Dan Roodt: Engels lei tot dwelms en domheid op skool

Britse opskrif oor die dwelmprobleem op skool in dié land.

Vroeër vandag het ek iets getwiet wat myns insiens voor die hand liggend is:

Dit het egter heelwat kritiek op Twitter en Facebook ontlok. Volgens my kritici kan ‘n mens nie so ‘n verband tref nie. Miskien neem ek te veel aan, naamlik dat mense met die Suid-Afrikaanse Engelse kultuur bekend is. Baie Afrikaners ken hier en daar ‘n Engelssprekende, maar het nog nooit in Johannesburg of Kaapstad of Natal tussen hulle gewoon nie. Daarom dink hulle aan Engelse as “blankes” of mede-blankes wat ‘n kultuur met hulle deel. Die Engelse elite in die groot stede het egter niks met ons in gemeen nie en woon nie in dieselfde land nie. Eintlik het niks sedert Paul Kruger se dae verander nie: Daar is steeds “uitlanders” wat vir Suid-Afrika en veral Afrikaners net minagting koester. Hulle het wesentlik Brits gebly en is ewe dekadent as hul mede-Britte oorkant die water.

Veral Johannesburg verteenwoordig ‘n eiland in Suid-Afrika wat op die res van die land se rykdom teer, selfs parasiteer. Salarisse hier is baie hoër as elders en mense leef in ‘n borrel, ‘n soort “klein Engeland” waar Britse norme en kultuur geld. Dit sluit die Britse geneigdheid tot dwelmgebruik in. Die Londense koerant The Guardian het onlangs berig dat Engeland geheel en al in die greep van dwelms verkeer: I was relaxed about Britain’s drug culture revolution – but not any more.

John Harris skryf in dié artikel:

According to figures released last month, 2016 saw the highest-ever recorded number of deaths in England and Wales from what the Office for National Statistics calls “drug poisoning”, which includes everything from paracetamol to amphetamines: 3,744, up from 2,600 20 years ago. Heroin and morphine were involved in 1,209 deaths, which amounted to about a third of the total; cocaine was cited in relation to 371 fatalities. And ecstasy was named on the death certificates of 63 people, up from 57 in 2015, 43 in 2014, 31 in 2013 – and, back in 1993, a mere 12.

Meer Britte gaan weens dwelms dood as mense wat vanweë plaasmoorde in Suid-Afrika sterf, te oordeel aan die syfers hier bo. Trouens, selfs in Suid-Afrika is dit moontlik dat meer mense weens dwelmmisbruik doodgaan as in plaasmoorde. Presiese jaarlikse syfers is nie beskikbaar nie, maar volgens ‘n berig op die IOL-webblad wat navorsing deur die Universiteit van Pretoria aanhaal, het 385 mense net in Pretoria tussen 2003 en 2010 aan dwelms gesterf. En dit was hoofsaaklik jong blanke mans:

The race or ethnic profile of the deceased who tested positive for drugs was mostly white – accounting for 85.1 percent of positive cases, despite only making up 20.1 percent of the general Tshwane population.

Toe ek destyds van ‘n Afrikaanse hoërskool (Helpmekaar) na die Universiteit van die Witwatersrand toe is, was dit opvallend hoe drasties die Afrikaanse en Engelse kulture verskil het as dit by dwelms kom. By die Hoër Seunskool Helpmekaar was daar gerugte dat daar twee seuns in die skool was wat al dagga gerook het. Ons het dit met groot oë vir mekaar vertel. Self het ons nie eens geweet hoe dagga lyk nie en dit ook nooit teëgekom nie. Ons het wel mettertyd alkohol begin gebruik, selfs misbruik, want dit kon ‘n mens by die naaste drankwinkel koop en destyds was daar kwalik ‘n ouderdomsperk daarop.

By Wits aangekom, het ek tot my stomme verbasing uitgevind dat die meerderheid Engelse jongmense dagga rook. By enige partytjie het pakkies dagga onmiddellik te voorskyn gekom. Dit was algemeen.

Eenkeer is ek na ‘n partytjie in ‘n ou huis in Crown Mines uitgenooi. Dit was nog in die dae van segregasie tussen wit en swart, maar ek sou sê dat ‘n derde of die helfte van die partytjiegangers swart of gekleurd was. By die Johannesburgse Engelse elite het apartheid nooit eintlik gegeld nie; lees maar Nadine Gordimer se roman A world of strangers wat in die vyftigerjare afspeel.

