Leon Lemmer: Deel 2: Anton van Niekerk oor lewe en dood

'Doodseiland' deur Arnold Böcklin

In September is die volgende boek van Anton A van Niekerk (gebore in 1953) gepubliseer: Die dood en die sin van die lewe (Kaapstad: Tafelberg, 2017, 287p, R270). Die uitgewer het glo voorgestel dat Van Niekerk ‘n boek oor hierdie onderwerp skryf (p 11). Op die voorkant beveel Chris Jones die teks aan as “ongetwyfeld die invloedrykste denke ooit in Afrikaans hieroor.” Van Niekerk is ‘n uitgelese (“distinguished”) professor in die wysbegeerte aan die Universiteit Stellenbosch (US). Willie Esterhuyse is een van sy leermeesters (11). Dit het minstens drie gevolge: Van Niekerk se linkse politiek, sy voorliefde vir uitroeptekens en die gebruik van die frase “stomme verbasing” (41, 44). Sowel Esterhuyse as Van Niekerk kom uit die tyd toe die US vereis het dat filosofiedosente, soos in die Middeleeue, teoloë moet wees. Van Niekerk se jongste boek is eintlik ‘n uitbreiding van hoofstuk 10 van sy vorige boek, Geloof sonder sekerhede: Besinning vir eietydse gelowiges (Wellington: Lux Verbi, 2005, 255p). ‘n Tweede uitgawe is in 2014 gepubliseer, maar ek het nie toegang daartoe nie. In sy 2005-boek bestempel Van Niekerk graag wat hy nie (afdoende) verstaan nie as ‘n misterie of geheimenis (ook die tema van hoofstuk 6 in sy jongste boek), bv God (62), lewe (13), dood (69), lyding (117) en kwaad (133).

Van ‘n uitgelesene kan ‘n mens verwag dat as hy oor ‘n onderwerp skryf, hy die literatuur ken. Wat opval, is dat Van Niekerk eerder sterk op ouer bronne, soos dié van Zygmunt Bauman (Mortality, immortality and other life strategies, 1992), as nuwer bronne steun. Bauman se benadering help Van Niekerk selfs om struktuur aan sy teks te gee, wat nie juis bevorderlik vir ‘n onmiskenbaar eie bydrae tot die onderwerp is nie. In die onderhawige konteks is daar die gewoonte om na die Iljitsj-novelle van Leo Tolstoy te verwys, wat Van Niekerk dan ook doen (19). Hy noem Tolstoy se novelle “een van die aangrypendste weergawes van hierdie verskynsel in die wêreldletterkunde” (30) en “een van die treffendste verhale wat ooit oor ‘n mens se sterwenservaring geskryf is” (80). Van Niekerk herhaal in besonderhede wat Tolstoy geskryf het, sonder dat die meeste hiervan direk met doodgaan te make het (80-89). Van Niekerk is salig onbewus van die gepubliseerde Afrikaanse vertaling van hierdie werk (80). Hy laat ook na om die aandag op die myns insiens veelseggende novelle van Karel van de Woestijne te vestig. Geen melding word van Johan Heyns se boek gemaak nie, terwyl dit seker min of meer die standpunt van die meeste lesers van Van Niekerk se boek is. Maar Van Niekerk skryf sy boek is “geen teologie nie” (27). Na Johan Degenaar se boek, wat ook sterk teologies beïnvloed is, word net terloops verwys (255).

Van Niekerk se oudkollega, HW (Hennie) Rossouw, het rasioneel-empiries een van die ontoereikendste boeke ooit oor hierdie onderwerp geskryf (Die sin van die lewe, Kaapstad: Tafelberg, 1981, 117p), maar daar is nogtans talle verwysings na Rossouw se uitsprake. Die kern van Rossouw se benadering is: “Met laaste vrae kom ‘n mens die beste klaar as jy kinderlik na jou Vader gaan” (p 57), wat op sigself kwalik verhelderend vir die leser kan wees. Ook: “Die sin van die menslike lewe is niks minder as die ewige lewe nie” (75); presies wat deur Heyns afgewys word. Ook: “Die doel van die lewe is Gods-diens, en dáárom naastediens” (108); dus ubuntu, waarmee Van Niekerk saamstem. Volgens Van Niekerk is die sin van die lewe om “diens te lewer aan ander” (279). Dit behoort vir ons glo te gaan om “lewensvervulling in diensbaarheid aan ander mense” (279).

Is dít nie dalk die hoofrede waarom die Weste en daarmee saam die blanke beskawing besig is om onder te gaan en daardie beskawing plaaslik reeds in groot mate vernietig is nie? Volgens die huidige dominante, politieke, openbare Westerse standpunt moet die belange van die mensdom bo die belange van die Weste/blankes gestel word. Namens die parasitiese bakhandstaners beskuldig die kritici die Weste van presies die teenoorgestelde ingesteldheid. Later beweer Van Niekerk heel realisties,”geen mens kan verantwoordelikheid vir alle ander aanvaar nie” (279). As wêreldburger sal hy myns insiens die streep nie by die blankes en sekerlik nie by die Afrikaners trek nie. ‘n Kenmerk van die tradisionele Europese (selfs Westerse, bv Amerikaanse) lewenswyse is dat heelwat ruimte vir individualiteit gelaat word terwyl die Afrikabenadering in die teenoorgestelde rigting beur met sy verknogtheid aan groepverwantskap (“broers en susters,” met selfs alle swartes wat as deel van hierdie uitgebreide familie geag word). In hierdie opsig is Rossouw en Van Niekerk eerder Afrikane as Europeërs of Westerlinge.

