdat daar in eenheid krag is (Wikipedia).

Op Praag (15 November) het Johannes Comestor geskryf oor die rubicon wat Afrikaans moet oorsteek; dat tussen Standaardafrikaans en Kaaps gekies moet word ten einde die vooruitsigte van Afrikaans te verbeter. Dit is teleurstellend dat nie ‘n enkele Afrikaansinstansie of Afrikaanstaalkundige of -letterkundige die moed van oortuiging het om na vore te kom en te erken dat hierdie keuse noodsaaklik is nie; selfs nie dat ‘n veldtog vir taalsuiwerheid ten bate van Afrikaans gevoer moet word nie. Dit is bedroewend dat politieke korrektheid vir diesulkes swaarder as die belange van Afrikaans weeg. So ‘n houding verseël heel moontlik die ondergang van Afrikaans as ‘n eerbare taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is. Soos tydens die grondwetlike onderhandelings word die verkeerde strategie met Afrikaans gevolg, wat insgelyks katastrofiese gevolge gaan hê.

WAM Carstens en EH Raidt se boek, Die storie van Afrikaans, Deel 1: Uit Europa en van Afrika (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017, 639p, R450), is in November gepubliseer (Praag 26 November). Daarin staan: “Die kommer oor die invloed van ander tale, veral Engels, op Nederlands het in Julie 2015 gelei tot ‘n belangrike manifes oor die Nederlandse taal. Hierdie manifes, wat saamgestel is deur ‘n aantal invloedryke persone in die Nederlandse tersiêre sektor, druk die bekommernis uit oor die invloed wat (‘n taal soos) Engels kan hê op die gehalte en volhoubare gebruik van Nederlands in die onderwys en aan universiteite. Een van die stellings in die manifes dui aan dat die ‘beheersing van de Nederlands taal het zwaarst wegen: zij is de noodzaaklike basis om andere talen goed te kunnen leren.’ En verder: ‘Het hoger onderwijs – en dus ook de universiteit – heeft een bijzondere verantwoordelijkheid met betrekking tot het onderwijsgebouw als geheel. De cultivering van het Nederlands als de instructietaal in ons onderwijs is om die reden een kerntaak van de desbetreffende wetenschappelijke vakdisciplines'” (p 399). “Die volledige teks van die manifes is te lees by http://beteronderwijsnederland.nl/taalmanifest” (516).

Die twee aanhalings gee die kern van die manifes weer in soverre dit op Afrikaans betrekking het. Die fokus is op die toenemende gebruik van Engels as onderrigtaal aan Nederlandse universiteite en maniere om ‘n omkering van hierdie neiging te bewerkstellig. Die afskaling van Nederlands in hierdie sektor kan vertolk word as ‘n weerspieëling van gebrekkige taaltrots by Nederlanders. Ander onderliggende redes is internasionalisering/globalisering, met Engels as die leidende voertaal in die Weste, asook politieke korrektheid deurdat die eie opgeoffer word ten bate van bv uitlanders/inkommers wat aan Nederlandse universiteite studeer. Dit is die soort mentaliteit wat ook in Suid-Afrika hoogty vier in die verengelsing van die tradisioneel Afrikaanse universiteite, met as bykomende motivering kroniese kruipsug van universiteitsbesture by die ANC en die swart meerderheid.

