Swart Maandag: Afrikaners staan saam teen onophoudelike plaasmoorde

Regoor die land het Afrikaners vandag swart aangetrek uit protes teen plaasmoorde en ter ondersteuning van boere en hulle families wat vlaag op vlaag van plaasaanvalle en moorde moet trotseer.

Die aksie vorm deel van die landswye ‘Swart Maandag’-protesaksies teen die voortgesette moorde van plaasboere.

Ondersteuners het nie net swart aangetrek nie, maar ook die hoofpaaie toegemaak met hulle voertuie, trekkers en werktuie.

By Klapmuts waar ‘n jong boer, Joubert Conradie, onlangs vermoor is, was daar veral goeie ondersteuning vir die veldtog. Dit was juis sy dood wat gelei het tot die oproep dat openbare protes gehou moet word.

Daar was ‘n groot verkeersopeenhoping op die R59 naby Redan in die Vaaldriehoek, waar sowat 180 voertuie die pad blokkeer het. Dit is ‘n betoging teen die regering se gebrek aan aksie ten opsigte van plaasmoorde en misdaad in die algemeen, het die organiseerders gesê.

Die ontevredenes het gesê die pad sal eers oopmaak sodra die burgemeester hul memorandum ontvang het.

Die polisie het die beswaarmakers op die R59 naby Redan gevra om een baan vir verkeer oop te maak, maar die groep het geweier. ‘n Polisiehelikopter het oor die gebied gehang en daar was ook ‘n sterk polisieverteenwoordiging op die grond.

Sommige van die motoriste het meer as ‘n uur in die verkeer, wat deur die protesaksie veroorsaak is, gesit, maar skynbaar nie omgegee nie. Die meeste het gevoel dit is belangrik dat die aksie deur soveel moontlik mense ondersteun word.

Verkeer op die N4-snelweg na Rustenburg is vandag erg ontwrig deur honderde plaaslike inwoners wat hulle stem dik gemaak het teen plaasmoorde.

Die tolpad is by die Brits-afrit deur verskeie voertuie versper en die verkeer het vir kilometers opgehoop.

Sommige ondersteuners op die toneel het aan die plaaslike koerant die Kormorant gesê, hulle glo dat die protesaksie geen reaksie by die plaaslike regering sal uitlok nie , maar dat die buiteland hopenlik sal sien wat in Suid-Afrika gebeur.

Die protesaksie is deur die bank as persoonlik ervaar, aangesien talle mense iemand ken wat al onder ‘n plaasaanval deurgeloop het.

Hulle voel ook dat plaasaanvalle alle burgers van Suid-Afrika raak aangesien daar geen kos sal wees as daar geen boere is nie. Groot getalle toeskouers het die protesaksie naby Brits van die brug af dopgehou.

Die polisie het die vreedsame protesaksie gemonitor, terwyl verkeersbeamptes die vloei van verkeer probeer beheer het.

Brits en Hartbeespoort is van die brandpunte van plaasaanvalle lui ‘n verslag oor plaasmoorde wat die polisie verlede week aan die Vryheidsfront Plus verskaf het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.