In elk geval, die gasheer wat sy verjaardag gevier het, was reeds twee dae lank besig om dagga te rook en daggakoekies te eet. Op die eerste verdieping was daar ‘n soort toegemaakte stoep met strooi waarin hy soos ‘n dier rondgekruip het. Ek was nogal geskok, maar al my Engelse medestudente het net gelag. Dit was bloot pret. ‘n Deel van die partyjie het in ‘n verlate ou gebou plaasgevind, waar daar vuur gemaak, dagga gerook en op die maat van Bob Marley en Peter Tosh se reggae-musiek gedans is. In dieselfde tyd skat ek het die gemiddelde Afrikaanse student na Gé Korsten en Min Shaw geluister. Waarskynlik sou jy by Tuks of Potch geskors word indien jy dwelms gebruik. By Wits sou hulle egter die hele kampus moes skors.

Die meeste studente het uit gegoede huise gekom. As jy nie ‘n Alfa-Romeo of Lancia, wat destyds duur klein sportmotors was, gery het nie, het die meisies nie eintlik in jou belanggestel nie.

Een van my klasmaats het elke dag by die swembad op die kampus dagga gerook. Trouens, sover ek onthou het hy eenkeer sommer in die klas dagga gerook. Destyds kon ons in die klasse ook rook, bedoelende nou tabak. Ek het so ‘n Peterson-pyp gehad en het altyd agter in die klas gerook dat die blou wolke trek. Gelukkig het ek dié nare gewoonte binnekort laat vaar en nooit weer ‘n pyp of sigaret opgeneem nie.

In my honneursjaar het ek in ‘n kommune in Yeoville gewoon. Daar was verskeie sulke kommunes in Yeoville waar ideologiese en regte dagga vrylik gerook en op allerlei maniere verbruik is. Ons het al die marxistiese skrywers onder die son gelees en bespreek: Marx, Hegel, Lenin, Marcuse, Horkheimer, Adorno, Sartre, Althusser, ens.

Ek het verskeie Joodse meisies gehad. Een se ouers was besonder welaf en het in Houghton gewoon met ‘n vakansiehuis aan die Kaapse kus. Een vakansie is ons daarheen. Ons het skaars by die dubbelverdieping met ‘n see-uitsig aangekom, of die dagga is uitgepluk. Daar is selfs ‘n koek gebak met dagga as bestanddeel.

Hoewel ek my lewe lank al tussen Engelse in Johannesburg woon, verstaan ek nie hul obsessie met dwelms nie. Waarom wil jy jou bewussyn verdoof wanneer die werklikheid so boeiend en pragtig is? Elke sonsondergang is vir my ‘n wonderwerk. Om die ligte bries op jou vel te voel, kan ‘n mens noop om ‘n gedig te skryf. Maar Engelse benodig dwelms soos ander mense kos en water, lyk dit my.

Sedert 1994 verkeer ons onder ‘n Engelse regering. Die ANC is ‘n Engelse organisasie wat jare lank in Engeland deur die Britte vertroetel en befonds is. Goed, Nederland en Swede het ook ‘n groot finansiële bydrae aan die ANC gelewer, maar dit was onder invloed van die Britse media wat deurentyd die ANC opgehemel en Suid-Afrika as “apartheidsland” afgekraak het. Soms wonder ek hoeveel van daardie Engelse joernaliste was onder die invloed van dagga en ander dwelms terwyl hulle hul eensydige berigte oor Suid-Afrika geskryf het.

Onlangs tydens my besoek aan Amsterdam was ek oplaas by die Rijksmuseum wat ‘n tyd lank vir opknappings gesluit was. Ek het my verwonder aan Rembrandt, Vermeer, Frans Hals en vele ander groot kunstenaars van die sewentiende eeu. As ‘n mens aan Nederlandse kuns dink, het jy byna onmiddellik Rembrandt voor jou geestesoog. Om voor sy Nagwag te staan, is ‘n onbeskryflike sintuiglike ervaring, soveel beter as enigiets wat ‘n dwelm jou kan bied.

In die tyd toe ons voorouers in Nederland en Vlaandere van die grootste kuns ter wêreld voortgebring het, was Engeland agterlik en onbeskaaf, ‘n broeiplek vir seerowers en diewe. Trouens, Elisabeth I het haar koninkryk op seerowery gebou, deur koninklike briewe aan vrybuiters soos Sir Francis Drake uit te reik om ander skepe ter see te gaan beroof. ‘n Vlaamse skip wat eenkeer in ‘n Britse hawe vasgemeer het, is dadelik beroof deur ‘n Engelse vrou wat dit uit haar kamervenster gewaar het.

Vermeer: Meisie met pêreloorbel.