Die situasie in Suid-Afrika is veel erger as in Nederland. ‘n Andersoortige manifes is nodig. Afrikaans word nie net aan universiteite deur verengelsing bedreig nie; dit geld ook skoolonderrig. En Afrikaans word nie slegs in die onderwyssektor afgeskaal nie, maar in alle staats-, openbare en selfs private sektore. Dit is die resultaat van die dwase strategie wat ‘n groepie Afrikaanssprekendes tydens die grondwetlike onderhandelings gevolg het. Die belange van blankes in die algemeen en Afrikaners in die besonder, hulle eie soortige kultuur, insluitende Afrikaans, het in 1990/94 nooit ernstige voorkeur of selfs die nodige aandag geniet nie. Sedertdien is die situasie vererger deurdat sommige Afrikaanssprekendes die leiding neem in die vertrapping van Afrikanerkultuur en Afrikaans. Oor hierdie sake heers daar ongelukkig wydverspreide onverskilligheid in Afrikanergeledere. Dit is waarom Johan van Wyk hier bo tereg vra: Wanneer het ons so slapgat geword? Apatie kenmerk selfs baie van dié wat Afrikaansonderrig verskaf. In ‘n poging om die situasie te beredder, word ‘n konsep Afrikaansmanifes hiermee as werks- of gespreksdokument vir kommentaar voorgelê.

Afrikaansmanifes

Ons as Afrikaners verklaar hiermee dat

  • ons trots is op wat Afrikaners tot stand gebring het
  • ons groot waarde heg aan Afrikaans as volwaardige taal
  • ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
  • ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
  • ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
  • ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
  • ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
  • ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
  • ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
  • ons volhard met die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans
  • ons Kaaps verwerp in soverre dit Engels is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Suidpunt

    Onderteken – Suidpunt.

  • Afrikaansmanifes – onderteken deur Johannes Meintjes. Die volgende byvoegsel tot die Afrikaansmanifes word voorgestel: ‘n Volkstaat waar Afrikaans op alle Volksterreine gebesig kan word sonder inmenging in skool, universiteit, hospitale, aftreeoorde, vakansieoorde, seevaartkunde, gemeente, besigheid, maatskaplike samesyn en vermaak!

    • Rooikop

      Hiermee geonderteken met die voorgesteld byvoegsel van EIE land.
      Pro-Afrikaans. Pro- my EIE volk se EIE land!

      • Antonie Geyser

        net twee tipes: ‘pro-boer’-vryheidsdroom, ‘cape dutch’-mengel mengsel, soos ‘oorlams’ ‘rheboth basters’ sal daar in die kap n spesie ontstaan ‘kapbaster’

  • coendemilander

    Hiermee ook my handtekening tot die Afrikaansmanifes hierbo.

  • Flip Kriel

    Ek onderskryf die Afrikaansmanifes

  • sussie se vissie

    ‘Join the discussion’.
    Nogal?
    2x Plasings.
    2x Dok Dan Uitveërs.
    Juis nou na n vol dag innie son…en die pienk bubbly van André Bruwer en Bon Courage wat my moed gee.

    • Vissie, ek het jou een kommentaar op my skerm gesien. Ek het mos nie ingeskryf vir ‘n gewildheidskompetisie nie! Maar ja, hoekom die Volk nie sedert 1966, of dan sedret 1994 kon of wou Volkstaat nie, is vir my ook erg duister?

    • Mr Domestos

      Die suiwer Afrikaans laat my dink aan ‘n vriend se ervaring toe sy predikant broer en die se vroutjie op die plaas kom kuier. Na ‘n laaang kuier die aand is almal vort kooi-toe. Nie baie lank daarna hoor hy die katel kreun en ritmies doef doef teen sy aangrensende kamermuur. Toe dit na ‘n (kort) rukkie stilword, hoor hy mevrou dominee se stemmetjie piep: “Dankie pappa, dit was héééérlik…”

      • sussie se vissie

        ; -)

  • JohannS

    My heelhartige steun aan die Afrikaansmanifes.

