Dan Roodt: Skep ‘n nuwe Afrikaanse groeipunt aan die kus

Die Noord-Nieuwland in Tafelbaai, 1762.

Die probleem waarmee ons sit, is al oor en oor ontleed. Wat is die oplossing? “Wat is julle plan?” het die Nederlanders, Vlaminge en Duitsers vir my onlangs in Europa gevra. Daar is mos die grappie van ‘n Boer maak ‘n plan, ‘n Indiër hét ‘n plan en ‘n swarte stéél een. Dis op ‘n keer deur ‘n swartman aan my vertel, en hy het meer kleurryke taal gebruik, dus waag ek dit om so iets hier te herhaal.

Vele mense het al dié plan genoem: Skep ‘n Afrikaanse groeipunt aan die kus. Ek noem dit hier ‘n groeipunt, want ek dink dis een van die swakplekke van Orania — by al die empatie en bewondering wat ek vir dié Noord-Kaapse dorpie koester — dat dit van die begin af as ‘n grootse politieke oplossing vir die Afrikaner aangebied is: ‘n volkstaat, ‘n nuwe Jerusalem. Dis ‘n bietjie soos om die kar voor die perde te span. Alvorens jy ‘n nuwe republiek kan uitroep, moet jy oor genoeg grondgebied, ‘n bevolking en ‘n ekonomie beskik. Jy moet die plek beset.

Vandaar dus my idee van ‘n “groeipunt”. Nie dat die politieke sy daarvan te diep weggesteek hoef te word nie, maar dit moet in die eerste plaas ‘n praktiese, ekonomiese oplossing bied wat ons in staat sal stel om te ontsnap uit die antiblanke rassisme, geweld en korrupsie van die Nuwe Suid-Afrika.

Terloops, die politiek in Suid-Afrika en in die wêreld beweeg nou blitssnel; verby is die jare van wag dat iets moet gebeur! Tien dae gelede was ek nog in Europa en daar is mense begeesterd besig om te debatteer, te organiseer en weerstand te bied teen die verswelging van hul kontinent deur mense uit Afrika en die Midde-Ooste, spesifiek natuurlik Moslems.

Ek het dit al voorheen gesê en herhaal dit hier: Ons probleem en die Europeërs s’n is presies dieselfde, en die meeste mense begin dit ook so insien: ons kwyn demografies, terwyl die vyand se getalle konstant vermeerder. Ons is oud en dekadent, teenoor hulle wat jonk en fanaties is.

Aan die ander kant het Europeërs nie verniet oor die afgelope 500 jaar die wêreld verower nie… Ons kán as ons wil! Afrikaners is vandag in Suid-Afrika teenwoordig omdat ‘n klein landjie soos Nederland met ‘n grondgebied so groot soos die Krugerwildtuin in die sewentiende eeu besluit het om die oseane op hul seilskepies aan te durf. Jan van Riebeeck het ‘n halfwegstasie aan die Kaap gevestig, daarom is ons hier. Net gister het ek die kopstuk van my Facebook en Twitter verander na bogaande, ‘n tyd toe die Kaap nog spreekwoordelik Hollands was.

Waar? is natuurlik die groot vraag. Eintlik is daar net twee keuses: die Suid-Kaap of die Weskus. En op ‘n manier is die keuse reeds gemaak, want meer mense het al Suid-Kaap toe getrek as Weskus toe. Die Suid-Kaap beskik ook oor ‘n bestaande hawe: Mosselbaai. Goed, goed, daar is insgelyks Saldanha van waar ystererts uitgevoer word, maar blykbaar woon daar nie eens 4 000 blankes in dié hawedorp nie.

Wat ek aangaande die Suid-Kaap interessant vind, is dat daar reeds ‘n natuurlike migrasie van Afrikaners daarheen plaasvind. Baie welaf Afrikaners in Gauteng besit ook reeds vakansiehuise daar; dis reeds ‘n goeie begin.

