Kleurlingmans skuldig aan moord op skryfster Winnie Rust

Nigel (links) en Johannes Plaatjies in die hof

Nigel en Johannes Plaatjies, die beskuldigdes in die moord op die Afrikaanse skryfster Winnie Rust, is vandag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof deur regter Elize Steyn skuldig bevind. Benewens die moord op Winnie Rust, het die twee ook gepoog om die Rust-woonhuis aan die brand te steek om die spore van hul daad uit te wis.

Winnie Rust. Foto: Wikipedia.

Winnie Rust, wat haar oor ‘n tydperk van jare oor Nigel Plaatjies ontferm het en as sy weldoener opgetree het, is deur hom en sy oom vasgebind en verwurg. Hierna het hulle ‘n gasstoof oopgedraai en ‘n brandende kers daarvoor gelos in ‘n poging om die hele huis te laat afbrand.

Nigel en Johannes Plaatjies het twee goue ringe en skootrekenaars uit die woning weggedra. Hulle het ook die vermoorde mev. Rust se bankkaart geneem en R5000 uit haar rekening onttrek. Die juweliersware is aan ‘n pandjieswinkel vir R1200 verkoop.

Terwyl Nigel skuld beken het op die aanklag van diefstal wat verband hou met die onttrekking van R5000, het Johannes Plaatjies skuld op dié klag ontken. Daarom het die regter slegs vir Nigel aan die diefstal van die R5000 skuldig bevind.

Maar albei die Plaatjies-familielede is, benewens die moord, aan ander klagte van diefstal en bedrog skuldig bevind aangesien hulle gepoog het om kruideniersware en ‘n selfoon met Winnie Rust se bankkaart te koop.

Regter Steyn het in haar uitspraak gesê dat albei “kop in een mus” was sover dit die roof en diefstal betref en “beplan het om voordeel uit Rust se dood te trek… Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat hulle dit saam beplan en betrokke was.”

Hoewel sy albei aan moord op Winnie Rust skuldig bevind het, het sy gemeen hulle is onskuldig aan die klag van poging tot moord op Rust se eggenoot.

Vonnis sal op 5 Februarie 2018 opgelê word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.