David Benatar se boek word in ‘n voetnoot afgewys, waarna Van Niekerk die leser na ‘n artikel verwys wat hy oor daardie boek geskryf het (215). Oor niks, soos aan die orde gestel in Ronald Green se boek, skryf Van Niekerk niks, dus glad nie, terwyl dit eintlik in ‘n boek soos hierdie onontbeerlik is om oor die moontlikheid van dood as niks, as die permanente uitwissing van die betrokke subjek, te besin. Die boek sou ook deurslaggewend kon baat by grondige kennisname van die kaleidoskoop van gepubliseerde standpunte oor hierdie onderwerp, soos vervat in John Messerly se boek en dié van ED Kemke, maar van hulle word geen melding gemaak nie.

Van Niekerk skryf: “Hierdie boek is die resultaat van byna 20 jaar se navorsing” (11). “Ek en my gesin is gelukkige mense, en so ook my hele familie” (38-39). Van Niekerk het hom “lewenslank verbind aan ‘n bepaalde mens [sy vrou, Amy] vir wie ek oor jare liewer word as vir myself” (249). Goed om te weet, maar hoort sulke opmerkings in hierdie boek? Behoort die onderwerp ‘n mens tot selftevredenheid aan te spoor of eerder tot die teenoorgestelde? Van Niekerk se naam kom in die opskrif van ‘n dosyn van my rubrieke voor. Ek gee toe dat dit op ‘n oorskatting van Van Niekerk se tersaaklikheid of belangrikheid kan neerkom. Maar die leidende rol wat hy in die afskaling van Afrikaans aan die US gespeel het, bly vir my onverskoonbaar.

Hy gaan ook voort om te swyg oor die etiese implikasies van die US se huidige vertrapping van sy stigtingsvoorwaarde, soos verwoord deur Jan Marais (1850-1915), sy weldoener. Is Van Niekerk se doelbewuste versuim ‘n toonbeeld van sy “etiek van verantwoordelikheid”? (2005-boek, p 214). Daar is veral vier redes waarom daardie skenkingsvoorwaarde goedsmoeds deur die US geïgnoreer word: Marais was ‘n man, ‘n blanke, ‘n Afrikaner en hy wou Afrikaans bevorder; ‘n taal wat tans deur die US geminag word. As bv Nelson Mandela geld aan die US vir swart studente geskenk het, sou sy voorwaarde ongetwyfeld nougeset deur die US nagekom word. Aan die Wim de Villiers-US beteken inklusiwiteit dat nie-wittes altyd ingesluit moet word by enige saak waarby blankes betrokke is. Geen studiebeurse uitsluitlik vir blankes mag bestaan nie, maar die omgekeerde geld nie. Vandaar De Villiers se Vlakte-beurse uitsluitlik vir bruin studente. Dit is wanpraktyke wat roep om etiese verantwoording.

By Van Niekerk is daar iets waarop ‘n mens kan reken: Dit maak nie saak oor watter onderwerp hy skryf nie, hy sal sy linkse politiek bysleep. Sy jongste boek is geen uitsondering nie. Hy onderskei tereg tussen ‘n kerkhof (19) en ‘n begraafplaas (20), maar tussendeur haal hy kerk-apartheid op (20). Soos dit in ‘n akademies-wetenskaplike werk hoort, word titels by name weggelaat. Maar soos Wannie Carstens by geleentheid gedoen het en Van Niekerk ook in sy 2005-boek (161) maak Van Niekerk in sy jongste boek weer ‘n uitsondering deur na “mnr Nelson Mandela” te verwys (35). Mandela was glo ‘n “heelbesonderse mens” wie se dood “my nogtans diep geraak” het “en het ek my heelhartig vereenselwig met die meelewing” (35). Mandela het glo “Suid-Afrika gedemokratiseer” (262). Mandela is glo een van “die helde van die geskiedenis” wat “onteenseglik sinvol gelewe het” en “die wêreld ‘n beter plek gemaak het” (276). Van Niekerk verwys na “die waansin van apartheid” (38). Is daar sedert 1990 nie dalk veel groter waarsin in die plaaslike politiek nie?

