Karel Combrinck: Brandoffer nommer 3

Ons is byna aan die einde van die jaar 2017, d.w.s pas ‘n eeu na die beëindiging van een van die mees afskuwekkende menseslagtings in die geskiedenis. Pas ‘n honderd jaar gelede het die mees beskaafde en ontwikkelde volke op aarde mekaar uitgemoor en uitgeroei met alles waartoe hulle hoogs ontwikkelde tegnologiese en nywerheidsvaardighede in staat was, waaronder gasaanvalle wat honderdduisende soldate op die front hulle longe in bloedklonte laat uithoes het.

Nou is die vraag natuurlik wat beskaafde mense kan noop tot sulke uit en uit barbaarse gedrag?

Baie boeke is al oor hierdie onderwerp geskryf, sommige waarvan nader aan die waarheid as ander is soos dit maar gaan. Feit is dat ons nie weet of ooit sal weet wat die werklike verklaring hiervoor is nie. Dit kan tog nie wees dat mense dit nodig kan ag om miljoene lewens op te offer uit weerwraak vir die sluipmoord deur ‘n versteurde student op ‘n Oostenrykse operetteprins nie. Die beste breine kom tot die gevolgtrekking dat die hart van die mens, hoe beskaafd ook al, ten slotte ‘n duister spelonk is waar Satan die septer swaai en hoogty voer.

Een van die redes wat groteske episodes van hierdie aard moontlik maak, is dat die mensdom oortuig is dat gebeure soos dié op ‘n manier te wyte is aan mense wat nie van beter geweet het nie, en dat dit nie nie weer sal of kan gebeur nie. Hulle sien inderwaarheid met arroganie en meerderwaardigheid neer op die volke of lande of gemeenskappe wat tot sulke barbarisme in staat was. En tog het die tweede Armageddon van die twintigste eeu uitgebreek slegs twintig jaar na beëindiging van die eerste. Twintig jaar!

Die mensdomp is by herhaling en skynbaar totin  alle ewigheid tot dergelike onbesonnenhede in staat. Kom ons kyk maar na gebeure in ons tyd. Dit is duidelik vir enigiemand met oë of verstand in sy kop dat die Westerse lande, onder leiding van die VSA, ten alle koste ‘n voorwendsel soek vir ‘n gewapende konfrontasie met Rusland — opbou van aanvals- en afweerstelsels in Oos-Europa, verbod teen Russsiese deelname aan die Olimpiese Spele en lewenslange verbod teen bepaalde Russiese atlete, handels- en ander sanksies teen Rusland, beledigings en beskuldigings teen Rusland van Amerikaanse kongreslede en Britse parlementslede teen Rusland, onder meer beskuldigings van inmenging by die Amerikaanse presidentsverkiesing, en die referemdum voor Brexit, beperkings op die vryheid van die Russiese televisiekanaal RT en nog meer.

Niemand dink in die proses aan die dermiljoene lewens wat in so ‘n konfrontasie opgeoffer gaan word nie. Hulle sing intussen lang treurmares oor oorloë van die verlede, maar is net nie bereid of in staat om te sien dat hulle die weg vir ‘n nuwe bloedlating voorberei nie. Die enigste oorweging van belang is die miljarde dollar wat die Amerikaanse wapennywerheid uit ‘n konflik met Rusland sal kan verhaal.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.