Terwyl ek in Amsterdam intense politieke gesprekke gevoer het, tot laat in die nag, het ek skielik die woord “Mosselbaai” genoem. Onmiddellik is daar na selfone gegryp om dit op te kyk en, ja, die naam Mosselbaai is in 1601 deur die Nederlandse seevaarder Paulus van Caerden gemunt. Die ander weergawe is dat ‘n ander, beroemde Hollandse seekaptein, Cornelis de Houtman, dit in 1595 benoem het. Dis belangrik, want die kapitaal vir enige groot ontwikkelingsprojek aan die kus sal van Europa en spesifiek van Nederland en Vlaandere af moet kom. Afrikaners is oor die afgelope twintig jaar so verarm en vanuit die ekonomie uitgesluit dat ons kwalik nog oorleef, daarom gaan ons nie die hele projek “uit ons eie sak” kan finansier nie.

Dan is daar nog die euro: Al word daar, veral vanuit regse Europese kringe, smalende kritiek op die euro uitgespreek, hou ek van die geldeenheid. Ons moet dit ook meer en meer begin gebruik. Die rand is op pad om ‘n tweede Zimdollar te word; van hier af aan kan die proses eintlik net versnel. Kom ons hou ons likiede bates in euro, en finansier ons ook in euro teen baie lae rentekoerse… Eintlik is die euro maar ‘n ou Duitse mark en Nederlandse gulde wat as “universele Europese geldeenheid” vermom is. Oor die afgelope twee dekades het dit ook konstant teen die dollar, die pond en die meeste ander geldeenhede versterk, selfs teen die superharde Switserse frank.

Pleks van te emigreer uit Suid-Afrika na Engelse lande soos Nieu-Seeland en Australië toe, moet ons delokaliseer, eenvoudig vanuit die Suid-Afrikaans ekonomie en stelsel uitklim en — soos dit heet — “ons eie ding begin doen”. En daarvoor is die Suid-Kaap myns insiens ‘n baie geskikte gebied.

Toegegee, niemand hou van trek nie en ons het almal wortels op allerlei plekke dwarsoor die hele land. My familie is al geslagte lank in die Tranvaal; ons het so half die geneigdheid om oral waar ons kom perskebome of nartjiebome te wil plant! My moeder is op Swartruggens gebore. Ons het die Groot Trek en die Vryheidsoorloë meegemaak. Die Kaap verteenwoordig vir my ‘n ander land. Ek het eers Parys, Frankryk, besoek alvorens ek in Kaapstad gekom het. Kaapstad is vir my amper vreemder as Stockholm. Dis ook baie Engels, London-on-sea. Dit pruil so half van snobisme, op ‘n agterlike, domastrante, provinsialistiese, Engels-koloniale manier… Die Suid-Kaap is egter iets anders: dis vriendelik, Afrikaans, landelik, effens boers soos ons daarvan hou.

Ongelukkig kon ek aanlyn net dié Engelstalige kaart van die Suid-Kaap vind. As iemand oor ‘n beter en Afrikaanse weergawe beskik, laat weet my asb. – DR

Sommige Afrikaners wil egter “veg vir die hele land” en stel daarom nie belang om te delokaliseer nie. Histories voel ek net so sterk oor ons hele land en dat dit ons toekom! My en jou voorouers het vir die Vrystaat en Transvaal geveg, en ons sal dié gebiede weer terugkry, kom wat wil. Selfs Suidwes; waarom op aarde is dit ooit aan Swapo oorhandig?

Maar mense, kom ons wees redelik (en realisties): dit gaan nou oor oorlewing. As ons aanhou soos tans, gaan daar oor twintig jaar niks van die eens trotse Afrikanervolk oor wees nie. Ons gaan deur die drie V’s vernietig wees: verengels, verarm en verbaster. Kyk om jou: die proses is reeds aan die gang. Afrikaans het reeds “geval” by Tukkies, Kovsies en selfs op Stellenbosch, met Potch wat nie ver agter is nie. Die Afrikaanse skole is volgende in die visier. As jou kind eers deur ‘n Engelse skool gebreinspoel is, is daar eintlik geen salf meer aan hom te smeer nie. Hy het dan reeds geakkultureer by die antiblanke, anti-Afrikaanse waardes van die NSA. Sy morele en intellektuele standaarde is dan op die vlak van ‘n Hillbrow-prostituut s’n. Ekskuus, “sekswerker”. Dis mos deesdae ‘n eerbare beroep in Suid-Afrika. Toegegee, dis seker meer eerbaar as dié van ‘n NSA-politikus.