Daar was min of geen Engelse kuns in die sewentiende eeu nie. Vandag is daar egter Engelse “kuns”, soos die groteske falliese beelde van Sarah Lucas wat Brittanje by die Venisiese Biennale verteenwoordig het.

Sarah Lucas: beeld, deel van die reeks ‘I scream Daddio’.

Daar bestaan baie groot verskille tussen Engelse en Afrikaners. Ek weet, want ek het lang tye in albei wêrelde deurgebring. Die gemiddelde Afrikaner het geen benul van wat Engelsheid werklik behels nie, terwyl die Johannesburgse of Kaapstadse uitlander insgelyks geen begrip vir ons patriotisme, aardsheid en verknogtheid aan Afrikaans het nie. Vandaar dus die argeloosheid waarmee die huidige Afro-Saksiese alliansie ons en ons kultuur wil uitwis.

Terloops, my twiet oor Engelse en dwelms het ontstaan toe Jani Allen ‘n boek deur ene Dominique Botha, Valsrivier, by my aanbeveel het. Dit is ‘n outobiografiese werk waarin die skryfster se ouer broer, Paul, op die ouderdom van 27 weens ‘n oordosis dwelms in Londen beswyk. Blykbaar was hy op ‘n Engelse hoërskool en waarskynlik ‘n Engelse universiteit.

Engelse skole en kampusse is sinoniem met dwelms. Ek staan by daardie stelling en enige ernstige navorsing oor dié onderwerp sal my gelyk gee.

Maar daar is ook ‘n ander aspek aan Engels wat dit veral in ons konteks ‘n funeste, aaklige taal maak. In die VSA, asook Brittanje, bestaan daar wel mense wat nie linkse dwelmgebruikers is nie en sekerlik soos die meeste Afrikaners tradisionele gesinswaardes aanhang. Die probleem is egter dat die heersende Engelse kultuur wat vanuit New York en Londen uitstraal, wesentlik deur kultuurmarxisme en politieke korrektheid gekenmerk word. Dit staan ook vyandig teenoor sowel Afrikaners as Vastelandse Europeërs. Ek het al male sonder tal in Britse publikasies gelees hoe agterlik Franse, Duitsers of Nederlanders nou eintlik is. Die Londense Financial Times het al dikwels die ondergang van die euro voorspel, sonder dat dit ooit bewaarheid is. Nietemin beskik Duitsland oor ‘n veel groter ekonomie as dié van Brittanje. Die kleine Nederland wat maar oor ‘n kwart van die Britse bevolking beskik en ‘n landjie so groot soos die Krugerwildtuin, voer meer as die Verenigde Koninkryk uit.

Ek dink dit het tyd geword dat ons moet rebelleer teen Engelse hovaardigheid en verdrukking, veral in Suid-Afrika. Die huidige plan om Afrikaanse skole finaal die nekslag toe te dien, is waarskynlik deur Barbara Creecy, die aartsvyandige Panyaza Lesufi se regterhand, uitgedink. Dit gaan deur ons Engels-eentalige parlement gestoomroller word en soos wat “Afrikaans Must Fall” by Tukkies, Kovsies en elders geseëvier het, gaan Afrikaanse staatskole in al die Afrikaanse buurte summier oorgeneem, verengels en vernietig word.

Hoewel Franssprekendes in Kanada ‘n minderheid verteenwoordig, geniet Frans gelyke status met Engels in dié land. Verskeie Kanadese eerste ministers het reeds beweer dat die tweetaligheid van Kanada ‘n integrale deel van dié land se identiteit uitmaak. Sover ek weet, het geen Engelse politikus in Suid-Afrika nog ooit iets positiefs oor Afrikaans kwytgeraak nie. Oor die afgelope tweehonderd jaar was hulle feitlik deurentyd vyandig teenoor ons en ons taal. Ek verwag ook nie dat enige Engelse openbare figure in die huidige stryd hul steun vir die behoud van Afrikaanse skole aan ons sal toesê nie.

Daar is egter reeds meer Europeërs en suidelike Amerikaners wat ons ondersteun as plaaslike Engelse. Ons het hulle, hul taal en dwelmgewoontes nie nodig nie. Trouens, ons kinders moet liefs teen Engelse beskerm word wie se dekadente, beginsellose en polities korrekte idees en gewoontes tot hul dood mag lei, soos in die geval van Paul Botha, waaroor sy suster in haar boek skryf. Vandat Engels op Afrikaanse kampusse ingestel is, het dieselfde triestige atmosfeer hom daar voelbaar gemaak.

