Julius Malema het oor die naweek weereens sy onlangse oproepe tot grondgryp deur swartes herhaal toe hy by Sun City gesê het: “Daar is niks spesiaals aangaande blankes dat hulle meer grond as swartes moet besit nie. Hulle moet grond gelykop met ons besit.”
Die geleentheid was die jaarvergadering van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies se jaarvergadering wat Malema as gasspreker uitgenooi het. Blykbaar is ‘n opname van Malema se toespraak op die EFF se Twitterrekening beskikbaar gestel.
“Ons wil nie grond onteien uit wraak nie, maar as deel van ‘n demokratiese proses,” het die EFF-leier gesê.
Malema het ook met revolusie gedreig. Indien blankes nie van hul grond afstand doen nie, sal ‘n revolusie “onvermyndelik wees”, volgens hom. “U en ek sal dan slagoffers wees,” het hy gesê.
Hy het verder uitgevaar teen die rassesamestelling van die land se regslui. Verder het hy die swart revolusionêre wat ook prokureurs was, soos Robert Sobukwe, Nelson Mandela en Oliver Tambo, geloof.