Brief: Die rubicon wat Afrikaans moet oorsteek

Ek het my al voorheen op Praag se welwillendheid beroep wanneer ek weens sensuur nie toegelaat word om my mening op LitNet te lug nie. Ek hoop ek kan dit hierdie keer weer doen. Op LitNet geniet politieke korrektheid voorkeur bo die bevordering van Afrikaans. Daar is bv ‘n LitNet-rubriekskrywer, Bettina Wyngaard, wat uitstekende Standaardafrikaans kan skryf, soos blyk uit sommige van haar rubrieke. Maar daar is by haar, soos ongelukkig by baie van haar etniese genote, wat Afrikaans betref nie taaltrots of taalgetrouheid nie. In sommige rubrieke gebruik sy doelbewus talle Engelse woorde om in oordrewe mate met Afrikaans te mors. Ek ervaar sulke teks as aanstootlik en vra dan dat LitNet op suiwerder Afrikaans moet aandring. Dit is die soort opmerking wat onpubliseerbaar geag word en waaraan geen gevolg gegee word nie. Polities korrek mag blankes aanstoot gegee word maar nie bruin mense nie. Blykbaar mag niemand in die voorheen benadeelde of nie-wit sektor gekritiseer of tereggewys word nie.

Aansluitend hierby is daar die koestering van Kaaps, wat myns insiens – sonder om te oordryf – tot die ondergang van Afrikaans kan lei. LitNet bevorder Kaaps met ‘n passie. Byvoorbeeld, tans word lesers aangemoedig om dele van die Bybel in Kaaps te vertaal. Instansies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) bevorder by voorkeur Kaaps eerder as Standaardafrikaans. Ter regverdiging hiervan word aangevoer dat die meeste sprekers van Afrikaans bruin is en die toekoms van Afrikaans dus van bruin mense afhang. Polities korrek word dus voorkeur aan bruines bo blankes gegee. Maar dit is ‘n politieke keuse wat taalgewys nie sin maak nie omdat Kaaps, anders as Afrikaans, wesenlik ‘n mengeltaal met ‘n groot komponent Engelse woorde is. Kaaps is ‘n taal wat nie op Afrikaanse bene staan nie, maar op sowel Afrikaanse as (blykbaar in toenemende mate) Engelse bene. Kaaps kan nie sonder kennis van Engels verstaan word nie. In daardie sin is dit nie ‘n taal uit eie reg nie maar wesenlik ‘n mengeltaal.

My beswaar is nie gemik teen die nie-Engelse komponent van Kaaps nie. Daar is woorde, uitdrukkings en segswyses in Kaaps wat Afrikaans verryk. Maar die onkritiese koestering van Kaaps in sy geheel veroorsaak dat polities korrek geen voorbrand vir korrekte of suiwer Afrikaans gemaak word nie. Sedert 1994 het die gehalte van Afrikaans onrusbarend agteruitgegaan, by uitstek vanweë die gebruik van onnodige Engelse woorde. Onder die blankes het geradbraakte Afrikaans vastrapplek gekry omdat baie van hulle weens bv ANC-propaganda hulle selfrespek verloor het, insluitende hulle respek vir wat eie aan hulle is, soos hulle moedertaal Afrikaans. Veral ontwikkelde bruin mense het nog nooit in Afrikaanslojaliteit uitgemunt nie. Baie van hulle gee voorkeur aan Engels en in soverre hulle bereid is om Afrikaans te wees, het hulle geen werklike beswaar teen die mengeltaal Kaaps nie. Die minder ontwikkelde bruines is geneig om die voorbeeld van die bruin elite na te volg. In sowel blanke as bruin geledere het geradbraakte Afrikaans in heeltemal te veel gevalle aanvaarbaar, selfs die norm, geword.