Behalwe dat Engelsheid ‘n mens benewel, sluit die opgang in ‘n eentalige monokultuur ook enige diversiteit van denke uit. In Engeland word daar tans sensuur toegepas en word mense wat die verkeerde dinge op sosiale media sê – soos byvoorbeeld kritiek op Islamitiese terreur – strafregtelik vervolg. Onder andere het die Britse owerheid die Nederlandse politikus Geert Wilders verbied om hul land te besoek.

Vele Engelssprekendes ken net hul eie taal en verwag dat ander hul daarby moet aanpas. Hierteenoor is die meeste Vastelandse Europeërs twee- of meertalig. Die meeste Afrikaners ken ook Engels en ander tale. Tot onlangs is Duits in die meeste Afrikaanse skole as vak aangebied.

Die Engelse kultuur is oppervlakkig en het ‘n gebrek aan diepgang. Telkens as ek in Europa, veral Frankryk of Duitsland kom, is dit vir my ‘n groot verligting om agter te kom dat daar steeds intelligente, denkende wesens op die planeet Aarde verkeer. Dit is mense wat eeue se geskiedenis en verwikkelinge, tesame met filosofiese of kunshistoriese verwysings in ‘n gesprek kan inweef sodat ‘n mens eintlik lus kry om dae lank net aan te hou praat en debatteer. In ons toenemend Engelse Suid-Afrika ervaar ek feitlik nooit daardie gevoel nie. Hoe meer Afrikaners weens verengelsing van hul Europese erfenis ontneem word, hoe oppervlakkiger en dommer word hulle. Dan praat ‘n mens nie eens van die hanskakies – diegene wat sommer vrywillig verengels en Engelse stereotipes oor Afrikaners hul eie gemaak het – in ons midde nie. Skepsels soos Max du Preez, Adriaan Basson, Roof Bezuidenhout en baie ander sanik aanmekaar oor apartheid, witskuld en ander onderwerpe wat links-liberale Engelse eindeloos interessant vind.

In welke mate sulke hanskakies aan breinskade ly weens al die dwelms wat hulle saam met hul Engelse vriende verbruik het, sal mens nooit weet nie. Maar hulle is oogluikend nie helder of genuanseerd in hul denke nie.

Verengelsing en verdomming gaan inderdaad hand aan hand. Wee ons kinders wat binnekort dalk almal in Engelse skole ingedwing gaan word waar hulle benewens dwelms, aan die uitsigloosheid van ‘n Engelse opvoeding blootgestel gaan word. Die gemiddelde wiskundepunt in Soweto se honderde Engelse skole is reeds twintig persent; ek vermoed dit gaan die nasionale norm word soos wat ideologiese konformisme alle kennis en denke in ons land verdring.

Soos ek verder getwiet het:

Die hopelose Engelse skole met hul Anglikaanse name begin mos almal met “Sint”. Pleks dat hulle “Sint Kokaïen”, “Sint Dagga” of “Sint Heroïen” genoem word; dit sou meer beskrywend wees.

Daardie kwasi-Engelse sangster Karen Zoid wat in eie reg ‘n opperste Boerehater is, het op tipies Britse wyse in haar liedjie “Katriena” oor dwelms gesing:

Sy deel in haar pad
Met die heroinmonster
Sy voel hoe sy asem
In haar ore fluister
Sy sien
Sy versteen
As die lewe wyk
As die lewe wyk
Na die ewigheid

Ignoreer vir ‘n oomblik die groteske anglisisme in die eerste reël, want sy is mos Engels. Dan is daar nog die volgende strofes:

Katriena heroina
Katriena amfetamina
Katriena kokaina
Katriena

Liefde het ‘n lettergreep

Katriena Katriena Katryn
Was lief vir haar lewe
En bietjie vir my

Katriena Katriena Katryn
Was te opgevang
In haar sadness en pyn

Dis amper so swak soos die poësie van Ingrid Jonker.

Jare lank het die sarkasties neulende Engelse ons ‘n utopie belowe as hul gunsteling-ANC net die land mag regeer. FW de Klerk, wat self deesdae Engels as huistaal het, het besluit om voor dié idee te swig. Nou blyk dit dat die Engelse utopie van die “nuwe Suid-Afrika” wat eintlik ‘n meer derdewêreldse weergawe van Engeland verteenwoordig, eintlik ‘n distopie is. Dis ‘n land van verskrikking, van geweld en korrupsie, van vernietiging.

Die arme Afrikaner: so ver van God en so naby aan Engeland!

Mag ons binnekort van Engelsheid verlos word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.