  • Mr Domestos

    Om ook my stuiwer in die armbeurs te gooi – daar is darem baie stoere boere en Afrikaners wat alte graag Afrika name aan hul plase, besighede, vakansiehuise ens gee. Is daar ‘n mate van gatkruip te bespeur, is dit kapitulasie of is dit omdat dit net te grênd lyk op die bemarkingsbrosjures? – wonder ek maar net…

  • John

    Daar is tog ‘n goue randjie om die donker wolk van Afrikaans. Indien Afferkans dan nou wel ook sy plekkie gegun word in Netwerk24 se daaglikse moord verslag, sou dit nie beteken dat sommer ‘n groot gros Afrikaanse akademici en ander lewenslange BA studente ook moet Seppuku pleeg nie ? Want sien, in so ‘n geval, sal ons – die gewone werkersklas – nie dalk ontslae wees van die juiste ding wat Afrikana die meeste bevark nie ?

    So min of meer 30 jaar lank.
    Glo ek al dat die AfrikanerDom deur dominis, prokureurs en BA spesialiste gyselaar gehou word, hoofsaaklik sodat hulle aanstellings by Universiteite, institute en rade verseker is.

    Daar is min wetenskaplike momentum in Afrikaans. Daar is egter baie ‘demand’ en verontwaardiging. Hoofsaaklik vanaf die dooie houd na wie ek verwys – mense wie hul self hule ganse lewens lank verdiep het in ‘n hoogs verskanste milieu, waar ‘n regering der miljoene gegooi het na hierdie geleerdes.
    Vandag is daardie weldoener verloop. Hulle woon in Griekeland, en van hulle het aangesluit by die nuutste soustrein.
    En Afrikaans ?

    Afrikaans is nou die enigste puppy wat oorbly in die ontslape matriarg se werpsel. En elke ander mongrel wil seker maak die prinsie ken sy plek. Maar kyk nou hoe astrand ! Die aandrang op staats bevondsing vir instellings wat hierdie nuttelose aristokrasie aan die gang hou is nog hoorbaar. Die een ding wat die goed wel begryp, is dat hulle nie veel sal ontvang vanaf hul eie geledere nie. Nie veel vanaf die mense wie hulle blykbaar verteenwoordig nie. En dis immers waaroor dit gaan, nie waar nie.

    Hiermee dan, ontvang my on-ondertekening van hierdie proto hoopla. Ek kan byvoeg by die innige woorde.. ek kan dalk poog om dit te laat rym ? Miskien my trane daarmee op droog ?Maar sal dit help ?

    Die krans kom nader, neem hande broers, en onthou – julle is in my gebede.

    Waar’s die remote ?!

    • Johann Schutte

      So ongeveer 25% van Afrikaners (baie rofweg geskat) was histories gerig op etniese oorlewing. Dit was so om en by die persentasie wat die trek na die oos grens aangepak het, die GT meegemaak het, die Boereoorlog gevoer het, in die rebellie betrokke was en meer onlangs, die 1994 deformasie teengestaan het.

      Die res was of vyandig teenoor `n etniese definisie van Afrikanerskap, of het dit om opportunistiese redes tee gestaan, byvoorbeeld met die doel om status of inkomste te verseker.

      Openlik aggressiewe anti-afrikanerskap wissel in intensiteit van Beyers Naude (formidable adversary) tot by Du Preez (keffer status). Daar is relatief min openlik-aggressiewes.

      Die oorgrote meerdherheid is opportunistiese antagoniste, gerig op bevrediging van basiese behoeftes, en indien moontlik en as die gepersonifiseerde NG god (die febriele ou jood met die wit baard) dit so wil, `n paar winsgewende tender-geleenthede. Meer as elke tweede Afrikaner wat jy raakloop val in hierdie groep. Jy vind hulle oral, in alle beroepsposisies. Van munisipale klerk tot parlementere verteenwoordiger.

      Die waarheid is dat die groot gros opportunisties/moreel plooibaar is, en dat hulle plotseling anderkant toe sal draai, as dit op `n beter persoonlike uitkoms dui. M.a.w. die banierdraers vir die heersende zeitgeist sal (soos naturelle) more sonder kognitiewe inkongruensie of morele ongemak gatomkeer op `n ekonomiese berekening. Dis teleurstellend, maar ook bemoedigend.

