Dan Roodt: Koos Kombuis en die verghwarring van die Afrikaner

Koos Kombuis

‘n Verkorte weergawe van dié rubriek het reeds op LitNet aan die begin van 2006 verskyn. Hierdie is egter die eerste publikasie van die volledige weergawe.

Daar is seker min openbare figure in dié land wat so deur die media op
die hande gedra word soos Koos Kombuis. Onder andere skryf Kombuis ‘n
weeklikse rubriek in Rapport, die grootste Afrikaanse koerant, waarin
hy so pas sy “bedanking uit die Afrikanerdom” aangekondig het.

“Want,” sê die Koos in sy anglisistiese Afrikaans, “die konsep (van
Afrikaner) is obsoleet.” Dus oudmodies, uitgedien, oorbodig.

Wie en wat is Koos Kombuis nou eintlik dat hy hom kan aanmatig om sy
uittrede uit die volk aan te kondig, amper asof hy ons staatspresident
was wat nou iewers aan die kus gaan woon om sy mémoires op te teken?

Myns insiens is die Koos ‘n soort Bertolt Brecht vir die swaksinniges,
die dronkes, die bedwelmdes, die skorriemorrie, die
lumpenproletariaat. Soos Bertolt Brecht wat ná die Tweede Wêreldoorlog
deur die Oos-Duitse Kommunistiese Party toegelaat is om sy Berliner
Ensemble in Oos-Berlyn te vestig, tree Kombuis as Afrikaanse
gelukbringer vir die ANC-regime op. As Marthinus van Schalkwyk
liedjies kon skryf, sou hy en Koos ‘n PK-Groep Twee op die been kon
gebring het.

Naas André Brink wat hom self in sy romans aan groteske politiekery en
selfs Afrikanerhaat skuldig maak, is die Koos ‘n soort vlagskipskrywer
vir die Nasionale Persgroep en word sy pueriele boeke en infantiele
politiek aggressief aan die volk afgesmeer. Brecht was ‘n kommunis en
het homself in die eerste plek nie as ‘n skrywer nie, maar as ‘n
politikus beskou. Die Koos verteenwoordig insgelyks ‘n buite-
parlementêre politikus wat soms letterlik verdwaal, net om homself
weer te vind en ons met sy kleinlike prekies in geradbraakte Afrikaans
te vergas.

Terloops verneem ek onlangs dat Nasionale Pers se vlagskiptydskrif
waarin politiek korrekte idees onder die dekmantel van “leefstyl”
aangebied word, Insig, intense sirkulasieprobleme ondervind. Blykbaar
sou Insig se omset van 20 000 na 7 000 gedaal het. Die volk waaroor
die Koos en sy marionetmeesters so neerhalend is, is dus nie dom
genoeg om die ANC en Naspers se ideologie wat in kleurfoto’s verpak
word, huidjie en muidjie te sluk nie.

Daar is egter ‘n ander sy aan Koos Kombuis wat my interesseer, en dit
is juis sy status as ghwar. Insig, KykNet, Rapport en ander
Naspersmedia is nie soseer besig om die Afrikaner soos in Oos-
Duitsland met Marxistiese ideologie te voer nie, maar poog om hom
onherroepelik te verghwar. Onder die vele metodes waarmee ons tans
ondergrawe en afgetakel word, hetsy fisies deur plaasaanvalle en
misdaad, hetsy sielkundig deur manipulasie van ons godsdiens of
geskiedenis, tel ook verghwarring.

Pleks van Karl Marx se Das Kapital te moet lees, word ons gevoer met
Die Son en die skryfsels van Kombuis. Of die nihilistiese liefjies van
Fokofpolisiekar.

In die vyftiger- en sestigjare was Mimi Coertse een van ons heldinne,
tesame met Gé Korsten, Min Shaw en ander. Mimi Coertse was ‘n
internasionaal beroemde operasangeres en gekultiveerd op die Europese
manier. Sy het ‘n keurige Afrikaans gepraat, maar ook Duits en
Italiaans. In populêre taal was sy vir baie Afrikaners ‘n “rolmodel”
tydens die Afrikaner se fase van opwaartse mobiliteit.

