Susan Combrinck praat met die jong lesers van praag oor opstelle en stories

ImageEk kan nou al van julle hoor: “Aggenee net nie opstelle nie”. Komaan, om ’n opstel te skryf is nie so sleg nie. Die skryf van opstelle is wel nie lekker wanneer julle nie verstaan wat van julle verwag word en wanneer opstelle net vir die onderwyser geskryf word en nie vir julself nie. Wanneer julle iets vir julself doen, doen julle gewoonlik meer moeite daarmee. Die volgende stelling: “Wat geskryf is sonder moeite is gewoonlik leeswerk sonder plesier”, is hier van toepassing – wanneer die onderwyser opstelle moet lees waarin gesien kan word dat min of geen moeite gedoen is nie, hoe kan julle verwag om goeie punte daarvoor te kry?

Die rede hoekom julle geleer word om opstelle te skryf, is omdat julle hierdeur voorberei word om stories of verhale, artikels, verslae, kommentare, ens. op ’n kreatiewe manier te skryf.  Julle leer met ander woorde hoe om julle kreatiewe skryfvaardighede te ontwikkel sodat julle veelsydige skrywers kan word wat doeltreffende geskrewe tekste kan produseer. Deur hierdie kreatiewe skryfstukke kommunikeer julle op ’n spesifieke manier met ander.

Die volgende vraag kan wees: “Watter opstelle is dan belangrik vir hierdie doel?” Die opstelle wat julle in die skool leer om te skryf is die verhalende, beskrywende, bespiegelende, argumenterende, feitelike en beredenerende opstelle. Alhoewel julle by al die tipes opstelle leer om soos vroeër genoem kreatief te skryf, hou die verhalende en beskrywende opstelle verband met die skryf van prosa  en meer spesifiek fiksie (stories).

Is daar van julle wat 'n skrywersberoep soos Deon Meyer, Chris Barnard,  Jaco Jacobs,  François Bloemhof,  Chanette Paul, Riana Scheepers en Ena Murray wil volg? Dan is dit die tyd om opstel skryf meer ernstig op te neem. Hoe anders sou Jaco Jacobs op 29-jarige ouderdom al 42 boeke kon uitgee? Die uitdrukking: “Die enigste plek waar ‘sukses’ voor ‘werk’ kom is in die woordeboek.”,  is die moeite werd om te onthou.

By die UGO wat julle in die skole volg,  word daar by elke graad ten opsigte van die leerarea en vak Tale sekere leeruitkomste gegee wat bereik moet word. Tot by Graad 9 is een van die leeruitkomste: "Skryf’" en van Graad 10 af is een van die leeruitkomste: ‘Skryf en Aanbied’. Vanaf die heel laagste graad word julle dus aan die skryfkuns blootgestel. Julle begin deur te leer hoe om letters te maak en met die verloop van jare leer julle om deur middel van woorde ’n skriftelike boodskap oor te dra – julle verbeelding, denke en idees –  sodat ander mense dit kan lees. Wanneer julle skryf sodat ander mense kan lees en verstaan wat julle geskryf het, maak julle gebruik van julle kennis van spelling en leestekens. Soos wat ek in my vorige stuk geskryf het,  is skryf en lees belangrike kommunikasiemiddele.

Om kreatief te kan skryf, is dit belangrik om te lees en baie te lees.  Hoekom is lees dan belangrik by die skryf van stories? Wanneer julle oor goeie leesvaardighede beskik, sal julle heelwaarskynlik nie sukkel met skryf nie. Deur te lees word woordeskat uitgebrei en die taalstrukture wat julle leer naamlik woordsoorte, woordvorming, klankleer, sinsontleding en leestekens word versterk. Hoe meer julle lees, hoe meer sal julle sien hoe bogenoemde in tekste gebruik word. Wanneer julle wyd en baie lees, gaan julle leer om verskillende soorte tekste te herken en julle gaan voorbeelde van verskillende skryfstyle kry – elkeen van julle sal dalk van ’n ander skryfstyl hou en dit dan ook navolg wanneer geskryf word. Onthou net dat elke persoon sy/haar eie skryfstyl het. – dit beteken dat al word ander persone se skryfstyle gevolg, kom elkeen se persoonlikheid na vore in die spesifieke manier van skryf.   Lees en skryf hou dus verband met mekaar – hoe meer julle lees, hoe beter sal julle kan skryf.

Maar wat beteken die term "kreatiewe skryfkuns"? Die term "kreatief" beteken om te skep en die term "kreatiwiteit" beteken om oor die skeppingsvermoë of kreatiewe vermoë te beskik om iets te skep. Die term "kreatiewe skryfsuns" beteken dus dat julle oor die kreatiewe vermoë beskik om interessante en verbeeldingryke werke te kan skep Alhoewel fiksie grootliks vanuit elkeen se verbeeldingswêreld kom, is daar definitiewe raakpunte met die werklikheid  Wanneer julle mense (wat julle ken of geken het) en plekke (wat julle wel besoek het) beskryf, het dit wel met die werklikheid te make.

Sommige van julle sal sê dat julle nie kreatief is nie. Dit is nie so nie. Alle mense beskik oor kreatiewe vermoë, maar dit word net nie gebruik nie. Vra maar vir jul ouers hoe hulle stories uitgedink en vertel het, geteken het en verbeeldingspeletjies gespeel het voordat julle met jul skoolloopbaan begin het. Omdat julle dit nie nodig het om kreatiwiteit te gebruik wanneer byvoorbeeld ’n rekenaarspeletjie gespeel word of om pophuise te bou nie (omdat dit  klaar gebou gekoop word),  is daardie kreatiwiteit wat julle toe aangewend het nog steeds daar, maar net diep weggebêre Wanneer laas het jy die vreugde gehad van iets wat jy self gemaak het? – ’n houttafel of ’n kledingstuk.

Kreatiwiteit is nie net beperk tot slegs een aspek of area in julle lewe nie. Dit speel ’n rol in kuns, kook, musiek, wetenskap, probleemoplossing, skryf, ens. Skryf  kan beskou word as kuns- woordkuns. Woorde word op so 'n manier gebruik dat diegene wat die skryfwerk lees die prentjie in hul kop kan sien. Julle "teken" dus ’n prentjie met woorde.

Dit word aanvaar dat julle nie van al die tipes opstelle hou nie, maar doen in elk geval julle beste sodat julle nie in later jare sê: “As ek maar net meer moeite gedoen het nie.” Al kies julle nie die beroep van skrywer nie kan julle nog steeds stories of verhale skryf want deur te skryf maak mens ook sin van die lewe en, wie weet, dalk kan van julle stories nog vir ’n ekstra inkomste sorg – nou en in die toekoms ná skool.

керамические коронкилобановский александр харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.