Oostenryk swaai na regs in gister se verkiesing

Deel op

Die bloedjong politikus van die sentrumregse Oostenrykse Volksparty (OVP), Sebastian Kurz, 31, gaan op grond van sy vertoning in gister se algemene verkiesing binnekort Europa, asook die wêreld se jongste staatshoof word. Volgens beskikbare syfers gister het sy party 31,4 persent van die stemme ingepalm, die beste uitslag vir die party in byna twee dekades, volgens die staatsuitsaaier ORF. As koalisievennoot gaan die OVP waarskynlik die meer nasionalistiese Oostenrykse Vryheidsparty (OVP) betrek, wat die land tesame met Pole en Hongarye een van die mees regse regerings in Europa gaan besorg.

 

Die Vryheidsparty het volgens die jongste beskikbare syfers in die tweede plek geëindig met 27,4 persent van die uitgebragte stemme. Die linkse Sosiaal-Demokrate, wat reeds sedert die tweede wêreld oorlog as lid van verskeie koalisies regeer, het sy swakste uitslag ooit behaal en het derde geëindig met 26,7 persent van die stemme. Die uitgaande kanselier, Christian Kern, is van die Sosiaal-Demokrate.

Die vertoning deur die Oostenrykse Vryheidsparty was die sterkste sedert die 26,9 persent wat dit in 1999 onder die leierskap van die charismatiese mnr. Jörg Haider behaal het. Haider is twee weke nadat hy ‘n goeie vertoning  in die 2008-verkiesing gelewer het in ‘n motorongeluk dood.

Sy motor het die pad byster geraak naby die suidelike stad Klagenfurt terwyl hy besig was om ‘n ander voertuig verby te steek, volgens polisiebeamptes. Vele het egter gemene spel vermoed.

 

 

Die byna 27 persent stemme wat Haider in 1999 as leier van die Vryheidsparty ontvang het, het verseker dat hy lid van die regering geword het. Sy party se insluiting in die regering het tot maande van EU-sanksies teen Oostenryk gelei.

Kanselier Christian Kern se Sosiaal-Demokrate staar ‘n verwoestende neerlaag in die gesig, noudat hulle na die derde plek teruggesak het.

Die Europese opstand teen die establishment wat ten gunste van verdere derde-wêreld-immigrasie is, is dood verklaar ná die Franse verkiesings toe Marine Le Pen minder goed as wat verwag is, gevaar het. Maar ná Duitsland se verkiesing verlede maand, is dit weer opgekikker, om tans in Oostenryk te gedy. Die meeste hoofstroomkoerante in Europa, asook establishment-politici, het die uitslag met skok en afgryse begroet.

Kurz, wie se bynaam “wunderwuzzi” of “wonderkind” is, sal na verwagting ‘n koalisieregering met die Vryheidsparty (OVP) van Heinz-Christian Strache saamstel. In Desember het die OVP te midde van die Europese migrantekrisis byna die simboliese presidentskap van die land verower toe dit naelskraap teen die Sosiaal-Demokratiese kandidaat verloor het.

Dié keer sal die Europese Unie egter magteloos wees om sanksies teen Oostenryk in te stel, aangesien die “regse golf” nou al so sterk geword het dat hulle benewens Oostenryk ook strafmaatreëls teen Pole, Tsjeggië en Hongarye sal moet instel, wat die hele Europese bouwerk mag laat wankel. Behalwe om hul ongemak met die “regse” OVP uit te spraak, sal die EU-base niks kan doen nie.

In Duitsland het die AfD, die Alternatief vir Duitsland, verlede maand die derdegrootste party in die Bundestag geword, terwyl Frankryk se Nasionale Front setels in die Nasionale Vergadering van dié land verower het.

Hoewel Sebastian Kurz slegs 31 jaar oud is, het hy reeds op die ouderdom van 27 minister van buitelandse sake geword. Die OVP het hom met dié posisie beloon omdat hy reeds as student in tradisioneel linkse gebiede in Wene, die hoofstad, ingevaar het en met verbeeldingryke veldtogte die kiesers oorgehaal het om regs te begin stem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.