Die genoemde Afrikaansinstansies voer nooit ‘n veldtog ter bevordering van taalsuiwerheid nie. Sodra die wenslikheid van taalsuiwerheid geopper word, word met die skynargument vorendag gekom dat geen taal suiwer is nie. Die ergste is dat geen Afrikaanstaal- of letterkundige bereid is om ‘n kruistog vir suiwer Afrikaans én teen Kaaps (in soverre dit Engels is) te voer nie. Dit behoort tog duidelik te wees dat as voorbrand vir suiwer (of nie-Engelse) Afrikaans gemaak word, sowel blankes as bruines tereggewys of gekritiseer word. In so ‘n geval word op hulle almal ‘n beroep gedoen om aan eerbare Afrikaans beslag te gee. Om suiwerder Afrikaans te bepleit, hoef dus nie as polities inkorrek beskou te word nie.

Die situasie waarin Afrikaans hom bevind, is een van die wrange vrugte van die politieke magsoorgawe in 1994. FW de Klerk se foutiewe uitgangspunt was dat hy met terroriste en kommuniste kon onderhandel sonder dat hulle geweld afsweer. Ook dat al die onderhandelaars waardes deel, bv betroubaar is. Vir De Klerk was dit belangrik om hom van sy voorvanger, PW Botha, te onderskei deur nie ‘n sekurokraat te wees nie. Hy het gevolglik die veiligheidsmagte (weermag en polisie) grootliks geneutraliseer en grensbeheer verslap. De Klerk se verwaarlosing van paraatheid het van hom ‘n aanvaarbare gespreksgenoot vir die ANC gemaak. Derduisende opgeleide terroriste het met hulle wapens die land binnegekom. Uiteindelik was De Klerk verplig om grootliks aan die vyand se eise toe te gee. Sy strategie was verkeerd en het katastrofiese gevolge gehad.

Die strategie wat sedert 1994 vir die oorlewing van Afrikaans gevolg word, is insgelyks verkeerd en het reeds katastrofiese gevolge. Alle uitdrukkinge waarin Afrikaans voorkom, bv Kaaps, word sonder meer as aanvaarbaar beskou en aangemoedig. Geen daadwerklike poging word aangewend om suiwer Afrikaans te bevorder nie. Pas het die uitsonderlike egter gebeur toe Rian Cloete, ‘n bruin mens, tot sy eer vir suiwer Afrikaans in die bres getree het. Daarenteen het die blanke Magdaleen Kruger, die hoof van RSG, tot haar oneer geredeneer dat Afrikaans nie korrek gebruik hoef te word nie; dat Afrikaans daar is om bv vermaak te verskaf (Netwerk24, 14 November). As Afrikaans al hoe meer verengels en toenemend in geradbraakte vorm voortbestaan, is dit nie meer ‘n taal uit eie reg nie en is die voortbestaan daarvan eerder ongewens as gewens. Dan is ondergang verkieslik bo oneerbare voortbestaan.

In belang van die behoud van agbare Afrikaans is daar ‘n rubicon wat oorgesteek móét word. Afrikaansinstansies, -taalkundiges en -letterkundiges sal die boodskap moet uitdra dat taalsuiwerheid nie ‘n mite is nie maar daadwerklik bevorder moet word as die voortbestaan van Afrikaans vir ons erns is. Kaaps, in soverre dit Engels is, sal as bondgenoot in hierdie oorlewingstryd ondubbelsinnig verwerp moet word. Alle Afrikaanssprekendes sal moet verenig ter bevordering van ‘n agbare taal wat so duidelik moontlik van Engels onderskeibaar is. Openlike steun vir hierdie standpunt van instansies en individue word ingewag.

Uiteindelik kom ek by die aanleiding vir my skrywe. Op 8 November is Tom McLachlan se verdienstelike artikel, “Oor Afrikaans en sy veelbesproke voortbestaan,” op LitNet gepubliseer. Op dieselfde dag het ek op ‘n myns insiens omsigtige manier daarop gereageer. Na verloop van ‘n week is dit duidelik dat LitNet my mening as onpubliseerbaar beskou. My uitsluitlike oogmerk is om die heil van Afrikaans te bevorder. Vir my is dit duidelik dat LitNet, wat tog seker veronderstel is om Afrikaans te bevorder, ten minste in hierdie geval weens sy voorkeur vir die euwel van politieke korrektheid die ondergang van Afrikaans aanhelp. In die res van hierdie brief word my gewraakte skrywe aan LitNet woordeliks en volledig aangehaal.

