Geldelike steun vir PRAAG se Europese toer

Die bladsy op GoFundMe. Die foto van Dan Roodt is verlede Oktober in Stockholm geneem.

Die skarebefondsingsveldtog wat dr. Dan Roodt van PRAAG tans op die webblad GoFundMe loop, het binne slegs drie dae meer as R23 000 opgelewer. Die veldtog, wat in euro gereken word, staan tans op €1 444. Ná die aanvanklike teikenbedrag van €1 000 bereik is, is dit tot €2000 verhoog.

‘n Man in die suide van Denemarke het anoniem €500 geskenk, met die volgende boodskap wat in Engels daarby gelaat is:

You don’t have to thank me. As a matter of fact I want to thank you, you’re the one doing the actual work. So thank you.

‘n Mediese dokter in die Vrystaat het R5 000 na PRAAG se bankrekening oorbetaal. ‘n Akademikus van Bloemfontein wat einde verlede week die bal aan die rol gesit het met ‘n skenking van R1000, het laat weet dat hy Donderdag in Johannesburg gaan wees met ‘n verdere bedrag aan kontant waarmee hy sy aanvanklike skenking wil verhoog.

‘n Getroue leser van PRAAG-boeke in Kanada, mev. Lisda Strumpher, het €100 bygedra. Maar ook in Suid-Afrika het verskeie mense bedrae van €50 en €100 geskenk.

Dr. Dan Roodt is bemoedig deur die spontane reaksie op die GoFundMe-veldtog. “Ons weet dat die hoofstroommedia en veral Naspers jare lank reeds sensuur teen ons toepas, sodat ons geheel en al op die internet aangewese is om steun te werf, anders as die magtige Afrikaner-establishment-organisasies met hul miljoene aan maandelikse debietorders, asook miljarde in trusts en aandele. Waarskynlik het ons nou die keerpunt bereik waar mense besef dat inhoud belangriker as die vorm, en strategiese denke meer doeltreffend as polities korrekte slagspreuke is.”

Hy wou nie te veel uitwei oor die vergaderings en ontmoetings in Bonn, Amsterdam, Brussel en Parys nie, aangesien dit “taamlik delikate gesprekke vooruit kan loop”. Maar hy “voel sterk dat die gety nou oplaas gedraai het, en ons beslis gaan baat by die nuwe denke en besorgdheid oor die Afrikaner se situasie by ‘n hele klomp politieke partye in Europa. Daar is die moontlikheid van steun op allerlei maniere vir Afrikaners hier, maar ook in die diaspora elders ter wêreld.”

Dít wat die Afrikaner bedreig is “wesentlik dieselfde as die demografiese, ideologiese en kulturele faktore wat Europa bedreig,” het dr. Roodt gesê. “Ons stryd is presies dieselfde as die Europeërs s’n. Maar ons is nie net ‘broers in die stryd’ nie; ons is letterlik broers, familie van mekaar. En daar is vandag vele Europeërs wat die Afrikanergeskiedenis beter ken as 90% van Afrikaners, asook inspirasie daaruit put. Juis daarom wil hulle ons ondersteun en help.”

Roodt sal deurlopend verslag doen sodra hy in Europa aanland, via hierdie webblad en sosiale media soos Twitter, Facebook en YouTube.

As u self wil bydra tot die sukses van PRAAG se diplomatieke uitreik na Afrikanerstamlande, kan u ‘n debietordervormpie invul of ‘n e-pos stuur na inlig[by]praag.org vir inligting oor hoe u per internetbetaling of PayPal ‘n betaling kan maak. Andersins kan u ook per kredietkaart op GoFundMe ‘n bydrae maak.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.