Dus, sien dit as ‘n noodmaatreël, soos om te emigreer. Ons moet iewers heen waar ons nie meer doodgemaak word nie en waar ons steeds ons taal kan praat en met mekaar sake kan doen sonder dat ons deur die Afro-marxistiese staat en groot maatskappye versmoor word.

‘n Groot deel van die PWV (of dan die Gautengprovinsie, eintlik hou ek niks van dié woord nie) se ekonomie sal suidwaarts moet verskuif. Vir ‘n begin kan mense bloot vakansiehuise en -woonstelle daar koop, en solank hul gesinne daar vestig, buite die gevaarsones van Gauteng en die Kaapstad-omgewing. Die moordkoerse in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad is hoër as dié in vele oorlogsgebiede, juis daarom emigreer soveel mense. Ons kan heen en weer pendel tussen die George-lughawe en die res van die land, maar ook oorsee, want ons sal ons goedere en dienste buite Suid-Afrika moet verkoop, daar waar daar nie regstellende aksie en antiblanke diskriminasie bestaan nie.

Daar is baie te leer uit Orania se ervaring met volkseie arbeid. Vanuit die staanspoor sal ons sover moontlik moet meganiseer, en van volkseie arbeid gebruik moet maak. Uiteraard bestaan daar ‘n redelike kleurlingbevolking ook in die Suid-Kaap en hulle moet deel van die groeipunt wees. Die groeipunt moenie “slegs vir blankes” wees nie, ‘n gedagte wat steeds in vandag se wêreld so gestigmatiseer is dat NAVO, Rusland en China ons dalk sáám met vliegtuie sal kom bombardeer as ons dit probeer. Maar ons moet binne die eerste paar jaar ‘n volstrekte meerderheid behaal, met die mikpunt om ‘n Afrikanermeerderheid van tot tagtig of negentig persent in die gebied op te bou. In elk geval: as net die helfte van Gauteng se anderhalf miljoen Afrikaners soontoe trek, sal ons by verre in die meerderheid wees.

Afrikaans moet die voertaal én die openbare taal wees. Dit is ononderhandelbaar. Geen Engels nie. Alvorens ons enige ander grense trek, moet ons soos in Vlaandere (en Orania) ‘n taalgrens trek. Dit moet ‘n Afrikaanse Republiek in wording wees. Ek verafsku die manier waarop die Naspersmedia die woord “Afrikaanse” as ‘n (polities korrekte) selfstandige naamwoord gebruik, maar laat dit maar “Afrikaans” in daardie “inklusiewe” sin (nou moet ek eers na die lugsakkie gryp) óók wees. Onthou: dit gaan om ons oorlewing. Hier en daar kan ons maar kompromieë aangaan, solank ons daarvan bewus is dat die einddoel volkome vryheid en selfregering moet wees. Selfbeskikking, soos hulle sê, maar selfs dié woord het al ‘n bietjie van ‘n utopiese klankie in Afrikaans verkry, iets soos die hemel waarvan jy in die Bybel lees maar net gaan ervaar as jy die dag doodgaan. Ons moet vryheid in die hier en nou verkry.

Alle Afrikaanse groepe moet saamwerk. Dis seker veel gevra en die ou en die nuwe Afrikanerelite of Broederbond sal dit seker afskiet as iets wat nie deur ‘n aantal komitees en geheime vergaderings van die FW de Klerk-stigting goedgekeur is nie. Maar raai wat? Ons gee nie om nie. Soos die Oos-Duitse betogers wat die Berlynse Muur laat val het in 1989, en toe weer in 2014 teen immigrasie, geskree het: Wir sind das Volk! Ons is die volk. Ons sal self besluit, en laat FW de Klerk en sy handlangers in hul moer vlieg!