“Tom McLachlan is een van die min Afrikaanstaalkundiges wat dikwels in die openbaar vir Afrikaans in die bres tree. Daarvoor het ek groot waardering. Tereg ondersteun hy Standaardafrikaans as dié variëteit waarmee Afrikaans sy toekoms ten beste kan verseker. Ook dat Standaardafrikaans so suiwer moontlik gehou moet word. By uitstek moet Engelse invloed vermy word. Alle variëteite is glo taalkundig gelykwaardig. Dit is ‘n standpunt wat geen spreker aanstoot gee nie. McLachlan vermy ook die sogenaamde eienaarskapkwessie, bv watter groep of individue die grootste bydrae tot Afrikaans gelewer het. Politiek, bv die rol van nasionalisme in Afrikaans, word ook gesystap. Taallojaliteit of (soos Jaap Steyn sê) taalgetrouheid, taaltrots en die selfrespek van sprekers speel ‘n belangrike rol in die behoud van ‘n taal.

“Die tema van hierdie artikel is die voortbestaan van Afrikaans. Suiwer taalkundig en ook na aanleiding van McLachlan se ondersteuning van ‘n (sover moontlik) nie-Engelse Standaardafrikaans durf ons nie toelaat dat die toekoms van Afrikaans van die mengeltaal Kaaps afhang nie. Afrikaans het ‘n toekoms as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is slegs as uitdruklik teen verkaapsing gewaarsku word. Demografies dra Kaaps die kiem van die ondergang van ‘n Afrikaans wat duidelik van Engels onderskeibaar is in hom om. Die potensieel fatale fout wat sommige Afrikaanstaalkundiges en party Afrikaansinstansies die afgelope twee dekades polities byderwets begaan, is om enersyds die netelige kwessie van Kaaps te vermy (soos in hierdie artikel) of andersyds (en erger) Kaaps te beskou as ‘n variëteit wat help om die voortbestaan van Afrikaans te verseker. Hein Willemse gee duidelikheid oor wat die resultaat kan/gaan wees: “Die bruisende toekoms van Afrikaans … reeds in ons veeltalige stedelike strate soos dié van Kaapstad en sy townships vorm aanneem” (Kaaps in fokus, p 75).

“Diegene vir wie die oorlewing van Afrikaans erns is, sal vir Standaardafrikaans en teen Kaaps kant moet kies en daadwerklik ‘n veldtog vir taalsuiwerheid moet begin voer. Elke Sondagoggend word op RSG beweer: “Dit maak nie saak hoe jou Afrikaans klink nie.” Dit maak saak. Dit is van deurslaggewende belang. Afrikaans moet so suiwer moontlik gepraat en geskryf word anders is sy oorlewing nie die moeite werd nie en is sy verswelging deur Engels onvermydelik.”

— Johannes Comestor

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • leonlemmer

    Ek vind dit ironies dat Comestor se stekie na bv LitNet pas op daardie webwerf gepubliseer is, naamlik “onwilligheid by instansies om Afrikaanse taalstryders toe te laat om hulle saak te stel.”

    Enkele maande gelede het Comestor ‘n konstruktiewe meningsuitruiling met Phillip Louw, ‘n lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, op LitNet gehad, maar Louw, wat plaaslik in diens van die linkse Oxford University Press is, wou hom nie laat betrek by wat hy as politieke aangeleenthede betreffende Afrikaans beskou nie.