      Dan Roodt se bydrae (en hy gaan nog in die geskiedenisboeke daarvoor optgeteken word) en die rol van elke poging om agteruitgang te stuit (soos Lemmer se manifes) is dat dit die 25% se hoop en ambisie vir `n beskaafde bestaan vir die nageslag aan die gang te hou.

      Dit klink of jy pleit vir oorgawe aan die entropiese nulpunt. Is jy opportunisties of aggressief?

      • John

        Ek twyfel sterk broer. Oor jou voospelling oor die anale. Antwoord : Pass. Maar dankie in elk geval.

        • Johann Schutte

          Best you can muster? Methinks you”re a pretentious, but dom soutpeel.

  • Antonie Geyser

    my steun aan die Afrikaansmanifes, Afrikaans is een van die min dinge wat ons miskien gaan oorhou, as dit nie vertrap, verdraai, en heeltemal op die lang duur verbied gaan word nie, gaan na enige winkel of besigheid- hulle glimlag nie vir jou as jy Afrikaans praat nie, hulle kyk jou skeef aan, hulle is besig om te grou en hard met mekaar te skree

  • Karel Combrinck

    Kan dit wees?
    ‘n Artikel deur Johan van Wyk wat ‘n lansie breek vir Afrikaans! En dit nogal in Die Burger!
    Kan dit wees dat êrens ‘n kentering aan die gang is?

    • sussie se vissie

      Verneem Koos Bekker het kennis geneem van suster se pleidooi om DStv te boikot.
      BoereJode en die vooruitsig van hul eie Wiese-oomblik – maak gou-gou reg wat krom is.

  • Karel Combrinck

    Ek dink die eerste reël moet wees: (Dat) ons trots is om Afrikaners te wees.

  • Louise

    Ek is baie lief vir Afrikaans, maar daar is dele van die voorgestelde manifes wat ek nie ondersteun nie. Hiermee dus my gewysigde manifes:
    Ek as Afrikaner verklaar hiermee dat
    ek trots is op wat Afrikaners tot stand gebring het
    ek groot waarde heg aan Afrikaans as volwaardige taal
    ek nie eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom nie, aangesien dit prakties onmoontlik is om elf amptelike tale te gebruik, en omdat ek volwasse genoeg is om te verstaan dat Afrikaans nie bo ander tale voorgetrek hoef te word nie
    ek Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is, maar nie daarop sal aandring dat anderstaliges my in Afrikaans bedien nie, net soos ek ook nie die vermoeë het om elk van ons landburgers in húlle eie taal te kan bedien nie
    ek bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
    ons daarop aandring dat skoolonderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees, net soos dit ook in elk van ons land se ander tale beskikbaar moet wees
    ek Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
    ek veral teen die verengelsing van Afrikaans waak, al beteken dit dat ek nie die ‘baby chocolate songs’ kan ondersteun nie
    ek Standaardafrikaans as rigsnoer koester
    ek aanvaar dat die ontstaan van Afrikaans deur ‘n verskeidenheid van kulture beïnvloed is
    ek verwelkom Kaaps as ‘n verrykende en kleurvolle dialek.

    • sussie se vissie

      Ummm…
      “…. ek verwelkom Kaaps as n verrykende, kleurvolle dialek” – totdat Mervyn Cupido my dogter Lezandré om haar hand vra.
      Mind you…on second thoughts sallit kwaai wies om in my fôr baai fôr shopping by Woolies te gaan doen met my bluegums sn@tkoppie.
      Meen te sê – Dalsig in Skelmbos sal net nooit weer dieselfde wees nie!

      • Louise

        Maar natuurlik!

        • sussie se vissie

          Nope.
          Die ‘lik’ in natuur sê hou wat jy het.
          Going Brazilian met n gedaaide Hitler snortjie is passé.
          Gooi dan eerder n Telly Savallas. In sodoende is jy ‘neither here..nor there’.

          PS.
          Nes Mervyn.