Vanuit Europa en vanuit die VSA sal daar geweldige steun vir so ‘n projek wees. Mense sal graag in so iets wou belê: ‘n kusstad of -streek met die potensiaal om die Singapoer van Afrika te word. Ons keer ons rug op Afrika en sy probleme, en raak deel van die groter wêreld daarbuite, die ontwikkelde, eerste wêreld. Ons sal ook Europese immigrante kan lok. Ons beskik oor aangename weer, vriendelike mense, goedkoop eiendom en ruimte. As dit veilig, Westers en Afrikaans is, sal honderde duisende Europeërs daarheen stroom. Solank die internetspoed goed is, sal hulle sommer daar kan werk ook. Ons sal nie vir hulle werk hoef te skep nie; hulle het klaar werk. Die hele Noord-Europa, Skandinawië, Nederland-Vlaandere, Duitsland, Oostenryk, beskik so te sê oor volle indiensneming. Ons hoef net by hulle ekonomie “in te prop”, daaraan deel te neem, op ‘n gedelokaliseerde manier, en dan sal ons ‘n bloeityd beleef!

Europeërs kan by ons kom aftree, hul euro’s hier kom uitgee. Ons kan versorgingsentrums bou, tesame met goeie en bekostigbare hospitale (soos wat ons eens gehad het) wat oor die hele wêreld bekend sal raak.

Die groot uitdaging gaan natuurlik wees om, nes in Europa, ons van migrante te vrywaar: derdewêreldparasiete wat op ons welvaart wil kom teer, wil kom plak, om aalmoese wil smeek en, les bes, wil kom roof en moor soos wat dit tans op ons plase en in ons stede die geval is. Daar moet egter ‘n ongeskrewe reël wees dat ons geen Xhosas in diens sal neem nie. Die munisipale regulasies en bywette moet eenvoudig toegepas word: geen plakkershut of kaja mag ooit opgerig word nie. Niemand mag onder ‘n brug of ‘n stuk plastiek slaap nie. Hy moet terug Transkei toe, waar hy vandaan kom. Hy kan daar vir die ANC gaan stem, of die EFF of wie ook al. Indien nie sy lewende leiers op ons TV-skerms nie, sal die spook van Nelson Mandela na hom omsien. Ons moet nooit weer die swartman, en veral die Xhosa, ons probleem maak nie.

As ons na ons geskiedenis kyk, onlangs en verder terug, sien ons dat die Nguni-volkere lank reeds die Afrikaner as hul vyand beskou. Ons moet dit só aanvaar. Slegs voortdurende paraatheid en strategiese denke gaan ons teen die vyand se aanvalle en teistering vrywaar. Daarmee saam is daar natuurlik die Uitlanderbevolkings van Johannesburg en Kaapstad wat van Suid-Afrika ‘n soort linkse Britse kolonie wou maak. Hulle is ‘n ander vyand, wat dikwels met die Nguni’s saamspan, maar hulle voel gewoonlik nie gemaklik in Afrikaanse omgewings nie, dus sal hulle voorlopig aanhou om ons in hul media en vanuit hul stedelike vestings in Johannesburg en Kaapstad te hoon.

‘n Privaat Afrikaanse universiteit kan in die Suid-Kaap gestig word; dit op sigself sal reeds enorm baie ekonomiese aktiwiteit skep, asook jongmense daarheen lok. Laat die res van die universiteite volledig “transformeer” met studente wat gratis studeer en ewe gratis betoog en die plekke afbrand, terwyl die linkse akademici hulle lustig aanpor. Die linkses en multikulturaliste sal mekaar besig hou, terwyl ons rustig aan ons nuwe tuiste bou.

Die Afrikaner kort ‘n heimat, dis só eenvoudig.

Sien dit as ‘n Eurokaanse projek: Europees-Afrikaans. Van die begin af was dit tog wat ons wou doen: om ‘n stukkie Europa hier in Afrika te kom skep.

Dan sal die (Suid-)Kaap weer Hollands wees!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.