    Na aanleiding van die verwysing na die ANC-aktivis, Hein Willemse, hier bo: LitNet het gloeiende berigte oor Willemse gepubliseer toe hy onlangs as gasprofessor aan ‘n Belgiese universiteit aangestel is. Linkse politiek en etnisiteit eerder as die bevordering van Standaardafrikaans het klaarblyklik ‘n deurslaggewende rol by hierdie
    aanstelling gespeel.

    Wannie Carstens is een van die Afrikaanstaalkundiges wat bv as raadslid van die Universiteit Stellenbosch in die openbaar vir Afrikaans in die bres tree. Dit is sekerlik nodig, te meer omdat geen US-Afrikaansdosent bereid is om dit te doen nie. Maar Carstens is doodbang dat sy rol as taalstryder hom as verkramp kan brandmerk. Daarom doen hy alles in sy vermoë om sy politieke oorverligtheid by elke moontlike geleentheid ten toon te stel. Hy het bv vroeër vanjaar met groot vertoon aangekondig dat hy uit die NG Kerk bedank omdat dié Kerk homoseksuele nie knus genoeg tuis laat voel nie. Voor dit het hy as mede-redakteur van die Adam Small-huldigingsbundel opgetree waarin
    lof vir Kaaps en anti-Afrikanersentiment hoogty vier.

    Onlangs is berig dat die Noordwes-Universiteit ‘n eredoktorsgraad aan Ena Jansen toegeken het. Volgens eie erkenning was Jansen tydens die apartheidsera en as bv Afrikaansstudent aan die US weens haar linkse politiek nie bereid om die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl te besoek nie. Daarna was sy ‘n Afrikaansdosent aan Wits en in Nederland. Sy het ‘n Indonesiese vrou as lewensmaat. Pleks van soveel moontlik hulle begeerde utopie, naamlik die nuwe Suid-Afrika, te geniet, het hulle hulle in Nederland gevestig en bring hulle net periodiek besoek aan hulle woonstel in Kaapstad. Dit gebeur deesdae selde dat ‘n Afrikaansdosent ‘n eredoktorsgraad ontvang. Te oordeel
    na persberigte was Wannie Carstens die inisieerder van hierdie toekenning. Saam met Jansen het hy by hierdie geleentheid heelwat publisiteit en geen kritiek nie ontvang. Dit het sy “hoë openbare profiel,” waarvan hyself al gewag gemaak het, ‘n verdere hupstoot gegee. Maar ‘n mens vra jou af: Is daar nie baie ander mense wat eerder vir hulle bydrae tot Afrikaans vereer behoort te word nie? Linkse politiek het myns insiens ook hier ‘n deurslaggewende rol gespeel.

    • Karel Combrinck

      Het die stekie op LitNet nie dalk verskyn nadat, of min of meer terselfdertyd as Johannes Comestor se brief op Praag nie. Die feit dat LitNet ten slotte tog Comestor se beswaar gepubliseer het, maak nog nie van LitNet ‘n kampvegter vir Afrikaans nie.

      • leonlemmer

        Karel, die stekie is gedateer 14 November en die bewoording is soos ek hier bo aangehaal het. Die laaste drie paragrawe in die Comestor-brief is op 8 November vir publikasie aangebied en is steeds nie op LitNet gepubliseer nie.

  • Suidpunt

    Geagte heer/u weledelseergeleerde heer/u hooggeleerde professor/u hooggebore graaf Comestor

    Ek wil u bedank vir die moeite wat u probeer doen om Afrikaans hoog op peil te hou, videlicet, as wetenskapstaal uit te bou.

