Dan Roodt: Waarom verengelsing so erg sleg vir ons is

Sedert 1994 het dit duidelik geword dat Afrikaners op allerlei maniere deur ‘n vorige geslag leiers verraai is. Sogenaamde grondwetlike “wigte en teenwigte” is nie die papier werd waarop hulle geskryf is nie. Te oordeel aan die staat, maar ook die howe, se opvatting van Engels as hoofomgangs- en staatstaal in Suid-Afrika, is Afrikaans nie eens ‘n amptelike taal meer van  die land nie. Tensy ons onder “amptelike taal” ‘n blote soort benoeming verstaan, iets in die trant van “diere het ook regte”, maar elke dag stuur ons hulle by die duisende slagpale toe. Ek meen Afrikaans verkeer insgelyks daagliks in die taalslagpale, want telkens word dit uit nog ‘n universiteit, nog ‘n skool, nog ‘n munisipaliteit, provinsie of staatsdiensafdeling geweer.

Terwyl daar voortdurend nuwe en beter “argumente” vir die voortbestaan van Afrikaans uitgedink moet word, hoef die voorstanders van Engels geensins hul optrede of beleid te regverdig nie. Aan die een kant geld ‘n soort “mag is reg” en aan die ander kant hoef hulle maar net te noem dat “Engels ‘n internasionale taal is” en dan verwag hulle dat jy jou bek sal hou en die Rooitaal sal praat. Die versameling van Afrikanerverraaiers en hensoppers het intussen ook aansienlik aangegroei en een van hul gunstelingredenasies, kwansuis ten gunste van die behoud van “‘n bietjie Afrikaans hier en daar” is dat “meertaligheid goed vir rassediversiteit is”. Verder word daar konstant allerlei geluide gemaak oor “moedertaalonderrig”, dikwels deur mense wie se eie bloedjies reeds op ‘n Engelse skool verkeer. Sover ek verstaan, stuur die meeste joernaliste by Naspers se Afrikaanse publikasies en media byvoorbeeld reeds hul kinders na Engelse skole. Die voorbeeld is deur Tim du Plessis gestel, wie se dogter op ‘n Engelse skool was en aan die Universiteit van Kaapstad – daardie giftige Boerehaatinstelling – afgestudeer het.

Vir die doeleindes van my huidige argument, neem ek aan dat daar nie werklik ‘n goeie rede is waarom Afrikaans behoort voort te bestaan nie, net so min as wat daar ‘n goeie rede is waarom die mensdom of planeet Aarde behoort voort te bestaan. ‘n Mens kan seker voorhou dat alles op aarde, waaronder Afrikaans, deel uitmaak van die Skepping en daarom bestaansreg het, maar gewoonlik maak dié argument nie veel hond haaraf teenoor die aggressief progressiewe en sekulêre voorstanders van Engels nie. Dus neem ek hier aan dat, soos Jean-Paul Sartre eens gesê het: “Nee, die heelal bly donker”, en dus sinneloos. Terloops, dié woorde verskyn as motto by Breyten Breytenbach se bundel kortprosas, Katastrofes, wat in 1964 by Afrikaanse Persboekhandel verskyn het. Dit druk ‘n soort Westerse pessimisme en moegheid uit, waaraan vele verengelsde Afrikaners ook lei.

Engels, veral in Suid-Afrika, speel egter ‘n uiters funeste rol. Trouens, ek sou selfs beweer dat Engels in ons land tot volksmoord en misdade teen die mensdom lei. (Noem dit “stelling een”.) Waarom sê ek so? Wel, daar is reeds getuienis daarvan, want toe Sargent en Lord Alfred Milner teenoor mekaar die konsentrasiekampe vir Boerevroue en -kinders geregverdig het, het Sargent onder andere gesê:

“We must appeal to England, and ask the sisters and daughters of those who have been fighting for the Empire to come out and complete that part of the work which their male relatives are unable to accomplish. Our military police had gathered the greater part of the child population into these camps and … I feel that the opportunity during the next year of getting them all to speak English is golden”.

Die voorstanders van Engels mag nie meer Britse imperialiste wees nie, maar hulle bly steeds Engelse imperialiste, dus mense wat Engels as heersende taal agressief wil uitbrei. Boonop was die huidige geslag ANC- en SAKP-leiers eens terroriste wat bomaanvalle op onskuldige burgerlikes geloods het.

Panyaza Lesufi

Dit lei tot my tweede stelling teen Engels: In Suid-Afrika spruit Engelse kultuurpolitiek steeds uit ‘n sin vir heerssug en terreur. Nie net ontken die Engelsgesindes alle norme van taalgelykheid of taalregte nie, maar hulle ontken die reg op lewe self. ‘n Mens hoef maar net te sien hoe die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, optree om te besef dat my stelling juis is.

As ‘n derde stelling: Engels in Suid-Afrika is geen normale taal soos Engels in Engeland of in die VSA nie. Dit word met beide kolonialisme en kommunisme verbind. Die leidende Engelse figure, of dit nou skrywers (soos Nadine Gordimer) of intellektuele (soos Jeremy Cronin of Joe Slovo) of predikante (soos Trevor Huddleston) is, was almal kommuniste of radikale sosialiste wat hul bepaalde totalitêre siening op die res van die samelewing wou afdwing. Dus: Engels is kakiebos, ‘n koloniaal-kommunistiese onkruid hier by ons wat vir ons tot dusver net rampspoed beteken het en vorentoe in verdere volksmoord en menseregteskendings gaan ontaard.