In die jaar 2006, met die Afrikaner op pad na armoede weens
uitsluiting op grond van ras en taal, het ons nuwe rolmodelle nodig.
Pleks van Mozart-operas en eurosentriese sofistikasie, moet ons tans
geïndoktrineer word met ‘n soort jolliehotnothedonisme soos deur die
Koos verpersoonlik word. Hy drink homself poepdronk en spog agterna
oor sy babelaas in Rapport. Drank is koning en dwelms is koel.

Tereg noem die Koos aan die einde van sy rubriek in Rapport dat sy
kinders as nie-Afrikaners “…ten minste nooit hoef uit te draai soos
die Waterkloof-Vier nie.”

In die Nuwe Suid-Afrika is die ideaal dus nie meer Waterkloof waar ‘n
seder soms geval het nie (met apologie aan PG du Plessis), maar
Mitchellsplein waar die messe blink en die dagga- en Mandraxwalms uit
gebreekte bottels opstyg.

Die wêreld sonder reëls van Mitchellsplein se jeugbendes
verteenwoordig die nuwe ideaal waarheen die verghwarde Afrikaner moet
aspireer. Vanuit die direksiekamer van Naspers se gebou in
Heerengracht word hierdie grootse kultuurtransformasie met kille oë op
Die Son en Die Huisgenoot se verkoopsyfers beplan.

Vergeet van boeke lees; luister liewer “songs”. Wees vry en
nihilisties. Maak ‘n dop, wees vrolik, want môre is jy landuit, gekaap
of vermoor. Carpe diem. As Omar Kajam vandag in Suid-Afrika geleef
het, sou hy gesing het van “bier, gekleurde vroue en songs”.

Selfs ‘n Hervormde predikant van Naboomspruit het lyk my voor die
aanslag geswig en vir hom ‘n swart courtisane of twee by die plaaslike
Truckstop gaan oplaai. Of die man vooraf deur Koos Kombuis beïnvloed
is, weet mens nie.

Dis altyd makliker om af te breek as op te bou. Dis insgelyks
geriefliker om te verghwar as om te veredel. Sowel die ANC as Naspers
het hierdie natuurwet goed ter harte geneem en is daarom besig om ons
al dieper in die modder in te druk.

Arnold Toynbee skryf iewers in sy Study of History dat dit vir die
ordentlike en patriotiese mens besonder pynlik is om tye van
dekadensie te moet beleef. Deur die eeue heen was satire en spot egter
die gekose wapen van die patrisiër wat moet ly onder die geweld, die
swak smaak, die malle rumoer van die gepeupel wat fuif asof daar geen
dag van môre is nie.

Omdat die Afrikaner deur sy godsdiens en verbintenis tot die grond
geleer is om hoogmoed te verafsku, kan ons nie maklik snobisties wees
nie. Anders as die Britte of die Franse byvoorbeeld wat elke teken van
swak smaak, ‘n swak gekose kledingstuk of “‘n aksent wat gly” met
vernietigende minagting behandel.

Onder die huidige aanslag vanuit die ANC-beheerde of ANC-gesinde media
wat ten doel het om ‘n eens trotse volk kombuiswaardes aan te leer,
kan ‘n bietjie hoogmoed en snobisme ons egter net goed doen.

Soos een ontstoke leser van Rapport dit prontuit aan Koos Kombuis
gestel het, “jy is ‘n vark”. Hy kon bygevoeg het: Meng jou met die
semels…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Rooikop

    Bou is soos om stroom op te swem. Dit verg harde werk en inspanning. Ons mense het lui en apaties geword – hoekom moet hulle omgee? Nihilisties is die mooi woord daarvoor. Alles kom tot niks. Entropie neem toe. Om toe te gee hierin is om jou menswees te versaak, jou opdrag van bewoon en bewerk die aarde te versuim.
    Ons moet juis werk,, spook, spartel, bou, stroom op om die verval te keer. Om dit nie te doen nie, steel jy net suurstof.