“Ek is op 14 Julie 2011 in my kantoor aangerand deur ‘n verregse agitator, Abel Malan … My lessenaar is in dié aanval omgegooi en my kantoor is erg bemors; ek was so oorbluf dat ek my hoegenaamd nie kon probeer verdedig nie” (61). Destyds is egter berig dat Van Niekerk probleme verwag het en vooraf gevra het dat ‘n veiligheidswag ‘n ogie oor die situasie moet hou. Voor sy dood op 29 Julie 2016 het Malan glo vir Van Niekerk telefonies om verskoning gevra. Van Niekerk “kon hom gelukkig verseker dat ek hom reeds kort ná die gebeure vergewe het … Tot en met sy dood het ek gereeld navrae gedoen oor hoe dit met hom gaan. Ek koester geen negatiewe gevoelens teenoor hom nie” (61). Dit is duidelik wie die held en wie die skurk in hierdie verhaal is. Maar is Van Niekerk net so lankmoedig en tegemoetkomend teenoor regses wat nog in die lewe is?

Hier volg ‘n Van Niekerk-blik op die geskiedenis: “Ná die bloedige konflik van die Amerikaanse burgeroorlog (1860-65) [eintlik 1861-65] het daardie nasie ‘n nuwe begin gemaak met die beëindiging van slawerny. Ná die verwoesting van die wêreldoorloë van die vorige eeu, het Europa twee keer nuut begin. Ná die verontmensliking van apartheid en die spanning van vrylatings en onderhandelings [en sabotasie en terrorisme] in die jare negentig van die vorige eeu, het ons hier aan die suidpunt van Afrika ook ons eie nuwe begin gemaak – wankelrig, onseker, kwesbaar, soos dit tans steeds blyk” (66). Maar seker darem, volgens Van Niekerk, steeds stukke beter as die blanke bewind? Die waarheid is dat rassediskriminasie teen swartes verruil is vir rassediskriminasie teen blankes, asof dit ‘n regverdiger bedeling daarstel. Van Niekerk erken dat “terroristiese moorde” in die buiteland gepleeg word (70), maar geen gewag word oor die voorkoms daarvan in Suid-Afrika gemaak nie. Hy noem darem “die wreedaardige moorde op boeregesinne en werkers op plase” (254) en dat “Suid-Afrika een van die gewelddadigste lande ter wêreld bly” (255).

Van Niekerk pas hierna ons politieke geskiedenis op die onderwerp van sy boek toe. “Die ondenkbare en onvoorstelbare sal gebeur” (67). Regtig? Enersyds was die verraderlike oorgawe aan swart mag deur ‘n groepie in die blanke regering sekerlik ondenkbaar maar die gevolge daarvan was in redelike mate voorstelbaar. Andersyds is sterwe/doodgaan nóg ondenkbaar nóg onvoorstelbaar. “Die dood sal ook vir my opskort” (67). Opskort of eerder uitwis/vernietig? Van Niekerk druk hom glad te dikwels onakkuraat uit. “Die dood is die einde van die lewe” (69; ook 76). Dood is egter ná lewe, dus nie-lewe, die “afwesigheid van lewe” (76). Sterwe/doodgaan is die einde van lewe. Dood is rasioneel-empiries ná en buite die subjek se lewe. “Om van ‘lewe ná die dood’ te praat, ‘n bietjie teenstrydig lyk” (99) – ‘n bietjie of eerder baie/hoogs teenstrydig?

Die Poolse sosioloog Zygmunt Bauman (1925-2017) word onkrities en op die voet deur Van Niekerk gevolg (soos ook die filosoof John Hick, 1922-2012). Vir Van Niekerk se navolging van Bauman is daar (onder meer) ‘n politieke rede. Hoe daar oor sterflikheid gedink word, het volgens Bauman glo “aanleiding gegee tot van die ergste gruweldade wat bekend is in ons kultuur. Hy ontwikkel ‘n uitvoerige argument, waarin hy aanvoer dat die moderne dekonstruksie van sterflikheid, wanneer dit deurgevoer word tot sy logiese konsekwensies, ten grondslag lê aan die eietydse rassisme in ons samelewings, en selfs van [aan] die Jode-volksmoord of Holocaust. Die argument is dat moderne mense grootliks oor die dood dink as die ‘dangerous other’. Dit word die fokuspunt van vrese vir almal wat ‘anders’ is; die dreigende lot van ‘n samelewing wat ‘andersoortiges’ assimileer” (133-134).

Dit lyk vir my na ‘n drogredenasie. Diegene wat alle mense gelyk en eenders verklaar, het in (minstens) een opsig reg: Ons is almal sterflik. In hierdie opsig is daar klaarblyklik geen “ander” nie. Maar Van Niekerk aanvaar Bauman se drogredenasie en skryf: “Vandaar die vrees vir immigrante” en “rassisme teenoor swartmense” (134). “‘n Mens maak daarom, as jy ‘n oortuigde rassis is, geen bemoeienis met ‘mense van kleur’ nie; jy skei jou tot elke prys van hulle af” (134-135); dus apartheid. Van Niekerk borduur voort oor “hoe pynlik ons kultuur as gevolg daarvan ook gely het” (136): “‘Die ander’ (swart, buitestander, en so meer) moet vermy, beveg en uitgeroei word omdat hulle voorafskaduwings van die dood self is” (135). Bauman beweer: “The audacious dream of killing death turns into the practice of killing people” (136). Dit is myns insiens louter twak as dit as leviete aan blankes voorgelees word. Wat wel waar is, is dat daar ‘n neiging (bv in Suid-Afrika en Amerika) kan wees om swartes met misdaad soos moord (bv plaasmoorde) te assosieer omdat swartes persentasiegewys in veel groter mate as blankes by misdaad en by uitstek geweldsmisdaad betrokke is.