Dit amuseer my nogal dat die teenstanders van Afrikaans voortdurend die Soweto-onluste van 1976 moet ophaal. Op sy beste is dit ‘n tweesnydende swaard, want bewys dit nie óók dat Engels tot die afbrand van skole en die ontwrigting van opvoeding lei nie? Oor die afgelope jaar of meer is ongeveer 30 skole in die Limpopo-provinsie afgebrand. Dit is skole waar Engels as onderrigmedium gebruik is. Die voorstanders van Engelse heerssug brand daarom dikwels skole af, waar Engelse amptenare soos Lesufi nie skole terroriseer, afdreig of die ouers en beheerrade op totalitêre wyse van hul regte ontneem nie.

Verder (stelling vier): Engels lei tot eentaligheid en onkunde. Die meeste ingeligte Engelssprekendes wat ek ken, erken ten minste die bestaan van ander tale en kulture, asook dat sodanige tale en kulture inherent waardevol is. Vele Engelse skrywers soos die Romantiese digters van die negentiende eeu, George Orwell, D.H. Lawrence, Ezra Pound, T.S. Eliot, Oscar Wilde, die Amerikaners Henry James en Ernest Hemingway en James Joyce het Frans geken, asook in Parys gewoon. Die hedendaagse Suid-Afrikaanse gedagte dat alle kennis en insig slegs van een taal – Engels – afhang, is bedenklik en word selfs nie eens in ander Engelssprekende lande gehuldig nie! Plaaslike anglomane demonstreer dikwels ‘n barbaarse onkunde en haat teenoor ander kulture, spesifiek die Afrikaanse kultuur.

Samehangend hiermee, as ‘n vyfde stelling: Engels sonder ons af van Europa en ons Europese erfenis. Suid-Afrika het as ‘n Europese, spesifiek Nederlandse, vestiging ontstaan. Vandaar dus die internasionale afkorting vir die land: ZA, wat staan vir “Zuid-Afrika”. Dwarsdeur ons hele geskiedenis is veral Afrikaners voortdurend vanuit Europa beïnvloed en was daar ‘n wisselwerking met veral Noord-Europese lande waar tale wat aan Afrikaans verwant is, gepraat word: Nederland, Vlaandere, Duitsland, Oostenryk, Switserland, Skandinawië. Die geprogrammeerde uitwissing van Afrikaans soos dit tans geskied, gaan ons vir seker van so ‘n wisselwerking in die toekoms beroof.

Dan: verengelsing lei tot Zimbabwifisering (stelling ses). Soos ek reeds hier bo genoem het, is die Suid-Afrikaanse Engelse kultuur radikaal-links, ekstremisties, selfs terroristies en daarom verwant aan die soort denkbeelde wat daar noord van die Limpopo in Zimbabwe heers. Dit spreek vanself dat die volslae verengelsing van ons land tot dieselfde soort absurde Afro-Saksiese, anti-blanke heerssug soos in Zimbabwe onder Robert Mugabe en sy ZANU PF sal lei. Trouens, so ‘n Afro-Saksiese heerssug is reeds by ons voelbaar.

Sewende stelling: verengelsing lei tot die verdomming van Afrikaners. Daar is geen Afrikaner so dom soos een wat verengels het nie. Nie net het so ‘n persoon ‘n erfenis van etlike duisende jare (die eerste opgetekende waarneming van Nederlands is deur die Romein Tacitus gedoen) afgesweer nie, maar in die praktyk assimileer sulke mense juis by die laagste gemene deler van Engelsheid. In dié opsig verteenwoordig verengelsing ‘n verghwarring by Afrikaners, want ‘n hoë kultuur, ‘n kultuur van Noord-Europese oorsprong omgewe van letterkunde, musiek, styl en verfyndheid, word verruil vir ‘n ontwortelde Engelse kultuur van die massa. Soos die “Franskiljons” van België, raak sulke mense veral hatig op Afrikaans, as ‘n oordrewe blyk van hul nuwe lojaliteit jeens Engels en Engelsheid. Weereens is die verengelsde Naspersjoernaliste soos Adriaan Basson of Max du Preez goeie voorbeelde van dié sindroom.

In die lig van bogaande sewe stellings, gaan veral die Afrikanerbevolking nie verengelsing oorleef nie. Dit gaan tot ons ondergang lei en kan selfs in fisieke volksmoord ontaard soos wat die atawistiese Engelse idees van die negentiende eeu begin oorheers. Ook die totalitêre, kommunistiese Engelsheid van die twintigste eeu wat ons met Slovo en Cronin, asook hul vele dissipels soos Mandela of Blade Nzimande, verbind, hou vir ons ‘n lewensgevaar in.

Ns. Terwyl ek dié geskryf het, het ek tydens ‘n internetsoektog ‘n ou stuk van my ontdek wat hierby aansluit en blykbaar nie hier op Praag beskikbaar was nie. Daarom word dit nou ook hier geplaas, hoewel met die oorspronklike verskyningsdatum rondom 2006:

Dan Roodt: Koos Kombuis en die verghwarring van die Afrikaner

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.