    Ten eerste, wat u hier sien is geld wat smeulend brand. Dit gaan nie hoe hoog mens die taal kan voer nie, maar om so inklusief as moontlik te wees (om op markuitbreiding te fokus). Soos u egter reeds die kode ontsyfer het, beteken suiwer, hooggebore taalgebruik van nature uitsluiting. Selfs in Nederlands word daar ten sterkste onderskei van hoë taal, straattaal en standaardtaal. Persoonlik is ek gekant teen standaardtaal, ten eerste uit hoogmoed, ten tweede omrede standaard, standaard is. Soos ‘n skoolkind wat kyk hoeveel keer per minuut hy sy maatjie se moeder se v_gina dentata kan vloek, eweveels trek mens die taalstandaard af. Alles vir die afdraande pad bestem.
    En tog, die gefuif by hierdie orgie/partyjie kan net so lank hou as wat die Afrikaner se geld hou om die gelag te betaal. U kan tog insien waarop ek afstuur: vra gerus enige Afrikaanse organisasie, soos vir u kerk, of LitNet, wat hulle die afgelope 20 jaar bereik het. Is die antwoord nie veel na u wense nie, raai ek u aan om die geld te skuif. Oorboord te gooi na ‘n ander verbygaande skip, as dit moet. Dis ‘n vry land, niks dwing u om u geld aan ‘n organisasie te skenk nie. En dit geld vir u tyd ook. Dit help nie mens deel reddingsbaadjies op die sinkende skip uit as niemand dit wil dra of ontken die boot is aan die sink nie (wat soek u nog by Litnet?!) – kom u self eerder so gou moontlik by die reddingsboot uit. En drink warm rooibos, buitekant is dit nogal koud.

    Ten tweede het bydraer Leon Lemmer soveel kere genoem hoe “hoog” Britse Engels probeer nageaap word; maar Afrikaans nie. En my vraag bly waarom word Kaaps nie onder Engels ressorteer nie? Omdat diegene wat nie Engels behoorlik kan praat nie nou gemaklik hul geroesemoes as Afrikaans wil kategoriseer? Weer kom die storie van “geld” by my vorendag (wat nie sin maak nie, aangesien Engels tog die taal van die geldmag is) – of is Afrikaans bedoel by bruin laer- en hoërskole om swart leerders uit te hou? Iets wat hulle nooit in der ewigheid met Engels sou regkry nie?

    Ten derde is die akademici so besig om “Afrikaans te herontdek” dat hul nie fokus op akademiese terminologie of vertaling uit Frans/Duits/Latyn/Nordiese tale/Spaans/Italiaans en ander Europese tale wat veel meer inligting bevat wat ervaring aan die Afrikaanse leser oordra nie. Hierdie akademici is vasgevang in ‘n Amerikaane/Engelse baarmoeder. Hulle is nou al 27 jaar (sedert 1990) daarin vasgevang sit. Of, op sy slegste, is hulle besig om kiepiemielies soos hoenders op die grond rond te pik na gemeenplasies en mekaar op die skouer te klop wie die hardste kan kekkel en kraai, terwyl die res (die weinige, die wérklike intellektuele élite), diegene wat in waarde belangstel, lankal soos arende die nuwe lugstrome verken.

    • Rifrug

      ” … vasgevang in ‘n Amerikaane/Engelse baarmoeder.” – Amerikaanse

      • Suidpunt

        Dankie!

        • sussie se vissie

          Probeer ‘kanalla’.
          Val soe lekka oppie tongue.

          • Suidpunt

            Daardie woord is reeds in die WAT in 1970 opgeneem. Ek jok nie – dit staan so op bl. 230 van Deel V. Dit beteken “asseblief”. “Trammekassie”, “tramkassie” of “trammakasie” is dankie. Dit kom uit Maleisies “terimakasih”.

            Is dit die Suidooster wat waai uit die kassie?

          • sussie se vissie

            Nee. Gamme.
            Soos in ‘gamkassie’.

      • Rifrug, – nie net totaal onopgewasse vasgevang in die Amerikanse/ Engelse (en wat van die Germaanse?) oer-baarmoeder, maar steeds rollende in die gemors van ons nageboorte, en al-teugende aan die braaksel van ons eie Volks- en godsdiensbedrog so saam met oorgelewerde Grootjie-leuns. Dan is dit onverantwoordelik-gerieflik om die probleem of oplossings oral te gaan soek, tot by die ANC en die VN, maar hand in eie boesem steek? Neewat!