Wanneer die Nazi-gebeure ter sprake kom (en dit is waaroor Bauman dit het), kan Van Niekerk homself nie daarvan weerhou om dit sonder meer op apartheid toe te pas nie. “In die Duitsland van die 1930’s of die wit gemeenskap in Suid-Afrika in die 1960’s en 1970’s was rassistiese oortuigings en beskouings baie stewig gevestig en wyd aanvaar” (238). “Die gevaarlikste kant van moderniteit” is glo omdat “dit daarop aandring om ander mense – die Ander, diegene wat anders dink en voel, en selfs anders lyk as ons – te vernietig in ons waansinnige stryd om die dood self van ons moderne lywe af te hou” (136-137). “Die Ander word niks anders nie as die een wat die dood self beliggaam en deur middel waarvan ons die dood moet bestry. As ons onsself dus van die dood wil vrywaar, moet ons onsself van die Ander vrywaar” (137). Al hierdie uitlatings ignoreer die onomstootlike feit dat ons almal sterflik is; dat ons in hierdie opsig eenders is en dit nie die grondslag kan wees vir die opstelling van die een mens teen die ander nie. Van Niekerk kom egter met die absurde bewering dat hierdie stryd, soos opgestel deur Bauman, deur “die drang tot eendersheid” gevoed word (137) terwyl daar in hierdie opsig nog altyd eendersheid was. Die gehalte van sy redenasie dra geensins by tot Van Niekerk se aansien as denker of filosoof nie.

Van Niekerk gaan verder: “Hierdie logika het ons sien uitspeel in die loopgrawe van Vlaandere, in die magsvergrype van Hitler, Mussolini en Stalin, in die uitwissingskampe van die Holocaust soos Treblinka, Theresienstadt en Auschwitz [en dan kom hy uit waarheen hy die hele tyd op pad was] in die hervestigingskampe (met die versagtende en misleidende naam ‘tuislande’) en op die Vlakplase in apartheid-Suid-Afrika … Hier sien ons dood tot walgens toe in mense se waansinnige geweld om hul waanbeelde van die dood, soos laasgenoemde sigself opdring in die vorm van die Ander, te vermy en te vernietig” (137). Let op die uiterste selektiwiteit in Van Niekerk se keuse van die woord “Vlakplase” (nogal meervoud) en die opsetlike assosiasie van die Nazi’s se “uitwissingskampe” met die “hervestigingskampe” van apartheid – tuislande wat nie aan blankes, bv Afrikaners, gegun word nie. Hiermee het Van Niekerk, wat “Afrikaner-volk” tussen aanhalingstekens plaas (165), se uitlatings en wanvoorstellings ‘n laagtepunt bereik wat selfs hy moeilik sal vind om te oortref.

Les bes, “onder apartheid” was Suid-Afrika glo “‘n polisiestaat … wat geen regdenkenkende mens herhaal sou wou sien nie” (241). Die chaoties en misdadige nuwe Suid-Afrika, met sy opvallende en toenemende gebrek aan wet en orde weens onder meer ‘n uiters disfunksionele polisiemag en regering, word klaarblyklik deur Van Niekerk bo die blanke politieke bewind verkies. Hoe versoen Van Niekerk sy entoesiasme vir ons “demokrasie” met sy stelling: “Lyding moet en mag nie verheerlik word nie”? (246). “‘n Outentieke en geloofwaardige Christelike geloof verheerlik nie lyding nie” (247).

Ek het nou genoeg oor Van Niekerk se linkse politiek geskryf. Vervolgens bepaal ek my by die hoofonderwerp van die boek. Die kernprobleem van die stelselmatige uitwissing van ons almal deur dood, dus die moontlikheid dat niks ons uiteindelike lot is, word glad nie afdoende deur Van Niekerk aangespreek nie. Die oorgang van lewe na dood word nie as ‘n drastiese breuk (lewe/nie-lewe, iets/niks) voorgestel nie, maar eerder as ‘n kontinuum. Dit verminder die radikaliteit van dood. Later opper Van Niekerk tereg beswaar teen versuikering van dood (70). Hier volg voorbeelde van Van Niekerk se (myns insiens foutiewe) lewe-dood-kontinuum: “Die dood as die mees sentrale kenmerk van die lewe” (9). “Die dood is immers die belangrikste kenmerk van die lewe” (22). “Die dood as die mees essensiële kenmerk van die lewe” (191). “Die dood is die mees eintlike kenmerk van die lewe” (22). “Die dood is vir [Martin] Heidegger [1889-1976] nie die ‘einde van die lewe’ nie, maar van meet af deel van die lewe” (264). Dít word selfs tot “die tese” van hierdie boek verhef (42). Daarmee misluk die kern van Van Niekerk se betoog. Dit is my hoofbeswaar teen Van Niekerk se boek.

