Die komende Tsjeggiese verkiesing kan hoofstroom se wêreldjie skud

Babis saam met die nuwe Oostenrykse kanselier Kurz; Milos Zeman

ANO, die Tsjeggiese party wat deur ‘n miljardêr gelei word, is die duidelike gunsteling in ‘n algemene verkiesing wat die naweek plaasvind waar tradisionele partye waarskynlik ‘n opdraande stryd sal ondervind.

Die Tsjeggiese Republiek, deesdae Tsjeggië, wat in 2004 by die EU aangesluit het en ‘n bevolking van 10,6 miljoen het, stem op 20 en 21 Oktober.

Andrej Babis se ANO-beweging lyk sterk. Die 63-jarige, Slowaaks-gebore magnaat en Agrofert-konglomeraat-baas, is deur Forbes as die tweede rykste burger van Tsjeggië aangewys.

ANO beteken “ja” in Tsjeggies, maar dit is ook ‘n akroniem vir Aksie van Ontevrede Burgers, met ‘n effektiewe slagspreuk: “Dinge sal regkom”.

“Tsjeggiese politieke partye word deur korrupsieskandale geteister,” het Josef Mlejnek, ‘n ontleder, gesê. Om Mlejnek se opmerking te illustreer, het ‘n onlangse peiling deur die Tsjeggiese Akademie vir Wetenskappe getoon dat ANO hoër in die huidige stempeilings staan as die twee tradisionele swaargewigte in die Tsjeggiese politiek – die Sosiaal-demokratiese CSSD en die sentrum ODS – gekombineer.

“Hy bied die kiesers ‘n populistiese alternatief deur hom as iemand voor te hou wat die staat kan bestuur omdat hy sy konglomeraat reeds suksesvol bestuur het,” het Mlejnek verduidelik.

Babis het voorgestel om die Tsjeggiese Senaat af te skaf en die laerhuis van die Parlement se ledetal te beperk, wat die uitvoerende gesag sal versterk. Hy is ook teen sanksies teen Rusland gekant en is hewig gekant teen die aanvaarding van Moslem-migrante.

Babis se beweging, wat in 2012 gestig is, het sedert sy stigting verras deur kort daarna in die parlementêre verkiesing uit te blink. As gevolg van sy sterk steun, het Babis as minister van finansies in die koalisie-regering met die sentrum-links-sosiaal-demokratiese party en die Christen-Demokratiese Unie gedien.

Tomio Okamura se Vryheid- en Direkte demokrasie party is ook gekant teen immigrasie en noem Islam ‘n ideologie eerder as ‘n godsdiens. Die party het met 6,9% in die vorige verkiesing geëindig en sal ook hierdie keer goed doen. Selfs binne pro-Europese partye soos die Sosiaal-Demokrate, deel plaaslike politici Okamura se voorgestelde beleid oor immigrasie.

“Ek sê ons moet die Tsjeggiese Republiek beter maak,” het Okamura aan The New York Times gesê, met verwysing na Donald Trump se verkiesingslagspreuk wat Babis gebruik het, maar hy het bygevoeg: “Nie groots nie. Ek wou ‘n woord kies wat Trump nie gekies het nie. Maar natuurlik sal dit ook goed wees.”

Babis is sedertdien ondersoek oor beweerde belastingmisdade. Sy parlementêre immuniteit is herroep en hy is as minister van finansies afgedank. Hierdie maand is hy aangekla van misbruik van subsidies van die Europese Unie – beskuldigings wat hy as polities gemotiveerd afgemaak het.

“Die ander partye probeer Babis uit die politiek uitstoot, maar dit het nie gewerk nie,” het Pavel Fischer gesê. Fischer is die direkteur van Stem, ‘n verkiesingsnavorsingsgroep in Praag.

President Milos Zeman het gesê dat as ANO wen, sal hy Babis as eerste minister benoem, selfs al is Babis in die tronk. Maar Babis besit of beheer die twee gewildste koerante, sowel as ‘n gewilde radiostasie en ‘n televisienetwerk.

Tot dusver het sy gewildheid net weens die skandale toegeneem.

Anti-establishment partye wat vir setels in die parlement van 200 lede meeding, sluit in die Kommuniste, wat 11,1% in die Akademie-peiling behaal het, asook die Pirate Party. Die Pirate-leier met sy “dreadlocks” is ‘n IT-kenner, Ivan Bartos, en het 6.4% gekry, hoër as die Christen-Demokrate met 6,2%.

Die Tsjeggiese ekonomie het die afgelope jaar goed gevaar. Werkloosheid is slegs 3,8 persent en ekonomiese groei sal na verwagting vanjaar tot 3,1 persent styg ná 2,6 persent in 2016, volgens die ministerie van finansies.

Drie maande na die algemene verkiesing, sal Tsjegge stem vir ‘n nuwe president in die tweede enigste direkte presidensiële verkiesing. Uitgesproke huidige president Milos Zeman het gesê dat Europeërs moet “die moed hê om in ons eie wapens te belê” as beskerming teen internasionale terrorisme.

Die veteraan van die Praagse Lente sowel as die Fluweel Rewolusie het met die Parlementêre Vergadering van die Raad van Europa gepraat. “Die vlak van internasionale misdaad groei as gevolg van Islamitiese terrorisme,” het hy gesê.

“Ek is oop en eerlik, en ek gebruik nie die frase ‘Islamitiese terrorisme’ liggies nie, maar in die oorgrote meerderheid van die gevalle het dit ‘n Islamitiese oorsprong. Dit is verbind met volksmoord in Armenië,” het President Zeman bygevoeg.

“Wat kan ons doen teen internasionale misdadigheid? Belê in die polisie, belê in die weermag, en moed om in ons eie wapens te belê.

“My vrou het ‘n pistool. Natuurlik het sy al die nodige toetse geslaag, maar nou word ek deur my vrou bewaak, en nie net deur lyfwagte nie,” het hy geskerts.

Tsjeggiese burgers het van die mees liberale wapenregte in Europa, amper op dieselfde skaal as Switserland, en beide lande geniet ‘n baie laer moordsyfer as die Verenigde Koninkryk waar dit verbied word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.