        • Hans Onrust

          Wilt/kunt u hier nog een paar regels loslaten ter verduidelijking van de aard en omvang dat godsdienstbedrog, Johnny ?!

          • Heil Heer Hans! (1) Die impak van die Roomse Wortel in die Protestantisme word ge-ignoreer of ontken. (2) Die Hervorming het na mening gestagneer as ‘n gedenkwaardige fase van die geskiedenis i.p.v. ‘n voortgesette Hervorming op die pad na die Gemeente van Handelinge. (3) Die “alternatiewe teologie” van die Losie, so gewild onder ons Afrikaner konings, priesters en profete, bring korrupsie in denke en dade.

  • Skisofreen

    In die Oostenrykse leerskool vir ekonomie word sterk klem gelê op dryfvere. Sedert politieke mag uit Afrikaner hande geglip het is daar bitter min beweegredes vir sprekers om suiwer Afrikaans te praat. Daar is geen salf te smeer aan die wond nie en ek glo die doodsteek is gelewer. Soos ‘n mens ouer word leer jy dat daar ‘n tyd kom wanneer berusting in jou onafwendbare dood, jou ‘n gelukkiger mens maak. Dieselfde geld vir die taalkwessie.

    • Suidpunt

      Soos pêrels in ‘n oester, hmmm…

      Dit moet seker so wees, want in die dorp waar ek bly is almal dan gevrek. Of op sterwe. Ek bedoel nou soos hierdie geel blommetjie-onkruid wat soos hare op ‘n hond se rug staan vanaf November tot Februarie hier in die Overberg. Mense loop bo-oor hierdie indringeronkruid. Ek praat nou van die perdeblom (Taraxacum officinale), doringsydissel (Sonchus oleraceus), maar veral harige skaapslaai / katoor (Hypochaeris radicata). Net op my erf sal daardie klein jakkals nie sy kop oplig nie. Hulle kry nie kans om hulle glorieryke geel prag aan die wêreld te wys nie. Dan moet hulle uit!

      Glo my, ek weet nie hoe mens gelukkig kan wees met onkruid rondom jou wat die wêreld oorvat nie. Dit lyk steeds vieslik. So is onkruid in die taal ook…

      • Skisofreen

        Nou klink jy soos ‘n knorrige ou oom wat op die stoep sit en die kinders verskree wat in die straat lawaai.

        • Suidpunt

          Ekskuus, as ek na so ‘n mislike pretbederwer klink. Ek gun elkeen sy plesiertjie en sonnetjie, solank hy nie so ‘n rielopskop hou sodat ons son deur die stofwolk verteer word nie. Die onkruiddingetjie spreek nogal treffend as metafoor – doen niemand iets aan die saak nie, vervuil die hele buurt, dorp, streek, provinsie in ‘n kits. Doen elkeen sy deel (verkieslik met ‘n polisieman om te kyk of elkeen sy deel doen – want die gees is gewillig maar die vlees…), dan is daar mos geen fout nie. As jy ‘n fout oor die hoof sien, dan sal die Calvinistiese sambok jou eendag, selfs baie jare, bykom. Hooikoors, miskien.
          Met taal – nou wat sal ons hier praat? Wel, in hierdie afgelope maand het ek “Lewensiklus van die tier” uit Frans vertaal. Want ek was lus vir die uitdaging. Ek kom toe op die woord “fleem” af, en besef die hele Europese wêreld weet wat hierdie woord beteken (ruikmetode by soogdiere en slange), maar Afrikaans staan armoedig, want ons WAT het dit nie. Dus, hier het jy reeds ‘n afgewaterde wetenskapstaal waarin jy niks kan oordra nie. Kyk ons anderkant toe, gaan ons voor ons oë sien hoe Afrikaans net verder afgetakel, afgetakel, afgetakel word. Ons is die wegbereiders vir ons kinders se toekoms, en moet juis dié taal verder uitbou. Wat hulle daarmee maak, rus nie op my gewete nie.