Hy beweer voorts: “Die dood maak die lewe belangrik” (194-195; ook 197) “Dis omdat ons almal gaan sterf dat die lewe betekenis verwerf” (22). “Ek meen dat die dood … ‘n singewende en sinstigtende werklikheid is in die lewe wat ons almal gegun word om te lei” (89). ‘n Mens sou met dieselfde of meer stelligheid kon beweer, soos dikwels in die literatuur, dat die onvermydelikheid van dood die moontlike betekenis van lewe ernstig ondergrawe of beperk en selfs kan uitwis. “Die dood sny ons af van moontlikhede” (65). “Life in this world [waar anders?] has meaning just [?] because there is death” (Nicolas Berdyaev) (23). “Die lewe is, en kan slegs [!] belangrik wees, in die lig van die werklikheid van ons eindigheid” (197). Waarom kan ‘n (teoreties) nie-eindige lewe nie van meer belang as ‘n eindige lewe wees nie?

“Die dood is daarby dit wat aan elke lewe ‘n dringendheid en ‘n erns gee” (23; ook 108). Regtig? Is dit nie dalk veel eerder die geval dat die meeste mense die meeste van die tyd lewe asof dood geen inbreuk op hulle lewe gaan maak nie? “Die dood is relevant omdat dit elke oomblik van my teenswoordige lewe inwerk op wie ek is en hoe ek lewe … die dood as sodanig die aard en kwaliteit van my lewe struktureer” (272). “Die dood is die fundamentele verwysingspunt waaromheen elke aksie in my lewe in beginsel bepaal word. Dit spreek mee in elke oomblik en elke besluit as die moontlikheid wat perke stel aan alle moontlikhede en beslissings wat ek maak” (264-265). Elkeen van ons lewe inderdaad elke oomblik “in beginsel” in die spreekwoordelike skaduwee van die dood, maar wat Van Niekerk hier skryf, is uiters teoreties. In die praktyk is dit uitsonderlik as mense (deurgaans) doodsbewus lewe. Mense lewe veel eerder asof dood ” nie ‘n werklikheid is nie” (267).

“Die dood is ons oorheersende uitdaging om, terwyl ons nog kan, sin te probeer maak van die werklikheid van ons onvermydelike en onbegryplike eindigheid” (191). “Ons lewe … is die proses om sin te probeer maak van die feit dat ons lewe. Deur te wees wat ons is, ontwerp ons die toekoms in die hede op die grondslag van die verlede, wat ons gevorm het tot wat ons is en kan wees” (66). Dit klink vir my na studeerkamer-kraamwerk. Heel moontlik donder die meeste mense onnadenkend, dus sonder werklike besinning, gewoon aan met hulle lewens. Teen die einde van sy boek gee Van Niekerk erkenning hieraan: “As ek rondom my kyk, sien ek mense wat van dag tot dag lewe asof die dood nie struktureel deel van hul lewe is of paal en perk stel aan hul keuses nie” (267).

“Die wonder is eerder die lewe as die dood” (25). Ja, in die sin dat elkeen van ons eeue lank nie bestaan het nie en vorentoe ook eeue lank (moontlik) nie gaan bestaan nie. Nie-lewe/niks eerder as lewe, kan ‘n mens se verstek/normaal/gewoonlik – nie “toestand” nie – wees. In ons era van geboortebeperking en aborsie (en geweldsmisdaad, bv plaasmoorde) word iedere lewende mens ‘n des te groter wonder.

“Dit bring my by ‘n sentrale aanspraak wat ek in hierdie boek wil maak en motiveer. Dit is die idee dat een van die beste metafore vir die verstaan van die sin van ‘n mens se lewe is dat die lewe ‘n verhaal of narratief is wat ons almal besig is om te vertel” (198). “As daar sin in die lewe is, is dit die sin van ‘n storie” (277). Pleks van te beweer dat verhaal ‘n bruikbare metafoor vir ‘n lewe is, kan ‘n mens redeneer dat dit hoogs misleidend kan wees. ‘n Verhaal word dikwels met fiksie en verbeelding geassosieer terwyl die lewe die enigste werklikheid is wat ons ken en dalk ooit sal ervaar. Verhaal of narratief het die afgelope dekades ‘n gewilde kapstok by veral sommige akademici geword. In die sogenaamde identiteitstudies, veral in Amerika, word die studente en eintlik enigeen aangemoedig om hulle lewenservaring of -siening te ontboesem; dus hulle storie te vertel. Dieselfde het plaaslik tydens die sittings van die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie gebeur. Dit wil voorkom asof verbeelding en doelbewuste leuens om politieke redes dikwels die oorhand kry.

“Dis omdat ons almal gaan sterf dat dit sin maak om aan die lewe as ‘n verhaal te dink” (156). “Die vraag na die sin van die lewe” word deur Van Niekerk as ‘n “narratiewe soektog” beskou (156); ook die vraag na die (moontlike) sin van die dood (203). Die dood kan glo “die beste verstaan word as die finale tragiese raamwerk van die lewe” (204). “Raamwerk” terwyl dood eers ná lewe intree? “Die doodsbewussyn [kan] meebring dat ons na die lewe … kyk as ‘n tragedie (205); bv “die dood as immerteenwoordige (en altyd naderende) moontlikheid” (211). “Death is the end of all possible self-actualization” (Helmut Thielicke) (211). “Ons finale en vernaamste potensiaal” is glo “ons roeping [?] tot selfverwerkliking” (213); dalk eerder selfverwesenliking. Van Niekerk vergelyk die lewe ook met ‘n reis. Soos ‘n verhaal het ‘n reis “‘n begin, ‘n verloop, ‘n afloop en [tereg] ‘n einde” eerder as ‘n “bestemming” (272). Ek stem saam met die onderskeid (in ‘n sin) tussen verloop en afloop, dus tussen lewe en sterwe/doodgaan, met sterwe as deel van die lewe. Sterwe kom dus vóór en tot by die einde, wat die intreepunt van dood (dalk niks) is.

“Die lewe self is nie ‘n gegewe nie, dis ‘n opdrag, dis iets waarvan ons elke dag iets moet probeer máák” (226). Ek sou eerder met Heidegger saamstem dat ons ongevraag in die lewe gewerp is (226), dat dít inderdaad ‘n gegewe is. ‘n Opdrag veronderstel ‘n opdraggewer. Ek weet nie wat die sin of doel of roeping van my lewe is nie, selfs nie of daar so iets is nie. Soos die eksistensialiste dink ek dat ek eerder self my eenmalige lewe so sinvol moontlik moet probeer lei.

“Normaalweg, moet ons sê, is die lewe goed” (226). Wat my die hele tyd in Van Niekerk se betoog hinder, is dat hy nie duidelik tussen “die lewe” (hoedanig mense die werklikheid ervaar) en “my lewe” (‘n subjek se lewe) onderskei nie. Die lewe is goed in die sin dat dit moontlikhede bied en in daardie opsig met dood/niks gekontrasteer moet word. Maar kan ‘n mens tereg beweer dat om te lewe die meeste van die tyd vir die meeste mense goed is?

Daar word beweer dat “die [eintlik: ‘n] menslike lewe ‘n eenheid is” (199). Maar daardie eenheid word veeleer ná die tyd deur ander mense gekonstrueer, bv ‘n biograaf. Die subjek kan dit ook onvolledig (en moontlik minder objektief) in ‘n outobiografie doen. Die stadia in iedere mens se lewe kan aansienlik, selfs radikaal, verskil. My lewensloop as “ek” is ‘n brose eenheid wat in die bewussyn van die subjek beslag kry en deur die herinnerings van bv kennisse onderskraag word. Van Niekerk verwys in hierdie konteks na “historiese bewussyn” (199). Maar die voorstelling van ‘n lewe as ‘n eenheid kan hoogs misleidend wees omdat dit afgerondheid impliseer, terwyl dood enige lewe op enige (dikwels/meesal ongeleë) tydstip kan afsluit. Soos Van Niekerk dit later tereg stel: “Ons ganse werklikheidsbelewing ook nie dié van voltooidheid [is] nie, maar van wording” (266).

‘n Mens is wel ‘n eenheid van liggaam en gees. “Die dualisme van liggaam en siel [gees] is … ‘n gans onbybelse Platoniese (later Cartesiaanse)* idee. Die mens is nie ‘n tweeheid van liggaam en siel nie, maar ‘n eenheid, en daardie eenheid setel in die menslike liggaam” (257). Dit volg dat dood van die liggaam (waarskynlik) ook dood van die gees tot gevolg het. Teoloë soos Herman Bavinck wys daarop “dat die idee van die onsterflikheid van die siel nie ‘n Bybelse idee is nie. In die ou Testament is weinig sprake van enige lewe ná die dood. Die Ou-Testamentiese toekomsvisie is eerder gemik op die herstel van die paradyslike menslike bestaan op aarde en van herstelde harmonie in die skepping” (256). [* Plato (428-348 vC), René Descartes (1596-1650).]

“In die Nuwe Testament is wel heelwat tekste wat ‘n lewe ná die dood in die vooruitsig stel – ‘n bestaan in heerlikheid of in verdoemenis. Wat egter betwisbaar is, is die vraag in watter gestalte mense volgens die Bybel sal deel in ‘n lewe ná die dood” (256-257). Van Niekerk druk hom weer onakkuraat uit. Dit is nie hierdie vraag wat betwisbaar is nie, maar hoedanig moontlike lewe ná dood is. Volgens die apostel Paulus (1 Korintiërs 15) is “die identiteit wat uit die dood opstaan en wat uiteindelik in die heerlikheid van God deel, nie die mens se ‘siel’ … nie, maar juis sy liggaam. Daardie liggaam sal, volgens Paulus, wel ‘n ‘verheerlikte’ liggaam wees volgens die model van Christus se eie liggaam ná Sy opstanding uit die dood” (257).

“Wat die dood veral aan ons tuisbring, is hoe radikaal liggaamlik ons bestaan as mense is” (255; ook 260). Van Niekerk gaan myns insiens dan verkeerdelik voort: “Wat sterf, ook volgens die Nuwe Testament, is die liggaam, en wat opstaan en voortbestaan, is die (verheerlikte) liggaam … Ons is mense vir sover ons liggame is. Wat gebore word, is die liggaam, en wat sterf, is die liggaam. Die dood verskyn primêr in ons liggaamlike bestaan en beëindig daardie bestaan” (257). Van Niekerk oorbeklemtoon die liggaamlikheid van die mens en onderbeklemtoon die belangrikheid van die geestelike dimensie, bv “Vir sover ons is wat ons is, is ons liggaam” (260). Nee, ons is terselfdertyd ook gees. Van Niekerk se stellings herinner aan Friedrich Nietzsche (1844-1900) wat in Thus spoke Zarathustra (1883) skryf: “The soul is only a word for something about the body.”

Dit is maklik voorstelbaar dat twee mense geestelik in groter mate as liggaamlik kan verskil. Ons is mense nie net in soverre ons liggaam is nie, maar sekerlik ook omdat ons terselfdertyd gees is. Ons word nie net as liggaam gebore nie en ons sterf (suiwer rasioneel-empiries beskou) ook nie net as liggaam nie. ‘n Mens as eenheid van sowel liggaam as gees sterf. As daar ‘n opstanding en voortbestaan is, het dit noodwendig op die hele mens (liggaam en gees) betrekking. Volgens Van Niekerk is dit “opvallend hoe die liggaam erken word as die setel van ons totale menslikheid” (257-258). Ja, in die sin dat gees, sover ons weet, altyd in ‘n liggaam gesetel is. Die frase “totale menslikheid” omvat dus die eenheid liggaam én gees.

Myns insiens het Chris Jones hierdie boek hoogs misleidend beskryf as “ongetwyfeld die invloedrykste denke ooit in Afrikaans hieroor.” Daar is glad te veel gebrekkige formulerings en aanvegbare stellings. Dit lyk asof Van Niekerk nooit egte skoling in die linguistiese wysbegeerte ondergaan het nie. Hy moes eerder vir Bert Meyer as vir Willie Esterhuyse as leermeester gehad het. Hier volg nog ‘n losse stelling: “Namate ‘n mens ouer word en die dood stadig maar seker nader kom, verloor dit sy verskrikking” (274). Die teenoorgestelde kan waar vir baie, selfs die meeste, mense wees. Ná al Van Niekerk se bontpratery probeer ek kortliks saamvat.

Suiwer rasioneel-empiries is dood, dus (moontlik) niks, ons lot. Ons skrale troos kom dan van Epikurus (341-270 vC): “Solank as wat ons bewus is van dinge is die dood nog afwesig; en wanneer die dood wel kom, is ons van niks meer bewus nie” (77). Dus, terwyl ons is, is dood nie en wanneer dood, is ons nie. Dood is dan nie slaap, rus, vrede, stilte, duisternis, ens, nie, want niks het geen eienskappe of kenmerke nie. Al wat sinvol van niks gesê kan word, is wat dit nie is nie. Vir iedere mens is lewe skynbaar opsioneel. Geeneen is te jonk om dood te gaan nie. Vir lewende mense is dood egter nie opsioneel nie. Dit is onontwykbaar. Ons het beperkte ervaring en insig. Ons groteske nietigheid of onbeduidendheid in kosmiese perspektief moet deurgaans in gedagte gehou word. Dit is moontlik dat daar ‘n ander (soort) werklikheid kan wees as die wêreld waarmee ons vertroud is. Maar daarvoor kan ons nie op ons empiriese ervaring, rede en kennis staatmaak nie maar eerder/slegs op geloof. Geloof bied troosryker moontlikhede as wat rasioneel-empiries aan ons te kenne gegee word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • leonlemmer

    In die vierde laaste paragraaf hier bo skryf ek: “Van Niekerk oorbeklemtoon die liggaamlikheid van die mens en onderbeklemtoon die belangrikheid van die geestelike dimensie.” Hiervoor kan daar ‘n politieke rede wees. Francis S Collins (The language of God, London: Pocket Books, 2007) skryf: “Humans and chims [chimpanzees – “our closest living relative[s]”, p 137] are 96 percent identical at the DNA level” (137). “At the DNA level, we [humans] are all 99.9 percent identical” (125). ‘[A] tiny fraction (0.1 percent) of the human DNA … differs from person to person” (240). DNS het uitsluitlik met die mens se liggaam te make; glad nie met sy gees nie. By geleentheid het Van Niekerk in ‘n artikel in Die Burger DNS misbruik om die beweerde gelykheid en eendersheid van mense te beklemtoon. Soortgelyke misleiding word gepleeg deur diegene wat graag beweer dat bv apartheid uitsluitlik op grond van velkleur teen mense gediskrimineer
    het. Die waarheid is dat mense in groter mate geestelik, bv kultureel, as liggaamlik verskil. Dit is in geestelike opsigte, bv die manier waarop mense dink en doen, dat hulle radikaal kan verskil;
    dermate dat mense in sommige opsigte liewer nie saamgehok moet word nie maar toegelaat moet word om vryelik hulleself uit te leef tussen mense waarmee hulle verkies om te assosieer.

    In sy resensie van Van Niekerk se boek onderskryf die teoloog André Bartlett een van my besware, naamlik Van Niekerk se siening dat dood die (hoof)singewer in ‘n mens se lewe is (Netwerk24 en Die Burger, 23 deser).

  • Suidpunt

    Jammer, hier skei my en Van Niekerk se paaie. My “naastediens” vloei uit die modernistiese uitvloei van DIE NUT, nie ‘n sousie wat jy oor ‘n biefstuk gooi nie, of êrens doelloos rondtas in jou narratiewe soektog nie. Dieselfde met my dagboekvoorstel in my vorige opstel: ek het uitsluitlik my motivering probeer staaf met NUT. En kyk daar: dit is duidelik dat Van Niekerk te veel Freud, Aristoteles en Jung gerook het – daardie entelechie (van rusper na skoenlapper) is stokoud – steeds te veel op die self gerig, en te min op DIE NUT. DIE NUT weet wanneer naastediens sy perke begin oorskry. DIE NUT weet ook wanneer om die geldkrane toe te draai.

    “Die argument is dat moderne mense grootliks oor die dood dink as die ‘dangerous other’. Dit word die fokuspunt van vrese vir almal wat ‘anders’ is; die dreigende lot van ‘n samelewing wat ‘andersoortiges’ assimileer” (133-134).

    Dit lyk vir my na ‘n drogredenasie. ”

    Dit is die grootste onsin wat ek in ‘n vaktydskrifartikel by die Universiteit van Kaapstad uit die 1960’s ook gekry het. Maar hierdie keer het dit elke keer gegaan oor die boere wat in die 1800’s luiperds en ander roofdiere gejag het. Die Britse regering word heilig geskets wat die jagwette uitgevaardig het, want dis immers die boere wat druk uitgeoefen het (en hoe ondankbaar is die boere nie oor die Engelse regering nie) Later word hierdie voortdurende gejag op die “ander” verplaas na nieblankes. Ek kyk dit so, en vra: hoe op aarde is hierdie teks in die eerste plek uitgegee? Dit is ‘n ou deduktiewe fout:

    __________
    Alle luiperds word beskou as ander (veralgemening)
    Alle swartes word beskou as die ander (veralgemening)
    Die dood, wat in albei sit, veronderstel die ander (veralgemening)

    Boere hou nie van die dood, daarom hou hy nie van die ander nie.
    Boere hou nie van luiperds en swartes nie.

    Maar ek vereenselwig my met Boere. Ek hou van swartluiperds en dies meer. Maar ek verafsku die dood. Albei word beskou as “die ander”.

    Ek het dus ‘n selektiewe liefdehaat-verhouding met Luiperds, Swartes en die Dood.

    Maar nou met hierdie suiwer dualisme, kan ek slegs liefhê of haat.

    Huh?! Sine qua non?
    __________

    Hoe het ek op die teks afgekom? Wel, ek het inligting gesoek oor die Kaapse luiperd.

    Dus, Van Nierkerk en sy voorganger Bauman (wat ek ook in my honneursjaar gehad het, raai?), se werke is horingoud.

    “‘n polisiestaat”. O, nee – daardie mite het Klaus Vaqué lankal uitsorteer, die hoeveelheid polisie teenoor bevolking was absoluut minimaal.

    Nou sal jy my moet verskoon – “Tot lof van dwaasheid” (1511) deur Erasmus sal nou goeie leesstof wees.

  • Dankie Leon Lemmer. Daar is na mening baie teologiese-filosofiese invloed onder die Afrikaner, saam met ‘n maak pas (al is dit dikwels ‘n sit-sit-so-in-die-kerkbanke) Christelikheid. Ek meen nou maar dat blanke (Boere) Afrikaner Calvinistiese Chauvinsitiese Patriargale Protestante (Roomse) Christen Vymesselaars tog baie vollop is (hoewel hulle nog aarsel om blatant op te staan en te verkondig dat hulle die (brede) weg, die waarheid (?) en die (luukse) lewe is). Hulle verkies nog geheime benaderings, infiltrasies en geslepe boelie tegnieke. Hierdie baie omvangryke en fundamentele denkwyse invloede word nog glad nie as deel van die SWOT analiese vir Afrikaner Strategiebepaaling erken nie. Dan natuurlik die groot vraag: is ons hier op aard met ‘n doel vir ons sewentig of tagtig jaar in die lewe, of is dit nou maar van niks tot niks en sonder doel behalwe om instinktief (ook in die nuwe Nuwe SA) dag na dag voort te ploeter en regeringsflaters op TV te kyk, met of sonder rassistiese brille, regse bulle en linkse professors? I think (me), therefore I am …